You are on page 1of 33

Voorwoord

Oor die jare hoor ‘n mens soms die pragtigste staaltjies met die kerk as agtergrond. Weens ons
betrokkenheid by kerklike publikasies – ons het die voorreg gehad om twee keer ‘n gemeente se
vyftigste bestaansjaar te beleef - en ook met die samestelling van hierdie gedenkbundels het die
humor nie agterweë gebly nie.

In hierdie bundel is van die verhaaltjies wat ons oor die jare raakgeloop het, opgeteken.

Toe ons ‘n paar jaar gelede lidmate van die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid geword het,
het ons ds. Tokkie van der Walt ontmoet. Ds. Tokkie is eintlik ‘n emiritus-leraar wat beroep is om
na die belange van die senior lidmate in die gemeente om te sien. Later het ons saam in die
Barnabas-groep gedien, en ds. Tokkie so leer ken. ‘n Man wat in sy lewe deur baie diep waters is,
maar tog ‘n sterk humorsin behou het.

So tussendeur het ons van ds. Tokkie se ervarings te hore gekom, en die behoefte het ontstaan
dat dit, saam met die ander staaltjies, vir die nageslag bewaar moet word. Hoewel ds. Tokkie se
Dopperstaaltjies nie die hoofbestanddeel van hierdie bundel is nie, dra ons nogtans die bundel aan
hom op.

Ons vertrou dat u die bundel sal geniet.

Moker hom dominee!

Wyle oom Jurie Wessels was in lewe een van die land se beste oogartse. Hy was egter ook een
van die land se voorste storievertellers, maar sy humoristiese stories was deurgaans op die
waarheid gegrond.

As jonggetroudes was hy, sy vrou Rita en my ouers by geleentheid saam in Johannesburg


woonagtig. Ook in Johannesburg, in ‘n arm deel, was die latere Minister Punt Janson leraar. Punt
was in sy studentedae rasie-leier van die Tukkies, en is vort net voor my ma as eerstejaar
aangemeld het. Met die eerste intervarsity daardie jaar, lees die nuwe rasieleier ‘n telegram aan
die studente op die pawiljoen voor. Dit is ‘n telegram van Punt Janson.

“Baie sterkte met die intervarsity, punt, Punt.”

‘n Man met humorsin, gewis.

Oom Jurie se paaie sou later met Punt kruis, en hy vertel van ‘n geleentheid toe Punt predikant in
Johannesburg was.
Die gemeente in Johannesburg sukkel om te oorleef, en dis toe dat die kerkraad dié briljante idee
kry om hul dominee, altyd ‘n bok vir sports, in te span om ‘n paar pond vir die gemeente te verdien.
In die gemeente is daar naamlik ‘n gewese bokser, wat egter in die kryt so effe saf geslaan is.
Dominee moet in ‘n skyngeveg teen dié man boks.

“Maar hy gaan my verniel!” protesteer die dominee.

Nee, nee, die kerkraad sal met die man praat. Hy moet so boks dat die dominee wen!

Dié toedrag van sake is mooi aan die bokser verduidelik, en hy is gewillig om ter wille van die
Groot Saak by die dominee ‘n “afranseling” op die lyf te loop.

Toe die ghong vir die eerste rondte slaan, is die saal stampvol opgewonde gemeentelede, en van
opgewondenheid vergeet die bokser heeltemal dis ‘n skyngeveg. Hy storm uit sy hoek en begin
die dominee te pleister. Die ghong lui om ‘n baie kort rondte aan te kondig.

Die manne in die bokser se hoek verduidelik vervaard dat hy darem nou nie mooi maak nie. Die
dominee moet wen, en mag ook nie seergemaak word nie!

Die volgende rondte onthou die bokser, en hy slaan ‘n slag of wat mis. Maar na die dominee sy
eerste goeie opstopper ingekry het, vergeet hy weer skoon dat dit eintlik ‘n gekookte geveg is.
Wéér timmer hy die dominee. Weer lui die ghong vroeg. Baie vroeg.

Weer word die bokser die leviete voorgelees, en dié keer onthou hy bietjie langer. Elke rondte
ietwat langer. Vir die oningeligte gemeente lyk dit of die dominee besig is om ‘n behoorlike “come
back” te maak. Van opgewondenheid is hulle naderhand op die stoele – opgewonde soos met die
rofstoeigevegte van ouds met manne soos Jan Wilkens, Vrystaat en Apollo. Sambreel en kierie in
die hand laat hoor van die lywige tantes luidkeels hul steun vir die dominee wat nou so mooi boks!

“*&^%der hom dominee! Bl*&^#m hom dominee!”

Alles vir ‘n goeie doel.

Sondaghaas

Neef Abrie was nog jonk toe sy pa hom en sy broers en susters ontval het. Abrie se ma is die
oorlede ou dominee se tweede vrou, en daarom was Abrie heelwat jonger as sy pa.

Maar ouderdomsverskil ten spyt, was daar ‘n baie hegte band.

Vertel Abrie van die geleentheid, lank - lank gelede, toe sy pa predikant by op ‘n dorpie doer in die
Bosveld van die huidige Noordwes was.
Eintlik uitgestrekte plaaswêreld. Daarom het die Boerematriek ook nog soos in die ou dae
plaasgevind.

Hier teen die einde van die jaar, word daar een naweek behoorlik gekerk. Van vroeg Vrydag af trek
die karre en waentjies langs die rivier in, en meld die jongklomp hulle vir die Boerematriek aan. Die
hele Saterdag deur woel die dominee en ouderlinge met die klomp, en die wat genoeg van die
Bybel weet, word die Saterdagaand aangeneem.

Sondagoggend is dit voorstelling, doop (vir die kleingoed) en daarna Nagmaal. ‘n Lang diens.

Met so ‘n lang diens staan die katkisante toe die Sondag in hul kispakke en netjiese rokke en
mooiste hoede mooi voor die preekstoel in gelid, om aan die gemeente voorgestel te word.

Buite die kerk sit al wat dorpsbrak is vir hul mense en wag. Met so ‘n naweek het die
hondegeledere gewoonlik ook heelwat plaasversterkings bygekry. Sommiges sit kiertsregop voor
die deur waar hul huismense in verdwyn het, en wag dat hulle moet uitkom. As daar iets in die kerk
gebeur, soos dat gesing word, word die koppe skuinsgedraai, en ‘n oor die lug in gesteek. Later
word die kop na die ander kant gedraai, en die ander oor gelig.

Dis gewoonlik die jonger honde wat die ding nie gewoond is nie, wat die kerkdiens so met aandag
volg. Die ouer honde soek vir hulle ‘n lekker koelteplekkie uit, en slaap doodgewoon tot hul mense
uitkom.

Dié Sondag was egter bestem om ietwat anders te verloop.

Een van die jong woelige honde snuffel - snuffel al om die kerk, en daar jaag hy ‘n haas op!

Binne ‘n ommesientjie is die hele lot honde al blaffend agter die haas aan.

Die honde wat agter die haas aan is, is ‘n bonte mengelmoes. Kort op die haas se hakke is die
windhonde. Eintlik meer skralerige, vinnige honde, as wat hulle enige bloedlyntoetse sou slaag.

Dan kom die gewone plaas-waghonde, die rifrugge, die basterboele en selfs ‘n foksterriër of twee.

Elke soort hond het sy eie soort blaf, wat tot die versteuring van die Sondagoggend se gewydheid
bydra. Daar is die hoë keffies van die klein brakkies, en die diep blaffe van die Boele. Alles is in
beweging, sodat dit die desibels nog so op- en afjaag. Lekker deurmekaar geroer deur die
verskillende snelhede waarmee die bewegende gebit agter die ongelukkige haas aankom.

Soos ‘n dwarrelwind suig die hondekommando boonop die dorpsbrakke wat die lawaai hoor, ook
in. Ook ‘n los brak of twee wat in die omgewing was, besluit hy gaan sy geluk op haasjag beproef,
en skraap ook die voortsnollende haas.
Aanvanklik is die haas lekker windmakerig – ore regop, en wip onnodig hoog om die oog van sy
agtervolgers so veel as moontlik te vang. Met die hoog-hoppery kan hy ook makliker flous oor die
rigting waarin hy gaan.

Net soos die naaste brak se bek oopgaan vir ‘n bol haasstert, wip hy effens skuins, gebruik sy stert
as flikkerlig, en vlieg dan in ‘n ander rigting. Dié taktiek is een te veel vir ‘n opgewonde brak, wat al
ploeg - ploeg van rigting moet verander, en terselfdertyd luidkeels sy ongelukkigheid met dié
toedrag van sake te kenne gee. Gewoonlik val ‘n klomp honde boonop oor die voorste hond wat in
sy poging om van rigting te verander, met moeder aarde kennis maak.

Dinge begin later half ingewikkeld raak vir die haas. Veral toe hy benewens tant Souf se vet
Boeldokhond ook van die ander brakke van agter begin verbyhol. Dié sit so ‘n keel op, dat die
gevaar bestaan dat ‘n hond vorentoe straks kan begin omkyk, en kortom kan vlieg. Buitendien
begin die haas ook nou moeg raak, en hy lê toe die rieme met sy ore styf teen die kop neer.

By die naaste hoek van die kerk, wys die haas met sy stert hy gaan wegdraai van die kerk af. Maar
hy kierang, en vlieg teen die anderkantste muur af. Die honde wat kort op sy stertjie was, kry nie
hul draai so mooi nie, en gaan draai al keffend en tjankend doer by Oom Basie se sinkdam. Dan
skraap hulle die haas weer.

Weer glip die haas kort om die kerk se volgende hoek, en weer gaan draai die lawaaierige honde
doer ver.

Dis net Tant Souf se vet boeldokhond wat rustig agterna draf en so af en toe ‘n hees “Hoef! Hoef!”
laat hoor om te wys hy is darem deel van die jagekspedisie.

Die haas is om die volgende hoek, en maak dit weer vir die hoek waar hy begin het. Weer gooi hy
sy stertjie vir regs, en vlieg links om. Die keer is van die honde al so losgehardloop dat hulle om
Oom Basie se sinkdam gaan draai. En hulle raak al kwater vir die haas wat hulle so flous.

Binne die kerk wil hoor en sien vergaan van die honde se gejuig al agter die haas aan. Amper soos
met ‘n motorresies. Die klank wat al harder word, en dan weer al sagter soos die spul daar ver
gaan draai as die haas kortom vlieg.

Die haas is naderhand al ‘n hele paar keer van agter by tant Souf se boeldokhond verby.

Toe die moeë haas weer ‘n slag by die kerk se hoek, met die klomp klappende kake hier kort agter
hom, kortom vlieg, draai hy te kort en is hy by die kerk se deur in.

In die proses verloor die honde hom heeltemal, en gaan sit in ‘n kring om die kerk aan’t blaf.
Die uitgeputte haas wip ondertussen al in die gangetjie af, na waar die katkisante netjies in ‘n ry
voor die preekstoel staan. Langs die een op die verste punt, gaan lê die haas op sy pens, en trek
sy ore plat met die hoop dat hy tog nie raakgesien moet word nie. Maar omtrent almal wat kon
sien, het gesien. Die dominee inkluis.

“Broeder”, beduie hy vir die koster, “Verwyder asseblief die haas”.

Die koster stap nader, en buk voor die haas met die gedagte om hom op te tel. Die haas kry egter
lewe, en spring teen die koster se bors vas. Die koster kry nog luidkeels ‘n woord wat nie in die
kerk hoort nie uit, voor hy so uit soos ‘n kers neerslaan.

Die haas vat koers onder die naaste bank in. Hier van voor af kan ‘n mens mooi sien hoe die haas
vorder, want so ver soos hy gaan spring die tantes heel onwaardig op die banke.

Neef Abrie het nooit gesê wat van daai haas geword het nie.

Ek het self die voorreg gehad om Abrie se pa, oom Jacob, te ontmoet. Die dominee het op sy
oudag besluit om weer universiteit toe te gaan, en ons het ‘n paar klasse saam gehad. Hoewel hy
‘n geslag of twee ouer as ons was, het hy darem ook nie “uitgemis” op bloot student wees nie.
Luister mens na Abrie se vertellinge oor sy pa, verras dit ook nie.

As jong predikant, soos in die laat 30-ger jare, begin 40-ger jare, het dominee Jacob in sy
gemeente by Coligny gaan huisbesoek doen. By ‘n huis sou hy tot sy verwondering sien al wat
rand is met as bestrooi. Of dit nou die tafel se rand, die bad se rand, of selfs die toilet se rand.
Alles is met as bestryk.

“Dis om die satan af te weer,” verduidelik die huismense.

Die dominee het in Sutherland se wêreld, op ‘n buurplaas van die skrywer, NP van Wyk Louw se
geboorteplaas, grootgeword. Op ‘n buurplaas was die mense gasvry, en toe hulle ‘n nuwe dominee
kry, moet die dominee erg gasvry getrakteer word tydens sy eerste besoek aan die plaas.

En hoe ‘n onvergeetlike ontvangs het hy nie beleef nie! Die dominee, ‘n fynbesnaarde vrygesel,
sou daardie besoek nooit vergeet nie.

Vir die geleentheid word die dis der disse voorberei, bekend as die bloedbul. Met bloed en ‘n bul
het dit min uit te waaie. ‘n Beespens word met allerlei lekkernye, waaronder vrugte en droë vrugte,
asook brood, gestop en toegewerk. Dié toegewerkte transaksie word vir ‘n dag lank in die warm
Karooson laat lê, en dan in die seeppot gaargekook. Niemand eet dié ding nie, maar dit sou die
oningewyde aan die Moordenaarskaroo nie weet nie.
Die nuwe dominee word die eer aangedoen om die gaar bloedbul te sny, en ‘n vurk en mes in die
hand gestop. Maar toe die vurk in die bloedbul wegsak, ontplof die volgestopte pens, met die
inhoud bo-op die dominee. Die dominee moes met laventel bygebring word.

Abrie meen nietemin dis onwaarskynlik dat die uitdrukking, “gasvry”, van hierdie vrystelling van
gas, afkomstig was.

Die jong Jacob het ook ‘n interessante ondervinding met ‘n bobbejaan beleef. Bobbejane was toe
‘n groot verpesting onder die lammers, en die boere het gereeld geskiet. Kinders van agt jaar en
jonger mag nie 'n geweer gedra het nie. Hul werk was om met blikke en klippe die bobbejane aan
te dryf, sodat die kese in die vuurlyn beland het.

Eendag is die jong Jacob, as skaapwagtertjie agter ‘n vermiste skaap aan. In die rante gewaar jy ‘n
groot bobbejaan – die brandwag, voordat die bobbejaan hom gewaar. Dis ‘n groot bobbejaan wat
vir ‘n klein seuntjie kan moeilikheid maak. Hy gaan sit, en slaan met ‘n klip teen ‘n stok. Die
bobbejaan is verward, en begin toe ook met ‘n klip slaan. Intussen kom ‘n paar van Jacob se
maters by, en toe die verwarde bobbejaan nog so geluide namaak, begin hulle met die gevreesde
blikke met die klippe binne-in geraas maak. Dis toe dat die bobbejaan die rieme neerlê.

Op ‘n manier het bobbejaan se kind darem weerwraak geneem. Met ‘n bobbejaanstrik bly net ‘n
vinger van ‘n bobbejaan agter. Dié droog die jong Jacob, en hou dit vir ‘n geskikte geleentheid.

Naweke het die oumense met die besoek aan die dorp, gereeld drop gekoop, en vir die kinders
uitgedeel. Klein Jacob sit die bobbejaanvinger tussenin, en een van die broers kry dié in sy mond.
Verwoed kou hy aan dié taai “drop” voor hy lont ruik.

Jacob en ‘n ander broer het behoorlik streepsuiker oor hierdie poets gekry.

Jacob se broer, Hendrik, pa van die rugbyspeler Dirk de Vos, het ook vir predikant gaan leer. Met
sy proefpreek adviseer Jacob, moet Hendrik liefs die Tien Gebooie lees. Maar Hendrik is seker hy
ken die Tien Gebooie goed genoeg uit sy kop uit, en begin dit uit sy kop voorsê. Maar toe dit hier
by onder en bo die see kom, raak hy deurmekaar. Die visse en als wat onder die see hoort, is
naderhand op droë grond, en dit wat op land aard, is onder die water.

Dis toe dat Hendrik aankondig dat van voor af begin gaan word. En dié keer is die Tien Gebooie
gelees.

Hierdie laaste verhaaltjie roep ‘n storie met onbekende oorsprong in herinnering.

‘n Ouderling wil vreeslik graag beurt kry om te preek, aar as die dominee nie beskikbaar is nie,
kom die sendeling preek.
Een oggend, net voor die diens moet begin, is die dominee nog soek. Dis toe dat die dominee se
seuntjie die konsistorie instorm en aankondig dat sy pa skielik siek geword het. Boonop het ‘n nog
laringitis ook opgedoen, en is daar nie ‘n manier wat hy kan preek nie. Ongelukkig is die sendeling
reeds vort die sendingveld in, en een van die eerwaarde broeders kerkraad moet asseblief
voortgaan met die diens.

Die hoofouderling gaan sy kans kry, maar onder omstandighede waarop hy nie gereken het nie. Hy
is op die plek erg benoud.

Een van die jong diakens merk dié senuwees, en glip uit. Uit sy kattebak haal ‘n ‘n flessie
mampoer wat hy gereeld saamry, en glip op die preekstoel, waar hy die glas water aansuiwer.

Kort hierna bestyg die slap-in-die-knieë hoofouderling die preekstoel. Sy keel is reeds baie droog
van die spanning, en hy neem dadelik ‘n slukkie uit die glas. Daar vanuit die diakensbanke sien die
diaken die ouderling geniet wat hy ervaar, en hy neem nog ‘n slukkie.

Die diens begin al stamelend, maar namate die waterglas sak, raak die ouderling los van tong. Dit
gaan al beter. Halfpad deur die diens is die glas leeg, en die ouderling beduie daar na die
diakensbanke dat hy nog water wil hê. Weet word die glas met gedokterde water gevul.

Later gaan dit baie goed met daai diens. Die ouderling bulder, en beduie woes met sy vuis in die
lug. Toe hy uiteindelik “amen” sê, kry ‘n vir die eerste keer in die geskiedenis van die
Gatjeponderkerk ‘n staande ovasie. Buite word hy vreeslik op die blad geklap en gelukgewens.

Toe die skare weg is, staan ‘n ou omie nader: “Janneman, jy het mooi gepreek. Maar ek wil net sê,
dis die Tien Gebooie, nie Twaalf gebooie nie. En dis ook nie die Tien Stamme van Israel nie, maar
die twaalf stamme. En Kain het vir Abel doodgeslaan – nie doodged$#%^der nie.”

Maar terug na neef Abrie. Die verhaaltjies wat hy vertel het, het my om twee redes uitgebring by ‘n
ander rubriek – Herrie se Hekelhoekie, wat in die Langenhovenpark Bulletin verskyn. Net terloops
– Abrie het verwys na sy oom Hendrik se seun, Dirk de Vos wat groot rugby gespeel het. Twee van
Abrie se broers, Japie en Francois, het self vir die Vrystaatse Wit Tornado diens gedoen.

“Die afgelope week het Herrie twee keer met mense te make gekry wat Herrie weer baie nederig
laat voel het.

Eers het Herrie in die stad, soos gebruiklik gewag vir ‘n bus wat kom of nie kom nie. Herrie gesels
met die drie bruinmanne wat parkeerplek aanwys. Die straat was maar leeg, en die manne half
ledig. Herrie meen kamma die motoriste bly weg omdat hulle te lelik is. Hulle geniet dit, maar begin
terstond uit die Bybel aanhaal. Tussen hulle begin hulle die Tien Gebooie aanmekaar timmer. Hulle
kom by so ongeveer 24 gebooie uit. Dit sluit in, jy mag nie dagga rook nie, jy mag nie ‘n man se
pot goud begeer nie, en jy mag nie op iemand neersien nie, al stink hy ook. Hulle onthou ook van:
In die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood verdien.

Dis snikheet-warm en die sweet is verstaanbaar.

Ook mag ‘n mens nie steel nie. Die een verduidelik dat hy strykdeur bid dat die Here dit beskik dat
hy werk kry. Intussen moet hy die pot aan die kook hou, en hy steel nie. Daarom doen hy dié werk.

Ten slotte mag ‘n man nie sommer Boontoe praat nie. Maar as ‘n motoris wegjaag sonder om ‘n
erkenninkie na hul kant toe laat kom, dan is dit ‘n gespreek in tale van ‘n ander wêreld.

‘n Dag later wil Herrie Maitlandstraat kruis, en kom toe tot sy verbasing agter daar beweeg ‘n optog
verby.

Doodstil.

Dis toe dat Herrie sien dis mense wat betoog vir groter erkenning vir gebaretaal. Die meeste
betogers is doof.

Hoeveel keer kla ons met die witbrood onder die arm? Hoeveel luisteraars van Radio Rosestad
weet dat die sportomroeper, Abrie de Vos, na ‘n ongeluk net 15 sig in die een oog het, en dat die
ander blind is?

Tog, as daar vir sportuitslae na hom oorgeskakel word, rits hy dit af. Uitslae van-oor die hele
wêreld. Dis ‘n les vir baie van ons. Die van ons wat min of niks makeer nie, kan maar kyk hoe ons
vir hulle wat minderbevoorreg is ook ‘n klip uit die pad kan rol. Herrie het gesegd.”

Galery staaltjies

Ons het die voorreg gehad om twee gemeentes se half-eeufeeste te beleef. Die eerste was die
Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Wes, nou bekend as Gemeente Vleuels. Die uwe was “belas”
met die opteken van humoristiese staaltjies.

Dis tog interessant hoeveel onheil het al op ‘n galery uitgebroei. Heelwat daarvan is stellig nie die
waarheid nie. Soos die koshuisseun wat met ‘n garedraadjie en ‘n speld wat soos ‘n hoek gebuig
is, ‘n vrou onder die galery se hoed gehaak, en van agter gelig het. Dié petalje is van die
preekstoel af deur die dominee waargeneem, wat sy bes moes doen om nie te lag nie, en sy
aandag by sy preek te bepaal.
Dié verhaal het net te veel plekke “afgespeel” om die waarheid te wees.

Maar die verhaal rondom ‘n latere Wiskunde-professor, dit word die waarheid vertel, en het in die
kerkgebou van die einste Bloemfontein-Wes – sedertdien gesloop – plaasgevind.

As jong knapie het hy en sy ma op die galery gesit, met pa in die ouderlingsbank. Reg onder die
knapie het ‘n man met ‘n bleskop gesit. Met ‘n wiskundige brein, moes die vraag noodwendig later
ontstaan – hoe gaan dit lyk as ‘n rou eier op die pankop te lande kom. Ds ‘n som wat uiteindelik
uitgewerk as 5 + 7 = 23!

Mettertyd het die versoeking oorweldigend geword. Uiteindelik voeg hy die daad by die gedagte,
en sit ‘n rou eier in sy broek se sak. Dié eier is nooit laat val nie. Met die gaan-sitslag in die kerk,
span die broek, en die eier breek in sy kerkbroek se sak. Dit, ongelukkig vir die knapie, as in die
dae voor sielkundige dinge met dissipline. Hy het summier outydse streepsuiker gekry.

Kort na die kerkgebou ingewy is, begin die gemeentelede op die galery kla hulle kan nie die
predikant sien nie.

Deskundige advies van argitekte en ingenieurs is ingeroep. Die probleem was dat die "lig" van die
galery nie veel minder sal kos as wat die bouwerk aan die kerkgebou kort tevore gekos het nie.

Nadat alle opsies oorweeg is, is op 'n kerkraadsvergadering wat deur die geleerde here bygewoon
is, maar besluit om die oë toe te knyp, en die probleem op te los.

Dis toe dat 'n ou omie opstaan, en sê hy weet nie veel van argitektuur en ingenieurswese nie, maar
sal dit nie dalk help om eerder as die galery te lig, die predikant te lig nie?

'n Kassie is aanmekaargetimmer, en siedaar? Die probleem is opgelos. Hoe is dit nou in ons
kerkgebou gesteld? Sit 'n mens agter op die galery, en van die gemeente se lang lidmate, van wie
daar heelwat is, kom sit voor 'n mens, dan is dit maar, kassie of de not, deurkorrel om die predikant
in die oog te kry.

Gelukkig is die dae van die hoede iets van die verlede, maar die mode het 'n geneigdheid om te
draai.

Ds. Tokkie se Dopperstaaltjies


Herman Charles Bosman het by geleentheid oor die Groot Marico se marathondiens geskryf. Dit
was toe die dominee in ‘n beswyming beland het voordat hy kon sê watter verse van Psalm 119
die gemeente moes sing.

Ds. Tokkie van der Walt het ‘n Doppervan soos min, en hy het ook sy storie oor Psalm 119.

Die dominee, nie dominees Tokkie nie, was al ‘n ent weg met die diens toe hy agterkom daar is
groot fout. Sy maag beginne draaie maak, en die krampe dra net een boodkap oor. Die dominee
sal nie kan wag tot na die diens nie.

Hy staak sy prekery, en sit die gemeente aan die sing aan Psalm 119. Gee ook nie verse op nie.

“Julle sing tot ek terug is,” stel hy die gemeente in kennis.

Die dominee verlaat die preekstoel, en suiker die lang gras agter die kerk in. Daar gaan hurk hy,
met net sy kop wat uitsteek. Intussen sing die gemeente.

So elke nie en dan kom loer ‘n diaken (gelukkig vir die dominee het die Doppers nog net mans-
diakens) hoe dinge met die dominee gesteld is. Dan waai die dominee daar uit die lang gras om te
wys alles is reg.

Hoeveel verse van Psalm 119 die gemeente dié dag gesing het, weet ons nou nie.

Hierdie dominee het darem behoorlik voorsorg getref – dat iets gesing word sonder dat die
dominee bekommerd hoef te raak dat die verse gaan opraak.

‘n Ander was nié heeltemal so gelukkig nie. Sy gedagte was om by die vetrekkie met die mannetjie
op die deur, net langs die konsistorie in te hardloop. Dit sou darem nie te lank duur nie, en hy gee
‘n korter Psalm op.

Maar toe hy by die deur met die mannetjie op kom, is dié gesluit. Dus, afsit pastorie toe, maar die
pastorie is ‘n paar blokke ver. Die gruis spat soos die dominee die rieme neerlê.

Of hy betyds terug was, dit weet ons ongelukkig ook nie.

Ons het dominee Tokkie leer ken toe ons by die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid beland
het. In sy eie woorde, is dominee Tokkie net ‘n halwe predikant. As ge-emiriteerde predikant het
die gemeente hom beroep om onder die ou mense te kom werk. Dominee Tokkie is openlik
daaroor, dié beroeping was vir hom gebedsverhoring en uitkoms. Na sy eerste vrou se afsterwe,
het dominee Tokkie hom in ‘n huwelik begewe wat ‘n fout was.

Die gevolg was egskeiding, en hoewel hy sy saak kon stel, het hy tog in die bitterste armoede in
Johannesburg se minder gegoede gedeeltes beland. Hier het hy kamertjies gehuur, met
daggarokende rowwe jacks dikwels sy bure. Hy was bitter eensaam. Vir ds. Tokkie, ‘n diabeet (van
al die lekker vet skapies eet gedurende sy bediening in plattelandse gemeentes), was die ervaring
ook nie juis bevorderlik vir sy gesondheid nie.

Tot dié beroep Bloemfontein toe gekom het. Dit is nie te ver van Reddersburg af nie, waar hy
voorheen predikant was, en ‘n noue verbintenis met die Doppers se kinderhuis opgebou het.

Dominee Tokkie het ge-“arrive”. Met sy gesondheid het dit nie altyd te na wense gegaan nie, en hy
het steeds tye beleef waar hy so gewens het die telefoon wil lui, net dat hy bietjie kan gesels. Die
gemeentelede het ook nie altyd besef nie, en wou die dominee nie te veel met die telefoon pla nie
omdat hy so siek is.

Wys net hoe ‘n bietjie kommunikasiegebrek darem ‘n hart kan laat seerkry.

Maar in die “goeie ou dae” gebeur dinge ook maar wat ‘n mens kan omkrap.

Die dame wat in die kerkkantoor werk, is toevallig saam met ds. Tokkie en sy vrou in die pastorie,
toe daar ‘n munisipale amptenaar aankom. Hy kom die pastorie se krag afsny, omdat die rekening
nie betaal is nie.

Gelukkig is die meter in die kombuis, en dis nie sommer net vir afsny nie. Die kantoordame wil gou
oordraf, en die kwitansie gaan kry, maar die amptenaar se “bevele is sy bevele,” en sy bevele is
dat die pastorie se krag moet af.

Ds. Tokkie is naderhand tussen die meter en die vasbeslote amptenaar.

“Ek sal daai krag afsny!” sê die amptenaar.

“Jy sal nié die krag afsny nie!” is die ewe vasbeslote antwoord.

Terwyl dié onderonsie aan die gang is, staan die dominee se foxterriertjie ook nader. Die doen in
die reël geen vlieg enige kwaad nie.

Terwyl sy baas en die amptenaar so woorde het, staat die hondjie die man so en betrag.
Naderhand bietjie nader, en so al betraggende snuif naderhand.

En daar gebeur dit toe!

Die foksie lig sy been teen die amptenaar se broek! Nog nooit in sy lewe so iets gedoen nie.

Intussen is die kantoortante terug met die verdoemende bewys – die pastorie se krag is betaal. Die
amptenaar se blus is egter in elk geval uit. Al huilende sê hy:

“Ek is gewoond daaraan dat die mense teen my is. Maar hul honde!”
Tydens sy diensjare as predikant, was ds. Tokkie ook heelwat by organisasies buite die
Gereformeerde kerkverband betrokke. So het hy as pastorale konsultant lank vrywilligerswerk by
Elim gedoen, en het hy ook reeds besluit as hy uiteindelik emeriteer van sy emiritaatskap, gaan hy
by die Bevrienders betrokke raak.

In Johannesburg let hy op dat ‘n Engelse kerk wat teen ‘n koppie gebou is, snags ‘n deur van ‘n
onderste vertrek ooplos. Dit was ‘n vaste reëling sodat die boemelaars snags ‘n onderdak kon hê.
Die kerk was ook by die evangelisasie van boemelaars betrokke.

Nie lank nie, of die kerk vra ds. Tokkie of hy en ander Afrikaanse predikante nie ook by die aksie
betrokke wil raak nie, want baie van die boemelaars is Afrikaanssprekend. Ds. Tokkie kan nie
daarin slaag om ander predikante te oorreed nie, en raak self betrokke.

Na ‘n ruk van baie vreugdes saam met hierdie kudde, wil hulle naderhand weet of hulle ook ‘n
diens van dominee Tokkie kan gaan bywoon. Daar is natuurlik skrifregtelik geen beswaar nie.

Op ‘n Sondag was dominee Tokkie reeds op die preekstoel, toe die gehawende span daar inkom,
en die agterste sitplekke van die kerk inneem.

Nie ‘n woord van die gemeente nie, maar die koppe ruk eintlik kort-kort soos die Doppers omkyk
om minder beïndruk waarnemings te doen. Na die diens is die spulletjie gou vort.

“Wie is daai mense, en wat maak hulle hier?’ wil ‘n ontstoke lotjie by die dominee weet.

“Dis my vriende,” was die eenvoudige antwoord.

By geleentheid bedien dominee Tokkie ‘n Suid-Kaaplandse gemeente wat ongeveer van


Swellendam tot Port Elisabeth strek. Boonop strek dit nog ‘n ent die binneland in ook. Dit spreek
vanself dat die dominee maar min by die huis is. Sy huisbesoek-uittogte word so gereël dat hy dan
ook dienste by die verafgeleë punte aanbied, en tussenin ook nagmaal.

Op George was daar in daardie stadium net twee besoekpunte. Nagmaal word in die NG Kerk se
gebou gehou, en die Doppers ruk van heinde en verre vir dié geleentheid op.

Maar in ruil vir die gebruik van die kerkgebou, moet dominee Tokkie sommer die Gaatjeponders se
oggenddiens ook lei. Daarna die nagmaalsdiens.

Saam met die veranderende gebruike het ds. Tokkie ook 'n stelletjie afgetrap. As leraar by Lindley,
moes hy gereeld by die destyds vakante Reitz gaan preek. Na een so 'n diens vergeet hy sy toga
in die konsistorie.
Dis eers toe hy die volgende Sondagoggend by Lindley se konsistorie instap en sien sy toga hang
nie op sy gebruiklike plek netjies in sy plastieksak nie, dat hy besef die toga het die vorige Sondag
nie saam teruggery huis toe nie. Hy moes omtrent bontstaan. Een van die eerwaarde
kerkraadslede wou selfs weet of die dominee die toga aspris, of per abuis, op Reitz vergeet het!

Oor die broekpakkwessie vir vroue is daar ook 'n staaltjie of twee te vertelle. Op 'n dag was die gort
in die universiteitsraad van die PU vir CHO behoorlik gaar. Van die raadslede wat deur die
Gereformeerde Kerke aangewys is, het mekaar in 'n woeste debat getakel. Teetyd stap die
voorspraak-voorstander na die voorspraak-teenstander. "Maar hoekom is dominee dan so gekant
teen vroue wat broekpakke dra?" "Broeke is mos mansklere!" kom die antwoord. "Maar hoekom
gaan koop u dan nie vir u so 'n pakkie nie?"

"Nee, dis mos vroueklere!"

Die hoede het figuurlik die bloed laat vloei. 'n Gemeente waar die hoede, by wyse van spreke,
sonder ophef gewaai het, was baie gelukkig. By die ander is soveel energie vermors wat eerder vir
evangelisasie of sending gebruik kon word.

Kalm dominee!

Broeder Peet van der Walt skryf ook ‘n staaltjie of wat oor dr. Van der Vyver waaruit die diep
menslike karakter van dié merkwaardige leraar blyk:

“Een middag was ek en die dominee besig met huisbesoek. Ons kom toe by ‘n huis waar meer as
een gesin gewoon het, op pad om ‘n senior lidmaat wat in die huis gewoon het, te gaan besoek.

In die voordeur staan ‘n man met ‘n kind op die arm, hy self lekker gekoring.

Toe ons wil ingaan om die oom te gaan besoek, keer die hoenderkop-man ons voor. Ek merk toe
dat daar fout is, en ek stel aan die dominee voor dat ons solank oorkant die straat by ‘n gesin gaan
huisbesoek doen. So ewe stap ons oor die straat, maar toe ons op die oorkantse sypaadjie kom
vra die dominee vir my: ‘Maar ou Pietie, sal ons hom nie gaan opvoeter nie?’ Ja sê ek, maar ons
sal mos in die koerant lees:

‘Dominee en ouderling in huismoles betrokke’.

‘Dan laat staan ons maar’ was die dominee se besluit.”

Klaarblyklik ‘n dominee met die oortuiging dat jy diegene wat jy liefhet moet tug.
Br. Van der Walt vertel van nog ‘n huisbesoek wat hy saam met dieselfde predikant gebring het.

By ‘n sekere huis is die broeder wat besoek word in die kooi aangetref. Met griep in die bed -
wingerdgriep.

Die bottel tiermelk is weggesteek, maar nie goed genoeg vir die waaksame oog van die
gemeentelike herder nie.

Na die predikant die “kranke” aangespreek het, vra hy:

“Maar oom, wie se vuurwater staan daar onder die bed?”

“Seker maar ‘n vriend van my wat hier gekuier het, wat dit daar gelos het” kom die antwoord seep-
glad.

Ko’ laat ons ga-a-at drink

As Afrikaners bymekaar kom, hoef hulle gewoonlik nie baie diep te delf voor hulle agterkom hulle is
iewers familie nie.

Seker dié dat die Afrikaner alewig so verdeeld is. Niemand baklei mos lekkerder as eie
bloedfamilie nie.

Maar so loop ek by geleentheid iemand op Parys raak. Dis nou, soos die bekkige haarkapper by
geleentheid vir my oom gesê het toe hy nog op Parys skoolgehou het, dis seker die Parys in
Transvaal, nie die een in Engeland nie.

So met die geselsery blyk dit toe ons deel ‘n herkoms. Dis nou daai wêreld wat in die TV-reeks, die
Manakwalanners, bekendheid verwerf het.

Die man vertel toe dat hy ‘n jaar of so tevore sy vrou aan sy geboortewêreld bekend gaan stel het.
Hulle kuier toe ook by ‘n neef wat daar by Loeriesfontein rond boer.

So sit hulle op die stoep en gesels, toe die neef se vrou vir hulle koffie bring. Omdat dit nie eintlik
beeswêreld is nie, het baie van die mense eintlik verleer om melk by die koffie of tee te drink.

En daar sit my verteller, Danie, se vrou toe opgeskeep met ‘n koppie swart koffie. En sy is een wat
nie swart koffie drink nie. Danie bemerk sy vrou se verleentheid, en trek sy neef se aandag. Die
neef snap gou en sê toe vir sy vrou in daai swaar Manakwalanse aksent:

“Mê-êt-jie, lô tjsarra da biekkie bies virrie kjênd se ga-a-at”.


In Vrystaatse Afrikaans sou dit min of meer vertaal kon word met:

“Mieta, gaan haal asseblief ‘n bietjie melk vir die kind se koffie”.

In elk geval, Danie se vrou wou niks weet van daai koffie drink nie, met of sonder melk.

En dit bring my by die eintlike storie.

Die woord “Ga-a-t” vir koffie het sy herkoms uit die skaars dae toe die mense sommer self plan
gemaak, en ‘n aftreksel uit die witgatwortel geprakseer het, wat hulle vir koffie gedrink het.

En iemand van elders moes darem regtig baie lus vir koffie gehad het as hulle daai konkoksie in
hul lywe kon inkry. Selfs toe koffie weer meer geredelik in omloop gekom het, was die plaaslike
mense blykbaar so erg oor die onaardse smaak, dat hulle hul koffie nog so aangemaak het dat dit
soos ga-a-t geproe het. En om dit reg te kry, moes die spulletjie behoorlik sterk aangemaak word.

Nou nog spot besoekers en sê die teelepel het sommer so vanself regop in die koppie bly staan.

Nou is dit so dat predikante in daai wêreld selde daar grootgeword het.

Huisbesoek, met die Noordwesters se gasvryheid, was dus ‘n nagmerrie.

‘n Ander besoeker kan nog beleefd die uitnodiging vir ‘n koppie koffie van die hand probeer wys, ek
sê probeer, want nee word nie sommer as antwoord aanvaar nie, maar ‘n predikant kan straksies
aanstoot gee.

Dié storie word die befaamde ds. Steenkamp toegedig. Die einste man wat later ‘n rukkie oorsee
was, en met sy terugkeer vertel het hy’s nou ‘n mediese dokter. En toe later SAP-parlementslid
geword het.

Maar die dominee het sy ding as dominee gedoen, en gaan huisbesoek doen.

Later voel dit vir hom kompleet sy wange wil skurf-kuwe trek van al die sterk ga-a-at wat hy in het.

So kom hy by ‘n vrinlike ou tante, en sommer met die intrapslag gesels sy gesellig dat sy gou vir
dominees ‘n heerlike koppie ga-a-at gaan skink. Net om tant Breggie se siel te versônne, noem ek
die tante tant Breggie.

Vir bedank was daar nie eens kans nie, en vir nog ‘n koppie sien dominee ook nie kans nie. Kyk,
die dominee het ‘n rekord van vrede bewaar gehad. Nie altyd sonder duwweltjies nie, maar darem
vrede.
Soos die slag daar op Niewoudville toe ‘n ou oom en tante stry gekry het. Ek weet nie of hulle met
mekaar getroud was nie, maar die onmin was erg genoeg dat die dorp naa’nd in twee uiters
vyandige kampe verdeel was. Omtrent al 50 inwoners.

Dis toe dat die dominee ingryp. Eers met die oom gepraat oor vrede en naasteliefde en so aan.
Nee, dis reg, seg die oom. Toe afgesit na die ou tante toe. Ook reg, seg die ou tante.

So as nagedagte sê die dominee vir die ou tante: “Tante moet maar vir die oom bid ook”.

“Wat!” gil die tante. “Wat sal die Here van my dink as ek met so ‘n k*% gebed by Hom aangesit
kom!”

Maar terug by die huidige storie.

Tant Breggie stop hom die halwe dam ga-a-at in die hande. “Dominees, ek het sukke lekker
beskuide gebak. Ek kry gou vir dominees daarvan.”

Met die is sy weer kombuis toe.

“Aaa’ gered” dink die dominee. Hy skuif die venster op en skiet die koffie in die tuin in.

En daar staan die dominee net met die koppie se oor in die hand!

Maar, soos die spreekwoord sê, die nood leer lieg.

Toe Tant Breggie met die beskuide haar opwagting maak, vertel die dominee met groot gebare -
die tante was net by die deur uit toe kom hier net so ‘n groot brommer, (en die dominee beduie ‘n
ordentlike grootte met sy vingers) hier ingevlieg.

Hy maak so twee draaie, en sowaar, woeps, daar val die brommer binne in die koffie in.

En dis nou met die uitgooislag dat hy nou die vreeslike skade oorkom, en hy beduie na die oortjie
wat al te beskuldigend daar tussen sy duim en wysvinger sit.

“Ag, toemaar dominees”, sê die tante. “Dominee het seker groot geskrik. Ek maak dominees ‘n
koppie heerlike sterk ga-a-at teen die skrik!”

Van ‘n Rolls Royce tot ‘n donkiekar

“Was dit omtelbaar jare gelede?” Aan die woord is my oudste, nou in graad drie.
Ons onderwerp van bespreking is hoe die ou Karoo miljoene jare gelede daar uitgesien het. En as
u dink dis darem ‘n woeste onderwerp vir ‘n graad drietjie, moet ek darem net sê die outjie stel
nogal belang in die hooghere dinge van die lewe...ongelukkig dikwels meer as in sy skoolwerk.

Soos die slag toe die Shoemaker-Levy-komeet se stukke op Jupiter gaan val het. Die kannetjie kry
toe sy feite half deurmekaar, en vra met groot ontsag of sy oupa gehoor het van die klippe wat op
oom Pieter se kop loop val het?

Oupa speel saam. “Nou wie sou die klippe dan op Oom Pieter se kop gaan gooi het?”

Nee, dit weet die kannetjie nie.

Oupa het die week baie probleme met Mamparra, sy een plaaswerker gehad.

“Sou dit nie dalk Mamparra wees nie?”

Ja, reken die mannetjie, dit was seker niemand anders as Mamparra nie.

Maar terug by die Karoo. As ‘n mens darem sien hoe droog dit daar kan wees, en die vreeslike
hitte voel, dan kan ‘n mens nie dink miljoene jare gelede was dit pure moeras met welige
varingagtige plante nie. Nog minder dat nie minder nie as vier reuse gletsers vir duisende jare oor
die Karoo gelê het.

Darem ‘n plek van uiterstes. Van gletsers toentertyd tot die vreeslikste hitte nou.

Soos die slag wat ek ‘n geleentheid saam met my oom Kaap toe gery het. Oom Lourie wikkel maar
goed deur die warm Karoo, en net daar duskant Laingsburg, toe ek weer vir my oom ‘n
koeligheidjie uit die koelsak op die agterste sitplek diep, hoor ek die gevreesde “tik-tik”.

En ja, daar spring die Karooridder vanuit die niet voor die motor in.

“Meneer het so ‘n ietsie vinnig gery” vertel hy my oom.

“Werklik?” wil my oom weet, pure onskuld.

“Ja, die gatsometer sê 141 kilometer per uur”

“WERKLIK!” Die keer is Oom Lourie regtig verbaas. Hy dog dit was baie vinniger.

Deesdae is die Karoo natuurlik nog lank nie klaar met sy uiterstes nie.

Destyds, toe volstruisvere en wol so ‘n goeie prys gehaal het, kon ‘n mens dit veral opmerk. Van
die deftigste karre tot die lendelamste donkiekar op dieselfde pad. Van paleisagtige huise tot
pondokkies.
Nou moet ‘n mens sê talle van die paleise was ook net half gebou toe die pryse weer destyds,
soos die Rand nou, getuimel het. En die bouwerk net daar moes gaan staan het.

Maar die karre, die kon gouer bekom word.

Soos die omie van Aberdeen wat by sy ouditeur daar in die Baai gaan verneem het of hy genoeg
geldjies vir ‘n nuwe ryding het.

Ja, reken die ouditeur, die Oom het meer as genoeg geld vir ‘n nuwe ryding.

“Selfs ‘n splinternuwe?”

Ja, ‘n splinternuwe.

Selfs ‘n goeie wil die Oom weet. “Selfs die heel beste” sê die ouditeur.

“Nou wat is die heel beste?” wil die oom weet.

“‘n Rolls Royce” sê die ouditeur.

“Nou laat kom dan maar vir my een van daai karretjies”.

So gesê, so gemaak. Toe die Oom later weer in die Baai kom, wil die ouditeur weet hoe dit met die
nuwe kar gaan.

“Nefie” borrel die oom, “dis darem nou ‘n agtermekaar moustertjie daai. Veral daai glas agter die
voorste sitplek. Nou kan die rammetjies nie meer so in my nek blaas as ek hulle mark toe vat nie”.

Maar aan die ander kant van die munt, die donkiekarretjie het ook sy kant gebring.

Soos met daai Dingaansdagvierings, soos Geloftefees destyds genoem is, daar by Graaff-Reinett.

So baie mense het opgedaag, dat die tent heeltemal te klein was vir al die mense. Die sy-flappe
word opgeslaan, en al wat ryding is word om die tent getrek sodat die mense kan luister na die
feesrede.

Amper reg agter die dominee sit twee groterige tantes baie stemmig op ‘n donkiekarretjie,
sonsambrele oop om ‘n ou lafenissie te maak.

So halfpad deur die diens skuifel die een ou tante blykbaar te veel. Die disselboom vlieg regop die
lug in, en die twee tantes rol ‘n slag of wat soos styfgepompte rugbyballe met los veters oor die
Karoobossies.

Met die omtipslag stel die tantes nog so in die verbygaan hul niekerbokkers, wat toentertyd hoog
mode was, aan die feesgangers ten toon.
Baie waardig word die twee tantes opgehelp. Die donkiekarretjie word weer reg gemaak staan, en
‘n paar van die fris manne dra ordentlike groot Karooklippe aan en pak die disselboom mooi vas.

Die twee tantes kry weer hul sit, en die dominee gaan voort waar hy onderbreek is.

Dis toe dat ‘n jong man uit die gehoor uit skree. “Julle kan my maar skiet, maar nou gaan ek eers
lag!”

Natuurlik was dit die einde van die diens.

Die *&% mot en die skuiwergat

My vrou vou behoorlik dubbel soos sy lag.

Sy’s met tant Breggie oor die telefoon aan’t gesels. En as tant Breggie aan die ander kant, soos
hulle sê, op die telefoon is, beteken dit ek moet hierdie kant maar behoorlik wag om te hoor wat so
snaaks is. Tant Breggie is nie skaam vir ‘n hoë telefoonrekening nie, en Telkom maak maandeliks
‘n goeie oes by haar.

Toe ek uiteindelik aan die beurt kom, is ek teleurgesteld, want al is die storie hoé snaaks, geen
digterlike vryheid kan die ontknoping deur ‘n ordentlike nie-vloekende skrywer behoorlik tot sy reg
laat kom nie. Al is dié storie nou ook regtig regtig die waarheid, sonder selfs ‘n ou stertjie bygelieg.

Maar laat ek probeer.

Soos die ou Oom gesê het. “Bring vir my ‘n kind wat nie in die kerk gekriewel het nie, dan wys ek
jou ‘n kind wat nog nie in die kerk was nie”.

G’n wonder nie die wilde woordeboek se definisie van ‘n skuiwergat is iemand wat nie in die kerk
kan stilsit nie.

En al te dikwels is die skuiwer van skuiwergat later die oggend of sommer so tydens die diens met
die woordjie “brand” vervang.

‘n Kind wat nie so nou en dan ‘n ou ietsie aanvang nie, maak grootmense se lewens ook maar
saai.

Selwers was ek al groterig toe ek ook ‘n ding met reperkussies aangevang het.

Daai een keer wil die kerk toe mos basaar hou, en my sussie besluit dis ‘n gawe gedagte om ‘n
spookhuis onder die kerksaal se verhoog in te rig. Maar dis die kerk se stoorplek, en ek en ‘n paar
maters moet inspring om ‘n lekker korridor deur te kry, waardeur die kinders kan loop om bang
gemaak te word.

Ek het later verneem van die opgekommandeerde spoke was so entoesiasties, dat ‘n paar brawes
wat nie vanself wou bang word nie, sommer daar onder in die spookhuis reggesien is. Met die plat
hand en so aan.

Dis met die skoonmakery daar onder dat ek en vriend Matie op ‘n kas leë Nagmaalwynbottels
afkom. Nog so gewonder, toe raak die versoeking te groot, en ons gaan tap die bottels vol water.

Maar as ‘n mens die prop afskroef, dan ruik dit steeds na die ware Jakob.

Wat ons gedink het gaan gebeur, kan ek nie onthou nie. Maar ek kan dink wat sou gebeur het as
daar die slag Nagmaal gehou is, en daar word geskink, en dis pure water!

So ‘n week of so later besoek dr. Frans Burger, ons destydse predikant, die KJA. So terloops vertel
hy daar is by die kerksaal ingebreek.

Die diewe het die kerk se stofsuier daar onder die verhoog uitgehaal. En om die een of ander rede
het die diewe ook die kas met leë nagmaalwynbottels weggedra.

Nou ja, ek hoop daai diewe het ‘n duidelike boodskap gekry oor wat gebeur as ‘n mens die kerk se
wyn steel.

Maar dis nie eintlik tant Breggie se storie nie. Vriende van haar laat doop daar op Kimberley. Vir
die mense is dit ‘n groot geleentheid en hulle steek die hand diep in die sak om etlike groot
blommerangskikkings in die kerk te laat sit. Al te pragtig.

Maar die dopeling het ‘n ouboet van so net oor die twee jaar. En die ouboet is met die dopery en
die min aandag wat hy kry, net min tevrede.

Boonop is hy ‘n berugte skuiwergat, en die familie span saam om te kyk hoe dinge geprakseer kan
word om hom die kortste tyd moontlik aan die kerkgangers bloot te stel.

Uiteindelik word gereken hy moet by die ouma bly wat die dopeling die kerk moet inbring. Op die
manier is ouboet minstens tot en met die doop in die konsistorie, en direk na die doop darem weer
uit die kerk uit ook. En moontlik sal die doop van kleinsus darem sy aandag genoeg boei om hom
‘n rukkie stil te hou.

Maar selfs die verkorte weergawe van stilsit is vir die mannetjie darem erg. Sy ouma se lippe is
naand half seer van so tussen die tande deur vir die mannetjie sis-dreig om stil te sit, en nie so te
gesels nie.
Maar die blomme trek toe mos bye die kerk in. Een van die verdwaalde bye meen die kriewelrige
kannetjie se poenskop is ‘n gawe landingsplek. Die mannetjie hou nie daarvan nie, en klap die
indringer.

Maar die indringer kry vir oulaas sy angel ingelê.

“Eina!” gil die mannetjie. “Hoe byt so ‘n *&% mot my!”

Sy eintlike byvoeglike naamwoord vir dit wat hy a la boklied vir ‘n mot aangesien het, moet leser
welvoeglikheidshalwe ontneem word.

Natuurlik is daar toe pandemonium in die kerk.

Dominee versoek die orrelis om asseblief ‘n langerige stuk te speel om die gemeente en
doopbesoekers kans te gee om tot bedaring te kom.

Ek weet ongelukkig nie of die welsprekende se ouers gereken het die brand bo-op die kop was
genoeg straf vir sy onvanpaste woordeskat nie, maar seker maar darem.

Leeu-plesier

Twee van ons vriende, Andries en Matie Hoffman se pa, ds. Danie Hoffman, was by geleentheid
sendeling in Zambië. Nog Noord-Rhodesië destyds. Matie, as jongste van ‘n gesin van vyf kinders,
het juis vertel dat sy ryplek as die gesin in Suid-Afrika ‘n draai kom maak het, voor by ma se voete
was.

Maar dié verhaal handel oor iets anders. Oom Danie vertel eendag van ‘n baie pligsgetroue
ouderling wat hulle gehad het. Dié ouderling moes egter baie ver te voet aflê van sy blyplek na die
plek waar die kerkraadsvergaderings gehou is. Dit was ook nie al probleem nie. Wilde diere was
nog volop, en van dié diere was gevaarlik.

Om die probleem van afstand te oorkom, word daar naderhand vir die ouderling ‘n fiets aangeskaf.
Met dié fiets is wyksbesoek gebring, en kerkraadsvergaderings bygewoon.

Op ‘n dag kom die ouderling egter taamlik bleek om die kiewe by die kerkraadsvergadering aan.
Hy vertel dat hy iewers, oppad na die vergaderplek, bly ‘n lang afdraande afry. Onder maak die
pad ‘n draai, en op dié draai is daar ‘n groot bos. En dis toe hy om dié bos ry, dat hy hom skielik
tussen ‘n trop leeus bevind. Hy was waarskynlik dwarsdeur die trop voor hy, of die leeus, tot
verhaal gekom het, maar die dominee vra nietemin:

“En wat maak jy toe?”

“Toe lui ek maar die klokkie.”

Die haelgeweer

Die Oos-Vrystaatse dorpie, Tweeklipsruit, is, of was liewer, vir ‘n paar dinge bekend. Benewens vir
die sandsteenstasie, wentel die ander dinge hoofsaaklik om die kerk.

Danksy die mooi sonneblomoeste, wat ook so treffend in Vader Claerhout se skilderye uitgebeeld
word, kon dié gemeeskappie vir hom ‘n pragtige sandsteenkerk oprig. So mooi, dit sou veel groter
dorpe se pogings in die stof laat byt.

Dan was daar die orrel. Aai, wat ‘n praginstrument met sy letterlik honderde pype.

En nee, dis nie in die dorpie waar die hele kerk toe onder die stof en mossieneste was toe die
munsiek-onderwyseres se kêrel, ‘n befaamde musikus uit die stad, die een slag ‘n uitvoering kom
hou het nie. En toe ‘n hele klomp orrelpype oopblaas waarvan die jarelange ou orrelis nie eens
geweet het nie.

Dan was daar die kandelaarlig. Of die honderde kristalle eg was, weet ek nou nie. Ek sê “was”
want dit is ongelukkig nie meer daar nie. Maar nou loop ek die storie vooruit.

Dan was ds. Johan Haasbroek ook bekend vir sy verskriklike harde stem. Die dorpenaars hoef
eintlik nie kerk toe te gegaan het nie, want hulle kon sommer in hul beddens luister hoe die
dominee vir die lidmate van die distrik preek.

So hard het die dominee gepreek, dat Oom Servaas een slag so met die uitstap uit die kerkdiens
vir een van die koshuis-inwonende onderwyseresse fluister:

“Nee, allawêreld, die dominee preek darem gans te hart.” Met dié stamp die onderwyseres die ou
wewenaar in die ribbes, en hy merk mevrou dominee stap reg agter hulle.

“Hy sal sy stem mos seermaak”, maak die oom sy storie verleë klaar.

Maar die dominee se bulderende stem en die orrel se vermoë was maar vulletjies teen die geraas
daai een slag.
Dominee erf op ‘n kol ‘n afgeleefde ou haelgeweertjie. Kolf byna deur die rysmiere opgevreet, en
die metaaldele lelik geroes.

Dominee Haasbroek vra toe vir diaken Fransie Pretorius of hy nie dalk so ‘n bietjie na die ou
skietdingetjie wil kyk nie. Die broeder was bekend vir hoe handig hy met sy twee hande was.

En toe een Sondagoggend, net toe die dominee en kerkraad uit die konsistorie die kerk wil instap,
kom Fransie met die geweer daar aangehardloop. So in die haastigheid sien die dominee hoe
mooi die skietding nou lyk, maar tyd vir kyk is daar nie. Hy prop die geweer terstond onder sy
manel in, en stap die kerk in.

Toe hy eers op die preekstoel is, kan hy die gemeente nie gou genoeg aan ‘n psalm help nie. Gee
sommer ‘n hele boel verse van Psalm 119 op, sodat hy genoeg tyd sal hê om behoorlik na die
transaksie te kyk. Toe sak hy agter die preekstoel weg, en betrag die blinke affêre.

En wat hy sien, beïndruk hom. Die kolf vlam vuurrooi, en die loop is ‘n blinke swart.

En so korrel hy daar van agter die preekstoel af, en so ewe trek hy die sneller.

BOEM!!!

Die ou mense het mos gesê die duiwel laai ‘n geweer.

Met die aftrek van die skoot is die kandelaarlig in sy maai. Met die neersif van die derduisende
stukkies kristal of glas, besluit die gemeente dis ‘n gawe tyd om te ontruim. Omtrent almal is gelyk
by die deur, en vergroot die konsternasie.

Die dominee steier verslae regop daar van agter die preekstoel af op, die rokende skietding steeds
in die hande.

Hy kan nie glo dat hy nou die vreeslikheid oorgekom het nie, en dat die geweer gelaai kon gewees
het nie. So uit die veld geslaan maak hy die geweer oop asof om te kyk of dit werklik gelaai kon
wees.

Dis toe dat Klein Sampie, wat hier agterlangs in die bondel vir die deur skrum, omkyk, en wat hy
sien is te veel vir sy gemoed.

“Stoot Pa!” gil hy ten hemele, “Die dônner laai alweer!”

Muisneste – nee mossieneste


Herman behartig ‘n rubriek, Herrie se Kerrie, in Vrystaat, ‘n Oos-Vrystaatse koerant. Ook hier sou
die kerk as agtergrond vir ‘n verhaaltjie, nie uitbly nie.

Orrel had toe al die tyd mossieneste

HERRIE lees in Vrystaat van die bekende Nederlandse orrelis wat besoek aan Bethlehem gaan
bring.

Dit herinner Herrie aan 'n storie wat hy iewers gehoor het. In 'n klein Karoodorpie raak dit rugbaar
van 'n tante se familielid wat daar kom oorslaap op pad iewers heen. Dié familielid is 'n meester-
orrelis.
Met ompraat en beloftes van baie beskuit, biltong en ander lekkernye word die jong man
omgekoop om 'n vertoning te lewer.

Al orrel op die dorp is die kerkorrel. Dus moet die konsert noodgedwonge in die kerk gehou word.

Die aand sit man en muis in die kerk, uitgevat asof hulle opera toe is. Die orrelis kom in, maak
sy buiging en begin speel. Skaars is die eerste paar note deur die pype geblaas, of die hele kerk is
toe onder stof en mossieneste.

Gou is dit duidelik dat die ou tantetjie wat al die jare die orrel bespeel het, 'n beperkte vermoë
gehad het. Van sommige van die pype het sy nie eens geweet nie.

Ja, Herrie se oorle' ouma was self so 'n ``reisende orrelis''. Op haar oudag het sy as aflos-
musiekonderwyseres op verskeie Bolandse dorpies gaan werk. Dan het sy gewoonlik sommer ook
vir die duur van haar verblyf die orreliste geword, maar Herrie het nooit verneem van enige
mossieneste wat uitgeblaas is nie.

'n Traporreltjie het 'n besondere bekoring vir Herrie. Kleintyd, met die CSV wat op Klein-Brak kom
strandkamp hou het, en tannie Ada se traporreltjie wat elke dag strand toe gedra is waar die kinders
reeds met nat sand die mooiste preekstoel vir oom Smutsie en vir tannie Ada se traporrel gebou
het. Die dag as daar lekker gesing is, was tannie Ada se gô naand uit, en moes 'n kannetjie inspring
om die trappe met die hande te werk.

So weerklink U het die brood gebreek, eens by die meer en Net om u wil te doen steeds met
traporrelklanke in Herrie se ore.

Ja nee, tannie Ada het nooit nodig gehad om die kannetjie by die voete aan te moedig nie.
Daar is gepomp!

Die uitvoering van die Nederlandse orrelis, Martin Mans, is Saterdag in die NG kerk Bethlehem-
Noord. Moenie dit misloop nie.

Die doringboom

Seker een van die sonderlingste kerkverhaaltjies handel nie oor ‘n dominee nie – nie eens oor ‘n
mens nie, maar oor ‘n doringboom.

Die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid was ‘n paar jaar in hul nuwe, en huidige kerkgebou,
toe die bouwerk aan ‘n gemeentesentrum langsaan aangepak is. Volgens die oorspronklike
bouplanne sou ‘n doringboom, wat so saam met die gemeente op die nuwe perseel lyf gekry het, in
die slag bly. Tot vandag toe is die doringboom egter ‘n baken en bymekaarkomplek. Oom Abel
Pienaar het die volgende woorde in die boom se mond gelê:

Die doringboom sê….

“A nee a, julle kan my nie vergeet nie! Ek was al hier as ‘n tenger boompie toe julle jul kerkie hier
kom staan maak het! Ek sal julle baie dinge kan vertel…

Sal ek vergeet hoe spanningsvol dit vir my was toe ds. Stoney en Johan Steyn afgetree het waar
die kerksentrum moet kom…? Die einde van my bestaan! Ek sou moes plek maak! Dan kom daar
tog pleidooie, want ek is dan al so mooi groot’! Wat ‘n verligting toe die sentrum ‘n bietjie verskuif
word (hulle het dit werklik gedoen: verskuif sodat ek ook my staanplek kon behou!

Sonder letsels het dit ook nie gegaan nie! Het julle al ‘n bietjie na my stam gekyk? Daardie groot
merke is waar van my takke verwyder is sodat die saalmuur daar kon inpas. En het julle al gekyk
tot waar toring my takke en blare bo die saal uit?

Elke Sondag hoor ek: ‘Blok 4 se susters vergader onder die doringboom!…Die jeugdeputate kom
onder die doringboom bymekaar…’ Ek sal ook interessante geheime kan uitlap as die leerlinge
kom eksamen skryf en ‘n seun wens ‘n meisie sterkte toe!!

Hartlik gelyk met jul mylpaal!

Ek nooi almal om onder my te kom staan en dan bewys te word van hoe groot God se skepping
is…al is dit maar net in ‘n ou doringboom!”

Ds. Johan Schutte roep sy herinneringe oor die kerksaal soos volg op:
“Die ‘gemeentesentrum’ (kombuis, kerksaal en kantore) was ‘n lank gekoesterde ideaal. Toe ons
in Januarie 1989 hier gekom het, het daar net een groot doringboom gestaan waaronder ons
Sondae tee gedrink het. Oom Willie Snyman se groot vrees was dat dié boom gaan verdwyn. Dit
het toe darem nie. Net halfpad. Al die voorafwerk was klaar gedoen: die kombuis is beplan onder
Petro Steenkamp se leiding, die planne is geteken deur Herman Venter. Lou van der Walt wou
graag minder saal en meer katkisasielokale gehad het, maar uiteindelik was Johan Steyn die groot
dryfkrag. Sy oorlye daardie selfde jaar in Desember het agterna gewys waarom dit so moes wees.
Koot Steenekamp was die bou-aannemer. Koot en Lou is albei onlangs oorlede. Ons dank die
Here vir hulle aandeel.

Die sentrum is sonder skuld gebou, want die pastorie in Cleggsingel was pas verkoop en die
koopsom tesame met lidmate se gratis of goedkoop diens en ‘n bietjie uit die ou boufonds kon die
ding doen. Op 19 Mei 1990 is die sentrum in gebruik geneem. Dit was ons hartseer dat Johan
Steyn en ander wat die ideaal gekoester het dit nie kon meemaak nie.

Op die aand van die ingebruikneming was daar ‘n konsert. Een van die items was ‘n “boksgeveg”.
Die predikant en skriba (niks verander nie!) was elkeen in ‘n groot kartonboks ingedruk en het on-
handig en on-voetig teen mekaar gestamp op die verhoog. Toe is die hande en die voete
uitgehaal (die koppe gelukkig nie!) en kon die onbeholpe bokse tog iets regkry. Dit was ‘n poging
om ‘n kinderlike boodskappie oor die sentrum tuis te bring. Dit beteken niks sonder hande en
voete (mense) wat dit diensbaar en bruikbaar maak nie!

Dié gedagte leef voort in die bord wat langs die deurgeeluik in die gang hang. Daar is twee van dié
borde identies gemaak: een deur Fanie Saayman wat vir my baie spesiaal is en in die portaal by
die pastorie hang, die ander deur Hansie Reinecke en sy werkers. Dit het weer sý ereplek by die
kerk gekry. Die woorde op die bord bly steeds ook my persoonlike siening oor wat ons te doen
staan om die liggaam van Christus gesond te laat lewe. ‘n Liggaam is immers so sterk soos sy
swakste lid.”

SONDER ARMS KAN EK NIE DIEN NIE


SONDER BENE KAN EK NIE WERK NIE
“BEMOEDIG DIÉ WIE SE KNIEË SLAP
HANG, HELP DIÉ WIE SE KNIEË KNIK”

Jes. 35:3 19 Mei 1990


“Stormagtige” geskiedenis

Die Kerkgeskiedenis lewer heelwat verhale op van predikante wat met ruildienste maar ‘n warm
ontvangs gekry het.

Suster Magda Steyn se verhaal handel egter oor ‘n predikant wat nie die gemeente nie, maar die
elemente teen hom gehad het.

Sy meen dit was hier in die tagtigerjare, toe ds. Van Dalsen, destyds leraar van die Gereformeerde
Kerk Bloemfontein-Noord ‘n aanddiens kom waarneem het.

“Die wind en weer was die hele Sondag onplesierig en het geleidelik vererger. So erg was die
storm, dat dit selfs vertragings met die vertrek van treine uit die stad veroorsaak het. Tog het ‘n
klompie brawe mense hulle na die aanddiens begewe.

Terwyl die diens aan die gang was, het die reën boonop begin uitsak, en ds. Van Dalsen het
moedig voortgegaan om te midde van die gedruis sy boodskap te bring. Die ergste sou egter nog
kom! Halfpad deur die diens tuimel ‘n dakteël skynbaar deur die plafon, en mis ‘n diaken rakelings.
Skriba Hennie sê wat blykbaar werklik gebeur het, was dat die wind ‘n teël losgeruk, en deur ‘n
venster bo in ons kerk se dak gewaai het. Die teël het die plafon aan die ander skuins kant van die
dak getref, en stukke uitgeruk. Almal se oë skiet dakwaarts, en toe daar nog ‘n teël te midde van
stof en sand val en voor die preekstoel aan skerwe spat, begewe ‘n groep se moed hulle en laat
spaander na die naaste deur. Die res het nog geaarsel en die dominee het moedig verder gepreek,
totdat ‘n woeste rukwind stof en sand op die gemeente laat neerdaal. Ook hierdie groep besluit om
die voortvlugtiges in aller yl te volg. Intussen moedig die dominee die verskrikte gemeentelede aan
om onder die galery te gaan skuil – terwyl hy voortpreek. Met die kerk amper leeg, steek ds. Van
Dalsen in die middel van ‘n sin vas en sê:

“Broeders en susters, ek dink die omstandighede is van só ‘n aard dat u maar moet huistoe gaan.”

In ons kerkgebou se geskiedenis was die binnekant nog nooit so gou leeg soos daardie aand nie!

Dit was egter nie die enigste keer dat die elemente “teen” die gemeente was nie.

Tannie Essie skryf oor die vroeë jare. Die susters moes breekware by die susters van Wes leen.
Destyds was daar nog net twee susters wat kon motor bestuur, naamlik tant Koekie Pretorius en
tant Sannie du Plooy. Tant Koekie het altyd die vervoer behartig. Oom Simon moes twee keer die
kussings van die motor vervang.
Daar was ook nie fasiliteite vir funksies om fondse in te samel nie. Pale is ingeplant en seile by die
Spoorweë gehuur.

By geleentheid was die susters besig om pannekoek in dié skuiling te bak, toe ‘n regte
Bloemfonteinse wind die spulletjie omwaai.

Wat ‘n gemors!

Daarna het br. Peet van der Walt ‘n staalkonstruksie opgerig, maar die seile moes nog by die
Spoorweë bekom word. Met die bakkery het dit darem veel beter gegaan, skryf tannie Essie.

Minder as ‘n week voor die gemeente se vyftigste verjaarsdagvieringe het twee haelstorms
Bloemfontein kort na mekaar getref. Baie woonhuise se ruite is uitgeslaan, en tuine is verwoes.
Gelukkig het die kerk nie ruite verloor nie, hoewel ‘n paar lekplekke maar weer hul bydrae gelewer
het. Maar feesvier, wou die gemeente feesvier.

Dis egter nie net storms wat die wêreld vir ‘n ruilprediker kan warm maak nie. Broer Abel skryf van
‘n geval in die saal-kerk in Roselaan, waar dr. G.P.L. van der Linde ‘n ruilpreek moes waarneem.
Boonop was dit doop ook.

Plegtig is die doopformulier voorgehou, maar toe die doopouers na vore geroep is om die
doopbelofte te kom aflê, toe gebeur daar niks. ‘n Ongemaklike stilte heers…

‘n Ouderling gaan vasberade na die konsistorie, en loer by die deur in. Toe pluk hy die deur
heeltemal oop, en kyk rond asof hy sy oë nie kan glo dat hy na ‘n leë ruimte staar nie. Rooi in die
gesig kom verduidelik die ouderling al kopskuddend daar is g’n teken van doopouers of die baba
nie.

Die kerkraad is hierop deeglik die kop gewas. Die ouderling het die verkeerde Sondag beetgehad.
Die volgende Sondag is toe wel gedoop.

Ons kry ‘n orrel – met ‘n kinkel

Tannie Essie vertel ook van destyds toe ons in die ou kerkgebou nog net ‘n huisorrel in gebruik
gehad het. Toe word die bouwerk aan die huidige kerkgebou aangepak.

“Wat nou? Op 12 Oktober 1956 word besluit daar gaan ‘n groter orrel aangekoop word. Die
susters spring in en begin bak, hou straattafels, ens. Kan u u indink hoe koud is dit in die winter in
die oggende in die skadukant van Maitlandstraat? Ons het maar matjies gebring vir die voete.
U weet hoe seldsaam is sneeu in Bloemfontein. In 1963 was alles spierwit en die strate nat en
glad. Die susters het ‘n groot bestelling koesisters (wat maar in die kombuisie van ‘n suster gebak
is) gehad. Daar word gebak; nou is dit gereed om afgelewer te word, maar dit is koud, nat en
spierwit buite. Wat nou?? Soos dit maar gaan hardloop die susters maar na die predikant.

Dr. V.d. Vyver kom met sy kakieklere, reënjas en gepantser teen die koue om ons te help. Na ‘n
slakkepas in die strate is alles darem afgelewer. Ons het hard gewerk, mekaar leer ken en baie
grappe gehad.

Die orrel is klaar betaal maar met die bou van die kerk is die orrel te klein! Daar moes orrelpype
bygekoop word. Die susters het maar weer ingespring, gebak en gebrou en nie te lank was alles
betaal”.

Die orrel is op 6 November 1965 in gebruik geneem.

Die susters woel

In die beginjare van dieselfde gemeente het die susters ook nog vir die Provinsiale Raad tee
geskink wanneer hulle vir so twee tot drie weke in sitting was. ‘n Mens moet ook net onthou dat
vervoer destyds maar altyd ‘n probleem was. Al die silwerware moes uitgepak word - wat ‘n werk!
En as alles verby was, moes alles weer teruggepak word. Harde werk, maar ons het dit in ‘n goeie
gees geniet.

Die nasionale Sinode het destyds ook nog by die verskillende gemeentes vergader. Een jaar, skryf
tannie Essie, was die susters besig om die hele week te bak en te brou, aangesien hulle die
Saterdag ‘n funksie sou hê. Die Maandagoggend laat weet hulle egter dit is Bloemfontein-Suid se
beurt om tee vir die Sinode in die Totiussaal langs die Bloemfontein-gemeente te skink. Dié saal is
intussen verkoop en gesloop.

Die susters is gewillig om die verversings te voorsien, maar die mense werk. Bloemfontein se
susters sal die breekware voorsien, maar daar is geen groot borde om die verversings in uit te pak
nie. Alles is in blikke, en wat nou sonder ‘n telefoon? Gelukkig kry ons ‘n kafee wat papierborde
verkoop, maar geen papierdoilies nie. In die middel van die borde staan ‘n kok op een been, ‘n
koek in die hand bo in die lug. Ons moes maar die verversings uitpak. Gelukkig het die pienk
voorskoot die bord versier.
Diefstal

Normaalweg het 'n mens die beeld van misdadigers wat maar 'n lae profiel probeer handhaaf om
nie die oog te vang nie. Sommiges, so lyk dit, het skynbaar nie 'n probleem daarmee om gehoor te
word nie. Met die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid se vyftigste bestaansjaar het diewe op 'n
misterieuse wyse toegang tot die kerkgebou gekry, en hulle met die klankstelsel uit die voete
gemaak.

Die ironie is dat die klankstelsel juis dié jaar geïnstalleer is om die moeilike akoestiek van ons
kerkgebou die probeer oorkom. Lank is geëksperimenteer totdat geoordeel is dat alles nou onder
beheer is. Die luidsprekers op die regte plekke en die regte hoogte, alles perfek uitgewerk, en toe
kom die geheimsinnige diefstal.

Lang debatte in die Kerkraad

Br. Abel skryf dat lang debatte in die Kerkraad gevoer is oor die vrou en die hoed, die wit das, en of
‘n man kerk toe durf gaan sonder ‘n baadjie aan.

‘n Mens kan hierby seker voeg die vroue wat langbroekpakke kerk toe aantrek. In die afgelope
vyftig jaar was die minirok ook boonop ‘n slag hoog mode. In die sewentigerjare, toe safaripakke
nie net hoogmode was nie, maar ook as die drag van uitvoerende bestuurslede beskou is, het ‘n
kerkraadslid reguit van die werk af kerkraadsvergadering toe gegaan – in sy safaripak. Met teetyd
het sy mede-broeders hom omtrent die leviete voorgelees omdat hy nie ‘n pak aangehad het nie!

Die onlangse geskiedenis is egter gekenmerk deur debatte oor die bediening van die Nagmaal.
Hoewel die gesamentlike Nagmaalstafel belangrik bly, het die gedagte posgevat dat die
Nagmaalstafel na die banke uitgebrei kan word. ‘n Verdere fase was die instelling van kelkies.

Die belangrike is egter dat die keuse daar is vir diegene wat verkies om voor by die tafel te gaan
aansit en die wyn uit die gesamentlike beker te drink, dit te kan doen.

Preekversterking

‘n Swart kollega, ‘n hulprediker, is dik van die lag.


Hul gemeente het die Sondag ‘n besoekende leraar ontvang, en dié kry ‘n preekbeurt. Die tema
van sy preek is hoogtepunte en laagtepunte van die lewe. Om die laagtepunte aan te dui, sak hy
agter die kateder weg, en om die hoogtepunte aan te dui, spring hy in die lug op.

Namate die preek vorder, raak die prediker losser van mond, en meer en meer op sy gemak. Tog
raak die laagtepunte al meer, en naderhand is die hoogtepunte maar yl versprei, en boonop begin
die spronge al skuinser die lug in trek.

Later is dit duidelik daar is fout, en toe nog ‘n sprong beoog word, is dit so skuins en lomp dat die
prediker met ‘n slag neerslaan.

Die bekommerde gemeentelede staan nader om te kom kyk wat aangaan. So agter die kateder
kom hulle toe ook agter die kap van die byl – met elke laagtepunt het die leraar eers ‘n sluk
vuurwater geneem wat hy agter in die kateder versteek het. Dit het hom die moed vir ‘n hoogtepunt
gegee.

Die 800 meter-atleet

Die eerste rondte hardloop hy nog snel met ligte voet


Hy loer hoe sy gespierde bene lustig uithaal;
Veertien sekondes per 100 meter is die spoed
Wat nodig is om die nuwe rekord te behaal

Vyf en vyftig sekondes vir vierhonderd meter


Hy het 'n sekonde voorgekom, besef hy bly
Maar om die voorstes te vang moet hy steeds beter
Maar eers moet hy net soos 'n neet by hul bly

Sy vlieënde voete raak ook nou vinnig dom


Maar hy sien die voorstes se bene begin te knak
Seine van sy brein lol om by sy voete te kom
Tog voel hy na al die harde oefen nog nie swak

Nog 150 meter; dis tyd vir die eindpoging


om die voorste moeë atlete te begin vang
sy bene luister na sy brein se uitnodiging
en kom skielik verwoed met baie spoed aan die gang

So skielik is hy by die ander verby geblits


Dat hulle hom nooit, nooit nie-ooit nie sal kan inhaal
Maar het die gedagte benoud deur sy brein geflits
Was dit dalk te gou om met vaart die eindstreep te haal?

Dan uiteindelik uitasem breek hy deur die wenlint


'n nuwe rekord het hy nou en hy glimlag breed
en maak van hom nou op aarde die vrolikste kind
van al die harde oefen en sweet was hy gereed

Maar dadelik dank hy sy Skepper uitgelate


Vir die seënende krag en hope genade-talent
En alles wat hy het as genadige bate
Om te kon uithou tot die loodvoetste laaste ent

You might also like