Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Vir ewig en altyd saam: 'n Reis van liefde, verlies en hoop
Vir ewig en altyd saam: 'n Reis van liefde, verlies en hoop
Vir ewig en altyd saam: 'n Reis van liefde, verlies en hoop
Ebook231 pages3 hours

Vir ewig en altyd saam: 'n Reis van liefde, verlies en hoop

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

“Vergewe my Here as ek haar te lief het, te lief het om haar te laat gaan.” Danny Fourie en Adri-Louise van Renen, het mekaar laat in hul lewe ontmoet en lief geraak vir mekaar. Kort ná hulle verlowing word Adri-Louise geopereer vir ’n gebarste blindederm, net om agter te kom sy is ernstig siek met kanker. Sy bied aan om die verlowing te verbreek, maar Danny hou vol: Ons sal saam wees, nou en vir altyd. ’n Ware verhaal van merkwaardige liefde in die skadu van die dood.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateJan 18, 2016
ISBN9780796318428
Vir ewig en altyd saam: 'n Reis van liefde, verlies en hoop
Author

Danny Fourie

Danny Fourie was ’n gemeentepredikant, maar is uit die bediening en was vir ’n tyd die hoof van godsdienstige programme by die SAUK. Hy was by Lux Verbi en CLF en het toe die uitgeehoof van Bybel-Media geword. Hy werk op die oomblik in die boekebedryf as ’n vryskut. Hy bly in Durbanville.

Related to Vir ewig en altyd saam

Related ebooks

Related articles

Reviews for Vir ewig en altyd saam

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Vir ewig en altyd saam - Danny Fourie

    Vir Adri-Louise

    my merkwaardige vrou,

    en vir almal wat die trauma van

    terminale kanker beleef het en treur oor

    ’n geliefde wat nie meer hier is nie.

    Voorwoord

    Op ’n Vrydagmiddag het sy die voordeur van haar huisie – wat later ons huisie sou word – vir my oopgemaak, my gesoengroet en ingenooi. Ek het haar later oor daardie soengroet uitgevra, waarop sy geantwoord het dat dit maar net die regte ding vir haar was om te doen. Om so naby hierdie mooi vrou met die blou oë te wees, het my kortasem gelaat. Ek het onbeskaamd en ongehinderd na haar gekyk: die smaakvolle snoer om haar nek, die klein bypassende oorbelletjies, die armhorlosie soos ’n juweelstuk met ’n klappie op die wyserplaat, en die silwer band en ketting om die ander pols. Die gemak waarmee sy gesels het – en daardie aansteeklike lag – het my oorrompel. Ons albei het onuitgesproke geweet: ons vind in mekaar wat ons vir ewig kom verander het. Nooit sal ons dieselfde mense wees indien iets ons sou verhinder om dít wat tussen ons groei te laat blom nie.

    Vir die volgende paar maande het ons styf teen mekaar op die Ferriswiel gesit. Met die musiek van die karnaval in ons ore. Om en om het die wiel ons gedraai: van hoog na laag en weer na hoog soos ons mekaar al dieper ontdek en leer ken het. ’n Metafoor vir die ervaring van die golwende liefde tussen ’n man en ’n vrou. Tóé al het ons vir mekaar gesê – sy 46 en ek 57 – waarom het ons mekaar nie jare gelede gevind nie? Nou moet ons ons liefde uitleef in die oorblywende jare van ons lewe – ’n geleentheid waarvoor ander ’n leeftyd het.

    Die tweede kaartjie wat sy vir my gegee het, het ’n uil met groot oë op die voorkant gehad. Sy het die kaartjie só begin: Hierdie is ’n eerste vir my. Ek weet nie of ek die regte woorde sal vind nie. Ek word elke oggend grootoog wakker. Grootoog van verwondering oor die liefde wat ons aan mekaar bind. Grootoog omdat dit juis jý is wat die Liefde van my Lewe geword het. Grootoog omdat ek met die liefde kon kennis maak. Ons kon nie wag om ons nuutgevonde liefde met die wêreld en ons hartsmense te deel nie.

    Adri-Louise het in die rol van geliefde ingestap asof sy haar hele lewe daarvoor gerepeteer het. So maklik, só gemaklik.

    En toe word ons skielik tot ’n onseremoniële stilstand geruk. Ons het tussen hemel en aarde gehang. Sy is met kanker gediagnoseer. En soos die maande aangestap het, het sy al hoe sieker geword – totdat ons laaste dag saam onafwendbaar aangebreek het.

    Hierdie boek gaan oor daardie deel van ons kort liefdeslewe, ons reis met die keiser van alle kwale, met die slingerende pendulum tussen hoop en werklikheid, tussen chemosessies en skanderings, tussen hartseer en lag, tussen dae vol liefde en speel, en dae van bekommernis en stilte – immer met die swaard oor ons kop.

    Dit is mos so dat sommige mense ’n maklike lewe lei en swaarkry skynbaar by hulle verbygaan. Alle mense word egter met een harde werklikheid gekonfronteer: die dood. Frits Gaum skryf in sy boek Nie van hoorsê nie, Here dat geen mens regtig kan lewe as hy of sy nie met die dood rekening hou nie. Geen mens weet wat lewe eintlik is as hy of sy nie ’n slag die lewe aan sy teenpool gemeet het nie. Die dood is die groot vyand wat aan almal indringende vrae stel. Wat is die betekenis van ’n lewe wat die dood in die gesig staar? Wat is van waarde wanneer jy ’n vernoude toekoms het?

    Die dood konfronteer ’n mens met jou geloofsoortuiging. Dit wat jy oor dekades heen in jou lewe bely het en gemaklik soos ’n sleutelblokkie in die lewenslegkaart kon pas, is skielik nie meer so maklik nie. Die onwillekeurige vraag waarvoor jy te staan kom, en wat jy dalk te bang is om te vra, is of alles wat jy as waar hou en wat betekenis en rigting aan jou lewe gegee het, vals is? ’n Illusie is?

    Gaum skryf dat daar seker nie ’n mens is wat so voor die dood kan staan en dieselfde kan bly nie. Die dood ruk jou uit jou voeë. Dit laat jou oor alles nadink – jou werk, jou vriende en familie, jou verhouding met God. Soos CS Lewis ook getuig, laat dit jou raaksien hoe slordig jy tot hiertoe gelewe het, hoe skeef jou waardestelsel baiekeer was.

    Dit was ook my ervaring toe ek vir Adri-Louise verloor het. Dit ís of ’n mens jou plek in God se groot plan vir die eerste keer goed raaksien. Die dood van jou geliefde verpletter jou. En tog is dit, en ek sê dit met ’n nederige versigtigheid, ’n geleentheid om te groei – persoonlik en geestelik. Dit is egter nie ’n maklike oefening nie. Toe ek dit êrens gelees het, was my eerste reaksie om uit te roep: Ek stel nie belang in groei nie! Sonder Adri-Louise kan ek, wil ek nooit weer groei nie! Watter sin het dit om te groei terwyl ek steeds sonder haar bly?

    Hartseer en rou is ’n baie persoonlike saak. Geen twee mense rou op dieselfde manier nie. Ons reis is ’n reis soos ek dit saam met Adri-Louise beleef het. Wat ek te sê het, geld net vir my. Daar is tog by my die hoop dat dit vir ander woorde en ’n taal sal gee om hul hartseer te kan verstaan en te verwoord – al is dit dan net in ontkenning of aanvulling van wat in my gedagtes en hart leef.

    Vir my was die skryf van hierdie boek nie ’n geleentheid om Adri-Louise en ons reis op die voorgrond te druk nie. Dit is eerder om soos baie ander voor my vir dié wat belangstel ’n kykie te gee in die verwoestende effek van kanker – op die liggaam en op die geliefdes om die persoon wat met kanker leef. Ek het so eerlik moontlik probeer skryf. Ek het geen vooraf skema vir die boek gehad nie. Een oggend het ek net gaan sit en begin skryf. Daarna het die teks in die nag in my gedagtes vorm aangeneem en in die dag het ek dit net neergeskryf. Die intensiteit waarmee ek die emosies van die afgelope paar jaar beleef het, is so in my gemoed ingegraveer, in my hart en niere ingekras, dat ek dit soos van ’n gedenkplaat kon aflees.

    Ek hoop my worsteling met hierdie lewensveranderende tragedie kan ander wat in my situasie is, help om in hierdie doolhof van rou en blinde hartseer ’n nuwe koers te ontdek.

    Adri-Louise het natuurlik aan die teks van hierdie boek help skryf. Hoofstuk 5, Uit die bloustoel, is ’n unieke deel van hierdie boek. Daar hoor ’n mens haar stem en gedagtes – geneem uit die gereelde e-posse wat sy vir mense in die vorm van ’n nuusbrief gestuur het.

    In die woorde van CS Lewis uit A grief observed was sy my dogter en my ma, my leerling en my onderwyser, my onderdaan en my koningin; en terwyl sy dit alles in suspensie gehou het, ook my betroubare kameraad, vriendin, skeepsmaat, medesoldaat. Bo alles: my minnares.

    Adri-Louise was ’n vrou wat baie mense op ’n spesiale manier aangeraak het. Uit die aard van haar werk het sy ’n wye impak gehad. Sy sal die eerste een wees om te sê dat sy niks beter is as enige ander vrou of kankerpasiënt nie. Dat daar geen spesiale rede is waarom daar oor haar en ons verhaal ’n boek geskryf moet word nie. Haar bevoorregting bo iemand met kanker wat alleen in ’n koue skuiling bly, met ’n karige dieet en mediese behandeling, het haar dikwels hartseer gelaat.

    Een van die dinge waarmee ek die meeste worstel, is die feit dat Adri-Louise so voortydig, so ontydig, oorlede is. Vir my en my kinders, en vir baie was sy onmisbaar, onvervangbaar. Sy is weg toe sy nog so ’n groot bydrae in ons lewe en haar werkkring kon maak. Gaum sê ’n mooi ding. Hoewel ons nie haar leë plek kan verstaan nie, is daar een plek waar sy onvervangbaar is. Dit is by God. God se ewigheid sal nie volmaak wees as sý nie ook daar is nie. Vir God is sy onmisbaar. Dit troos om te weet dat sy nie net geliefd is waar sy nou is nie, maar ook baie spesiaal.

    Waarmee ’n mens ná die dood van ’n geliefde gelaat word, is die uitdagende en naakte vraag: Hoe verwerk ek dit? Hoe kom ek hieroor? Ek weet nie. Wat ek weet, is hartseer is nie ’n staat nie, maar ’n proses. Ek probeer weergee hoe ek my proses sien en na wat – nie waarheen nie – ek op pad is.

    Vir ewig en altyd saam is nie ’n handleiding oor hoe om te treur nie. Soos CS Lewis het ek ook nie probeer om ’n toestand of staat te beskryf nie, om ’n kaart van hartseer te teken nie. Vir hartseer het jy nie ’n kaart nodig nie, maar geskiedenis. En as ek nie doelbewus iewers ophou skryf aan daardie geskiedenis nie, sal ek nooit ophou nie. Daar is elke dag iets nuuts om oor te skryf en om oor na te dink. Om te treur is soos ’n lang vallei, ’n kronkelende vallei waar elke draai ’n totaal nuwe landskap blootlê. Maar die vreemde is ook dat nie elke draai ’n nuwe landskap onthul nie. Soms is die verrassing die teenoorgestelde. Jy word aan presies dieselfde landskap voorgestel wat jy meen jy kilometers ver agtergelaat het. Dit is wanneer jy begin wonder of die vallei, die rouproses, nie dan dalk soos ’n sirkelvormige loopgraaf is nie. Dit is nie. Daar is gedeeltelike herhalings, maar die opeenvolging herhaal nooit nie.

    ’n Vriendin van Namibië het vir my hierdie onbekende aanhaling gestuur, wat inpas by die manier waarop ek my hartseer en rou ervaar:

    Grief never ends . . . but changes. 

    It’s a passage, not a place to stay. 

    Grief is not a sign of weakness,

    nor a lack of faith . . . 

    It is the price of love.

    Mense sê seker vir hulleself: Toemaar, hy sal daaroor kom. Daaroor kom. Dit is dubbelsinnig. Lewis sê veelbetekend om te sê die pasiënt sal oor die blindedermoperasie kom, is een ding. Om te sê die pasiënt sal oor die amputasie van sy been kom, is ’n ander ding. Ná die amputasie moet die stomp genees of die man sterf. As dit genees, sal die aanhoudende felle pyn ophou, hy sal sy kragte herwin en in staat wees om met sy kunsbeen te loop. Hy het daaroor gekom. Moontlik sal hy terugkerende pyne ervaar, party baie erg; en vir die res van sy lewe sal hy iemand met een been wees. Daar sal haas geen oomblik wees dat hy dit nie onthou nie. Om te bad, aan te trek, te sit en op te staan, selfs om in die bed te lê, sal nooit weer dieselfde wees nie. Sy hele manier van lewe sal verander. Alle soorte plesier, aktiwiteite en verpligtings wat hy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, is opgeskort. Op die oomblik kom ek met krukke oor die weg. Moontlik kry ook ek iewers in die toekoms ’n kunsbeen. Maar ek sal nooit weer ’n tweebeenman wees nie.

    Susan Jordaan van Lux Verbi het die vertroue in my gehad om hierdie manuskrip te skryf. Dankie, Susan, vir die swaar maar helende geleentheid om my treurende hart te verwoord. Die skryf was ’n beskerming teen totale ineenstorting, ’n veiligheidsklep. Dit is ’n besondere voorreg dat dit juis jy is wat my die opdrag gegee het. Dankie aan jou kollegas en hul geduld met my, en vir Vilien-Miri Coetzee wat my gedagtes en woorde op ’n kundige manier help orden het.

    Aan die einde van die boek het ons vyf tydskrifartikels ingesluit wat oor my en Adri-Louise geskryf is. Dit is geskryf deur mense wat ons goed ken en bied ’n waardevolle bykomende perspektief op ons verhaal. My dank aan die tydskrifte met wie se toestemming ons dit kon gebruik. Aan die einde van die boek plaas ons ook die huldeblyk van kerklike kant wat met haar roudiens voorgelees is.

    Daar is so baie mense wat saam met my geskryf het: my broer Stephen; die Van Renen-familie – Pa, Lilibet, Christine en Org, Annelie en Jakes; ons naby vriende, Gert en Esther, Johan en Thea, Gerrit en Hannatjie; Adri-Louise se jare lange vriendinne, Adri, Maryke en Theresa; Susan G, Jeanne en Annalise. Dankie vir jul aanmoediging. Aan die wye klomp vriende en oudkollegas wat saam met ons gereis het en my in die laaste tyd opgesoek en bemoedig het, is ek baie dank verskuldig. Jul boodskappe en gebede het my op die tye wat ek dit die nodigste gehad het, die durf gegee om aan te hou skryf. My diepe dank aan my kinders wat met ons saamgeleef het in die twee jaar wat sy siek was en ook die laaste week van haar lewe by my was. Daniell en Tim, Marelise en Pietman, Nielmari en Fintan, Marike en Jonathan, en Grethe. Julle het my arms omhoog gehou in daardie tyd. In die laaste jaar en klompie maande het julle my gedurig daaraan herinner dat sy waardig is om oor te skryf – die dapper vrou met die ruim hart. Ook vir julle sal hierdie boek ’n kroniek wees van ’n merkwaardige vrou en ’n uitsonderlike liefde.

    Danny Fourie

    Januarie 2016

    Watter kaart of watter ster sal ek jou wys

    om veilig deur die grysland heen te reis?

    Uit Negester en stedelig

    deur DJ Opperman

    1

    Prognose

    Dit was ’n koelerige oggend in Junie 2012 by die Mediclinic Durbanville. Die skraal winterson het alles uitgehaal om die dagtemperatuur aangenamer te probeer maak. Vir die meeste mense was dit ’n gewone Dinsdag. Wellingtonweg wat voor die kliniek verbyloop, was soos gewoonlik bedrywig. Die lewe het oustryk om ons voortgegaan. Die wintervakansie het voorgelê. Die parkeergebied by die kliniek was vroegoggend besig om vol te word. Ek het al geleer waar om te kyk vir die paar parkeerplekke wat mense miskyk. Dit was Adri-Louise se tiende dag in die hospitaal. Ek was reeds oorbekend met die hospitaalomgewing: al die kortpaaie deur die gange na die sale en ander uitgange.

    Vreemd hoe so ’n hospitaal so vinnig vir ’n mens bekend word. Nie net die uitleg nie, maar die aanvanklike ongemak en bedreiging van die sale met siek mense, verplegingspersoneel en die kliniese omgewing, verdwyn. Dit raak skoon familiêr. ’n Mens kan amper, skreiend soos dit mag klink, tuis begin voel. Die personeel kry name en die dokters word vriende. ’n Week gelede het ons nog met groot oë na die verskillende monitors en binneaarse drips gekyk. Nou was ons reeds heel bedrewe om met monitors, drips en staanders toilet toe te stap en daarna die hele spul weer op hul staanplekke te parkeer en te koppel.

    Dié wintersoggend was ons eerste afspraak by dokter V. Hy het ons reeds drie keer in die saal kom besoek. Dié dag sou ons egter na sy spreekkamer langs die hospitaal gaan. Die verpleegpersoneel het Adri-Louise se hare gewas. Daar is vir haar skoon nagklere, die roomkleurige kamerjas en skaapwolpantoffels aangetrek. Toe is sy in ’n rolstoel gehelp. Een van die drips moes saamgaan. Adri-Louise het dit sommer so triomfantelik in die lug gehou. Hulle het ’n laken gevat en dit om haar lyf gebind dat sy nie uit die stoel moet val nie.

    Ons was vol moed toe die verpleegster haar by die enkelkamer uitstoot en ons met die kortpad na die gebou langs die kliniek koers kry. Met haar kenmerkende lag het sy die dagpersoneel in die saal, by wie sy teen daardie tyd alombekend was, opgewek gegroet. By die sekuriteitsdeur aan die kant van die hospitaal het ek die kode gememoriseer. Ek het vermoed ons sou dit nog talle kere gebruik. Tien dae gelede het ons niksvermoedend hierdie mediese

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1