Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Skoenlapper
Skoenlapper
Skoenlapper
Ebook380 pages6 hours

Skoenlapper

Rating: 3 out of 5 stars

3/5

()

Read preview

About this ebook

 
Topverkoper-skrywer Irma Venter se debuut-spanningsverhaal. Waar Alex oral gaan, volg chaos hom. Dis hoekom hy joernalis geword het en hom nou in Tanzanië bevind. By ’n troue naby Dar es Salaam ontmoet Alex vir Ranna, ’n vryskutfotograaf, en met ’n verlede waaroor sy nie praat nie. Alex wat lankal nie meer in Die Liefde glo nie, weet: dit is hoe dit voel. 

"Witwarm romanse, moord, die eksotiese Dar es Salaam: Irma Venter is ’n belowende nuwe spanningskrywer." – Karin Brynard
LanguageAfrikaans
Release dateMay 27, 2012
ISBN9780798158480
Skoenlapper
Author

Irma Venter

Irma Venter is ’n bekroonde joernalis in Johannesburg. Haar romans sluit in Skoenlapper (wenner van die ATKV-prys vir spanningsromans), Skrapnel, Sondebok, Skarlaken, Sirkus, Sondag en Sewe-en-veertig. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse skrywer wat internasionaal uitgegee word deur Amazon Crossing.

Read more from Irma Venter

Related to Skoenlapper

Related ebooks

Related articles

Reviews for Skoenlapper

Rating: 3.227272727272727 out of 5 stars
3/5

22 ratings1 review

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 5 out of 5 stars
    5/5
    Heerlike, spanningsvolle boek met ‘n einde wat geen mens kan voorspel nie. 5 sterre

Book preview

Skoenlapper - Irma Venter

cover.jpg

Skoenlapper

IRMA VENTER

logo.jpg

HUMAN & ROUSSEAU

Vir Anneke en Erika

She who wants to have right without wrong,

order without disorder, does not understand

the principles of heaven and earth.

She does not know how

things hang together.

CHUANG TZU

ALEX

1

AS ’N MENS CHAOS JAAG, DAN WEET JY VAN GERAAS. Gemors. Skares. En van nêrens. Skryf lank genoeg nuus en uiteindelik kom jy ook op ’n plek uit waar dit lyk asof niemand kan oorleef nie en niks gebeur nie. Maar jy sal verkeerd wees. Mense doen wat mense doen, en nêrens is net nog ’n plek om dit te doen. Dalk is dit selfs ’n makliker plek om dit te doen. Minder mense wat sien. Minder mense wat onthou.

Daar is baie sulke plekke, en nie almal is sleg nie. Van hulle is die mooiste plekke wat ek ken. ’n Paar kilometer noord van Port Nolloth, as ’n mens die see aan jou linkerkant hou, verdwyn alles stuk-stuk, tot dit net jy en die stilte is. Dieselfde gebeur as mens die duine buite Walvisbaai inry.

En dan is daar hierdie plek in Tanzanië. Dis iewers tussen Arusha en Dar es Salaam, en dis nie regtig ’n plek met ’n naam nie. Dis eerder net ’n handvol huise wat soos verdwaalde beeste tussen die lang gras rondstaan. En hier is ’n kroeg. Nêrens het altyd ’n drinkplek.

Ek is by ’n troue. Ek staan buite ’n vaalblou saal, langs ’n handgeverfde Coca-Cola-teken, en kyk na almal wat verbyloop. Die bier in my hand is al lou. Vandag is nie ’n goeie dag om betyds te wees nie. Almal om my skarrel nog rond. Hulle dra kos aan en gesels, vergelyk rokke en haarstyle. Die pastoor gaan nog vir ’n uur of wat sit en tee drink onder die bome. Tyd maak vandag niks saak nie.

Ek sug en draai om, op soek na iets om te doen. Dalk het hulle hulp nodig met die stoele.

Die eerste ding wat ek raaksien, is haar hare: swart en baie. Sy staan op van die boomstomp waar sy gesit het, druk die Nikon tussen haar knieë in, giet die krulle in haar hande en maak dit agter haar rug vas. Haar pers T-hemp sê Dr Seuss is altyd reg.

En ek? Ek weet onmiddellik: Dis hoe dit is. Dis hoe ’n mens verlief raak. In een oomblik. In minder tyd as wat dit neem om jou asem in te trek. Hoe absoluut belaglik.

Ek loop nader en maak hard keelskoon sodat sy moet opkyk. Dit werk. Haar oë is blou. Eintlik pers.

Die bier is in die pad en ek skuif dit na my ander hand. Sy doen dieselfde met die Nikon. Dis ’n gladde, geoefende beweging, asof die kamera met die lang grys lens niks weeg nie. Sy skud my hand, haar vel koel onder my vingers.

Alex Derksen, sê ek.

Ranna. Ek het gedink ek’s die enigste een wat mal genoeg is om hierdie deel van die wêreld te dek. Wat soek jy hier?

Is dit só duidelik ek’s ’n joernalis?

Sy waai twee vingers in my rigting. Jou oë som die heeltyd alles op, asof jy dit weeg. Alles moet driehonderd woorde of minder wees. Sy lag. Ek hou jou nou al vir ’n rukkie dop.

Is dit ’n kompliment? Ek hoop so.

Sy sit die Nikon af, en dan weer aan. Jy’t nog nie gesê hoekom jy hier is nie.

Iets aan haar Amerikaanse aksent wil-wil bekend klink.

Selfde as jy.

’n Foto?

’n Storie. Dis maar dieselfde ding, of hoe?

Ek vryf oor my wang en wens ek het vanoggend geskeer. En my hare kort ’n sny, dit krul al in my nek.

Ek sluk van die bier en probeer om nie te staar nie, maar dis moeilik. Haar bruingebrande hande bly rusteloos vat en los. Hulle vroetel met haar hare, die kamera. Haar voorarms knoop fyn spiere elke keer as sy die kamera se lens draai. Maar van alles is dit haar oë, ouer as die res van haar, wat my aandag hou. Sy knip hulle stadig, doelbewus, asof sy heeltyd foto’s neem en iewers bêre. Asof sy móét onthou.

Skielik stop haar hande. Sy lag toe sy besef dis doodstil tussen ons. Sy swaai die kamera oor haar skouer en leun vorentoe. Dis weer jou beurt om iets te sê.

Jammer. Ek skud my kop verleë. Ek skryf baie beter as wat ek praat. Wag tot jy my voor ’n rekenaar sien.

Die wind het begin roer. Fyn stof dwarrel op en draai om ons voete. Sy skuif die sonbril van bo-op haar kop tot op haar neus, maar besluit dan daarteen. Sy soek iets in my oë.

Vir wie werk jy?

AP.

A. Ek het gedink dis die wires. Die koerante bodder al minder met korrespondente.

Jy klink suur.

Is jy nie ook nie? Oor ’n uur is dit op die Net, dalk môre in die koerant. Of miskien maak ’n redakteur in Londen of Johannesburg ’n ‘ingeligte’ besluit en can jou foto, want ’n steelfoto van Kate Middleton sal beter verkoop. Ten minste voel hulle een of ander verpligting as dit hulle eie joernalis is wat die storie geskryf het.

Ek lig die bier in erkenning. Dis die eerste keer dat ek buite Suid-Afrika werk, maar ek weet wat sy sê is waar.

Hoeveel foto’s het jy al deurgestuur? Ek wys na die duur Nikon wat soos ’n AK47 aan haar sy hang.

Ek tel nie meer nie.

Hoeveel het hulle gebruik?

Darem ’n paar. Waarvan ek weet.

Vir?

"Ek freelance, so dis ’n hele paar name. Die Washington Post. New York Times. Een of twee in die Independent."

Sy draai om en tel die halfvol bierbottel langs die boomstomp op. Sy sluk twee, drie keer.

En jy? vra sy. Hoeveel stories?

Seker tien of so.

Jy’s nog vars.

Ek het laas maand hier aangekom.

Jy sal nog leer: niemand gee regtig om wat in Afrika gebeur nie, maak nie saak wie dit skryf nie.

Ek trek my skouers op. Kan nie stry nie. Behalwe as daar ’n oorlog is, of as die Amerikaanse president hier kom kuier. Of as dit iets oor vigs is. Vigs wen amper altyd. Soms selfs ’n prinses.

Sy lag asof sy my glo, maar sê niks nie. Ek merk waar haar oë vasgehaak het, draai effens weg. Ek weet wat sy gaan vra.

Jy kon daai nie hier gekry het nie. ’n Maand is nie lank genoeg nie.

Die litteken sit soos ’n winkelhaak onder my linkeroog. Mense vat gewoonlik langer om daaroor te praat. Hulle vra eerder waar die verweerde bruin leerarmband om my gewrig vandaan kom.

Dis ’n ou besering. Trekkerongeluk. Dis niks nie, lieg ek.

Sy skud haar kop, ’n skewe glimlag om haar mond. Asof sy weet van stories vertel as jy nie lus het om oor iets te praat nie. Ek hou dadelik nog meer van haar.

Voor ek kan vra hoe sy by die troue beland het, moet ek vinnig padgee toe ’n afgeleefde Isuzu op ons afpyl. Die swerm vroue in pienk rokke agterop lag hard.

Ranna staan steeds waar sy was, haar voete stewig geanker. Die geroeste wit bakkie luier ’n handbreedte van haar af.

Hamjambo. Habari gani, groet sy die vroue.

Toe sit sy die bier neer en kniel in die stof. Tik-tik-tik, maak die Nikon.

Een vir een klim die passasiers af, versigtig om nie hulle klere vuil te maak nie.

Nog een, Miss America! roep die oudste van die vroue toe sy ook op die grond staan. Maar wag net ’n bietjie.

Ranna knik.

Die vrou beduie vir die bestuurder om te ry. Toe skuif sy almal reg vir ’n foto. Uiteindelik gaan staan sy tevrede in die middel van die groep vroue. Sy beduie met haar kop dat Ranna kan neem.

Tik-tik-tik.

Jy sal later vir my gee, nè? Die vrou stryk oor haar blink, swart hare.

Ja, antwoord Ranna. Jy lyk pragtig.

Die vrou skuif haar rok reg en glimlag trots. Dis ’n baie spesiale dag.

2

EERS LATER DIE AAND VIND EK UIT HOE EK EN RANNA by dieselfde troue beland het. En dat ons Afrikaans met mekaar kan praat, al verdof haar g’s en r’e soms omdat sy al so lank uit Suid-Afrika weg is. Dís wat so bekend geklink het aan haar aksent.

Ranna se vriendin, Hadhi, is die bruidegom se ma. Haar seun – haar oudste – trou met ’n dokter wat in Dar es Salaam praktiseer. Hadhi, al diep in haar vyftigs, besit die huis waar Ranna ’n kamer huur. Sy noem Ranna Miss America omdat haar Suid-Afrikaanse ma en Israeliese pa vyftien jaar gelede New York toe getrek het. Agter die liggies aan. En natuurlik die geld, het Ranna gespot toe ek vra.

Ek is na die troue genooi omdat ek ’n artikel geskryf het oor Hadhi se aanstaande skoondogter en die vigskliniek wat sy vir sekswerkers begin het. Dit was my eerste artikel in Tanzanië en dit het op bladsy 28 van The New York Times verskyn. Ek was so trots daarop, dit was asof dit my heel eerste artikel was. Uiteindelik het my naam ook in die bybel van joernalistiek verskyn.

Ek besef ek het nog nie baie hard gewerk vandat ek hier aangekom het nie, maar ek wonder hoekom ek Ranna nou eers raakloop. Uiteindelik besluit ek dis ’n goeie ding dat ek haar eers vandag ontmoet het – by ’n troue.

Soos die aand vorder, drink ek te veel en eet te min. Ek kuier by almal, maar dis asof ek heeltyd na die lang vrou se rustelose figuur soek. Ná die ete en drie lang toesprake kyk ek hoe sy en Hadhi dans, Ranna se hande op die veel korter vrou se skouers. Hulle kyk kort-kort na die bruidspaar en lag.

Ranna het vertel hoe bly Hadhi is dat David uiteindelik getrou het. Nie sy óf David se broers het ooit gedink hy sal die moed hê om die jawoord te vra nie. Spoed was nog nooit vir David belangrik nie. Hadhi moes hard werk om haar oudste deur universiteit te kry en nou, amper nege jaar later, het hy sy meestersgraad in ekonomie behaal.

Ranna se stewels trap versigtig om Hadhi se fyn swart skoene. Om en om in die bruin stof. Skielik kyk sy op, haar oë selfs blouer as wat ek onthou.

Neem ’n foto! roep sy, asof sy weet my oë kan haar nie los nie.

Sy dans nog drie tree en draai om. Sy sit haar arm om Hadhi se skouers en trek die ouer vrou teen haar aan.

Tik, sê die Nikon wat ek vir haar oppas. Tik-tik.

Nog een, nog een! roep ’n stem.

Dis Hadhi se jongste. Die tenger seun in David se ou pak sukkel nog heelaand om die te lang moue uit sy kos te hou. Die vier seuns trek almal na mekaar: lank en lenig.

Hy hardloop na Hadhi en Ranna. Ek neem nog ’n foto. En nog een soos meer mense om hulle saamdrom.

Later sou ek die laaste, blyste foto op my lessenaar staan maak. En meer nog. How to survive being a correspondent in Africa, sou ek veel later aan goedgelowige joernalistiekstudente die amper uitgestorwe spesie probeer verduidelik.

Fall in love, het ek geskryf. With the country. With the people. Maybe even with someone extraordinary.

Never expect it to be like home.

Home will never be the same again.

3

TOE DIE SON OPKOM, IS EK STEEDS WAKKER. Ek het drieuur by die huis gekom, maar kon nie slaap nie. My kop bly by Ranna en die troue.

Miskien moet ek gaan draf. Dit help altyd.

Terwyl ek my hardloopskoene aantrek, dink ek aan die liefdesverhale wat my ouma altyd verslind het. Sy was net so verslaaf aan die vervolgverhale op Springbokradio.

Ek het nog nooit in die liefde geglo nie. Nee, wag – ek is seker my ouma sou van Die Liefde gepraat het. Ek het altyd gedink sy kon dit net doen omdat my oupa sewe jaar ná hulle troue dood is en sy nie weer getrou het nie, al het die mans haar deur blink geklop. Of is sewe jaar reeds genoeg om alles wat goed is te versuur?

Ek het nooit haar siening oor die liefde gedeel nie. As ’n mens se eerste herinnering is dat jou pa jou ma só slaan dat sy nie kan loop nie, glo jy nie in ware liefde nie. In liefde dalk, as jy gelukkig is. Of dalk sommer net in ’n lyf, enige lyf, om die nagte korter te maak, die stiltes meer draaglik.

En dis die ding. Nou skielik, net omdat ek ’n mooi vrou ontmoet het, wil ek van my pa vergeet. My ma. Die plaas. Al wat ek wil onthou, is ’n ou vrou wat my op die skouer tik en sê ek sal eendag verstaan, ook my pa en ma se dinge.

Sy het altyd van Die Liefde gepraat en ek van Die Chaos.

Ek ken chaos. Ek het van kleins af geleer om dit te sien kom – en van ver af te sien kom. Dis wat my veiligheid verseker het. As ek kon sien my pa gaan kwaad word, kon ek verdwyn voor dit gebeur. Soms kon ek selfs die situasie ontlont.

Ek trek ’n skoon T-hemp oor my kop, maak die woonstelsleutel aan my veters vas. Begin strek.

En dis die probleem: As ek Ranna sien, sien ek chaos. Sy steek haar emosies weg. Probeer inpas, oplos in die mense om haar.

Nog meer: Dis asof daar ’n dun, snaarstywe staalkabel deur haar lyf loop. Asof sy heeltyd wag vir iets om te gebeur.

Ek wonder hoekom.

Die uitvoerende hoof van Lion Mining se ontvangsarea is vol chroom en glas, soos dit seker hoort by ’n mynmaatskappy wat op die Kanadese aandelebeurs gelys is. Hy is steeds besig met ’n vergadering elders, wat beteken ek moet gehoorsaam wees aan een van die eerste reëls van nuus: Ek moet wag.

Ek leun terug in die harde stoel en strek my bene voor my uit. Onder my skree die kunsleer. Die sekretaresse, een van twee, kyk op en maak ’n vies geluid agter in haar keel. Ek glimlag halfhartig, maar sy ignoreer dit. Sy lig haar wenkbroue en draai terug na haar rekenaar.

Haar oë skiet vuur toe my foon lui.

Derksen.

Alex?

Ja?

Lus vir aandete?

Altyd.

Kies ’n plek.

Jy ken Dar es Salaam beter.

Sê sommer Dar. Goed, maak dit Hardings.

Ek weet waar dit is. Klink heerlik.

Sien jou seweuur. Vir ’n oomblik is dit stil. En, Alex, sê Ranna, bring bietjie meer woorde saam. Vir ’n joernalis is jy vrek suinig.

4

HARDINGS SE GEEL NEONTEKEN FLIKKER ONSEKER in die bedompige lug, asof iemand dit pas aangeskakel het. Ek stoot die deur oop en kyk op my horlosie. Al weer vroeg. Dis ’n slegte gewoonte in hierdie plek.

By die kroeg proe ’n man met ’n wit NY-pet en ’n nek so dik soos ’n boomstomp aan sy bier asof dit warm water is. In die hoek sit ’n middeljarige vrou wat ’n hamburger eet. Behalwe vir hulle is die gewildste kuierplek in Mkwepu-straat leeg.

’n Kelnerin in ’n stywe blou T-hemp kyk op van haar koerant toe ek inloop. Sy beduie ek mag enige plek sit. Ek kies ’n tafel van waar ek die ingang kan dophou.

Dis net een of twee grade koeler binne Hardings as in die Februariehitte daar buite. ’n Dakwaaier sny vergeefs deur die warm lug. Regs van my is ’n nuwerige lugversorger, maar dit sal seker later eers werk, wanneer die toeriste inkom. Die sweet stroom teen my rug af. Hoekom het ek juis vanaand ’n langmouhemp aangetrek?

Ek kyk weer op my horlosie. Tien voor sewe. Drie minute later as netnou.

Die kelnerin kom op haar tyd nader. Wat kan ek vir jou bring?

’n Kilimanjaro, asseblief. Nege voor sewe.

Die bier wat sy ’n rukkie later voor my neersit, is yskoud. Fyn kondensasie sweet teen die bottel af. Ek kyk na die man met die wit pet wat steeds aan sy warm bier drink. Daardie asseblief moet gehelp het.

Ek sluk die Kilimanjaro vinnig, en vir ’n paar oomblikke vergeet ek van die hitte. Die man met die pet lig sy bier in ’n verbaasde saluut toe ek die leë bottel hard neersit. Ek wys vir die kelnerin, terug agter haar koerant, dat ek nog een wil hê. Sy knik haar kop en glimlag vir die eerste keer.

Ek leun terug in my stoel. Net dalk is vanaand my gelukkige aand.

Almal kyk op toe sy inloop, selfs die kelnerin, wat haar sekerlik moet ken. Ranna het Hardings gesê soos ander mense na hulle huise verwys.

Ek hoef nie op my horlosie te kyk om te weet sy is laat nie. Dis ’n halfuur ná my eerste bier en Hardings het volgeloop met elke aksent en kleur denkbaar. Dis morsig en raserig hier binne – presies soos die fotograaf daarvan hou, raai ek.

Sy kom sit en vee vlugtig oor my voorarm. Jammer ek is laat.

Sy bedoel dit nie, maar die glimlag is eg.

Sy ruik soos suurlemoen en kaneel. En iets anders. Rook. Maar nie sigaretrook nie. Iets swaarders. ’n Pyp? Sigare? Ek kan dit nie plaas nie, en wil nie tyd mors om aan te hou probeer nie. Wat maak dit saak? Sy is hier.

Wat wil jy drink?

Sy wys na die Kilimanjaro in my hand. Dit lyk lekker. Is hulle koud?

Yskoud.

Dan wil ek beslis een hê.

Sy draai om om die kelnerin nader te wink, maar die kort, ronde vrou met die blou T-hemp staan reeds agter haar.

Maggie! Goed om jou weer te sien. Ranna vou haar hande om die ander vrou s’n. Hoe gaan dit?

Goed.

Die kelnerin se glimlag is die breedste wat ek nog vanaand gesien het.

En met jou broer? Is hy al beter?

Hy begin môre weer werk.

Ek’s bly.

Ek ook. My rug is af. Wat kan ek vir jou kry? Die gewone?

Vanaand soek ek ’n bier, asseblief. Selfde as hy.

Maggie frons. Jy word sleg dronk op bier. Onthou die kopseer.

Ranna knipoog. Wie sê ek gaan dronk word? Buitendien, hierdie man is ordentlik. Kan jy nie sien nie? Kyk sy hemp. Hy sal sorg dat ek veilig by die huis kom.

Maggie meet my met haar oë. Sy lag, skud haar kop en draai om.

Ek is minder beïndruk, kyk omgekrap na my strepieshemp. Ordentlik? Wil ek ordentlik wees? Ís ek ordentlik? Ek het geweet ek moes iets anders aangetrek het.

Moenie so kwaad wees nie, sê Ranna asof sy kan sien wat ek dink. Sy vat die bottel uit my hand en drink die helfte van die bier met twee haastige slukke. Dis goed om ordentlik te wees. Min mense is ordentlik.

Hang af wat jy met ordentlik bedoel.

Sy dink vir ’n oomblik. Dit beteken jy sal my in die bed sit sonder om self in te klim.

Dan weet ek nie of ek ordentlik wil wees nie.

Ek kyk hoe die lag oor haar lippe mors saam met die laaste van die bier. Sy keer dit met ’n vinnige hand. Dis nie ’n baie ordentlike aanmerking nie.

Ten minste stem ons saam. So ek is nie ordentlik nie?

Sy wil antwoord, maar dan trek iets, of iemand, agter my haar aandag. Sy vee die digte swart krulle terug oor haar skouers. Rek haar nek om verby my te kyk. Haar blou oë, bleker vandag teen haar wit hemp, word skerp soekligte, net om te vervaag met iets soos teleurstelling. Uiteindelik kom hulle terug na my toe.

Ek draai om, maar sien ’n see van mense. Is dit iemand wat sy ken?

Sy sit die leë bierbottel neer, die klank hard genoeg om my aandag weer by haar te kry. Sy torring aan die etiket om die bottel se nek.

Ek ken mense, gaan sy voort asof niks gebeur het nie. Jy kan keer soos jy wil: jy is ’n decent ou. Iets het jou lank terug saggemaal en uitgespoeg. En dis te laat om nou iets daaraan te doen. Sy los die bottel en draal ’n lui wysvinger teen my voorarm af. En nee, daar’s niks fout met sagter nie. Sagter slaap baie beter.

Sagter is seker okay. Ek dink ’n oomblik, besluit om van die mense agter my te vergeet. Ordentlik seker ook.

Sy lag. Nou wat stry ons dan? Hoe lyk dit met nog ’n bier?

5

KLAAR! SKREE RANNA. SY KAP DIE BOTTEL op die tafel neer. Dit wankel na regs, na links, maar bly uiteindelik regop staan.

Die mense langs ons klap entoesiasties hande. Dis ’n handvol Duitse toeriste wat môre Serengeti toe vertrek, almal van hulle met stywe breërandhoede en ligbruin leerskoene met skoon sole.

Ek sluk die laaste van die Kilimanjaro en druk die koue bottel teen my voorkop waar ’n hoofpyn reeds skuil. Jy wen. Al weer.

Sy hou haar hand uit. Dis vyf dollar, dankie.

Jy maak my bankrot. En wie het besluit ons speel in dollars?

Jy kan dit terugwen as jy wil. Wie ook al die volgende resies wen, vat alles. Sy wys na die hopie gekreukelde note voor haar.

Ek tel die bottels aan haar linkerkant. Elf. Die meeste mans sou nou al op die grond gelê het, of ten minste ’n paar onsamehangende dinge oor hulle ekse uitgelap het. Ek het agt biere in en dis meer as genoeg. Die geluide om my klink vaag, veraf. ’n Brak smaak stoot in my keel op.

Waar’s Maggie? Miskien kan sy help.

Ek kyk om, sien haar agter die kroegtoonbank staan, haar skouers stram onder die T-hemp. Sy kyk na Ranna en dan na my. Haar gesig sê sy wil niks weet nie. Sy haal ’n geel lap van haar skouer af en begin die ry bierglase voor haar droogvryf.

Ek draai terug na ons tafel. Ranna, probeer ek oor die gedreun van stemme sê. Dan harder: Ranna, nee. Kom nou. Dis tyd om huis toe te gaan. Ek streep my vinger oor my keel. Genoeg.

Haar glimlag verdamp oombliklik. Haar oë word ’n yskoue blou. Ek gee jou die kans om jou geld terug te wen en jy chicken uit?

Jy’s heeltemal reg. Ek wil nie meer drink nie. Kom ek vat jou huis toe.

Ek gaan nêrens heen nie. Sy wys vir Maggie om nog ’n bier te bring, maar die kelnerin skud haar kop. Sy beduie van Ranna na my.

Ek kry die boodskap: die fotograaf is my verantwoordelikheid.

Die Duitse toeriste, wat ons gesprek probeer volg, lyk omgekrap. Asof ek hulle aand gaan bederf as ek Ranna nou huis toe neem. Hulle mompel onder mekaar.

Ek ignoreer hulle. Môre is hulle weg en dan is ons steeds hier. En buitendien, ek hou van Hardings. Ek wil nie hê Maggie moet my die plek belet nie.

Hoekom wil jy nog drink? Ek laat sak my kop met gemaakte nederigheid. Jy’s verreweg die beter drinker. Face dit: ek gee oor.

Eers pers sy haar lippe saam. En dan, onverwags, leun sy oor die tafel, haar mond skielik ’n wye glimlag. Van ys na water in een onvoorspelbare sekonde.

Wat wen ek? daag sy.

’n Week se biergeld. Ek beduie na die hoop note voor haar. En iemand – iemand ordentlik – om saam met jou huis toe te loop.

Ek dog jy’s nie ordentlik nie.

Ek het gelieg.

Doen jy dit gereeld?

Lieg? Net uit ordentlikheid. Soos ’n goeie Afrikanerseun.

Sy lag diep uit haar keel en ek verluister my aan die klank daarvan. Sy staan op, vinnig en seker, asof die bier lemoensap was, maar huiwer dan. Draai haar kop skuins, luister aandagtig na die musiek wat op die agtergrond speel.

Sit harder, beduie sy vir Maggie. Hierdie keer gee die kelnerin gehoor.

Ranna se heupe begin beweeg. Die heen-en-weer-swaai is hipnoties.

Ek’s mal oor Angelique Kidjo. Sy trek my orent. Kom, dans met my. Net gou. Dan kan ons huis toe gaan. Belowe.

Ek wonder of ek nog kan dans, maar die belofte van haar lyf is te groot om nee te sê.

Op die klein dansvloer agter in Hardings trek ek haar nader, maar sy maak my hande los. Sy lig haar arms en gooi haar hare terug oor haar skouers, haar oë toe.

Ek kyk en kyk, tot ek oplaas my hande op haar heupe bêre, daar waar haar pols warm en vinnig beur. En ek vergeet van ophou en huis toe gaan.

Dis vroegoggend toe ons

Enjoying the preview?
Page 1 of 1