You are on page 1of 9

Boekresensie deur Pieter Uys

MY BEAUTIFUL DESPAIR:
The Philosophy of Kim Kierkegaardashian

deur Kim Kierkegaardashian (outeur) en Dash Shaw (illustreerder).


New York, Touchstone, 2018. Hardeband: 144 bladsye. ISBN 9781982100988.

KIM KIERKEGAARDASHIAN is ʼn filosoof en kulturele kommentator wat oor estetika,


etiek, fyngeure, godsdiens, glans, grimering, modes, bybehore en die menslike kondisie
skryf. Me Kierkegaardashian word hoog aangeslaan as ʼn postmoderne eksistensiële
filosoof en het ʼn voorliefde vir aforismes.

Soos Søren, hanteer Me Kierkegaardashian die e concessis-argument met pittoreske


flair. Redenasie vanuit jou opponent se voorveronderstellings bring pikante (teks)ture na
vore. Sy verf in kwashale van ironie, parodie en satire eerder as sistematiese
argumentering. Haar versnitte van Angst en genot, van Weltschmerz en glans, kerf die
mens se fragiliteit in verrassende reliëf uit teen ʼn agtergrond van deernis.

‘Glamor, menswear, top hat… I stick my finger into existence and it smells of
nothing.’

Me Kierkegaardashian plaas haarself in die persona van die Esteet – ʼn karakter van
haar voorganger Søren Kierkegaard wat ‘ennui’ as die wortel van alle kwaad beskou.
Ennui word gevoed deur ‘n waan uit die nikskant van die Bestaans-niebestaans-dualiteit.
Dié waan wek die wanhoop wat so heg met die leegheid van die laat-modernistiese
tydvak verbind is.

‘It's beginning to look a lot like Christmas. A bankrupt age disguises itself in
extravagance.’

Eerder as om die Niks vierkantig in die gesig te staar, vlug die Esteet na die omhelsing
van arbitrêre passies wat sy die een na die ander leegsuig sodat daar eindelik net ‘n
string radio-aktiewe gravitasiekolke oor haar spoor hang. Indien sy die passies
weldeurdag afwissel, sal die esteet deurgaans by die oomblik betrek word, altyd ʼn stap
of twee voor die ennui. So ‘n voortdurende ontvlugtingsproses ken egter nie net mag
aan die ennui toe nie maar verleen ook ʼn skyn van syn aan die Niks wat daarop volg.
‘I love your Tumblr's infinite scroll-down feature & the unfathomable,
insatiable emptiness behind it.’

Dit word dan duidelik dat die Esteet se najaag van passies van haar ʼn voortvlugtige
maak, ongeag die aard daarvan. ʼn Passie kan ‘n ongebreidelde verbintenis tot ‘n
paradigma soos ‘n ideologie of godsdiens beteken, of onbeteulde ambisie of hebsug of
selfnegering.

“Want volop is die aanloklike vorme waarin talryke sondes en losbandighede en


afstootlike hartstogte en kortstondige plesiere verskyn, wat mense oorheers totdat hulle
wakker word wanneer hulle na hul rusplek opgaan,” uit die esoteriese teks
“Die Donderslag : Volmaakte Insig”.*1

Kierkegaardashian kontrasteer graag die verafgoding van handelsname en die strewe


na kitsbevrediging met sielkundige steurnisse. Hier sluit sy dan aan by Van Wyk Louw se
gesprek Ballade van die Bose: “…. *2
Die veles meen
hulle ken my gesig,
maar ek skuil te glansryk,
te na aan die lig,
en as hul wil waarsku
en wysheid gee,
dan praat ek reeds
in die woordklank mee;
en die snelles vlug,
waarheen?
vir wie?
ek is nie skoon
of aaklig nie,
en waar hulle vlug,
daar dra hul my mee
in die grys-wit groewe
van die senuwee.”
Me Kierkegaardashian bemerk ʼn korrelasie tussen denke en syn waar hulle in die
selfbewussyn ontmoet. By Kierkegaardashian kom “gees” grootliks met Heidegger se
"Dasein" ooreen, wat selfverwysend is op dieselfde wyse as Kierkegaard se self-
relasionele Self:

‘A human being is not a self until it relates itself to itself by taking a selfie.’

Kierkegaardashian beskou eksistensie as 'n sintese van die tydige en die ewige, en die
eksisterende individu as beide tydelik en ewigdurend. Sy span byderwetse segswyses in,
waaronder afkortings soos BFF (‘best friend foreva’) en IG (Instagram) om die
teleologiese suspensie van die estetika te akkommodeer.

Sy heg geen waarde aan “deug” buite die God-individu-relasie nie; sulke ‘deug’ sou
selfbedrog wees. ʼn Rasionele etiek of etiese stelsel beskou sy as niks meer as ʼn
heidense hersinskim nie. Sy wys daarop dat die teenoorgestelde van sonde nie deug is
nie maar geloof. Sonde is afsondering; geloof is interaksie in die mens-God-mens-
verhouding.
Geloof staan sentraal by Kierkegaardashian, as 'n persoonlike en unieke kenmerk van
die eksisterende individu. Vir haar is geloof 'n subjektiewe eienskap van die self wat
mettertyd as leefwyse manifesteer. Onafskeidbaar van Kierkegaardashian se
geloofsbegrip is die konsep van die individu wat “voor God" verkeer:

‘Each individual fights for himself, with himself, within himself, in order to free
himself before God. I’m gonna be sooo sore tomorrow!’

Kierkegaardashian plaas die mens as individu weer sentraal in die filosofie. Nadat sy die
wetenskaplike materialisme van ons tyd ontleed en steriel bevind het, blaas Me
Kierkegaardashian nuwe lewe in die geloofsbegrip. Eerstens dien geloof as die poort
waardeur sin die Syn invloei en tweedens vorm dit stroombane van betekenis in die
mens-God-mens relasie.

‘Looking at faith, one is seized by a kind of horror, both appalled and attracted
at the same time. Just like granny panties.’

Volgens Kierkegaardashian se Eerste Wet van Psigodinamika kan bewussyn in ʼn geslote


stelsel toeneem en volgens die Tweede Wet sit sodanige toename ‘n proses van
negentropie aan die gang, d.i. ʼn staat van orde. Negentropie ontvou oor die lange duur
op die metafisiese vlak maar manifesteer summier op die praktiese vlak:
‘Earthly life is brief and frail, so try to vary your outfits.’

Vir haar lê die mens se hoogste potensiaal in eksistensie “voor die aangesig van God.”
So ʼn eksistensie vul die Syn met sin vanweë die interpersoonlike aard daarvan. Die
heilsaamste element in haar filosofie is die wete dat die "Self" oop is vir 'n verhouding
met die Jy en met die U:

‘Let's all welcome Chloe to twitter & remind her that being the object of
attention of many people is not the same as being important to God.’

Deur haar knap verwoording verplig Me Kierkegaardashian die leser om uit te styg bo
die teenstrydighede van euforie teen ennui, hede teen verlede, materiële teen
geestelike en kalklig teen kateder. Haar insigte word verryk deur Dash Shaw se
aangrypende swart en wit illustrasies.
VOETNOTAS

1 The Thunder : Perfect Mind : A New Translation and Introduction / Hal Taussig ... [et al.]. New York :
Palgrave Macmillan, 2010. xii, 189 p. ISBN 0230105637 (hardback), 9780230105638 (hardback).

1 The Thunder: Perfect Mind, translated by Anne McGuire, 2000.


http://www.stoa.org/diotima/anthology/thunder.shtml

2 Louw, N.P. van Wyk (Nicolaas Petrus). Gestaltes en Diere : Kaapstad, Tafelberg, 1972.

You might also like