You are on page 1of 7

Die Rykdom van !

Xóõ
en die Armoede van Rotokas

Die wêreld se twee uiterstes in terme van foneme

1
'n Foneem is die kleinste onderskeibare strukturele eenheid in die spreektaal
wat betekenis oordra. Die getal foneme in ‘n taal word deur daardie taal se
klank-inventaris bepaal (konsonante/medeklinkers, vokale/klinkers,
toonkleure (“tones”) en diftonge (nie alle diftonge is fonemies nie).

'n Voorbeeld van 'n foneem is die /t/ klank in die woorde ‘ tak, stand,
water, en kat’. Dié voorbeelde van /t/ word as dieselfde klank beskou al
word hulle in elkeen van die woorde effens anders uitgespreek, al is die
verskille moeilik onderskeibaar.

Foneme kan uit verskeie herkenbaar verskillende spraaksegmente, wat Fone


genoem word, bestaan. In dié voorbeeld word die /t/ in tak geaspireer, [tʰ],
terwyl die /t/ in stand nie geaspireer word nie, [t]. Fone wat tot dieselfde
foneem behoort soos [t] en [tʰ] vir die Afrikaanse /t/, word Allofone genoem.

‘n Taal se foneemstelsel is ‘n geslote versameling. Geen spreker kan ‘n nuwe


foneem tot die taal toevoeg soos mens ‘n nuwe woord toevoeg nie. Dis net
die tyd wat geleidelike fonemiese verandering bring. Omdat die getal
foneme in ‘n taal op enige gegewe tyd staties is, is dit moontlik om tale op
grond van hulle foneme te klassifiseer. Fonologiese tipologie behels
taalvergelyking gebaseer op die aantal of tipe klanke wat hulle bevat.

Informasietegnologie het dit moontlik gemaak om die wêreld se tale te


ontleed en vergelyk ooreenkomstig hulle fonetiese, morfologiese en ander
eienskappe. So bestaan daar rangordes van tale wat op grond van
byvoorbeeld die klankstelsel opgestel word.

Elke taal het ‘n foneem-inventaris, omdat elke taal ‘n unieke stel reëls het
waarvolgens hy funksioneer. Die fonologiese reël met die titel “fonotaktiese
beperking” bepaal die taal se toelaatbare klankkombinasies. Byvoorbeeld, die
klank aan die einde van die woorde /sing/ en /bring/ kan in Afrikaans net aan
die einde van ‘n lettergreep verskyn.
2
Ander fonologiese reëls hou verband met veranderinge in klanke wanneer
hulle bymekaarkom, en sluit prosesse soos assimilasie, dissimilasie,
byvoeging, weglating en metatese in.

Die faktor wat ‘n taal se foneem-inventaris bepaal, is die aantal klanke in die
fonetiese stelsel (klinkers, medeklinkers en sekere diftonge) en/of die tonale
stelsel (dalende, stygende stemtoon).

Fonologiese Tipologie het twee uiterstes onder die wêreld se tale


geïdentifiseer. Die een word in Oseanië, oos van Nieu-Guinee, gepraat, en die
ander is versprei oor suidoostelike Angola, noordoostelike Namibië en die
weste van Botswana.

3
Die Jammerlike Armoede van Rotokas

Aan die skraal kant is die taal Rotokas met sowat vier duisend en vier
honderd sprekers op Bougainville Eiland naby Papua Nieu-Guinee. Rotokas
het vyf klinkers, ‘n skrale ses medeklinkers en ‘n totaal van elf foneme.

Rotokas se drie stemlose konsonante is /p, t en k/. Die drie stemdraende


konsonante bestaan uit drie stelle allofone, te wete [β, b, m], [ɾ, n, l, d], en [ɡ,
ɣ, ŋ]. Enigeen van die klanke binne ‘n stel dien as ‘n aanvaarbare artikulasie
van die foneem. Met ander woorde, die foneem kan deur enigeen van die
klanke in die stel verteenwoordig word.

4
Die Obsene Rykdom van !Xóõ

In suidoos-Angola, noordoos-Namibië met inbegrip van die Caprivi-strook,


en tot ‘n mindere mate in Botswana en Zambië, woon die sprekers van !Xóõ
wat ook as Dzu’oasi, Hukwe, Ju’oasi, Khoe, Khwe, Khwe-||Ani, Kxoe, Kxoedam,
Taa, Tsumkwe, Xaixai, !Xo, Xû, Xuu, Xun, Zhu’oasi en selfs as Ju en as
Kung bekend staan.
5
Met 25 vokale, sowat 80 konsonante waarvan 34 klapklanke is, en minstens
twee tonaliteite, beskik hierdie lid van die Khoisan-familie oor niks minder nie
as 112 foneme. !Xóõ word beskou as een van die moeilikste tale om aan te
leer.

§§§§§§§§

6
BRONNE

https://www.nytimes.com/2016/11/25/world/what-in-the-world/click-
languages-taa-xoon-xoo-botswana.html

https://theculturetrip.com/africa/botswana/articles/this-is-the-worlds-most-
difficult-language/

You might also like