Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Verlorenkop
Verlorenkop
Verlorenkop
Ebook362 pages4 hours

Verlorenkop

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Johanna du Plooy word van kindsbeen af bewus van geheime wat op ma Anna se geboorteplaas, Verlorenkoppe, versteek lê. Die grootmense fluister op die plaashuis se stoep, terwyl Johanna en haar kinds oumagroot Delores Retief in die tuinkamp “weggebêre” word. Op sewentien word Jo belas met haar eie geheim. Vandaar is sy gedurig op die vlug: van haar familie, van die beklemmende landspolitiek en van haar eie seksualiteit. Haar ekspat-lewe in Amerika hink voort na haar kleuterseun se dood. Wanneer ook haar man sterf, moet Jo – gewapen met groottante Christine Retief se plaasjoernale – oplaas in die Karoo tot selfinsig kom, en empatie ontwikkel met al die vroue in haar lewe: ma Anna wat as peuter van haar ma weggeneem word; ta’ Christine en haar lesbiese liefdesgeskiedenis, verby voor dit kon begin; Christi, Jo se violis-dogter en oorblywende helfte van die tweeling; vriendin Lara wat by is toe Jo haar geheim gaan begrawe; joernalis Marga met haar skrynende verhaal van gender-kwellinge; en, na baie jare, ook Muriel – die sensuele skoonheid by wie alles vir die jong Jo begin het.
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateMar 6, 2016
ISBN9780795801075
Verlorenkop
Author

Celesté Fritze

Celesté is in 1959 op ʼn plaas in distrik Belfast gebore. Sy het aan die Hoërskool Frans du Toit in Phalaborwa gematrikuleer en aan die Universiteit van Pretoria in tale studeer. Vanaf 1981 tot 2006 werk sy as taalpraktisyn by onder meer die Pretoriase stadsraad, en sedertdien as vryskut-taalpraktisyn. Celesté en haar lewensmaat woon in Pretoria.

Related to Verlorenkop

Related ebooks

Related articles

Reviews for Verlorenkop

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Verlorenkop - Celesté Fritze

    Celesté Fritze

    Verlorenkop

    QUEILLERIE

    Vir ma Rita en pa Fred; en vir Lucille

    Smuts stuur manne na El Alamein. Knol sê hy is lus en loop weg oorlog toe. Julle vroumense maak my gek. Noord-Afrika sal nog te na aan julle wees.

    Uit plaasjoernaal #26, 1942, Christine Retief

    PROLOOG

    Verlorenkoppe, Noord-Natal, 1962

    Die familieplaas se tuin is soos die elemente van ’n natuurleweskildery – ’n helling in terrasse uitgelê. Heel agter teen die horison die strak krone van die swartwattelplantasies, gevolg deur ’n ruigte wildegras waarin bloukraanvoëls broei. Boorde vol kwepers, taaipitperskes en ander vrugtebome, sterk draers wat inlêvrugte lewer. Daarna die niefunksionele, mindere struike soos die blomgranate, die katjiepierings, die karlienblomme, en die giftige Brunfelsia pauciflora, die verbleikblom. In die Retiefs se Afrikaans onweerlegbaar die yesterday-today-and-tomorrow.

    In die middel, in ’n kamp weg van die snaterende makoue en die eende en die hoenders, lê die blomtuin: deurkruis met looppaaie en beddings vol strandrose, ridderspore, pelargoniums en dahlias, besoek deur die vlindervlerke van hluhluwebloutjies.

    Die Retiefs se stammoeder Delores het altyd gesê daar bly niks oor waar ’n hoender geskrop het nie.

    Die draadomheinde fyntuin is ’n geheimenis. Daar kan die Zoeloe-oppasster Makoti vir klein Johanna en haar kinds oumagroot Delores veilig inkamp om hulle onder haar voete uit te hou. Wanneer die eerste werkskof van die oggend voltooi is, die opstal tot rus kom en die geklingel van teelepels in pierings van die stoep af opklink, dan kan die twee gevangenes in die draadkamp behoorlik kwaaddoen.

    Op die helder Natalse somermôre loop Oumagroot die stele van die reuse- swartrooi dahlias en afknik, en só loop klein Johanna agterna en breek die kleiner geel pom-pomdahlias se stele af.

    Johanna sien hoe Oumagroot in een van die dahliabeddings gaan hurk, haar bloemer aftrek en in die bedding skyt, en soos die oue kloek en die jonge piep, só trek Johanna haar broekie af en probeer langsaan skyt. Sy druk hard, maar daar kom net ’n bietjie pie.

    Oumagroot Delores trek sommer haar bloemer af en hurk waar sy wil, anders staan sy wydsbeen en pie deur die gaatjie in die bloemer. Johanna het nooit geweet bloemers het gate tussen die bene sodat oumas maklik daardeur kan pie nie. Dis eintlik net die ouma wat in die tuinkamp gebêre word wat deur ’n gat in haar bloemer oor die dooie dahliakoppe staan en pie. Dis sover Johanna van hurkende oumas weet.

    Die walm van die kasteel wat die onheilige vennootskap uit die gevolg van hul hurkery bou, kan jy wie weet waar ruik. Tot Makoti, wat gestuur is om die stilte te ondersoek, die reuk kry en die draadogie oor die hekpaaltjie oopruk en die kamp binnestorm. Die hekkie sjier op sy veer agter haar toe.

    Haar gille onderbreek die suisende stemme van die stoep af.

    Hau, mantombazanendini! Nenzani? Julle twee stouterds, wat maak julle? Die shweshwe-rok ’n siedende blou dwarrel wat opsteek en huis se kant toe tol.

    Met die terugkom skep Makoti die asgrafie vol los sand, gooi die stink bouwerk toe en jaag die kwaaddoeners al swetsende aan sinkbad toe.

    Daar is ’n skoppelmaai aan een van die ou lukwartboom se takke. Johanna en Oumagroot kan saam daarop sit, of op die houtbankie wat oupa Knol self gemaak het.

    Só kon die twee in hulle eie wêreld wees. Die een in die wêreld van voorkennis, die ander in die wêreld van nakennis: in die gelyk gebied wat vir ’n wyle hul alleengebied was.

    Toe wis Jo nog nie van die godsonmoontlike keuses wat Delores Retief aan haar nasate gestel het lank voor sy seniel geraak het nie. Dit is waarom alzheimer vroeg vir Oumagroot opgeëis het. Dit was haar straf, het Jo eenmaal in haar dagboek geskryf en gewag dat ’n bliksemflits haar tref. Toe die hemele swyg, het sy dit as ’n teken beskou om die storie enduit te vertel, al was dit aan ’n swart leergebinde dagboek wat nie kon terugpraat nie.

    Deel I

    1

    Die Grafton-perdeplaas, Colchester, Chittenden-distrik, VT (die Amerikaanse deelstaat Vermont), 2011

    In die witgeverfde houthuis waarin Jo leef, in die uitgestrekte vertrekke van die krakende kasarm, omstoep uit elke windrigting, is die afgeleefde labrador se rasperasem die enigste geluid.

    Wat gaan Ma met Rommel doen?

    Jo stut haar elmboë op die kombuistafel en druk met die koel, dik vleis van haar handpalms teen haar oogbanke, asof sy die gedagte aan die persoon wat oorkant haar sit, wil afweer.

    Los die hond, Christi. Hy is happy.

    Die labrador bevestig sy gemoedstoestand met ’n kwispelstert. Jo skuif in die regop stoel terug. Sy vou haar hande in haar skoot.

    Die twee vroue sit by die geelhouttafel en redeneer in die gedempte stemme van mense wat versigtig is om beheer te verloor. Jo laat haar vingers onder die tafelblad ingly, bevoel die groewe wat die miere daarin gevreet het toe die tafel, in beesvel toegedraai, ’n geheim vir die Engelse was.

    Jy lyk moeg, Ma. Wat doen jy heeldag op jou eie? dwing Christi haar gedagtes terug.

    Jo knaag aan haar duimnael. Ek kan nie oor jou pa se dood kom nie. Ek wil ’n gat in die grond grawe en daarin kruip.

    Hoe lank nog? Dis al amper vier jaar, Ma. Die plaas gaan agteruit. Hoeveel perde het jy op stal?

    Net die terapieperde.

    Hoe leef jy? Met geld wat jy waar kry?

    Van jou pa se aftreegeld, as jy moet weet.

    Dit kom by Jo op dat Christi na haar kyk of sy ’n las geword het. ’n Onderwerp van kommer. Het haar lewe tot ’n item op ’n ander se doenlys verskraal?

    Wat het van die skildery in die studeerkamer geword, Ma?

    Vir wat ondervra jy my soos ’n ou moeder? My geldsake is in orde. Die weduwee Pieterse leef hier. So is dit en klaar. Jo knaag aan die ander duimnael. Hoe vorder jou studio?

    Ma dwaal af. Michael wil al hoe lank die plaas koop. Binnekort is jy so arm soos ’n luis op ’n kam.

    Jo soek in haar baadjiesak rond na ’n sigaret. ’n Ou lus wat onder druk vererger. Michael Moffett is soos sy pa. Stiefoupa Stanley wou ook als koop wat sy oë begeer het. Eenkeer tot ’n warmwaterbron in Noord-Natal, om ouma Molly te beïndruk.

    Daar gaan Ma weer.

    Het jy iemand gekry om vir jou planne te teken?

    Ek het ’n groene gekry, Ma.

    ’n Groen vioolstudio? Sal jy dit moet verf?

    Nee, Ma. ’n Groenargitek. ’n Omgewingsbewuste.

    O, maar is hy goed?

    Die jong vrou buk af en streel oor die labrador se grysgeworde kop. Hou op my vrae omseil, Ma. Hoekom gaan kuier jy nie ’n ruk in Suid-Afrika nie? Dalk kry jy daar helderheid.

    Jo verskuif in die stoel. Los my. Ek wag. Pa het gesê ek kan die tyd afwag.

    Nee, dis omdat jy nie vir Boetie hier wil los nie, sê Christi.

    Wat sal jy weet?

    Ek weet, Ma. Jy dink ek het jou nog nie uitgefigure nie, maar enige mens kan sien jy weet nie wat om te doen nie. Christi staan op, omklem die tafelblad, leun vooroor. Soos ’n kat wat regmaak om sy prooi te bespring: Jy wil ook nie jou lover hier los nie. Jy kan nie met almal doen wat jy met Pa gedoen het nie, Ma. Nie almal loop met oogklappe rond nie.

    Jo staan met moeite op, die stoelpote kras oor die vloer van oregon. Daar is geen gewaarwording van die aksie wat volg nie. Sy het nie beheer oor die klap wat Christi in die gesig tref nie. Later kan sy nie onthou hoe dit gebeur het nie.

    Die oë wat uitdrukkingloos terugkyk, die weiering om die merk aan te raak, die opstaan, die omdraai en die trappe een vir een na haar ou kamer in die kasarm uitklim: dit is Christi se verweer.

    Die labrador steun orent, trek sy ore plat, gaan sugtend onder die tafel lê. Jo wag tot haar hartklop bedaar voor sy oorstap om die kombuisvenster op ’n skrefie te gaan oopmaak. Sy werk die skuldige hand onder haar oksel in, staar belangeloos na buite.

    Misslierte omgewe die perde, ’n surrealistiese beeld waarin die koppe en lywe los van die bene dryf.

    Die grootste illusie van menswees is dat jy die argitek van jou eie lot kan wees. Die middaglig het verander terwyl herinneringe deur Jo se kop gemaal het. Sy word bewus van die rekenaarskerm wat blou in die skemer flikker. Sou ou koning Harald Blåtand van Denemarke se bloubessie-bevlekte tande ook so in die volmaan geglinster het? Koning Harald, die ou na wie Bluetoothtegnologie vernoem is. Sy het die beuselagtigheid op ’n keer raakgegoogle toe sy haar perderubriek vir die Burlington Post gesit en tik het.

    Kerneels se dood het ’n troosteloosheid aan die gang van die dae op Grafton gebring, ’n bedruktheid wat nie deur susmiddels verlig kan word nie. Jo ignoreer die stapels posstukke uit Suid-Afrika wat op die skryfburo lê en gaan op die trousseaukis van eikehout sit. Wieg heen en weer. Wat het haar besiel om Christi te klap?

    Sy sleep die trap op: Ek is bitter jammer, Chrissi, by die toe kamerdeur.

    Ná ’n rukkie gaan die deur oop.

    Leef Ma, of is Ma dood? Hoeveel pille drink jy presies? Terug op die aanval.

    Daar is ’n stilte waarin sy Christi se kwetsende blik verduur, die aantyging van die opgehewe merk.

    Jo trek die uitgerekte truimoue oor haar hande, bondel dit in haar vuiste. Vergewe my asseblief, Chrissi. Ek is baie moeg. Ons kan later praat.

    Christi ignoreer die verskoning. Jy sal ’n besluit moet neem oor die perde, Ma. Die plaas verwaarloos.

    Dink jy ek besef dit nie? Aragon word vyf en twintig. Ek weet. Dis tyd om sy halter af te haal. Met die ander perde sal ek nog plan maak.

    Gaan Ma nou Suid-Afrika toe of nie?

    Ek weet wragtig nie. Dis nie so eenvoudig soos klere in ’n tas gooi nie. Wat sal dit help om te beduie die lewe is haar deesdae ’n paar treë vooruit.

    Jy steek jou kop in die sand, Ma. Soos altyd. Die probleme hier of in Suid-Afrika gaan nie verdwyn omdat jy dit ignoreer nie.

    Jo gee Christi ’n laaste, verskonende kyk. Ek moet stalle toe.

    Jaag Ma my weg?

    Teen die tyd dat Jo die perde by die stalblok ingelei het, komberse vervang het, ekstra voer en water gegee het, die verwarmers aangeskakel het, bibberend ingekom het om vir haar en Christi koffie te maak, kom sy agter haar dogter het na haar woonstel in Montpelier vertrek.

    Ons sal mekaar nie nou verstaan nie, Chrissi. Elkeen is nog te behep met sy eie vrae, skryf sy laataand in haar dagboek. Jou ma is ’n futlose siel in ’n verlate huis wat in die winterwind ronddryf en na ’n onbereikbare se liggaamshitte verlang. Van afsondering het ek ’n semihermiet geword. God, stuur vir my ’n teken, asseblief.

    Sy hoor die labrador opstaan, na asem hyg. Ontspan toe hy rustig raak, in sy mandjie gaan lê.

    Voor dagbreek skrik sy uit ’n slegte droom wakker, reik oor die kant van die bed, sleep die mandjie nader. In die oggendskemer voel sy na die slapende liggaam, registreer hoe maer hy geword het.

    Die warm tong soek nie soos altyd na haar hand nie.

    Vlak in die woud langs die huis val haar stewels in die poeiersneeu vas. Met die loodvrag in haar arms struikel sy, vind haar balans met moeite terug. Sneeu stuif van die boomtoppe af grond toe. Met die opkyk gewaar Jo die swart stippels van breëvlerkvalke wat die hoogtes inskiet, suide toe vertrek. Vlerke gevul met die grys winterwind.

    Na verwagting sal ligte storms oor Plattsburgh en Champlain met arktiese lugmassa uit Ontario, Kanada, saamsmelt en teen môreaand stormsterk wind en hoë sneeuval bring, het die weerburo vroegoggend berig. Sy moet aanstoot.

    Sy begrawe Rommel in die gat wat sy dae tevore in die bevrore grond vir hom gegrawe het. Naby Christi se speelplek, waar hy hase gejaag het toe hy jonk was. Nie dat Rommel ooit ’n haas sou doodbyt nie.

    God het vir haar ’n pynlike teken gestuur, seerder as wat sy kan verduur. Sy knoop haar jas los, sak op haar knieë in die sneeu neer, haar gesig in die deurnat handskoene. Stry geluidloos, tot sy nie meer kan nie, tot haar keel brand en haar bevrore hande pyn: teen die leegheid wat sy hier moet aflê en waarskynlik aan die ander kant sal moet opneem.

    In die kombuis gaan sy in ’n stoel langs die houtstofie sit, sprei haar hande voor haar op die tafelblad oop. Die houtgrein soos blindeskrif onder haar ontdooiende vingerpunte. As daar maar ’n antwoord te lees was van die blad van haar kombuistafel af.

    Sy moet ’n besluit neem, maar haar gedagtes maal om en om, terug na ’n dag toe sy en die kinders hier in die kombuis wegkruipertjie gespeel het en sy en Benjamin onder die tafel beland het. Jo het met haar vingernael grond van Verlorenkoppe uit die groewe gekrap. Herinneringe het gemaak dat sy nie kon roer nie.

    Klein Christi het hulle gou opgespoor: Ek sien julle. Aispaai! Onder die tafel! Die kleuterdogtertjie het onder die tafel in gebuk, haar ma en haar boetie geraak, gehardloop om hulle te gaan blok.

    Een, twee, drie, blok vir Boetie. Een, twee, drie, blok vir Mamma!

    Dis jou skuld, Mamma. Jy is aan, het Benjamin geraas.

    Jo se groottante Christine het haar kombuistafel die biegtafel genoem. Geslagte Retiefs is tot verdoemende keuses en geheime gedwing om die einste tafel wat met die Tweede Vryheidsoorlog tussen Engeland en die Boererepublieke in ’n grot op die familieplaas in die destydse Noord-Natal versteek was.

    Sedertdien het ta’ Christine se tafel oseane oorkruis om vir ’n nuwe geslag biegtelinge tot getuie te wees.

    2

    Noord-Natal, 1984

    Christine Retief het haar sterwensdag beplan. Verlorenkoppe se plaasbestuurder Jabu Ndlovu was op sy pos. Die laaste hond het afgesterf, die grysbaardkat het ’n parallelle universum ingesluip. Die nagmaalgordyne was skoon en gestryk, die vrieskas volgepak met beesagterkwart, ’n halwe lam. Biltong en droëwors klam vir die eetslag, die whiskyfles gevul met J&B. Die koekblikke in die spens tot oorlopens toe met konfyttertjies, vlakoekies, melktertdoppe. Daar was drie sakke mieliemeel in die ou safe op die agterstoep.

    Dit was asof Christine selfs die weer beplan het: mooiweer, maar deksels warm op die Novemberdag.

    Sy verlang nie ’n kerkdiens nie, nee, dankie, lui die opdragbrief wat Christine aan haar prokureur gedikteer het. Saam met die kerk loop sy lankal nie meer nie. Vandat sy die kerk gelos het, het sy begin verstaan wat verlossing van die bose beteken. Die kerk bied skuiling aan eenvoudiges van gees en waar mense saambondel, is daar ’n gesamentlike gevoel van meerderwaardigheid en geregtigheid, aldus Christine Retief.

    Die volk, al die werkers van Verlorenkoppe, moet partytjie hou by die rivier. Jo en Anna du Plooy moet die gasvroue wees, namens haar, asseblief. Uit dankbaarheid. Deur hard te werk het sy vooruitgekom. Sy het ’n goeie lewe gehad, maar die Vader weet sy wat Christine is, sou dit nie alleen kon doen nie. Hulle moet die afskeidsaffêre op ’n Saterdagmiddag hou. Klein-Knol Retief, uit haar broer se tweede huwelik, en Jabu Ndlovu kon haar as later op ’n gepaste afstand van die piekniekplek af by die rivier uitstrooi.

    Sorg dat my as nie in iemand se oë waai nie, sluit Christine haar skrywe af.

    Toe die voorbereidings afgehandel en haar lewe volledig beskryf is, het Christine Retief die lewendes aan hulle take oorgelaat en op die Groot Avontuur, soos sy die dood beskou het, vertrek.

    Pretoria, 1984

    Op ’n Maandag om middernag, pas ná bladsy een gesak het, lui die subs se foon in die nagkantoor van Die Hoopstad. Met die groetslag kan Jo hoor haar ma se keel is dik van trane. Sy skrik. Sê nou? Die boodskap wat jy die meeste vrees: ’n geliefde se stem op ’n onmenslike tyd, in die nanag. Siekte of dood. Maar wie?

    Dis ta’ Christine. Sy is in haar slaap weg. Sy het geglimlag en dankie gesê vir die pynpil. Ou dokter Stokes het uitgekom huis toe. Dit was haar hart. ’n Diep sug, dis al wat ek gehoor het op die divan langs haar bed. Dood sonder ’n verdere woord. Ek is jammer, my kind. Sy was jou vertroueling.

    Jo laat haar kop sak. Ek is jammer, Mamma. Sy was soos jou ma.

    Jy moet kom help, Johanna. Die werkers vra vir ’n nagwaak.

    Later tyd vir huil, vir bid. Eers reëlings tref, bak, slag, rondbel: haar ma se manier van roubeklag.

    Natuurlik, ek sal nog vanoggend probeer ry. Moet dinge gou met Kerneels reël. Hy sal nie kan afkry vir die begrafnis nie. Sy navorsing en noodgevallewerk hou hom byna pal by die hospitaal.

    Dis jammer, my kind.

    Het Ma geweet? Ma kuier mos nie oor vendusietyd nie.

    Ek het gedroom. Toe sê ek vir jou pa ek moet kom.

    Jo krabbel opdragte vir die dagpersoneel neer.

    Ek sien Ma teen laatmiddag.

    Ry veilig, my kind.

    Jo bel vir Kerneels by die akademiese hospitaal HF Verwoerd in Gezina. Kry hom nie in die hande nie.

    Sy was te lanklaas in die huis van groottante Christine Retief en nou is dit te laat vir berou. Te laat vir bieg.

    Jo trek die lendelam gaasdeur oop. Die draad is op plekke verroes. In die een hoek sit ’n winkelhaak. Verval waarop die eens puntenerige inwoner nie langer kon fokus nie. Sy loer deur die oop bodeur, skuif die onderdeur se knip oop. Met die oopstoot draal die geur van katjiepierings en eau-de-cologne haar tegemoet. Jo verbeel haar ’n gewerskaf in die spens, wip toe die gaasdeur agter haar toeklap. Sy loop deur die skoongeskropte kombuis, streel oor die riwwe en littekens van die geelhouttafel, dwaal in die halfskemer gangaf. Die nagmaalgordyne in die sitkamer is gehang en toegetrek.

    Die vloerplanke van haar oorlede groottante se huis kraak op al die plekke wat sy kan onthou. Sy loer by die eetkamer in. Leeg. Aan die end van die gang kom ’n gesnik uit die hoofslaapkamer.

    Haar ma sit op die divan langs die oorledene se bed en huil. Jo gee haar ’n vlugtige druk voor sy in die wiegstoel gaan sit. Sy het gekom om haar ma die huis te help opruim, die oorblywende los draadjies van haar groottante se lewe te help vasknoop. Te groet.

    Anna skud haar kop. Wat gaan ek sonder haar doen, my kind? Sy was soveel meer as die ma wat ek nie as kind gehad het nie.

    Ek weet nie, Ma. G’n mens was soos sy nie. Wanneer kom Pa?

    Donderdag. Die wild wat Hendrik op die veiling gekoop het, wei nog in die boma. Pa verskuif hulle stuk-stuk kampe toe.

    Dit klink of dit goed gaan met die wildboerdery?

    Ja, wat. Bokkie hou die boeke en reël die jagkampe. Ek kyk maar dat daar iets van die beesboerdery oorbly. Die veediefstal maak jou pa moedeloos.

    Anna se stem is dun en afgemat. Sy staan traag op, loop na die donkerhoutkas toe. Gaan deur die klere in Christine Retief se hangkas. Ná ’n gesoek haal sy ’n koningsblou jas uit. Sy gee dit vir Jo aan.

    Jo bekyk die jas goed. Ek het haar dit nooit sien dra nie, Ma.

    Ta’ Christine het dit al die jare vir jou gebêre. Kyk die fyn naaiwerk van daardie jare. Oumagroot Delores het die jas self gemaak.

    Dis lieflik. Ek kan nie glo Oumagroot het dit gemaak nie.

    Maar dis oor jy haar net geken het toe sy al seniel was. Ons het die materiaal in Durban gaan koop. Ek en Oumagroot het baiekeer met die trein afgery Durban toe om lap te gaan koop. Als moes presies reg. Sy het duursame lap gekoop, lap wat kon hou. Goedkoop koop, is duur koop, het die oumense gesê.

    Jo vryf oor die glansende stof. Dit voel soos angorabokhaar?

    Egte alpakka, uit Suid-Amerika, gemeng met katoen. Waar Oumagroot aan die idee gekom het, weet ek nie. Seker uit die volk se universiteit.

    Hulle glimlag oor Delores Retief se beskrywing van Die Huisgenoot van haar tyd.

    Ons het ons voete deurgeloop vir hierdie stuk jaslap. Om nie eens van die voering te praat nie. Die jas moes ta’ Christine uit haar swye bring, sê Anna.

    Ta’ Christine se swye?

    Sy en Oumagroot was ’n tyd lank haaks. Jy weet mos van die swye wat drie jaar geduur het?

    Waaroor?

    Dit weet ek nie. Dalk was dit oor ta’ Christine se treinrit Johannesburg toe, in nege en dertig.

    Wat het sy in Johannesburg gaan maak, Ma?

    Daar was dinge waaroor die oumense geswyg het. Jy het selde ’n antwoord gekry as jy probeer uitvis het.

    Het dit gewerk?

    Wat?

    Die jas, Ma.

    Nee, wat. Ta’ Christine het nooit die jas gedra nie. Of wag, tog die een keer. Op haar ou groot vriend se begrafnis. Ek het alleen hiernatoe gery vir oom Lafras se begrafnis, dit was in die skoolkwartaal.

    Jo trek die jas aan. Dit pas lossies aan haar smal gestalte.

    Haar ma snuif hardop. Die blou pas pragtig by die heuningkleur van jou hare, my kind.

    Dankie, Mamma. Jo ondersoek die verbloemde mousome ingedagte. Ek onthou nie vir Oumagroot as ’n mens wat behoorlik kon dink nie. Vir my was sy soos ’n kleuter.

    Een jaar het ek en jou pa hier vir Oumagroot kom kuier. Dit was vroeg in die sestigerjare. Ta’ Christine het nog op Verlorenkoppe geboer. Jy onthou mos. Met die jerseys?

    Ek onthou.

    Oumagroot het al hier in die huis op die dorp gewoon. Ons het ingery en by die agterdeur stilgehou. Die werf was stil. Die groot hek was oop. Dis hoe ons daardie tyd geleef het. Niks is gesluit nie. Anna vryf oor haar oë. Sy snuit in ’n wit sakdoekie wat sy onder die goue rekband van haar polshorlosie uithaal. Wat my gepla het, was die agterdeur wat oopgestaan het. Ek praat van die gaasdeur. Ek het na Oumagroot geroep. Die kombuis was donker en die gordyne dig. Toe ek instap, kon ek skaars vir Oumagroot uitmaak. My oë was halfblind van die helder lig buite en die donker binne. Jy verstaan?

    Jo gaan trek die gordyne weg en gooi die vensters oop. Warm lug van die koppies af roer deur die kamer. Dit skep geringe verligting teen die laatmiddaggloed.

    En toe, Ma?

    Oumagroot het op ’n stoel in die middel van die vloer gestaan. Sy wou die hanggloeilamp van die kombuislig met ’n vuurhoutjie aansteek. Ek het vir haar gevra wat maak jy, Ouma? Sy het gekla oor die donker. Ek het dadelik vir ta’ Christine Verlorenkoppe toe gebel. Sy het toe gereël dat Makoti hier by Oumagroot kom bly. Later moes hulle weer plaas toe. Makoti kon nie hier alleen regkom met Oumagroot nie. Ta’ Christine het die blomtuin op Verlorenkoppe laat toespan. Jy en Oumagroot het mos graag daar gekwaaddoen.

    "Ek onthou Oumagroot soos mens ’n kind onthou. Sy was daar, maar ook nie. Ons het raas

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1