Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die Gewildste Afrikaanse gedigte
Die Gewildste Afrikaanse gedigte
Die Gewildste Afrikaanse gedigte
Ebook197 pages1 hour

Die Gewildste Afrikaanse gedigte

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Leserskring het in samewerking met By en RSG hul lede, lesers en luisteraars gevra om vir hul gunstelinggedigte in Afrikaans te stem. Hierdie boek bevat die 100 gewildste gedigte, soos aangewys deur liefhebbers van die digkuns uit alle uithoeke van die land, oud en jonk. Die versameling bevat ’n wye verskeidenheid poësie, deur digters soos Eugène N. Marais, Elisabeth Eybers, Breyten Breytenbach, Antjie Krog, N.P. van Wyk Louw, A.G. Visser, Lina Spies, D.J. Opperman en Adam Small. Dit is ’n onteenseglike bewys dat dié woordkuns steeds ’n plek het in die harte en huise van Suid-Afrikaanse lesers.
LanguageAfrikaans
Release dateFeb 22, 2013
ISBN9780798158381
Die Gewildste Afrikaanse gedigte

Related to Die Gewildste Afrikaanse gedigte

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die Gewildste Afrikaanse gedigte

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die Gewildste Afrikaanse gedigte - Leserskring

    Die gewildste

    Afrikaanse gedigte

    soos saamgestel deur Leserskring

    dec.jpg

    Human & Rousseau

    Voorwoord

    Aangevuur deur ’n liefde vir die digkuns het Leserskring Jan Alleman genooi om die gewildste Afrikaanse gedigte te bepaal, met ’n bloemlesing ten doel – ’n eerste in sy soort in Afrikaans! Daar was egter geen manier om vooraf te bepaal watter reaksie die projek sou uitlok nie. Hoe gemaak as die belangstelling flou is? Sal dit uitloop op ’n goed bedoelde maar futiele oefening om belangstelling in poësie te prikkel?

    Met vasbeslote ywer en twee energieke mediavennote, BY en RSG, kondig ons toe ’n landswye meningspeiling aan. Die nominasies stroom in – uit die mees onverwagte oorde: van taalmense tot ambagsmanne, dosente tot skoliere. En so word gedigliefhebbers juigend en jubelend die samestellers van hierdie bloemlesing. Uiteindelik word bykans 6 000 gedigte genomineer. Die top-100 verskyn in hierdie bundel.

    Die finale lys is die pennevrug van ’n klein groepie van 35 digters. Des te meer is die prestasie dat agt van Elizabeth Eybers se gedigte gelys word.

    Eugène Marais se 108 jaar oue juweel, Winternag, beklee die eerste plek, gevolg deur Elisabeth Eybers se Maria. Na verwagting word die lys deur ouer digters oorheers, maar die derde plek word deur Antjie Krog se Ma ingeneem. Die digkuns word soms as elitisties voorgehou, maar dié persepsie is hard en duidelik hokgeslaan. Alhoewel akademici en kunstenaars bydraes gelewer het, dui die handtekeninge onderaan e-posse ’n verskeidenheid van beroepe en ou­der­domme aan. En in die proses het die projek toe veel meer as net nominasies geopenbaar: Mense het geskryf oor hulle emosionele band met die poësie en hul familiebyeenkoms om ’n kortlys saam te stel, en het ook hul mening gegee oor die stand van die digkuns, die jeug van vandag en skoolsillabusse! Kortom, die projek het die hart van die volk geraak.

    Op die ou end sit ons met iets beters as die digbundel wat ons beoog het. Die Suid-Afrikaanse gedigliefhebber het opgetree as samesteller van hierdie boek vol woordjuwele deur die mens, oor die mens, vir die mens. ’n Ware nalatenskap vir die huidige en toekomstige geslagte wat dan ook ’n kultuurhistoriese dokument is van die stand van die Afrikaanse poësie in die jaar 2013.

    Dit is ons wens dat die bundel ’n eervolle plek op elke Afrikaanse huis­houding se boekrak sal beklee.

    Die samestellers

    Vooraf gespeel

    ’n Gewone bloemlesing sê in die eerste plek – hopelik – iets insiggewends om­trent die terrein van ondersoek – in hierdie geval die Afrikaanse poësie – maar heelwat meer oor die voorkeure en blinde kolle van die bloemleser. In ’n bundel soos dié gaan dit primêr om die lesers en hulle verhouding tot die poësie, hulle voorkeure en leesgewoontes, selfs oor die besondere stelsel waarbinne hulle grootgeword het. Opperman se opeenvolgende Junior, Senior en Groot Verse­boek moet teen wil en dank op skool of universiteit die konteks en die gewoontes van verskeie generasies lesers beïnvloed en selfs bepaal het. Hoe en waar ánders sou lesers – veral in sulke groot getalle en oor soveel jare – blootstelling kon gekry het aan, sê, Leipoldt of Marais, of des te meer aan ’n Celliers of ’n Keet of ’n Malherbe of ’n Fagan en diesulkes (hoewel mens in dié geval tog ietwat meer blyke van ’n Toon van den Heever of ’n Kleinjan van Bruggen sou verwag het)? Maar dit gaan verder as leerplanne of gewoonte. In laaste instansie gaan dit daarom dat sekere digters en hul verse, selde hóé, ’n meer blywende indruk of afdruk gelaat het as ander. Ek kan onthou hoe ek ’n halfeeu gelede al ’n eerstejaarklas se reaksie op Raka getoets het en dié memorabele antwoord aan ’n geesdriftige jong man ontlok het:

    Het u al ooit beelde soos dié gelees – gevolg deur drie bladsye van beelde, beel­de, beelde … en dan afgerond met die uitroep: Al wat ek kan sê, is: JUSLAIK (sic!). Hier is dit nie onderrig of gewoonte of tradisie wat praat nie, maar spon­tane geesdrif, die gloed van ontdekking, van naïewe opgewondenheid. (Ek het die jongeling beloon met ’n baie hoë punt.) Op ’n manier kan ons in hierdie bloemlesing dus praat van juslaikpoësie. Daardie opgewonde leser – nou al goed middeljarig – moet vandag nog iets van sy jeugdige vervoering oor Raka, of met ’n bietjie geluk selfs oor die poësie, met hom saamdra.

    Hierdie opmerkings is nie akademies nie; die bundel ook nie. Dit begelei gewoon ’n bloemlesing wat hoogstens ’n rangorde aanbied uit ’n versameling keuses deur ’n menigte lesers om te peil wat generasies van liefhebbers uit die Afrikaanse poësie bygebly het: gedigte waarna hulle vermoedelik – hopelik! – oor en oor terugkeer om in die dowwer dae van werk en sloof nog iets van ’n oorspronklike glans te herken.

    Natuurlik is daar verbasende hiate. Maar dit het geen sin om vandag te pro­beer bepaal wat dan van Peter Blum en soveel ander verlore bemindes geword het of hoekom daar dan net één gedig van Boerneef is en glad niks van Petra Müller of ’n handvol ander vanaf Patriotters tot Loftus Marais nie … Die opset was juis om vas te stel wié tot dusver in die herinnering oorleef het; en eers later om dalk te probeer vasstel wáárom of waarom nié. Ons bly op stuk van sake agter met ons klein gerfie gedigte om stilweg net te dink: Dankie dat ons dié en dát kon behou. Dat ons nog soveel moois, soveel wat onvergeetlik is, met ons kan saamneem as troos en padkos vir die toekoms. En om te weet – nooit alte trots nie, maar altyd met dankbaarheid – dat as Duits ’n Goethe of ’n Rilke het, en Frans ’n Villon of ’n Valéry, en Pools ’n Szymborska en Italiaans ’n Quasimodo en Spaans ’n Lorca of ’n Neruda … dan het ons in Afrikaans nog, vir goed, ’n Van Wyk Louw en ’n Eybers en ’n handvol ander. En dit, soos die digter gesê het, is vir alle tye.

    André P. Brink

    Winternag – Eugène N. Marais (1871–1936)

    O koud is die windjie

    en skraal.

    En blink in die dof-lig

    en kaal,

    so wyd as die Heer se genade,

    lê die velde in sterlig en skade.

    En hoog in die rande,

    versprei in die brande,

    is die grassaad aan roere

    soos winkende hande.

    O treurig die wysie

    op die ooswind se maat,

    soos die lied van ’n meisie

    in haar liefde verlaat.

    In elk’ grashalm se vou

    blink ’n druppel van dou,

    en vinnig verbleek dit

    tot ryp in die kou!

    Maria – Elisabeth Eybers (1915–2007)

    ’n Engel het dit self gebring,

    die vreugde-boodskap – en jy het

    ’n lofsang tot Gods eer gesing,

    Maria, nooi uit Nasaret!

    Maar toe Josef van jou wou skei

    en bure-agterdog jou pla,

    het jy kon dink eenmaal sou hý

    die hele wêreldskande dra?

    Toe jy soms met ’n glimlag langs

    jou liggaam stryk … die stilte instaar …

    wis jy met hoeveel liefde en angs

    sou hý sy hellevaart aanvaar?

    Die nag daar in die stal – geeneen

    om in jou nood by jou te staan –

    het jy geweet dat hy alléén

    Getsemane sou binnegaan?

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1