Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kweek kinders met heel harte
Kweek kinders met heel harte
Kweek kinders met heel harte
Ebook257 pages5 hours

Kweek kinders met heel harte

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Ouers staan vandag, met die werklikheid van sosiale media en die internet, voor groter uitdagings as ooit. Die vertroude ouerskapkenner Hettie Brittz verduidelik hoe ons, terwyl ons ons kinders beskerm teen die dinge waarvoor hulle nog nie gereed is nie, hulle ook weerbaar kan maak teen seerkry en gevare. Met liefde en begrip kan ons ons kinders se selfbeeld, emosionele intelligensie en goeie karakter help bou. Kweek kinders met heel harte is 'n praktiese en inspirerende gids vir dié groot taak.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateApr 20, 2018
ISBN9780796320971
Kweek kinders met heel harte
Author

Hettie Brittz

Hettie Brittz is 'n bekende in ouerskapkringe. Sy skryf wyd oor ouerskap, kinders en gesinsverhouding en het veral bekendheid verwerf vir haar "tall trees"-profiele. Sy is getroud met Louis Brittz die gospelsanger.

Related to Kweek kinders met heel harte

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kweek kinders met heel harte

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kweek kinders met heel harte - Hettie Brittz

    Kweek kinders met heel harte

    Hettie Brittz

    Lux Verbi

    Inleiding

    Ek het nog nooit iets wat miljoene rande werd is in my hande vasgehou nie. Ek kan net dink hoe ek sou voel as ek sou weet dít wat ek in my hande vashou, is enig in sy soort, eeue oud en onvervangbaar. Ek sou probeer om nie gespanne te wees en te bewe nie. Ek sou hard probeer om my hande stil te hou en diep asem te haal en kalm te bly. Spookgeluide van die voorwerp wat die grond tref en spookbeelde van die skerwe wat oor die vloer spat, sou in my gedagtes opdoem. Ek sou die kosbare voorwerp liewer so gou moontlik in die veilige glaskas van die museum terugsit.

    Daar is niks in my huis wat in ’n museum sou kon pryk nie. Tog het ek drie uitsonderlike kunswerke in my huis wat eeue gelede reeds uitgedink is – enig in hulle soort en onvervangbaar. My drie kinders.

    Wanneer hulle harte bloei en ek nie die regte trooswoorde kan vind nie, hoor ek die geluid van skerwe op teëls. Ek hoor ook die skerwe spat wanneer hulle vies word vir my en iets in die wegstap prewel, of wanneer iets skokkends in hulle wêreld gebeur voordat ek dit kan keer. Hulle lees of hoor iets verwoestends en hulle fondamente kraak onder die gewig van hulle ontnugtering. Ek voel verantwoordelik. Dit laat my voel ek kon hulle anders en beter en stywer vasgehou het.

    Ek sien spookbeelde van stukkende kleipotte wanneer ek vir hulle geestelike waarhede wil leer en kan sien hulle glo dit nog nie. Hulle gees en siel, om nie eens van hulle lyfies te praat nie, is aan my toevertrou. En my hande bewe.

    Ons is tot nou toe gebreekte bene gespaar, maar nietemin ken ons die ongevalle-eenheid baie goed. ’n Gebarste blindederm, akute asma, toetse vir leukemie en ’n hele houertjie antihistamienpille in ’n peuterlyfie het ons al baie benoud laat voel. Ek sal egter al hierdie dae en nagte van angs saam met al die steke, x-strale en binneaarse lyne weer en weer kies, solank ek net nooit hoef te beleef dat ’n seun nie glo dat Jesus vir hom lief is nie of dat ’n dogter by ’n seun moet gaan aanklop vir ’n goedkeurende stempel op haar vroulikheid nie.

    As ek my kinders se onskuld en hulle geborgenheid in die Here kon waarborg, sou daar nie ’n prys wees wat vir my te hoog sou wees om te betaal nie.

    Soms wens ek daar was ’n glaskas waarin ek pens en pootjies saam met my kinders kon klim, maar ek weet die lewe werk nie so nie. Ouers moet die werklikheid van seerkry en gevare omarm. Ons self leef nie in ’n glaskas nie, maar dalk kan ons soos ’n museum se kurator wees, of soos die restoureerder van kosbare voorwerpe. Ek glo ons kan ’n omgewing skep waarin ons kinders baie veiliger sal wees, en waarin ons hulle kan hanteer soos die kosbare kleinood wat hulle is. Ek glo ook ons kan ons kinders koester sonder om hulle te bederf of te versmoor. Daar is ’n balans waarna ons kan streef – om hulle bloot te stel aan die werklikhede wat hulle kan hanteer en waarteen hulle reeds weerbaar is, maar om hulle ook te beskerm teen dié dinge waarvoor hulle nog nie gereed is nie.

    In so ’n omgewing van liefde en begrip kan ons ons kinders se goeie karakter na vore bring, soos ’n kunskenner ’n ou kleipot sou versorg sodat sy oorspronklike skoonheid weer sigbaar raak.

    Ek het gaan lees oor die veilige bewaring van kleipotte wat so maklik breek. Die Henry Ford-museum gee riglyne oor hoe om sulke kleipotte skoon te maak, te poleer, te beskerm en uit te stal. Die raakpunte tussen hierdie proses en die versorging van ons kinders het my laat glimlag. Baie ouers weet hoe om kinders af te stof of hulle monde met seep uit te spoel of hulle op die skool se verhoog of op Facebook met al hulle toekennings en medaljes uit te stal. Maar is ons versigtig genoeg met hoe ons ons kinders se harte hanteer? Weet ons hoe om die lelike krake van karakterfoute te voorkom?

    Soms fokus ons so sterk op die kleipot se buitekant dat ons vergeet van die doel waarvoor dit gemaak is. Onthou ons van die kosbare skat wat ons kinders in hulle dra (2 Kor 4:7) – hulle onsterflikheid? Dit is hierdie binnekant van ons kinders wat ons moet voed, met waarheid moet vul en weerbaar moet maak teen die onwaarhede en korrupte ideologieë van die wêreld.

    Dit is hierdie groot verantwoordelikheid wat soms my hande laat bewe. Ek is nie alleen nie. Dit weet ek. Ouers vra vandag baie meer vrae oor die gevare wat hulle kinders se binnekant kan seermaak as oor hoe hulle gebreekte bene kan voorkom.

    Hierdie boek is my poging om aan elkeen wat ’n kind se hart moet bewaar riglyne te gee wat nie veel met afstof en uitwas te make het nie. Daaroor het ek reeds geskryf. Hierdie boek gaan eerder oor die heilige werk wat aan ons toevertrou is om ons kleipotte te koester. Ons sal soms die skerwe sien spat, maar ons kan ook weet ons kan altyd tot die Here bid. Ons kan sy hulp vra om al die skerwe weer aan mekaar vas te plak. Ons kan sy hulp vra om ons te leer hoe om ons tydlose kunswerke – ons kinders – te koester.

    Saam met julle in die museum vol kinders

    Hettie Brittz

    Deel 1

    Versorg jou kind se gees

    Hoofstuk 1

    Gee vir jou kind ’n groot geestelike erfporsie

    Dit is immers my plig as julle pa in die geloof om te sorg dat julle reg leef. En soos ’n goeie pa moet ek ook sorg dat julle ’n groot geestelike erfporsie het (2 Kor 12:14, Die Boodskap).

    Lank voordat Karl Mannheim die eerste sosiologiese argument oor generasiegapings neergepen het, het die Here deur die profeet Maleagi daaroor gepraat. Hierdie woorde is die laaste vers van die Ou Testament. Laaste woorde is belangrik. Dit word onthou, oordink en dikwels aangeteken. Ek glo hierdie woorde is die heel belangrikste woorde oor ouerskap in die Bybel:

    En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie (Mal 4:6, 1953-vertaling).

    Hierdie profesie lê ’n verband tussen twee dinge: stukkende ouer-kind-verhoudings en ’n vervloekte land. Aan die positiewe kant hou dit egter ’n geheim vir ons almal in: Herstelde verhoudings keer die vloek af en genees ’n land.

    Ek was nog altyd ’n maar hoekom?-mens. Ek het dus lank aan hierdie vers gekou. Hoekom is die band tussen die verskillende geslagte so belangrik? Dít was my slotsom: Heel en hegte verhoudings is die waarborg dat die een geslag hulle geloofstokkie aan die volgende geslag sal oorgee sodat die goeie wedloop voltooi kan word. Wanneer geslagte hierin slaag omdat hulle harte na mekaar toe gedraai is, word potskerwe weer heel potte en die skatte van geloof, hoop en liefde word doeltreffend in harte en families bewaar. Geslagte word genees en elke deel van die samelewing beleef herstel wat voel en lyk soos vloek wat in seën verander. Elke kind is veiliger en erf iets kosbaars – die wyshede van die vorige geslagte.

    As die verlede nie die hede kan onderrig en ’n pa nie sy seun kan onderrig nie, kon die geskiedenis net sowel nie voortgegaan het nie en het die wêreld baie tyd gemors.

    – Russel Hoban

    In 2 Timoteus 1:5 praat Paulus met sy geestelike seun Timoteus juis hieroor: Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.

    Is dit nie ’n pragtige getuienis dat ’n ouma ’n opregte geloof aan haar dogter kon oordra en dat haar dogter dit weer aan haar seun kon oordra nie? Dit is wat ek my kinders toewens, dat die liefde wat ek vir die Here het ook in hulle harte sal wortelskiet.

    Ons wil iets vir ons kinders nalaat en ons wil seker maak dit is nie net kisklere wat deur vismotte gevreet is of ’n muntversameling nie. Wanneer iemand ons vra om te dink oor wat ons aan ons kinders wil nalaat, sal sommige van ons dalk dink aan die pragtige mat wat Oumagrootjie 120 jaar gelede met haar rumatiekhande geknoop het, of aan die versameling silwerware uit die dae toe die Kaap nog ’n Britse kolonie was, of aan die stokou Statebybel.

    Maar as ons self die rykdom van ’n verhouding met Jesus besit, is dít dan nie die grootste skat wat ons graag vir ons kinders sal wil aangee nie? En daarmee saam die erfporsie van waardes, norme, werketiek, integriteit en lewenswysheid. Is dit nie die enigste nalatenskap wat nie deur belasting, verweer, inflasie of diefstal geraak sal kan word nie?

    En tog, kyk ons na die geestelike erfporsie wat van die een geslag na die volgende aangegee word, lyk dit of daar wel heelwat verlore gaan. Dalk word ons nalatenskap tog gedeeltelik gesteel. Dalk eis die samelewing van vandag wel sy boedelbelasting.

    Toe my ouma se laaste sandjies deur die uurglas syfer, wou niemand oor erfstukke gesels nie. Maar my ouma was altyd baie prakties. Toe ek en my ma ná haar dood die woonstel begin opruim, was daar plakkertjies onder al die borde en al die bakke, agter al die skilderye en tapisserieë. Daar was selfs ’n lysie in die drankkabinet. Die bottel goedverouderde dit en dat moet na sus en so gaan. Tussen die trane deur het ons lekker oor Ouma se plakkers en lysies gelag. Die manier waarop Ouma haar goedjies aan ons bemaak het, het van liefde en deernis en ’n baie spesiale insig in elkeen in die familie gespreek.

    Ek is bly oor die tapisserie wat ek geërf het, want toe haar oë al swak was, het ek die stekies wat sy gemis het vir haar met helderkleurige koppiespelde gemerk. Sy het die geel en rooi knoppies gevolg om die tapisserie klaar te maak. Ek is egter baie blyer oor die tapisserie wat Ouma met haar lewe op my hart uitgewerk het. In ’n familie waar daar ongehude moeders en egskeidings was, was sy kleurblind vir die swartskape en die witbroodjies. Almal was vir haar my kuiken.

    Sy het haar seuns en skoonseuns een vir een begrawe. Sy was die sterkste van ons almal, al was sy, verrassend genoeg, nooit ’n kerkmens nie. In die Bybel langs haar bed was daar gedeeltes wat vreemd opgesom, gekritiseer en ontleed was, soos ’n voorgeskrewe gedig op skool. Hoekom kon ek dan ’n boek skryf oor die preke wat haar lewe verkondig het? Hoe het sy dit reggekry om ’n geestelike erfporsie na te laat al het sy nooit met haar geloof te koop geloop nie?

    Kom ek stel dit anders. Wat is die voorwaardes as ons ’n groot geestelike erfporsie aan ons kinders wil nalaat? Ek glo daar is twee voorwaardes.

    •Die eerste is die tyd wat ons in ons kinders moet belê.

    •Die tweede is die verhouding wat ons met ons kinders moet bou.

    Tyd

    Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan (Deut 6:6-7).

    Hierdie opdrag is gegee aan die Israeliete toe hulle nog in die woestyn rondgeswerf het. Waarom was dit so nodig dat hulle die gebooie by hulle kinders moes inskerp en aanmekaar met hulle daaroor moes praat, in die huis, buite die huis, met slaaptyd en met opstaantyd? Ek glo dit is omdat die Here geweet het hulle was op pad Kanaän toe, ’n land vol afgode, ’n land met ’n giftige kultuur.

    Dit is dieselfde in vandag se wêreld. Ons samelewing is giftig. Ons woon nie in ’n land met ’n Christenkultuur nie. As ons wil hê ons kinders moet teen vandag se kultuur staande bly, moet ons die dinge wat ons glo by hulle inskerp. Ons moet aanmekaar met hulle daaroor praat en dit as’t ware heeldag uitleef en daarmee saamleef. Dit moet dagin en daguit die belangrikste element van ons lewe wees as ons ’n groot genoeg impak op ons kinders se lewe wil maak.

    Baie van ons dink ons sal aan ons kinders ’n goeie geestelike erfporsie nalaat deur hulle Sondagskool toe te neem, by ’n Christelike skool in te skryf of Sondagaande vinnig vir hulle ’n Bybelstorie te lees. Maar HL Mencken het gesê: A Sunday school is a prison in which children do penance for the evil conscience of their parents. Dalk is dit waar dat ons ons kinders Sondagskool toe stuur of na Christelike kampe laat gaan met die hoop dat die kerk iets sal doen aan die leemte wat ons as ouers in hulle lewe laat.

    Hoe vergelyk jou sinvolle tyd saam met jou kind met sy of haar tyd by maats, voor die TV, op die iPad of internet of voor skoolboeke wat sekulêre en humanistiese idees verkondig? Stel jou voor Jesus het vir sy dissipels gevra om elke aand ná werk net so ’n bietjie saam met Hom te kom kuier. Sou Hy hulle binne drie jaar sy volgelinge kon maak om sy evangelie oor die wêreld heen uit te dra? Nee, Jesus het binne drie jaar ’n wonderlike geestelike erfporsie aan sy dissipels gegee omdat Hy dag en nag saam met hulle geleef het.

    Dalk is dit die rede hoekom ons meer as drie jaar het om ons kinders groot te maak. Ons kan nie in die tien minute voor slaaptyd ons kinders in dissipels van Jesus verander nie. Ons leef in ’n giftige samelewing en ons kinders is op die oorlogveld, blootgestel aan ongelooflik baie lelike dinge. ’n Uur se Kinderkerk en Bybelstories met slaaptyd sal eenvoudig nie genoeg wees nie.

    Hoekom is dit dan so moeilik om genoeg tyd te vind om saam met ons kinders deur te bring? Ek glo die gejaag na geld om dit op plesier en materiële besittings uit te gee is ’n groot vyand van ons tyd saam met ons kinders. Hoekom werk ons so hard? Om wat te kan koop? Om wat te kan bereik? Om dinge te koop wat ons en ons kinders van mekaar af weghou? Om geld vir eendag weg te sit en skatte hier op aarde bymekaar te maak?

    The Message se weergawe van Psalm 127:2-5 is:

    It’s useless to rise early and go to bed late and work your worried fingers to the bone. Don’t you know he enjoys giving rest to those he love? Don’t you see that children are God’s best gift, the fruit of the world, his generous legacy? Like a warrior’s fist full of arrows are the children of a vigorous youth. Oh, how blessed are you parents, with your quivers full of children! Your enemies don’t stand a chance against you; you’ll sweep them right off your doorstep.

    Hier is ’n heel ander erfporsie ter sprake, nie waar nie? Ons kinders is ons kosbaarste erfenis, ons grootste geskenk van God. Ek dink nie dit is toevallig dat die psalm met dié vermaning begin nie: Vergeefs werk die wat die huis bou as God nie saam met hulle die huis bou nie (1953-vertaling).

    Die psalm praat nie hier van kliphuise of baksteenhuise nie, maar van gesinshuise en geestelike huise. Ons bou hierdie huise met ons kinders, lewende kinders, kinders met ’n ewige siel. Die Here waarsku ons teen die leuen dat ons van vroeg tot laat moet werk om self ons huis te bou. Nee, sê die Here, dit is nie met werk dat jy jou huis bou nie; dit is met jou kinders.

    Toe ek klein was, het ek vas geglo die Krugermiljoene is in ons dak versteek, reg bokant die studeerkamer, want ek het eenkeer my pa op ’n leer onder die luik betrap. Hy het belowe om eendag, wanneer ek groot is, vir my te sê wat daar versteek is. Op ’n mooi dag het ek my ma en pa in die kombuis hoor fluister, ernstig fluister. Die woord rewolwer het opgeklink. Dít was al die tyd die skat op die plafon. Ek was bitter teleurgesteld!

    Ja, ek was baie teleurgesteld omdat ek nie goue ponde sou erf nie. Vandag weet ek ek sou daardie ponde, ás dit daar was, sonder ’n oogknip prysgegee het vir wat ek wel by my ouers geërf het: herinneringe aan vakansies in huise met sementvloere en ’n buitetoilet met ’n koue stort; someraande se saamkuier in die kombuis met ons gunstelingete op die tafel – Franse roosterbrood met stroop; Saterdae se pap-en-wors …

    Kinders heg nie regtig meer waarde aan al die duur items waarvoor ons ons so afsloof as aan die gratis gesinsoomblikke wat deesdae so skaars geword het nie. Moeder Teresa het iets kosbaars gesê en dit is vir my nogal ironies omdat sy nie ’n ma was nie, maar dalk het sy meer van moederskap verstaan as baie van ons wat kinders in die wêreld gebring het. Sy sê: Everybody today seems to be in such a terrible rush, anxious for greater developments and greater riches and so on, so that children have very little time for their parents. Parents have very little time for each other, and in the home begins the disruption of the peace of the world.

    Om tyd te maak om by ons kinders te wees voel vir ons so moeilik. Maar is dit dalk net moeilik omdat hierdie tyd nie met ’n rooi vlaggie gemerk is soos daardie dringende e-pos nie? Is dit dalk omdat hulle nie in jou ore lui soos jou selfoon nie? Of omdat daar nie ’n departementele nota Dringend! Dringend! Dringend! op hulle voorkoppe geplak is nie? Of omdat ons hulle makliker

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1