Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Gister is verby
Gister is verby
Gister is verby
Ebook402 pages9 hours

Gister is verby

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

’n Deernisvolle verhoudingsroman oor borskanker en die invloed daarvan op verhoudings. Nadine se wêreld stort in duie wanneer ’n doodgewone doktersafspraak ’n skrikwekkende vonnis oplewer. Skielik moet sy nie net borskanker se onmenslike aanslae op haar gesondheid, menslikheid en vroulikheid leer hanteer nie, maar ook die reaksies van hul vriendekring en haar man, Pierre. Maar ook Pierre voel magteloos. Hy soek desperaat na antwoorde en begin stelsematig sy plek in hul verhouding bevraagteken. Hoe het hulle onderskeie rolle binne hulle huwelik verander? Sal hulle ooit eendag ouers kan wees? Hoe leer Nadine en Pierre om mekaar weer opnuut te ondersteun? In Gister is verby wys Aggenbach hoe geliefdes, te midde van talle struikelblokke, kan groei en saam sterk kan word.
LanguageAfrikaans
Release dateOct 2, 2017
ISBN9780798176330
Gister is verby
Author

Juanita Aggenbach

Juanita Aggenbach is in 1976 gebore. Sy verwerf honneursgrade in sielkunde aan die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch en ’n honneursgraad in Kriminologie, waarna sy as sielkundige berader en kriminologiedosent werk. Haar derde roman is in 2016 vir ’n ATKV-Woordveertjie benoem. Juanita woon in Durbanville met haar man en twee dogters.

Related to Gister is verby

Related ebooks

Related articles

Reviews for Gister is verby

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Gister is verby - Juanita Aggenbach

    Juanita Aggenbach

    GISTER IS VERBY

    Human & Rousseau

    Vir André

    Proloog

    Nadine hou Althea dop. Soekend na emosie, betekenis, erkentenis, énigiets terwyl die onkoloog die lêer voor haar deurblaai.

    Sy vind niks. Nie goedkeuring nie. Nie afkeuring nie. Niks.

    O. Althea frons. Die beenflikkergram se uitslae is nog nie hier nie. Gaan maar gou vir jou bestraling. Dit help nie ons bespreek jou resultate sonder die beenflikkergramverslag nie.

    Opeens is Nadine terug in dokter Neethling se spreekkamer amper agt maande gelede. Die dag toe hy haar gestuur het vir ’n mammogram. Toe hy geweet het sy het waarskynlik kanker in haar bors, maar hy wou dit eers bevestig.

    Althea tel die telefoon op. Jy kan maar gaan. Ek sien jou ná die bestraling.

    Jelliebene dra Nadine die kantoor uit.

    Enigiemand wat skoon resultate op daardie verslae gesien het, sou geglimlag het, maar Althea Laubscher se gesig het geen spoor van ’n glimlag nie.

    Hoofstuk 1

    Die muurhorlosie in die sonarvertrek tik in duidelike slae die sekondes af.

    Nadine sluk. Kan ek net eers my man bel?

    Dokter Neethling vang die sonar-tegnikus se oog voor hy sim­patiek na haar kyk. Natuurlik, neem jou tyd. Hy krabbel iets in sy notaboek en hou die papier na haar toe uit. Dokter Van Zyl wag vir jou by hierdie kantoor.

    Met snel gedagtes en trae hande trek Nadine die bra en bloes wat sy in die aantrekhokkie gelos het aan. Haar hart klop angstig in haar ore. Sy hang haar handsak oor haar skouer en stap niks­siende tot by haar motor in die parkeerarea.

    Die motor is warm van heelmiddag se staan in die son.

    Sy draai die venster af en bel vir Pierre wat bly klink om haar stem te hoor.

    Die groeiende vrees vir die draaikolk wat haar intrek kry die oorhand en sy snik ’n groet uit.

    Wat gaan aan? Was jy in ’n ongeluk?

    Die ginekoloog het my vir ’n mammogram gestuur en . . . Nog ’n snik smoor verdere woorde.

    Nadine?

    Sy vee haar nat hande aan haar broek af. Hulle wil ’n biopsie doen. By ’n chirurg. Nou.

    Ek is op pad.

    Nadine kyk na die foon wat skielik stil geword het in haar hand. Pierre is op pad, eggo dit terwyl sy die venster weer toedraai en terugstap hospitaalgebou toe, na die onbekende dokter Van Zyl toe wat haar haar bloes en bra laat uittrek.

    Kom ons begin by die begin, sê dokter Van Zyl. Het jy enige trauma, soos ’n harde stamp op jou bors, gehad?

    Nadine hou die dun jurkie wat hy haar gegee het om haar mee te bedek toe waar sy op die ondersoekbed sit. Dokter Neeth­ling het dieselfde gevra voor hy haar vir die mammogram ge­stuur het. Nie wat ek kan onthou nie. Kan ’n stamp so iets veroorsaak?

    Trauma van die bors veroorsaak nie kanker nie, maar dit kan lei tot vetnekrose in ’n gebied waar die weefsel beseer was. Die vet in die selle word dan vrygestel in die weefsel en veroor­saak ’n inflammatoriese respons wat as ’n knop gevoel word. Jy kan maar plat lê, asseblief.

    Sy maak haar oë toe toe hy die bietjie bedekking wegneem.

    Ek gaan eers doodspuit. Dis gevoelig, ek is jammer.

    Skok stol in haar keel toe sy die eerste brandsteek langs haar tepel voel. Nog ’n steek laat haar die laken in haar linkervuis vasgryp.

    Nog ’n keer. En weer. Dis sigaret-teen-die-vel-dooddruk-seer.

    Sy is uitasem toe die naald ’n vyfde keer haar liggaam bin­ne­dring. Doen jy al die biopsie?

    Nee, ek spuit nog net dood. Ek is jammer, ek weet dis seer.

    Sy klem haar kake saam en kry eers ordentlik lug in haar longe toe hy ná die sesde keer die inspuitnaald eenkant sit.

    Ons gaan ’n trucut-biopsie doen. Hy tel ’n dik naald op. Hiermee verwyder ons ’n strooitjie weefsel uit die knoppie in jou bors en stuur dit na ’n patoloog om te bepaal of dit kankerselle bevat. Is jy reg?

    Toe die dikker naald deur haar vel breek, gryp sy die laken met haar linkerhand vas en draai haar kop na die muur toe.

    Pierre blaas gefrustreerd sy asem uit toe die parkeeraanwyser beduie dat al die plekke gevul is. Die hartklop wat in sy keel hamer, het nog nie bedaar vandat hy Nadine se oproep gekry het nie.

    Verwoed maak hy ’n driepuntdraai en stuur die motor na die dakparkering die verste weg van die hospitaal se ingang. Hy parkeer skeef in die eerste oop plek en sluit die motor met die afstandbeheerder toe hy al ’n paar tree daarvan weg is.

    Daar is niemand by die ontvangstoonbank nie. Die klerk by die fotostaatmasjien neem ’n ewigheid om om te draai van waar­mee sy ook al besig was.

    Hy tik met sy vingers op die toonbank. Ek soek na die gine­koloog by wie my vrou was.

    Hier is vier ginekoloë by ons. Sy kyk oor haar bril na hom. Het u dalk die dokter se van?

    Nee.

    Ek skakel hulle sommer gou. Wat is u vrou se van?

    Duvenhage.

    U vrou was by dokter Neethling, sê die klerk toe sy die foon neersit. Sy is nou by dokter Van Zyl, die chirurg. Volg net die gang, draai regs en weer regs, sy spreekkamer is aan die linkerkant.

    Dankie.

    Pierre haas hom die gang af. Hy het geweet daar is fout. Die eerste keer toe hy bloed op Nadine se bra gesien het, het hy vir haar gesê om by ’n dokter uit te kom.

    Maar toe weet sy mos beter, wil vir hom vertel dis weens haar baie oefening. Watse snert.

    Die vrou by die chirurg se ontvangs lyk of sy reeds opgepak het vir huis toe gaan. Middag, meneer. Kan ek help?

    Hy laat rus beide sy hande op die toonbank. Ek hoor my vrou is by dokter Van Zyl. Nadine Duvenhage?

    Die vrou knik. Sy behoort nie meer lank te wees nie. U kan gerus sit.

    Hy kies ’n sitplek in die verlate wagkamer en tel die boonste van die stapel tydskrifte op. Hoe lank neem ’n biopsie? Wat behels ’n biopsie?

    Blindelings blaai hy deur die tydskrif. Maak dit toe en sit dit neer. Wie probeer hy bluf?

    Ons is klaar. Dokter Van Zyl lyk verlig toe hy die naald neersit.

    Nadine vou die jurk oor haar borste toe. Wanneer kry ek die uitslag, dokter?

    Ons behoort jou teen môre al te laat weet. Hy trek die hand­skoene van sy hande af. Gaan nou huis toe en ontspan. Jy het ’n lang middag agter die rug.

    Om haar bors wat so seer klop te lawe skuif Nadine dieper onder die water in. Ek moes ná die mammogram werk toe bel om die middag af te vra. En dít drie weke nadat ek daar begin het.

    Pierre leun oor om nog warm water in die bad te tap. Het jy vir hulle gesê hoekom?

    Ja. Hannah het net gesê: ‘You gotta do what you gotta do.’

    Ek is seker hulle sal nie ’n issue hê nie.

    Sy vee met haar nat hande oor haar gesig. Ek kan nie gló wat vandag gebeur het nie. Hier gaan ek vir my gewone jaarlikse ondersoek ginekoloog toe en om met dokter Neethling te praat oor ons wat met ’n gesin wil begin. Toe kry ek nie eens kans om hom te vra oor die Pil wat ek vandag wou los nie.

    Hy het duidelik belangriker dinge gehad om te hanteer. Pierre begin sy lyf inseep, ’n seker teken dat hy nie verder daar­oor wil praat nie.

    Sy steek haar hand uit om aan hom te raak. Ek is jammer.

    Waaroor?

    Oor ek nie na jou geluister het nie . . . toe jy gesê het ek moet by ’n dokter uitkom.

    Hy antwoord nie, maar hy hoef ook nie: sy stywelyn lippe spreek duidelik genoeg.

    Sy kyk af na haar bors vol steekmerkies. Sê nou dis kanker?

    Moenie spoke opjaag nie. Hy spoel sy lyf af, staan op en begin afdroog. Ek het besluit ek gaan nie meer môre Pretoria toe nie.

    Danie is jou beste vriend, jy kan nie sy bachelor’s mis nie.

    Ek kan nie in Pretoria sit en jy hier in die Kaap met al dié dinge nie. Jou ma-hulle is negentig kilometer weg in Villiersdorp.

    Jy sien al maande uit na julle kuier. En dis net ’n naweek. Gáán, Pierre. Jou hier-wees kan nie die uitslag verander nie, selfs al is dit slegte nuus.

    Hy vou die handdoek om sy lyf en sak op die bad se rand neer. Ek wil hier wees vir jou.

    Jy gaan net ’n oproep ver wees.

    Hy kyk haar stip aan voor hy opstaan en uitloop.

    Sy sit regop en neem die seep. Hoekom stuur sy hom weg Pre­toria toe? Sy wil hom tog nêrens anders hê as hier by haar nie.

    Sy was haar lyf, vermy haar bors. Miskien hoop sy dat as hulle aangaan met hulle lewe soos hulle dit beplan het, sal die biopsie se uitslag nie alles omvergooi nie.

    Sy weet nie. Sy weet nie meer wat sy weet nie.

    Toe die sein in die vliegtuig opklink, maak Pierre sy sitplekgordel los. Hy skakel dadelik sy selfoon aan en sien verlig daar was nog geen oproep van Nadine nie. Of is dit juis ’n slegte teken? Sy het so ’n gewoonte om eers self oor iets te tob voor sy met ander daaroor praat.

    Nee, sy sal hom dadelik bel. Hierdie ding was gisteraand te swaar op haar gemoed. Heelnag het hulle lê en rondrol. Later het hy dit oorweeg om op te staan en in die studeerkamer te gaan werk, maar dan sou hy aan Nadine te kenne gee dat die ding hom ook bang maak.

    Hy ry met die rolband tot in die aankomsaal om sy naweeksak tussen die ander bagasie uit te soek en glimlag breed toe hy Danie raaksien. Is jy reg vir jou groot naweek?

    Is ’n man ooit nie reg nie? Danie klap hom op die skouer. Die manne wag by my huis vir ons. Ons val sommer dadelik in die pad.

    Die manne is ’n vrolike lot, sien Pierre toe hulle by Danie se oprit intrek.

    ’n Groot man steek eerste sy hand uit om te groet. Anton is die naam. Sit sommer jou sak hier in.

    Die kattebak waarna hy beduie, lyk vir Pierre of hulle ’n weg­neem-sjebeen wil begin.

    Hier is vir jou en Danie elkeen ’n bier, sê Anton, julle bestuur mos nie. Dikhololo, hier kom ons!

    Pierre draai die bottel se prop af en klink dit teen Danie s’n toe Anton agter die stuur inklim.

    Hulle skuif op die viertrek se agtersitplek in. Die musiek is hard en die bier verfrissend. Hy kan hom amper verbeel hulle is weer tieners, in Danie se ouer broer se kar op pad Menlyn toe om te gaan fliek; Danie agter een of ander blondekop aan en hy wat saamgesleep word vir morele ondersteuning.

    Hoe gaan dit met Nadine? vra Danie en sluk aan sy bier.

    Goed. Sy het as regsadviseur by Fashion Corp begin werk so drie weke terug. Sy love dit.

    Nice. Sy het mos altyd gesê sy wil vir hulle werk.

    Jy moet haar sien. Dit lyk elke dag of sy uit ’n modetydskrif stap as sy werk toe gaan.

    Snazzy vrou wat jy vir jou losgeslaan het. Nie dat ek ver­staan wat sy in jou sien nie.

    Ja, ja. Geen mens sal ook weet wat Lienka in jou sien nie, en nou staan julle op trou.

    Danie klink sy bottel teen Pierre s’n. Can you believe it.

    Pierre lag. Hoog tyd ook. Dis die beste ding wat jy ooit kan doen.

    Nadine kyk op toe Hannah langs haar in die oopplankantoor verskyn.

    Did you hear anything from the gynae yet?

    Nog niks, sê sy so neutraal moontlik sonder om na Hannah te kyk. Gelukkig wys haar lessenaar muur toe, sodat sy nie heel­dag die ander se kyke hoef raak te sien nie.

    Riana says you must let her know as soon as you hear anything. And you can go home immediately if it’s bad news.

    Dankie. Sy konsentreer op die kontrak voor haar. Sy wil regtig nie nou hieroor praat nie. Die feit dat die dokter haar steeds nie gebel het nie, is besig om haar tot raserny te dryf.

    Hannah leun teen haar lessenaar aan. Why do they take so long?

    Hannah.

    Sorry. I’m just so stressed for your sake. And you look so cool, calm and collected.

    Ek probeer om nie daaraan te dink nie.

    Maar sy dink daaraan. Vandat sy vanoggend haar oë oopgemaak het, is dit al waaraan sy dink. Elke aksie wat sy uitvoer, elke iets wat sy as vanselfsprekend aanvaar, laat haar wonder hoekom sy die eenvoud daarvan voorheen nie meer waardeer het nie.

    En elke oomblik dink sy: Hoekom bel dokter Neethling nie? Het hy haar nommer verloor? Moet sy hóm bel? Het haar biopsiemonster weggeraak? Het gister regtig gebeur, of was dit net ’n nare droom?

    Dan voel sy haar gekneusde bors en weet ’n nagmerrie maak nie fisiek seer nie.

    Toe die Durbanville-nommer uiteindelik oor haar selfoonskerm flits, wil sy nie meer weet wat die uitslag is nie. Met ’n donderende hart loop sy badkamer toe vir meer privaatheid voor sy antwoord.

    Middag, mevrou Duvenhage, dis dokter Van Zyl wat praat. Is jy al by die huis?

    Nee, ek is nog by die werk. Sy stut haar kloppende lyf teen die muur.

    Ai, dis nou jammer. Ek het spesifiek tot nou gewag omdat ek gehoop het jy is al tuis.

    Sy druk haar handpalm teen haar bors. Sy wil dit nie hoor nie.

    Mevrou Duvenhage, daar is nie ’n maklike manier om dit te sê nie . . .

    Haar verstand slaan toe en sy wil met alle geweld die foon van haar oor af wegskeur, maar haar hand bly bewegingloos.

    Daar is veelvuldige selle wat positief toets vir kanker.

    Haar knieë knik en sy sak stadig met haar rug teen die muur af. Haar gedagtes hardloop rond om die regte vraag te gryp, maar kry nie een raakgevat nie.

    Oukei, dokter, sê sy oplaas.

    Ek wil jou so gou moontlik sien om oor ’n behandelings­plan te praat. My kantoor sal jou bel vir ’n afspraak. Gaan jy nou net huis toe, ons praat Maandag.

    Sy druk die foon dood en sit vir ’n ruk net so.

    Gaan jy nou net huis toe . . .

    Sy skuur teen die muur regop en haal diep asem. Nou weet sy.

    What did the doctor say? loop Hannah haar trompop toe sy die badkamerdeur oopmaak.

    Dis kanker.

    Oh no! I’m so sorry.

    Hannah druk haar te styf vas en maak haar bors seer. Sê asseblief vir Riana ek gaan huis toe.

    Will you be alright? Must I take you home?

    I’ll be fine.

    Met bewende vingers skakel sy die rekenaar af en neem haar handsak. Dit voel of sy buite haar liggaam uit die kantoor stap en in haar motor klim, dit aanskakel en wegtrek.

    Die verkeer kruie op die gewone Vrydagmiddagmanier. Die nuusleser struikel oor ’n woord, vra verskoning en lees die res van die berig. Sy sit die flikkerlig aan en neem die afrit huis toe.

    Heeltyd het sy gedink daar moet ’n ander verklaring wees vir die knoppie in haar bors. Heeltyd was sy oortuig dit kan nie borskanker wees nie. Dit kan nie, want sy is te jonk. Sy is te fiks. Heeltyd soek sy die sondebok tussen digte borsweefsel, melkklierontsteking en te harde oefening. Leen sy haar ore uit aan haar ma en Adri.

    Hoe kon sy so dom gewees het?

    Adri het wel ook gesê sy moet vir die wis en die onwis ’n mammogram laat doen. Maar Adri is ’n suster by ’n hospitaal waar sy daagliks in die verkeerde kant van diagnoses vaskyk, natuurlik sal sy meer paranoïes wees. Die digteweefselteorie het Nadine beter gepas. Dit was minder vreesaanjaend.

    Sy moet Pierre bel.

    Vandat hy die eerste keer die bloederige afskeiding op haar bra gesien het, het hy gekarring dat sy daarna moet laat kyk. Maar sy wou nie. Sy het beter geweet. Die afskeiding het in elk geval gekom en gegaan.

    Sy trek voor die huis in en kyk na die motorhuisdeur voor haar. Met ’n steekpyn in haar binneste onthou sy hoe Pierre met uitgestrekte arms daar gestaan en Surprise! geroep het ná haar eerste dag by Fashion Corp. Toe het hy haar uitgeneem vir ’n bord garnale om haar nuwe pos te vier.

    Sy klim uit toe die nostalgie haar wil beetkry. Die sleutel knars in die veiligheidshek, dan in die voordeur. Sy sluit weer agter haar toe.

    Is dit die einde?

    Swaartekrag trek haar vloer toe. Vrees neem van haar besit en loop oor haar wange tot op haar skoot. Gaan sy nie oud word saam met Pierre nie? Gaan sy nooit haar eie kinders sien nie?

    Toffie kom skuur teen haar.

    Kom hier. Sy snuif en tel hom op. Die kat se lyf is vertroos­tend teen hare terwyl sy oor sy sagte pels streel.

    Gister was die dag dat die dokter vir haar moes sê sy kan die Pil los. Hy moes sê hulle kan met ’n gesin begin. Hy moes sê alles lyk goed.

    Gister is verby.

    Hoofstuk 2

    Haar lyf voel styf en koud wanneer Nadine van die vloer af opstaan. Sy strompel in die gang af badkamer toe.

    Die afspoel met koue water help niks vir haar opgehewe oë nie, sien sy in die spieël. Sy droog haar gesig af en gaan soek haar foon in haar handsak. Pierre moet weet.

    Manstemme bulder in die agtergrond toe hy antwoord. Hey, Dienks, het jy iets gehoor?

    Haar stembande kraak. Dis kanker.

    Die geraas in die agtergrond verdwyn. Hoe ver is dit ge­vor­der? kom sy stem duideliker deur.

    Ek weet nie. Ek kon nie myself sover kry om iets te vra nie.

    Is jy by die huis?

    Ja.

    Ek kom so gou ek kan.

    Pierre druk die foon dood. Meer as ’n maand gelede het hy vir haar gesê om vir ’n ondersoek te gaan, toe wil sy niks daarvan hoor nie.

    KANKER.

    Hy moet by haar uitkom, sy is waarskynlik buite haarself van vrees.

    Hoe ver het dit teen dié tyd al versprei? Sou hulle dit kon keer as sy vroeër gegaan het? As sy net vir ’n verandering na hom wou luister!

    Verwyte gaan hom nêrens bring nie.

    Hy bel die lugdiens by O.R. Tambo.

    Jammer, meneer, die eerste beskikbare plek op ’n vlug Kaap toe is eers môreoggend.

    Is jy seker? Ek moet baie dringend in die Kaap kom. Is daar nie ’n bystandlys nie?

    Dit sal nie werk nie, tref dit hom, die ouens hier se alkohol­vlakke is beslis almal oor die limiet en selfs met Uber is hy ’n uur en ’n half se ry van die lughawe af, veels te ver om op kort kennisgewing daar uit te kom.

    Los maar. Hoe vroeg is die eerste vlug môreoggend?

    Met die bespreking afgehandel gaan hy traag terug na die geselskap. Hy het sy lus vir partytjie hou verloor. Wat het hom besiel om Pretoria toe te kom, terwyl hy moes geweet het dis ’n slegte idee?

    Dan onthou hy: Nadine was so absoluut oortuigend.

    Dis mos wat sy doen. Volg haar eie kop en weier om na sy raad te luister.

    Nadine spartel om kop bo water te hou. Kanker, bórskanker, hamer die woorde aanhoudend in haar brein.

    Haar ouers. Sy moet haar ouers bel. Sy soek haar ma se nommer in haar foonlys.

    Hoe klink jy só? vra haar ma. Is jy siek?

    Ek het vanmiddag gehoor ek het borskanker.

    Dit blerts net uit. Haar ma se snak na asem is hard in haar ore.

    Dit kan mos nie wees nie?

    Dit is.

    Is Pierre by jou?

    Nee, hy is in Pretoria.

    Luister, Nadine . . . Ek bel jou weer later. Die telefoonlyn gaan dood.

    Sy vee haar gesig met ’n sneesdoekie droog. Wat het sy ge­dink? Haar ma was nog nooit goed met emosie nie. Veral nie met siekte nie. Vir seergevalde knieë was die pleisters in die kombuiskas laag genoeg vir hulle drie kinders om self uit te haal en op te plak indien nodig. En as een van hulle siek was, het dit nie gehelp om by haar ma in die bed te gaan klim nie, want dié het geglo jy gaan nie minder hoes omdat jy in ’n ander bed lê nie.

    Sy haal nog ’n sneesdoekie uit die boks. Sy is heeltemal alleen.

    Tot haar verbasing bel haar ma ’n rukkie later terug. Sy antwoord dankbaar.

    Ai, my kindjie. Is jy oukei? Wat sê die dokter presies?

    Dis haar pa. Om sy stem te hoor maak die hartseer oorwel­digend.

    Ek weet nie, Pappa, ek het niks verder gevra nie. Al wat hy gesê het, is dat ek kanker in my bors het.

    Ek is so jammer, Dienkie.

    Ek ook, Pappa. Haar kop ruk op van die onverwagte klop. Hier is iemand by die deur. Ek moet gaan.

    Sy is stomgeslaan toe sy haar broer by die voordeur sien. Ferdi . . .

    Ma het my gebel. Hy vou haar in sy arms toe en streel oor haar hare.

    Dís haar ma, die praktiese Madel van Breda wat alles hanteer soos sy haar naaldwerkbesigheid hanteer. As ’n naat skeef gestik is, huil jy nie daaroor nie, jy trek dit los en stik dit reg.

    Die trane in Ferdi se oë tref haar diep toe sy uit sy arms wegtrek. In die twee-en-dertig jaar van haar leeftyd het sy haar broer nog nooit bewoë gesien nie.

    En sý is die oorsaak.

    Haar foon lui. Sy vee haar trane met die rugkant van haar hand af. Dis Pierre.

    Dienks, die eerste vlug is eers môreoggend sesuur. Sy stem is gelaai met frustrasie.

    Dis oukei. Ferdi is hier.

    Dis goed. Vir ’n oomblik is dit stil. Ek het my ma gebel. Sy is in ’n toestand en ek het vir haar gesê sy moet jou nie bel nie.

    Oukei.

    Ek sal al die vriende laat weet, moenie daaroor worry nie. Ek sal vra dat hulle jou eers nie pla nie . . . Of wil jy met hulle praat?

    Nee, nie vanaand nie.

    Is daar enigiets wat ek nou vir jou kan doen?

    Niks nie. Sy voel skuldig oor die desperaatheid in sy stem.

    In die kombuis, terwyl sy vir hulle tee maak, lui haar foon weer.

    Hallo, Margo, antwoord Ferdi. Ja, ek is hier by haar. Hou aan.

    Sy neem onwillig die foon.

    Ek is só sorry, Dienkie! Ek gaan nóú reël om op ’n vliegtuig te klim!

    Tipies haar suster met haar histrioniese geaardheid.

    Nee, dis oukei. Jy het ’n gesin om na om te sien en hier is niks wat jy kan doen nie.

    Ek kan nie glo dat dit met jou gebeur nie, huil Margo. Hoe­kom? Hoekom? Hoekom? Jy is so jonk! Hoekom was dit nie eer­der ek nie?

    Sy laat sak haar voorkop in haar handpalm. Ek dink nie dit sou beter gewees het as dit jy was nie.

    Ek weet nie wat om te doen om dinge beter te maak nie, snik haar suster.

    Ná die derde koppie tee stuur Nadine Ferdi huis toe: Dis al negeuur en Amé en Mia wag vir jou.

    Ek bly by jou.

    Dis regtig nie nodig nie. Ek wil in elk geval gaan bad en gaan slaap. Sy jok, maar dis nodig. Sy wil nie ’n las vir hom wees nie.

    Is jy seker? Want ek het jare laas op ’n bank geslaap en my liggaam smag daarna.

    Ek is seker. En selfs al het jy oorgebly, sou jy in ’n bed moes slaap in die spaarkamer.

    Dan slaap ek eerder in my eie bed. Hy staan op en neem sy motorsleutels. Is jy seker jy sal oukei wees?

    Ek sal fine wees.

    Fine staan eintlik vir freaked out, insecure, neurotic and emotional.

    Dan is ek beslis fine én oukei. Gaan nou.

    Die oomblik toe die ontkleedanseres haar bloes op maat van die musiek oopruk en haar borste ten toon stel, draai Pierre sy kop weg en maak sy oë toe. Hy kan waaragtig nie hier bly en na die vrou sit en kyk nie.

    Ek gaan kamer toe, fluister hy vir Danie en maak hom uit die voete. Tog vee sy oë oor die naakte borste voor hy teen die trap op loop. Dit kom nie naby Nadine s’n nie.

    Hy maak die kamerdeur met mening agter hom toe. Bly staan met sy hande in sy sye. Wat nou?

    Hy haal sy selfoon uit sy sak en stig ’n whatsapp-groep. Tik: Nadine het vandag uitgevind sy het borskanker. Vee dit dadelik uit.

    Hallo julle, begin hy oor. Ek het die groep begin, want Nadine het vandag uitgevind sy het borskanker.

    Hy hou op tik. Haal ’n paar keer diep asem om sy hartklop te laat bedaar.

    Dis beter as julle haar nie nou al bel nie, sy wil nog nie met iemand praat nie. Ek sal julle op hierdie groep op hoogte hou van alles.

    Hy lees die boodskap ’n paar keer deur. Voeg by voor hy stuur: Bid vir haar asseblief.

    Toffie is al om Nadine se voete terwyl sy deur die stil huis kamer toe draal en op haar bed gaan sit. Sy vryf oor die kat se kop toe hy opspring en teen haar op die bed kom lê.

    In die alleenheid van die kamer wel die trane weer op. Sy staan op. Sy moet iets kry om haar mee besig te hou.

    By die gastekamer se deur steek sy vas toe sy soos manna uit die hemel van die lentehoed onthou. Sy moet dit namens die regsafdeling vir ’n kompetisie by die werk maak, deels omdat sy die groentjie is en deels omdat die regsafdeling elke kwartaal teen die ander afdelings verloor. Hopelik sal sy iets beters regkry as wat hulle tot dusver kon.

    Met die plastieksak vol benodighede gaan sit sy by die kombuistafel. Sy haal die pienk en wit karton uit, saam met die verskillende groottes helderkleurige kunsblomme en klimopblare wat sy vir ingeval ook gekoop het, en begin knip.

    Sy meet en plak, voel of die lang pienk silindervorm ste­wig aan die breë wit rand geheg is. Dis nogal ironies, dink sy terwyl sy wit en pienk polkakolle daarop aanbring, hier is sy besig om ’n lentehoed te skep in die middel van haar donkerste winter.

    Net toe sy die voltooide hoed op haar kop pas, begin haar selfoon in die kamer na haar roep. Dit kan net Pierre wees.

    Ek kan nie slaap nie. Hy klink miserabel.

    Ek ook nie. Sy is bly sy is nie die enigste een nie. Toe maak ek die lentehoed waarvan ek jou Woensdag vertel het.

    Jy is nie ernstig nie.

    Ek gaan nou probeer slaap. Wat maak jy?

    Ek lê en rol rond.

    Haar skuld. Waar is die manne?

    Hulle kuier nog. Ek is jammer ek is nie by jou nie. Ek moes nooit gekom het nie.

    Sy druk haar gesig teen die kussing om die intense verlang wat wil uit te keer. Nee, dis goed dat jy gegaan het.

    ’n Effense drukking op haar wang maak haar wakker en sy ruik Pierre se naskeermiddel voor sy hom sien. Jy is hier.

    Hy vou haar in sy arms toe. Hoe voel jy?

    Beter noudat jy hier is. Sy vee die trane af wat weer begin stroom. Hoe het jy by die huis gekom?

    Ferdi het my kom drop.

    Ek is bly. Sy sak terug teen die kussing en trek hom saam met haar af sodat hy langs haar moet lê.

    Ek ook. Hy draai na haar en trek met sy wysvinger ’n lyn al langs haar slaap tot by haar ken.

    Ek weet nie hoe ek hierdeur gaan kom nie.

    Ek is by jou. Ek sal saam met jou hierdeur kom.

    Kanker maak dood.

    Nie altyd nie. En jy is Lucky Lucy. Geluk was nog altyd aan jou kant. As jy inskryf vir ’n kompetisie, dan wen jy. As daar geloot word, is dit altyd jou nommer wat getrek word. Alles sal uitwerk, jy sal sien.

    Ek weet nie. Sy strek vir ’n sneesdoekie. Ek het ’n gevoel hierdie keer is dit anders.

    Hy soen haar saggies op die voorkop en staan op. Ek gaan maak vir ons ontbyt.

    Alles sal uitwerk. Dit raak ’n refrein terwyl Pierre gangaf vlug. Dit móét net.

    Jy het geen idee waarvan jy praat nie. Hy onderdruk die stem in sy gedagtes, maar dit bly opspring.

    Hy hét geen idee waarvan hy praat nie. Nadine het kanker. Sy het ’n siekte wat elke jaar duisende mense doodmaak. ’n Siekte waarvoor jy chemo kry wat jou hare laat uitval en jou siek maak tot die dood toe.

    En hy het geen idee wat hy kan doen om dit beter te maak nie.

    Hy sou dalk nog geweet het as Nadine Nadine was. Maar die vrou daar in hulle bed is nie sy vrou nie. Die vrou wat hy so pas wakker gesoen het, is broos en huilerig. Nadine is nie broos en huilerig nie. Nadine gryp enige ding sonder aarseling by die horings en ruk dit in die rigting waar sy dit wil hê.

    Die massiewe pienk keil met wit polkakolle op die bed in die gastekamer laat hom in sy spore stop. Vreemde hoed. Mooie­rig ook. Hoop flikker in hom. Dís sy vrou. Die een wat só ’n kuns­werk kan prakseer selfs wanneer dit sleg gaan. Nie die een wie se oë nou net so weerloos na hom gekyk

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1