You are on page 1of 8

Ter viering van 350 jaar Gereformeerdheid in Suid-Afrika

Dié kortverhaal het aanvanklik op die webjoernaal LitNet verskyn met die inleiding:

25 April 2002 ’N STORIE ... Dit maak my so hartseer om te sien hoe die diertjies hier op SêNet vir
mekaar grom en tandjies wys. En oor die vlag-insident by Stellenbosch het ek geen opinie hoegenaamd
nie. Ek het toe maar besluit om almal te probeer amuseer met hierdie kort storietjie van my. Dit is ook my
bydrae tot die herdenking van 350 jaar van Gereformeerdheid in Suid-Afrika. Hoewel dit ’n verwikkelde
intertekstualiteit bevat, hoef mens nie Foucault of Lacan te gelees het om dit te verstaan nie. Ek noem dit:

Die Damaskus-ervaring

Nou die aand het ek en Hannes ’n interessante ou, ene Piet Pompies, by die Purple Fly in
Braamfontein raakgeloop. Ons het toevallig aan dieselfde tafel beland en begin gesels.
Piet is nou nie my en Hannes se tipe mens nie en ek het opgemerk hoe sy gesig vir ’n
vlietende oomblik, byna onopgemerk, vertrek, toe ons hom vertel dat ons belydende
Christene en lede van die gay Reformerende Kerk is.

1
Nietemin het hy boeiende gesels en het ons ’n aangename paar ure daar verwyl. Op ’n stadium
het ek opgemerk Piet kyk taktvol na my kort pinkie met sy vermiste laaste lid, waarop hy oor
William Burroughs begin gesels het. (Ek sou later uitvind dié skrywer Burroughs het glo ’n
minnaar gehad wat as ’n gebaar van perverse lojaliteit die punt van sy pinkie afgekap het.)
Maar ek en Hannes, wat op Potch geswot het, was nie met die “Beat” skrywers bekend nie.

En soos ek sê, Piet is nie een van ons nie. Hannes en ek is gelowige Gereformeerde Christene en
selfs diakens in die Reformerende Kerk. Tog is ons oopkop-mense. So oopkop dat ons steeds
bereid is om vir Marthinus van Schalkwyk ’n kans te gee. Om die waarheid te sê, lyk Hannes op
’n druppel water na Marthinus. Hannes en ek het ons Damaskus-ervaring gehad toe ons Pieter
Cilliers se boek ’n Kas is vir Klere gelees het. Voor die tyd was ons diep in die benoude kas, en
dié boek het ons die moed gegee om uit te kom teenoor ons ouers en kollegas. Veral die
volgende gedeelte:

“’n Kalmte het in my kom lê. Ek het uiteindelik geweet wie ek was – ’n 44-jarige wit gay Christen
Afrikaner. Niks meer nie, niks minder nie.”

2
In elk geval, Piet was baie nuuskierig en ek vertel hom toe maar hoe dit gekom het dat ek my
pinkie se laaste lid verloor het. Hannes en ek het drie jaar gelede in die VSA gaan reis. Ons het
eers New York verken, daarna Boston en Baltimore, en toe ’n motor gehuur en die pad gevat na
die Appalachiese gebergte om die suiwer, egte plattelandse Amerika te ervaar. Beide Hannes
en ek was nog altyd groot bewonderaars van die film Deliverance.

Ons het die hele dag gery, die pragtige natuurskoon bewonder en eindelik laat die middag by
die dorpie Jolo uitgekom, waar ons besluit het om te oornag. Daar was ’n lekker gastehuis waar
ons op die stoep gesit het en die bekoorlike geure van die woud en die natuur ingeasem het
met glasies Southern Comfort in ons hande. Die volgende oggend is ons vroeg op en stap deur
die dorp. Opeens sien ons ’n kerkie met die naambord: “Church of the Lord Jesus of Signs
Following.” In die een muur van die kerk verskyn die volgende teksvers op ‘n bord:

“And these signs shall follow them that believe: in my name shall they cast out devils; they shall
speak with new tongues; they shall take up serpents; and if they drink any deadly thing, it shall
not hurt them; they shall lay hands on the sick, and they shall recover.” Mark 16: 17–18.

3
Skielik het ek en Hannes die behoefte in ons harte ervaar om te aanbid. Net daar en dan besluit
ons om later terug te keer en te kyk of ons nie die kerkdiens kan bywoon nie. Maar eers het ons
’n heerlike ontbyt genuttig terug by die gastehuis. So teen 9-uur het ons weer kerk toe gestap
en vir die koster wat net besig was om die deure oop te sluit, gevra of ons miskien die diens kon
bywoon en verduidelik dat ons van Suid-Afrika af kom en verskoning gevra dat ons nie
toepaslike kerkklere gehad het nie. Sy vriendelike reaksie het ons dadelik aanklank by hom laat
vind as mede-Christen: “Welcome brothers, in the house of the Lawd. Y’all is most welcome to
worship with us and have no concerns about yer clothes. All is welcome in the house of the
Lawd.”

Soos die gemeente die banke begin vul het, het ek aan Hannes gemeld dat ek dink dit ’n tipe
Pinkster of Charismatiese kerk was, maar wat maak dit tog saak — ’n Christen is ’n Christen.
Voor in die kerk onder die preekstoel was daar ’n tafel waarop die koster twee houtkiste
neergesit het. Op ’n klein verhogie langsaan was daar ’n tromstel en ander musiekinstrumente.
Die erediens het begin met ’n dawerende lofgesang op maat van ruk-en-rol musiek, baie soos
by die Apostolies in Suid-Afrika maar heelwat meer luidrugtig en oorverdowend, met elektriese
kitare en als. Vir my en Hannes wat aan die stemmige sang van die Reformerende Kerk
gewoond is en in die NG Kerk grootgeword het, was dit ietwat vreemd, maar nou ja, die
charismate doen dinge op hul eie manier.

4
Die dominee het sy preek begin deur ons, die “lost brothers out of Africa” welkom te heet en ’n
gebed te doen. Daarna het die musikante weer wapens opgeneem met ’n opruiende gospel-lied
waartydens sekere gemeentelede vorentoe beweeg het na die tafel met die houtkiste daarop.
Dis toe ek self meegevoer word deur die polsende ritme van die musiek en die begeestering
wat soos ’n elektriese stroom deur die gemeente trek. Dit was asof ons almal in ’n trans gegaan
het, amper soos die ekstase by ’n rugbywedstryd maar met veel groter intensiteit. Dit was asof
iets van my besit geneem het, en voor ek my kon kry, staan ek op en beweeg vorentoe. Toe sien
ek dit: die kiste is vol ratelslange en koperkapelle en die mense tel die slange op en drapeer
hulle om hul arms waarna hulle ekstaties begin dans op maat van die musiek.

Ekself, soos ’n zombie, steek toe my hand in een van die kiste en tel ’n tamaaie ratelslang op
wat ewe gemaklik om my arm begin krul. Dit was asof ek myself verloor het — weggevoer na
ander tye, ander plekke, na ’n oeroue era, ’n prehistoriese tydvak waar ek ’n priester in ’n
heidense tempel êrens in Turkye is. Ek dink dit was in die prehistoriese stad waarvan die ruïnes
nou as Çatal Hüyük bekend staan wat ek en Hannes vyf jaar gelede besoek het. Ek kon die altaar
sien met sy beeshorings en die naakte dansende lywe, en ek kon die ritmiese tromme hoor en
die dik wolke wierook het my omgewe.

5
Dis toe dat ek ’n visioen kry, ’n nuwe visioen uit ’n ander oord as die antieke belewenis of die
aktiwiteite van die mense rondom my. Dit was die gesig van Johannes Calvyn wat soos een van
Frances Bacon se “Screaming Popes” lyk en woedend vir my bulder:

“Hoe DURF jy??? Wat van jou trotse Gereformeerde tradisie!!!???”

6
Net daar skrik ek my blaas leeg en kom tot my sinne! Skielik besef ek: my enigste verlossing lê
nou daarin dat die slang my byt. Dis al hoe ek uit hierdie nagmerrie gaan kom. Die volgende
oomblik voel ek ’n skerp brandpyn in my pinkie en sak bewusteloos neer. Dit was die einde van
ons besoek aan Amerika. Na ’n paar dae in die hospitaal (Hannes het ’n senu-instorting gehad)
is ons terug huis toe. Terug na die warmte van ons eie mense, ons eie taal, en die geborgenheid
van ons eie Gereformeerde tradisie wat hierdie jaar sy 350ste herdenking vier.

Piet het my ’n paar oomblikke aangestaar, toe sy mou opgeskuif en vir ons die Caduceus-tattoe
op sy bo-arm gewys — die twee slange wat om die staf krul — en gesê: “Mooi so my broers.”

7
8

You might also like