Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Mispa
Mispa
Mispa
Ebook364 pages6 hours

Mispa

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Helena Hugo het haar loopbaan as aktrise begin, maar deesdae skryf sy voltyds. Haar romans Haar naam is Ragel, Marta en Ter wille van Talita is geliefde topverkopers. Sy is ook regisseur en skrywer van radiodramas en sepies soos die bekende Blinkwater en Mooi mense. Helena het drie keer die eerste plek in die Sanlam/ RSG-skryfkompetisie gewen en haar drama, Swane, is met ’n ATKV-Mediaveertjie bekroon.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateApr 1, 2016
ISBN9780796319708
Mispa
Author

Helena Christina Hugo

Helena Hugo het haar loopbaan as aktrise begin, maar deesdae skryf sy voltyds. Haar romans Haar naam is Ragel, Marta en Ter wille van Talita is geliefde topverkopers. Sy is ook regisseur en skrywer van radiodramas en sepies soos die bekende Blinkwater en Mooi mense. Helena het drie keer die eerste plek in die Sanlam/ RSG-skryfkompetisie gewen en haar drama, Swane, is met ’n ATKV-Mediaveertjie bekroon.

Related to Mispa

Related ebooks

Related articles

Reviews for Mispa

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

3 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Mispa - Helena Christina Hugo

    Helena Hugo

    Mispa

    Lux Verbi

    Opgedra aan Coenie Nolte, my matriek-geskiedenisonderwyser op De Aar, wat my geleer het dat geskiedenis nie net uit datums bestaan nie.

    Laban het ook nog gesê: Dit is Mispa, want die Here hou ’n oog oor ons wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie.

    – Genesis 31:49

    Ende Mizpa; om dat hy seyde dat de Heere opsicht neme tusschen my ende tusschen u: wanneer wy d’ een van d’ ander sullen verborgen zijn.

    – Genesis 31:49

    DEEL I

    Hoofstuk 1

    Mispa, die dag voor Kersfees, 1893

    Caroline skrik vroegoggend wakker, nie van die baba se huil nie. Iets soos iemand wat sleepvoet op die plankvloer loop, trek haar aandag. Die eerste lig sif deur die kantgordyn en maak strepe oor die muur met geraamde portrette. Die geluid wat sy hoor, besef sy, is die geskuur van engelvlerke. Vier van hulle sweef naby die plafon. Versigtig vou hulle hul vlerke oor slierterige gewade en land saggies om sy wiegie – twee by die voetenent, twee by die koppenent. Hulle waak so getrou oor hom, niks of niemand gaan hom verhoed om aan te stap in die lewe nie. Oor drie maande word hy gedoop en sy sal die datum langs sy naam in die Familiebybel invul.

    Daniël Matthys, geboren 18 September 1878, gedoop in den naam des Vaders en des Zoons en des Heiligen Geestes – gegeven, genomen, ende diep betreurd.

    Sy engele weet. Hulle huil, hulle weeklaag en kerm, en verander in wit warrelings. Skrik oorval haar so skielik, sy struikel toe sy van die katel afklim. Tevergeefs gryp sy na hul dun gewade. Die bokvelmatjie skuif onder haar voetsole. Sy beland op haar knieë.

    Here, keer hulle!

    Maar die geruis van hul vlerke vervaag. Hulle is weg en die duisternis het haar en haar baba ingesluk. Sy soek hom tussen veerligte donskombersies. Sy grawe en krap, snuffel agter sy reuk aan en kry niks. Warm bloed styg na haar kop. Sy pluk al sy beddegoed uit, skud dit soos nat wasgoed, gooi dit eenkant, grawe rond in leë holtes. Soek en soek en deursoek haar eie bed ook. Haar hart skop teen haar ribbes, sy kry nie asem nie!

    Willem!

    Nie hy nie. Sy naam ruk haar uit die greep van die nagmerrie.

    Sweet stroom teen haar lyf af. Die lakens is klam. Skemerlig hang swaar in die kamer, buite raas die voëls asof hulle slange verjaag. Willem se stoel is leeg en dis goed so. Hoekom sy hom roep, weet sy nie. Hy is nooit deel van die droom nie, sy is altyd alleen in haar nagmerrie. Hy verstaan dit nie, raak ongeduldig en raas met haar of belas haar met misplaaste simpatie.

    Sy klou aan die lakens. Hoe hard het sy weer vanoggend uitgeroep?

    Is hy melkery toe of sit hy in die kombuis met koffie en beskuit? Het hy gehoor? Sy wag vir sy voetstappe op die trap en hou asem op. Niks nie – buiten vae kombuisklanke, die laaste hees kraai van die werfhaan en koeie en kalwers wat mekaar roep. Niemand kom klop aan die kamerdeur nie, nie eens een nie en dis goed so. Sy sien veral nie kans vir Willem en sy versmorende besorgdheid nie. Dis skandelik vals en tydelik, want gewoonlik maak dit nie saak wat sy doen of nie doen nie. Nou is sy op haar laaste en raak hy soos altyd op ’n besitlike manier betrokke. Hy kom in gereedheid. Hy hou haar dop asof sy een van sy dragtige merries is of ’n koei wat enige oomblik gaan kalf. Elke geboorte, selfs hierdie een, is immers ’n aanwins vir Mispa en hy sal alles in sy vermoë doen om te sorg dat sy kuddes en kinders in getal bly groei en vermeerder. Dis die waarheid, sy het dit vir haarself uitgemaak: Moerdiere word op hierdie stuk aarde aangehou – sy inkluis – om bevrug te word en kleintjies af te gooi.

    Caroline byt op haar tande, veeg die trane met haar vingerpunte af, bondel die laken op en druk dit teen haar gesig. Sy sal dit verkies dat hy op ’n jagtog gaan en haar in vrede laat totdat hierdie kleintjie ook uit is en sy dood – asof hy haar die verlossing gun. Hy besit haar steeds soos hy Mispa besit – met al sy mag. Snags hou hy haar en die kind in haar al stywer vas. Hy slaap by haar tot die bed te nou raak vir hulle albei, maar verseg om haar alleen te los. Die laaste paar dae sit en snork hy in sy leunstoel tot sy werksdag kort voor dagbreek begin en ouma Sêrah oorneem. Haar laat kom hy altoos te vroeg. Dié keer is hy dalk reg en daaraan wil Caroline nie vandag dink nie.

    Môre is dit Kersdag en kans is goed dat sy die lank beplande familiesaamtrek vir almal bederf. Ousus Hester het teen einde Oktober per brief van Warrenton af laat weet Caroline hoef nie Kersdag ’n voet te versit of ’n vinger te lig nie, die familie kom Mispa toe, sy en skoonsus Susanna sal sorg vir die Kersete. Dit was toe sy nog beweeglik was en die vooruitsig haar opgewonde kon maak. Nou is dit moeilik om van die bed af te klim en die kommode te gebruik – praat nie van ure se regop sit aan ’n gedekte tafel nie.

    Here, ek wil van vandag af tot ek dood is soos ’n nat waslap in die bed bly lê, sonder Kersfees en kos en kinders en hierdie kleintjie.

    Net toe rek die kind in haar hom uit en onderbreek haar versugtinge. Sy plaas haar hande aan weerskante van haar buik en hou hom dop tot sy dink sy kan sy vuiste, sy kniekop of sy hakskeen uitmaak. Toe hy teen haar handpalm skop, pluk sy weg. Skerp pyne skiet deur haar lyf en mislikheid stoot in haar keel op. Hierdie kind het haar tot barstens toe opgesit, of dis twee wat haar lyding sal verleng soos sus Hannah en sus Eunice met Mother.

    Maak nie saak nie, dis laaste keer. Here, laat die voetjies tog net reguit uitkom, nie ingedraai nie, asseblief, Here in die hemel, nie nog horrelvoetjies nie.

    Onwillekeurig slaan sy haar oë op, maar Hy hang nie soos die engele teen die plafon nie, Hy sit hoog in sy eie hemel saam met sy uitverkorenes. Mother is nie daar nie en Caroline voel nie skuldig om so te dink nie. Sy het vir ousus Hester gesê sy gaan nie eens in as Mother aan die ander kant van die Poort vir haar wag nie, en Hester verstaan. Ook net sy wat Mispa se kombuis met Doelie aan bewind vir ’n dag of twee sal kan oorneem. Dis ter wille van haar, van ousus Hester, dat Caroline vandag opstaan. Nou!

    Pynlik stadig swaai sy haar bene oor die rand van die katel, druk met haar hande aan weerskante van haar lyf en laat sak haarself tot sy die springbokvelmatjie raak trap. Kaalvoet stap sy deur toe en sit eers die skuif op voor sy die kommode gebruik, haar oë op die wiegie wat soos ’n reuse-plukmandjie gereed staan. Daar is vars waswater in die lampetbeker. Sy trek haar nagrok oor haar kop, hou met die een hand aan die bedstyl vas, stut haar buik in die ronding van haar ander arm en rus tot die waarskuwende pyn in haar lae rug bedaar. Die venster is oop en die luggie wat intrek, aangenaam koel. Dis nog vroeg, maar die meisiekinders is ook al wakker. Sy hoor Maria lag en Annatjie gil. Maria het nie net Mother se name geërf nie, ook haar geneigdheid om oor te neem en af te knou. Annatjie verdien dit nie en Willem doen niks om te keer nie.

    Water stort toe Caroline die lampetbeker lig en die inhoud in die kom oorgooi. Sy smeer seep, spons haar lyf af en kies gemaklike onderklere, ’n wye romp en oorhangbloes. Sy is aangetrek toe iemand aan die kamerdeur klop.

    Ouma Sêrah is so klein en maer, dit voel vir haar of sy oor haar troon.

    Môre, Ouma.

    Kerlientjie, my nôi. Sy slaan haar hande saam, inmekaargerankte boomwortels. My nôi het opgestaan!

    Ek is moeg gelê.

    Met wat kan ek virrie nôi help?

    My hare.

    Ek sal vleg, gaan sit.

    Annatjie gil so hard, dit klink asof sy vermoor word. Caroline wil gaan keer, maar Sêrah du haar liggies in die rigting van die bankie voor die spieëlkas.

    Los hulle, Nôi, lat hulle speel.

    Waar’s die seuns?

    Daniël help sy pagoed. Die kleintjies is saam by die meisiekenners.

    Sêrah, wie gaan hulle grootmaak?

    Jy – jy is hullese mama.

    En as ek nie meer hier is nie?

    Hoekom praat my Kerlientjie so?

    Ek is moeg.

    Die ou vrou gee ’n paar geniepsige hale met die kam.

    Jy is sterk, jy sal deurkom.

    3947.jpg

    Willem maak die riem om die koei se agterpote los. Hy klap haar op die boud. Jou kalf roep, gaan soek hom. Daniël, loop maak oop die hek!

    Die seun stut sy hark teen die stalmuur.

    Willem kyk hoe hy wegstap – kreupel, maar haastig. Hy is veertien jaar oud en groot vir sy ouderdom, ’n seun na sy hart, al is dit asof ’n doring dit deurboor elke keer as hy hom agternakyk. Stadiger gaan dit beter. As Daniël haastig is, swaai hy sy lyf sodat dit lyk asof hy uit homself wil klim en hy kan nie. Sy gebrek is deel van hom, dis in die familie – ’n vloek tot in die derde en vierde geslag.

    Willem skud sy kop, kyk weg, lig die laaste melkemmers en stap aan melkkamer toe. Werfhoenders spring uit sy pad, sy honde kom hom tegemoet en loop saam. Op pad kry hy vir Klaas en dié se jongste seun met grawe en tuinvurke.

    Waar gaan julle?

    Huistuin, my seur.

    Roer vir julle, die mense van Kimberley kom vroeg. Hoor jy my, Sadrag? Maak gou!

    Willem sien die kyk wat die seun hom gee, maar vanoggend hou hy hom in. Sadrag is nie so onderdanig soos Klaas en Bet se ander kinders nie, maar dis omdat hy van kleintyd af Daniël se speelmaat is en hom verbeel hy is familie van die Bassons.

    Bet staan in die deur van die melkkamer. Sy vat die emmers aan.

    Môre, Seur.

    Dag, Bet. Dit gaan warm word.

    Ek sal kyk virrie goed in die koelkamers, seur Willem.

    Dankie, Bet.

    Oor haar kla hy nie. Mispa se botter en kaas haal wintertyd goeie pryse op die mark. In die somer maak sy vir huisgebruik. Winters verkoop hulle dit saam met die slaggoed, eiers, droëvrugte, konfyt en ingemaakte vrugte – byna alles haar en Doelie-hulle se handewerk. Caroline raak benoud, glo omdat Ma-Maria, Mother soos hulle haar genoem het, haar en haar susters van vroeg tot laat met die plak in die hand in die kombuis vasgekeer het. Maar dis waar hy haar die eerste keer gesien het – voor die stoof in haar ma se kombuis. Toe het sy geglimlag asof sy daar tuis is. Al die tyd wou sy wegkom, al die tyd was hy haar uitkoms – asof hy aan wegloop kon dink toe sy pa nog geleef het. Hy sou niks gewees het en niks besit het as hy nie bereid was om al kruipend sy hande deur te werk nie. Het sy grootvader dan nie met bloed betaal vir hierdie land nie? Dit moes hy tydig en ontydig aanhoor, selfs terwyl sy eie bloedsweet op die grond tap – dat dit heilige grond is met bloed gekoop, grond wat sy broers nie waardeer het nie.

    Toe erf hy Mispa. Elke stoffie, elke klip en bossie en lewende wese wat hier saamwoon en werk, is syne en sy nageslag s’n, nou al ses eie kinders! Sou sewe gewees het – meer as hulle nie hul eersteling-seun verloor het en Caroline nie al daardie kastige misgeboortes afgegooi het nie. Willem voel ’n rilling deur sy lyf trek. Die nag toe hy haar betrap het, flits voor sy geestesoog verby. Hy skud dit uit sy gedagtes en trap dit in die aarde weg. Daar sit kraalmis aan sy stewels. Hy stamp dit af op pad agterdeur toe. Nog voor hy die trap klim stoep toe, hoor hy die gelag en gestoei van sy kinders en Caroline wat hulle tot orde roep.

    Julle moet eet voor Sinterklaas kom kyk wat hier aangaan.

    Sy is aangetrek en haar hare is gekam, maar hy kan nie die sakke onder haar oë miskyk nie. Sy voer vir Annatjie in haar hoë stoeltjie. Willem is trots op daardie stoeltjie. Hy het die patroon afgekyk by Jan Adriaan wat weet hoe om met hout te werk.

    Groet julle nie?

    Môre, Pappa, kom dit van alle kante, sedig soos predikante.

    Willem sluk sy glimlag, hy stap na Caroline, sit sy hand op haar skouer en soen haar op die wang.

    Verbeel hy hom of verduur sy dit net?

    Hoe gaan dit vanoggend? Moeg?

    Sy lig haar hande, trek haar skouers net effens op.

    Dis nie meer lank nie. Hy sien dit in haar oë, die gelatenheid wat hy ook by sy diere gewaar. Terwyl hulle lewe moet gee, verwag hulle die dood. Dis Eva se straf op ongehoorsaamheid – barensnood, so sê die Bybel, en so weet God. Dit is hulle lot om met pyn en doodsangs kinders in die wêreld te bring. Soms word dié angs werklikheid en die dood die enigste uitweg. Hy moes al van sy merries en koeie help om te sterf, maar hoe help jy jou vrou?

    Eet jy nie?

    Perskes, sê sy en wys na die bord met skille voor haar.

    Gebakte lewer en ’n stewige bord pap is wat sy nodig het, maar hy sal haar nie voor die kinders aanspreek nie. Hy gaan sit aan die kop van die tafel en vou sy servet oop. Toe hy opkyk vang sy blik vir George wat sukkel om met ’n lepel te eet. Caroline sien dit nie, sy smeer ’n broodkorsie met skaapvet en druk dit in Annatjie se handjie. Doelie, flink soos gewoonlik, sit sy pap voor hom neer.

    Ek wil ook brood hê, kerm Maria.

    Caroline stoot die bakkie vet na haar kant toe.

    Mamma moet vir my smeer.

    Jy is groot, Maria.

    Mamma smeer vir George en Annatjie.

    Een van die dae moet jy dit vir hulle doen.

    Ek sallie!

    Maria skreef haar gesig en pers die trane uit.

    Willem maak of hy nie sien of hoor nie. Hy is haastig oor ousus Hester-hulle wat opsluit hier wil kom Kersfees vier, volgens haar ter wille van Caroline en die kinders, en jy stry nie met Hester nie. Vandat George en Maria Fuller albei oorlede is, verbeel sy haar sy moet namens hulle vermaan en veroordeel, maak nie saak wie sy te na kom nie – selfs vir Caroline. Sy wat gesê het Maria was te lank die enigste meisiekind, toe Annatjie kom, voel sy uitgeskuif – asof hy dit nie weet nie. Caroline het dae omgesit met Annatjie op haar skoot, altyd die voetjies aan die druk en draai. Hy kan nie onthou of sy ooit soveel tyd vir Maria gegee het of nog sal gee nie. Die kind snik nou asof sy tandpyn het.

    Hy sit sy lepel neer, hard genoeg dat Caroline dit kan hoor. Maria, gee jou brood en gee die vet, ek sal vir jou smeer.

    Hy is nog besig toe Daniël in die kombuisdeur verskyn.

    Willem frons in sy rigting. Waar kom jy nou eers vandaan?

    Ek moes die kalwerhok se hek heelmaak en ek kon nie los nie. Môre, Ma.

    Dag, Daniël. Caroline klink asof sy verkoue het.

    Willem gee Maria se brood vir haar aan. Eet, dat ons kan boekevat voor die familie opdaag.

    Dankie, Pappa. Haar trane het soos mis voor die son weggedroog.

    Daniël gaan sit aan sy regterkant en gooi melk oor die stomende berg in sy papbord.

    Willem kry drie gebakte eiers en ’n stuk springbokwors. Hy eet die wors en soek dan die kind met die skoonste hande. Klein-Willem sit met die jammerlap en speel. Jou beurt om die Boek te gaan haal, sê hy.

    Kom Neelsie ook vandag? Klein-Willem gee die lap vir Caroline wat dadelik begin om Annatjie se gesiggie af te vee.

    Willem, jou dom wurm! snip Maria. Neelsie en Anna en Elsje en …?

    Klein-Willem gee haar ’n stamp teen die skouer en maak dat hy wegkom.

    Hy stamp my, hy’t my gestamp! Maria skree so hard, Annatjie gaan aan die huil.

    Willem byt op sy tande, sy hande jeuk om die plak agter die spensdeur af te haal en Klein-Willem by te kom. Hercules sit ook al weer in sy neus en krap en dis etenstyd.

    Caroline haal haar sakdoek uit, sy druk Annatjie se krulle van haar voorkop af weg, sy soen haar handjies. Moenie huil nie, moederskat.

    Maria trek haar skouers hoog op, sy lyk vasberade. George het vir Annatjie gespoeg.

    Issie!

    Is!

    Willem klap op die tafel langs sy bord. George, dis genoeg! Oom Jan en tant Hester-hulle kom kuier en julle gaan julle gedra en vir Mamma help. Maria, ek reken op jou.

    Ons gaan ’n babatjie vir Kersfees kry. Ek wil ’n sussie hê wat kan hardloop.

    Caroline glimlag floutjies. George prop sy duim in sy mond en kyk stip na haar. Daniël skink ’n glas melk en sluk dit met een teug weg. Willem laat dit daar. Hy skuif die laaste eier opsy.

    Toe Doelie sy bord wegneem, sit Klein-Willem die Boek voor hom neer. Klaas sien stof innie pad verby die huiskamp, waarsku sy. Sadrag het kom sê.

    Sê vir hulle hulle moet inkom, ons lees.

    Toe almal sit – op hul hurke, rug teen die muur – slaan Willem die Boek oop by die bladsymerk, ’n kunstig gehekelde kruis wat hy met eerbied eenkant skuif. Hy kies die ou bekende gedeelte, sit sy preekstem op en praat stadig en duidelik en presies soos hy beplan om dit op Kersdag vir almal aan Mispa se Kerstafel voor te hou.

    "Ons lees uit die Evangelie van Lukas hoofstuk twee van vers een tot … sewe: ‘Ende het geschiedde in die selve dagen dat ’er een gebodt uytgingh van den keyser Augusto dat de geheele werelt beschreven soude worden. Dese eerste beschrijvinge geschiedde als Tyrenius over Syrien Stadthouder was. Ende sy gingen alle om beschreven te worden, een eygelick nae sijn eygen stadt. Ende Joseph gingh oock op van Galilea uyt de stadt Nazareth nae Judeam tot de stadt Davids, die Bethlehem genaemt wort, (om dat hij uyt den huyse ende geslachte Davids was) om beschreven te worden met Maria sijn ondertrouwt wijf welcke bevrucht was.

    ‘Ende het geschiedde als sy daer waren dat de dagen vervult wierden dat sy baren soude. Ende sy baerde haren eerstgeboren soon, ende wondt hem in doecken, ende leyde hem neder in de kribbe om dat voor haerlieden geen plaetse en was in de herberge.’ Tot sover – laat ons bid.

    Willem vou sy hande op die oop Bybel. Hy roep sy Heer en Meester aan namens sy huisvrou en die kinders wat sy vir hom gebaar het, hy dank Hom vir seëninge en goeie vooruitsigte. Hy dra die moeder van die gesin en die kind wat gebore moet word, aan Hom op. Hy smeek om vergifnis vir sondes wat uit ongehoorsaamheid of onkunde gedoen is. Hy beloof dat hy en sy gesin op die smal pad sal bly en Kersfees soos Christene sal vier.

    Toe hy amen sê, hou sy broer Jan Adriaan Basson se kapkar langs die agterdeur stil.

    Hoofstuk 2

    Ek gaan Graskamp toe!

    Willem wil nog keer, maar Daniël vlug soos blits voorstoep se kant toe.

    Jy moet help aftuig! roep hy, en gee moed op. Groet hy nie?

    Sadrag grinnik met sy ken teen sy skouer. Almal weet hoekom Daniël die hasepad kies. Dis oor die niggies, veral Anna Catharina wat dertien is en nie kan wag om haar neef om die nek te val en papnat te soen nie. Caroline het hulle dopgehou, twee giggelende meisiekinders wat mekaar aanhits om Daniël meedoënloos te agtervolg. Anna Catharina is die jagter en Elsje die spoorsnyer, die een wat eerste uitvind waar Daniël hom bevind en reguit met die inligting na haar suster toe hardloop.

    Caroline kan net glimlag. Dis die meisies, Willem. Hy is skaam, jy weet mos.

    Willem gee ’n snork en wend hom tot Sadrag. Gaan help die mense afpak en vat die perde stalle toe.

    Caroline kyk hoe Sadrag sy rug regop trek en aanstap. Hy is Daniël se beste vriend en op dieselfde dag as hy gebore. Bet en Klaas wou hom ook Daniël doop, maar dit was eens te veel vir haar en Willem wat hul tweede seun as plaasvervanger vir sy gestorwe broertjie beskou. Dis sy wat die Bybelse Daniël se vriende onthou en Bet en Klaas oortuig het dat hulle hom Sadrag moet noem. Sadrag en Daniël is toe saam gedoop en sedertdien onafskeidbaar. Net deesdae voel dit vir haar asof Willem onderskeid maak tussen die twee en Sadrag alte dikwels Daniël se kastaiings uit die vuur moet krap. Maar om hom nou daarop te wys is ongevraag in die gewoel wat pas losgebars het.

    Maria gryp Hercules aan die hand en hardloop. Klein-Willem steur hom nie aan die huilende George nie. Willem raap hom op en loop met die seuntjie op sy arm uit buitentoe. Die kind in Caroline trap vas en slaan bollemakiesie. Sy maak haar oë toe en haal diep asem. Pyn het sy nie, ongemak wel. ’n Ligte fladdering raak aan haar wang, die reuk van soetamaling maak dat sy na haar asem snak.

    Sal jy en jou engel minstens nog drie dae kan wag? Ek wil nie op my kraambed lê en sterf terwyl die familie op die voorstoep koffie drink en koek eet nie.

    Duiseligheid dwing Caroline om te bly sit, elmboë op die tafel, haar hande in haar hare, oë toe.

    Mama … Mama … Annatjie se smeekstemmetjie en Doortjie se boegoereuk verdring die engelgeur. Die kind kom tot bedaring. Sy waag dit om haar oë oop te maak.

    Doortjie staan langs Annatjie se hoë stoeltjie. Nôi, ek vat die kleintjie kamer toe.

    Annatjie steek haar armpies na Doortjie uit. Sy lag getroos toe haar oppasser haar al paaiende uit die stoeltjie lig. Siena kom met die skinkbord om af te dek en wag vir Caroline wat alte stadig orent sukkel.

    Die kyk wat die twee vroue mekaar gee, is so veelseggend, sy vererg haar. Dink wat julle wil – ek kraam nie voor die kuiermense nie.

    Siena is die oudste. Sy waag dit om terug te praat. Nôi Kerlien, hy vra nie vir sy mama nie, hy gebore op sy eie tyd.

    Oor drie dae, sê Caroline en staan regop, haar een hand onder haar buik.

    Skoonsuster, en jy loop nog!

    Ag, nee! Was sy so rats soos Daniël, het sy nou veilig in haar bokamer gelê en boek lees.

    Jan Adriaan se Susanna staan die kombuis vol, volstruisvere bibberend op haar hoed, perdebylyfie so dun ingegord, lyk asof sy middeldeur kan breek. Sy is ’n modepop, koop winkelrokke en hoede van Frankryk af ingevoer, besprinkel haar met duur parfuum en druk haar voete in hoëhakskoene met gepunte tone. Jan Adriaan het goed gedoen die tien jaar wat hy gedelf het. Hulle woon in ’n kasteel in Belgravia, sy skrynwerkwinkel floreer en van teepartytjies kan jy sy vrou niks leer nie.

    Caroline gee haar oor aan Susanna se omhelsing wat eindelik eindig met ’n soen op elke wang.

    Weet nie hoe jy dit in hierdie hitte hou nie. Ons is donkernag uit Kimberley weg, maar toe die son opkom, braai ons. Mag ek my hoed gaan afhaal en my baadjie uittrek?

    Met plesier. Julle ou kamer is gereed.

    Die hoekkamer?

    Ek sal Doelie vra om vir jou waswater te vat en tee … of koffie?

    Dankie, maar onthou ek neem flou swart tee sonder suiker. Jan Adriaan hou van sy koffie sterk en soet. Julle moet vir julle ’n badkamer aanbou, dis baie gerieflik.

    Caroline byt op haar tande. Sy hoor dit elke keer as Susanna kom afpak en sy gee haar klokslag dieselfde antwoord. Jy moet Willem vir my oortuig, hy bou liewer nog stalle.

    Tipies boer, so agter die klip. Ek kry jou jammer. Susanna pluk haar handskoene uit en waai haar gesig met hulle koel. Wat ek jou wel beny, is jou swetterjoel bediendes! Boy!

    Sy naam is Sadrag.

    Weet hy waarheen?

    Sadrag dra ’n reistas in elke hand en loop verby.

    Ekskuus tog! Ek moet hom inhaal – my slotjies werk nie meer nie en ek kan nie bekostig om iets te verloor nie.

    Ons werkers steel nie soos julle s’n nie, wil Caroline haar toevoeg. Tog is sy dankbaar dat Susanna haar kans gee om die trap in vrede op te sukkel en haar vir ’n uur of twee in haar slaapkamer toe te sluit.

    Maak vir hulle koffie en tee en vat dit stoep toe, sê sy vir Doelie, ek gaan kamer toe.

    Die Bybel lê nog op die etenstafel waar Willem laas gelees het. Sy tel dit op en verwonder haar weer aan die kinders wat die gewig kan hanteer. Dis ook net Maria en Klein-Willem wat al sterk genoeg is om die paar treë van die voorkamer eetkamer toe en terug te loop – Daniël vanselfsprekend ook. Vandag is die taak in die geharwar nie voltooi nie.

    Die Bybel se ereplek is op die hoektafel tussen twee koperkershouers, bo-op ’n gehekelde kleedjie oorhoeks gedrapeer om die tafelblad te beskerm. Daar is ’n stoel byderhand en ’n inkpot en pen in die laai. Die kleedjie is skeefgetrek en een van die blakers lê op sy sy. Caroline maak alles reg voor sy die Boek netjies neersit. Ingedagte maak sy die koperknippe los, lig die leeromslag op en blaai twee bladsye aan. Die Bassons se familiegeskiedenis staan op bladsy drie – getrou geskryf in die vorm van name en datums deur Willem en sy moeder Anna Catharina Basson, gebore Venter. Sý, Caroline Anne Basson gebore Fuller, het die meeste inskrywings gemaak. Sou Willem daarmee voortgaan as sy nie meer hier is nie, haar sterfdatum en hul jongste kind se geboortedatum invul? Wie se naam gaan op hare volg – een van haar ongetroude susters s’n of iemand wat sy glad nie ken nie? Willem sal tog nie sonder ’n vrou kan klaarkom nie en die kinders moet ’n moeder hê.

    Caroline maak die Bybel toe en sak op die stoel neer. Sy moet haar kommer met iemand deel – iemand soos ousus Hester. Willem is streng en arbeidsaam, maar selfsugtig en veeleisend en so puntenerig, sy word nie eens toegelaat om vir die kinders uit die Hollandse Bybel voor te lees nie. Die probleem is, sy het met die King James Bible grootgeword, hy met hierdie Nederlandse Staten-Biblia. Nou reken hy hy is die enigste een in die huis wat Hooghollands kan lees – nie dat dit vir hom so maklik is nie. Hy oefen die afgelope weke so hard aan Lukas twee van vers een tot sewe, sy en die kinders kan gedeeltes daarvan al opsê. In haar kop hoor sy sy stem buig en bars om die moeilike Hollandse woorde: Ende het … geschiedde als sy daer waren dat de dagen vervult … wierden dat sy baren soude. Ende sy baerde haren eerstgeboren soon ende … wondt hem in doecken ende leyde hem neder in de kribbe.

    Wat sou Maria gedoen het as sy die volgende dag wakker geword het en haar kind haal

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1