Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Monument
Monument
Monument
Ebook335 pages5 hours

Monument

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Margo Diederichs kom op die Vrystaatse dorp Winburg vrede maak met die ma wie se stryd sy nooit verstaan het nie. Vier jaar lank het Margo gaan heel word in Israel, maar nou moet sy die kompleksiteit van haar herkoms en identiteit kom uittorring. Haar tyd op Winburg raak ’n ontdekkingstog deur die dorp se verlede en haar eie verbintenisse daarmee. Sy kyk saam met die vroue van 1901 in die naghemel op na die Groot Komeet met die V in sy stert. Sy verken bywonerstentedorpe ná die Anglo-Boereoorlog. Die liefde en haat, die geloof en die diepste geheime van vier geslagte vroue van wie sy afstam, kom aan die lig in die Winburgse huis waaroor die aartsengelhond Michael snags waak. Margo stol voor die monument wat haar ma se buurvrou en dié se seuns ná ’n plaasmoord gebou het. Sy hoor die hart van haar ma se oppasster, wie se grootjie in ’n swart konsentrasiekamp was. Ook daar sien Margo monumente. ’n Man wat haar aan Kipling se alleenkat herinner, veroorsaak dat haar besluit oor waar sy hoort — in die land van haar voorouers of in Israel by haar geliefde Yachin? – nie meer so maklik is nie.

Monument is feitefiksie. Dit is ’n verhaal rondom die Vrouemonument in Bloemfontein en ander monumente van klip en marmer. Maar ten diepste wys dié roman na die onvernietigbare monumente wat Suid-Afrikaners al die afgelope 100 jaar in mekaar se menswees bou. Monument vertel van die meesterbouers, die vroue van Sentraal-Suid-Afrika.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 9, 2013
ISBN9780624063155
Monument
Author

Maretha Maartens

Maretha Maartens is bekend en gewild as skrywer van geestelike boeke en dagboeke, romans, kortverhale, kinderboeke, tienerboeke en romans vir jong volwassenes. Talle van haar boeke is bekroon en vertaal. Maretha is ook ’n gesoute rubriekskrywer wat bydraes gelewer het vir Volksblad, Vrouekeur, Rooi Rose en Finesse.

Read more from Maretha Maartens

Related to Monument

Related ebooks

Related articles

Reviews for Monument

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Monument - Maretha Maartens

    titelblad%20wit%20en%20swart.jpgtitelblad%20wit%20en%20swart.jpg

    TAFELBERG

    210.JPG

    Opgedra aan Izak Petrus du Plooy

    wat in Suid-Afrika geleef en ’n verskil gemaak het

    vanaf 19 Augustus 1975 tot 10 Maart 2013, toe hy vermoor is.

    Vir jou, Peet, hoef ons nie ’n monument te bou nie.

    Jy het hom self so dag na dag gebou

    en ons staar in verlange na jou

    in dankbaarheid daarna.

    Death swallowed by triumphant Life!

    Who got the last word, oh, Death?

    Oh, Death, who’s afraid of you now?

    — 1 Cor. 15: 55, The Message

    Margo se geslagsregister

    Jacob en Sielie Fourie

    ouers van

    JACOMINA FOURIE (1885 – 1955)

    wat trou met David Edwards (1882 – 1900)

    tweede huwelik met Willem Venter (1888 – 1952)

    Jacomina en David se dogter

    ANGELINA EDWARDS-FOURIE (1901 – 1931)

    wat trou met Frikkie Wessels (1901 – 1944)

    Angelina en Frikkie het sewe kinders, waaronder

    REBECCA WESSELS (1922 – 2007)

    wat trou met Johannes Strydom (1921 – 1945)

    tweede huwelik met Bill Hallman (1888 – 1983)

    Rebecca en Johannes se enigste kind

    CHRISTINA STRYDOM (1944 – )

    wat trou met Christoffel van den Berg (hul seuntjie, Christo, verdrink), van hom skei en trou met Boet Diederichs (1940 – 2006)

    Christina en Boet se kinders

    Adriaan Diederichs (1978 – )

    getroud met Cheri, pa van Diederick, Cindy en Attie

    MARGO DIEDERICHS (1986 – )

    Christina skei van Boet en trou met Lukas Lubbe (1942 – 2011),pa van Ronica en skoonpa van Morné Visagie, oupa van Anica, Ronnie, Deirdré en Walter

    MARGO DIEDERICHS skop haar studie op in 2006. Sy vertrek na Israel in 2007. Sy keer terug na Suid-Afrika in Augustus 2012.

    Hoofstuk 1

    BEESTE%20OP%20BRANDVELD.CALI%2012.JPG

    Dat beeste só in die rook kan bly lê, dink Margo.

    Ná die paar uur onder haar broer en sy vrou se dak – hulle kinders opgeskote vlashaarvreemdelinge met Adriaan se loos oë en haar skoonsuster se ontwykende effensgeit – is Margo nie in die stemming vir foto’s neem nie. Maar daar is iets in die lug: die smeuling uit die bodem self waaroor sy en Yachin ure voor die nuus uit Suid-Afrika teen ’n graswal in die Gan Sacher-park lê en praat het. Of probeer praat het, want Eason was al tussen hulle in met snoet, pote en swaaiende stert, kwylend vir Yachin se draairoomys.

    Sy besluit die toneel is tog ’n foto werd en trek van die pad af. Die bloekombos van haar grootwordjare skerm die dorp nog altyd van die buitewêreld af; hier is die bome nog nie afgemaai vir vuurmaakhout nie.

    Suig die dorp se laerskoolkinders nog die bloekomsaaddoppies op uitsteektonge vas daar onder die bome?

    Waarskynlik nie. Dit was die bos voor ’94.

    Vry die hoërskoolkinders mekaar nog daar? Van liefde geen benul of sprake nie, geen rendezvous in die bos ooit iets meer as die verkenning van die een lyf en tong na die ander nie, die proe van die speeksel van verskillende monde.

    Waarskynlik tóg. In sy jeug is die mens sugtende na singenot, het ouderling Stander een Sondagoggend gesê, ’n stelling wat ’n beroering onder die katkisante agter in die klaskamer ontketen het. ’n Moedswillige vraag het vanuit die agterbanke, die perdestalle, gekom: Hoe oud was meneer toe dit opgehou het, meneer?

    Kraai Esterhuizen, Eagle se broer.

    Margo was te broos; sy het nie omgekyk soos die ander meisies van die belydenisklas nie.

    Oom Stander het ook vir Eagle vir sy belydenisaflegging afgerond. Kraai, die laaste Esterhuizen wat deur sy hande moes gaan, was dus vir hom soos kerkfamilie. Hy het Kraai op sy doopnaam genoem, sy goedgesindheid onvernietigbaar, sy stem die stem van ’n vader.

    Toe wat opgehou het, Schalk?

    Meneer se gesug na …na …na wat meneer gesê het. Die wind was uit Kraai se seile.

    Oom Stander het verby hulle gekyk, asof hy nabetragting doen.

    Die lewe en elke blywende verandering in ons is ’n proses, klas. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

    Hy het die Bybel, katkisasieboek en klasregister in sy verslete tassie gepak en sy kop weer stadig gelig, sy irisse veldspaat met aartjies en ouderdomsvlekke.Drie dinge het ek op my lewenspad geleer, klas. Voordat julle belydenis van geloof aflê, wil ek dit in alle beskeidenheid met julle deel. Kom ons sluit af met gebed.

    Langs Margo het Sasha-May Danfuss op haar polshorlosie gekyk en gemompel: Stick die dinge wat jy op jou lewenspad geleer het, oupa. Môre pluk ek Skeinat.

    Oom Stander het eerbied vir God gehad. Hy het Hom gevrees, maar hy was nie bang vir Hom nie.

    En dan nog een ding, Here, bid hy, die pa van een van ons katkisante hier. Ek hoef dit nie vir U te sê nie: Christina het haar kind deur water verloor. Betoon u mag; moenie dat sy nou ook haar man deur vuur verloor nie. Ons bid vir Margo hier by ons, vir haar broer Adriaan wat sy pa nog so nodig het. Ons bid vir Margo se ouma, die gryse Rebecca Hallman. Hou hulle in die holte van u hand, Here, laat hulle almal u hand om hulle voel.

    Sy het dié Vrydagmiddag die huis vir haarself gehad. Oumbecca en Ma Chris was Bloemfontein toe, want Pa het in Universitas Hospitaal gelê. Daar was ’n nota en geld op die kombuistafel: Margo, gaan kry brood aub.

    Daar was nog twee witbroodkorsies in die broodblik; sy het vir haar roosterbrood en koffie gemaak. Die gordyne in die groot sitkamer was dig toegetrek. Sy het haar dus op die chaise longue in die leeskamer tuisgemaak. Haar oë het op die potjie handeroom en die Heidelbergse kate­gismus op die geelhoutkis langs die bank geval, die een vir haar ma, ’n berisping teen plaasverwaarlosing (Oumbecca se woord), die ander ’n aanmaning. Oom Stander het hoër eise aan die belydenisklas gestel as aan die jong kategete. Die uurglas was aan die leegloop; die kategismus moes saamgaan plaas toe. Die handeroom ook. Oumbecca het geen geduld met skurwe hande gehad nie.

    Margo het haar korsiebrood tydsaam geëet, Oumbecca se oë op haar, maar anders as wat sy haar ouma ooit na enigeen van hulle sien kyk het, na Bill Hallman allermins. Bokant die ensiklopedieë, atlasse en Bill Hallman se miniatuurlikeur- en -brandewynbottels was Oumbecca se portret. Iewers tussen negentien en twee en twintig jaar oud, laaggetrekte rondebolhoedjie met ’n gestreepte satynband, pelsjas met ’n laproos daarop, ring aan die fyntjies gekromde pinkie (waarskynlik by een of ander mynmagnaat se seun gekry), pragtige mond, donker lipstiffie, vel glad soos marmer. Sy kyk nie vir die kamera nie, sal nie. Sy is die wewenaar Frikkie Wessels se aristokratiese kind, die eiesinnige skoonheid vir wie grootgrootouma Jacomina tot haar dood toe haar knieë eelte gebid het.

    Oumbecca het Engelse bloed. Sy was nog altyd onomkoopbaar. In haar jong dae het sy haar kop altyd skuins gedraai vir die kamera. Maar nooit so volledig soos haar ma, Angelina Edwards-Fourie Wessels, nie.

    Margo het haar skottelgoed opgeruim en haar fiets gevat en na Dolf se Plek toe gery. Gegroet waar sy moes groet, voet langs die fiets in die dik rooi sand gesleep waar sy moes. Hy het derdegraadse brandwonde, tannie, hy het baie plasma gekry. Maar die infeksie is nou onder beheer. Hy’s oorgeskuif na ’n privaat kamer.

    Jou arme ma, die tweede keer in haar lewe, ná alles. En dis iets vreesliks om nurse te wees vir iemand wat so verbrand het. Vra my, ek het verpleeg. Wanneer kom jou pa huis toe?

    Hulle sê dis nog ’n lang pad, tannie. Hy sal veloorplantings moet kry.

    Hoe sê hy, wat het die gasontploffing veroorsaak?

    Hulle dink dit was ’n lek by die kleppe, tannie.

    Dat dit juis hý moes wees, die een wat nie ’n vlieg skade sal aandoen nie.

    Margo het geknik, meer as een keer, want sy is ’n paar keer voorgekeer. My pa is nie een vir vlieë doodslaan nie, het sy gedink. Vlieë doodslaan is vrouenswerk. Maar vir Adriaan het my pa begin foeter ná die eerste brand, die een waarin die huis tot op sy fondamente afgebrand het.

    Dit kom van bederf, Christina, het hy gesê. Dit kom van die drek wat jy jouself wysmaak, van bleddie ongeloof. Ek het vir jou gesê God laat dieselfde ding nie twee keer gebeur nie, jy sal nie nog ’n kind verloor nie, maar jy het my nie geglo nie. Nee, dié een moet gepiep en getoemaar word, aan dié een mag niemand raak nie. Jy’t hom van die water af weggehou, maar nie van vuurhoutjies af nie. En nou? Daar’s jou huis, Christina. Ons is waar ons oupas en oumas ná die Oorlog was.

    My pa het vir Adriaan van sy grond af en tot by die delwe­rye gefoeter. Daar sal nooit weer ’n gepiep en gepamperlang en getoemaar wees nie, mannetjie.

    Met die uitkom uit Dolf se Plek het Margo haar in Eagle Esterhuizen vasgeloop. Wydsbeen op die motorfiets se saal, leerhandskoene tussen die tande vasgebyt, valhelm pas afgehaal, het hy opgekyk. Sy is deur die middaghitte, deur die skok en deur die singgeluid in haar kop geslinger, asof hy met sy motorfiets in haar vasgejaag het.

    Margo! Donker baardskaduwee op die kakebeen en wange, bruin oë wat daaroor kyk soos oor ’n heining.

    Sy het gestamel, natuurlik het sy gestamel. Jy …jy ry omtrent ’n meneer.

    Hy ry nie ’n meneer nie, moes sy dadelik verstaan. Hy ry ’n seksobjek.

    Sy het my in een uur vyf en dertig minute flat van Bloemhof af tot hier gebring.

    Margo wou wegkom, maar nie soos ’n opgejaagde hen nie. Delf jy nog by Ottosdal?

    Hy het stadig van die motorfiets afgeklim, maar sonder die veragting om die mondhoeke, die harde haarjel. Sy lyf moet nog net so swaar wees, het ’n gedagte deur haar kop gegaan. Of swaarder. Hy moet al twintig wees.

    Daai diggings is soos die skou hier, jy’t nie ’n kans nie. Opgeskiet Bakerville toe, maar ek soek nie crap en bort nie. Toe skiet ek maar af rivier toe.

    Rivier toe? Alles aan hom het haar gewalg: sy wenkbroue, die timbre van sy stem, sy wydsbeenstaan in sy eie breë skaduwee.

    Die Vaal tussen Bloemhof en Christiana. ’n Jeweller’s shop, dis waar jy naifs soos neute uitduik.

    Naif. In Adriaan se geval ’n blinke. In Eagle Esterhuizen se geval …

    Ek is nie meer naïef nie, wou sy sê. Maar sy het skielik besef dat sy sterker geword het.

    Jy was gelukkig om ’n permit te kry. My broer wag nou nog vir syne.

    Eagle het sy leerbaadjie oopgerits, uitgetrek en oor die saal van die groot motorfiets gegooi. Niemand wag vir ’n permit nie. Noem ons die zama-zamas van die rivier. Adriaan was al baiekeer snags saam met my in die water.

    Adriaan by die Vaal? Hy’t vir hulle gesê hy delf by Lichtenburg.

    Oë verander nooit nie. Maar die kettinkie met die bloedgroepplaatjie was nie meer aan sy arm nie.

    As jy wil weet hoe dit in die hel is, werk Juliemaand in die Vaal. Dis nie water nie, dis hel. Jy weet nie waar jou hande is nie, jou vingers is yspype.

    Ysstawe. Soos in die winter van 1999. Van die hel het jy my reeds geleer, wou sy sê. Maar sy het haar kop hoog gehou.

    Nou ja, lekker dag verder.

    Hoofstuk 2

    Bloekombos.JPG

    As ’n mens so deur rook kyk, sien jy die dorp van jou jeug as ’n verbleikte swart-en-wit foto, Kodak of Agfa. Die bloekoms het hoër geword, die bos digter saamgetrek om die geheime van haar hoërskooljare: die senuweeagtige luister vir voetstappe en stemme, die verruklike afstuur op losknoop en afpluk, aan die brand slaan, in ligte laaie wees.

    Vat my, forseer my mond oop met jou vingers, soen my diep, ruk my saam met jou in die bosbrand in waar die vlamme na bloekomolie ruik, jy’s twee jaar ouer as ek, Oumbecca vra hoekom hou jy nie by jou portuur nie, as groot seuns popspeel speel hulle nie pop nie.

    Deo Gloria Onafhanklike Skool, buite die dorp op pad na Boshof en Dealesville, was vir Margo ’n nuwe begin. Niemand het geweet hoe graag sy uit AJC Jooste wou wegkom nie. Sy het byna van die stoel afgeval toe Ma Chris vir haar sê hulle het besluit om haar by die nuwe skool in te skryf.

    Sy en Oumbecca moes nog elke weeksoggend verby die paviljoen by die landbousaal ry, verby AJC Jooste agter lemmetjiesdraad, deur die stemme. Ook met die radio aan, ook in die middel van die winter, wanneer ’n eierdop se val die klank van ’n kalbas maak, het die lug by die draai na Dealesville sopdik gebly.

    Deo Gloria was ’n nuwe begin, die bloekomplantasie verder nog as die paviljoen.

    Vir die oues – die ouderlinge en kieriekommando wie se voorouers die gate vir die vrugbare moederbome laat grawe het – was die plantasie ’n windskut teen die aanslag van Augustusmaand se sandstorms. By meneer Human, Skeinat graad tien tot twaalf, AJC Jooste Hoërskool, het Ma Chris gehoor dat die bome die lug van koolsuurgas suiwer. Niemand het met meneer Human gestry of gesukkel nie. Hy het op die groen bord geteken; hulle het gekyk en aantekeninge gemaak, kompleet met sketse.

    Die bloekoms het hoër geword, die bos digter.

    Die student wat in die somer van 2000 by die graadneges van Deo Gloria geproef het, was goed voorberei, op die eerste trap boontoe, een van die klein getal mans wat nog kans gesien het vir die onderwys.

    Hy het ’n PowerPoint-aanbieding gedoen, oopgeklapte skootrekenaar voor hom op die klaskamertafel. Die oggendverkeer in Shanghai, voertuie buffer teen buffer in ’n oseaan van loodgasse, swaweldioksied, propaan en industriële verbrandingsprodukte. Olieraffinaderye in Durban, Kaapstad en Sasolburg. ’n Smeulende vullishoop op die rand van ’n township.

    Hy het sy hande aan weerskante van die skootrekenaar geplaas. Hoe kry ons die lug weer skoon? Enige voorstelle?

    ’n Stofsuier, meneer? Een van Kraai Esterhuizen se pelle wat probeer snaaks wees.

    Hoekom het U nie gekeer dat hulle hier ingeskryf word nie, Here Jesus? Hulle is nie eens Christelik nie.

    Hulle het nie toelating tot Grey in Bloemfontein gekry nie, Margo. Sommige dinge is nie ’n aanslag van die bose nie. Dis doodgewoon logies verklaarbaar.

    Ek weet nie wat om te sê nie, Here. Mag ek asseblief kwaad bly totdat ek nie meer kwaad is nie?

    Die proefstudent het net ’n oomblik geaarsel. Stel een voor?

    So het hulle toe ook in Deo Gloria by die bloekombos uitgekom, die ou plantasie wat respireer, fotosinteer en die lug suiwer.

    Die eerste inwoners van Petrusburg het meer vir julle gedoen as wat hulle vooruit kon weet, het die proefstudent geglimlag. Praat nou vir vyf minute in julle groepe oor die belangrikheid van beginselgefundeerde optrede in elke saak. Identifiseer die saak in hierdie geval, die beginsel en die redes waarom elkeen wat die beginsel toepas weerstand kan verwag.

    ’n Benoude meisiestem, modelskolier: Sal meneer bie­tjie stadiger gaan, asseblief?

    Kraai Esterhuizen het sy hand reg voor Margo opgesteek. So, meneer sê die lug bo die bloekombos is vuil? Hoekom juis dáár, meneer?

    Naby die klaskamer se deur het die dosent opgekyk van sy puntelys af: lesdoelstelling, effektiewe interaksie, be­mees­tering, klem op die praktiese toepassing van die leerinhoud. Die geproes van Kraai se pelle, seuns wie se pa’s hulle óf in ’n sportskool wou hê óf in ’n skool waar alles nie swart is nie, is in die kiem gesmoor.

    Toe Margo by die klaskamer uitstap, haar wange aan die brand, het sy die dosent met die proefstudent oor Bloom se bemeesteringsleer hoor praat.

    Die proefstudent het sag gepraat, omgekrap: Het Bloom ook geskryf oor bemeesteringsweerstand, professor? Hy het na naskeermiddel geruik en hy was so netjies, so roepingsbewus, so onvoorbereid.

    Sy het Kraai voor haar sien loop, rugsak los oor die skouer, skoolbroek laag om die heupe, sy broer se opvolger waar hy ook al gaan. Hy het geweet. Natuurlik het hy geweet. En hy het alles wat hy geweet het Deo Gloria toe gebring.

    Seuns is vuilgoed, mans ook. Behalwe oom Stander.

    Die bloekombos was Petrusburg se Rietsee: Farao en Oumbecca met hulle strydwaens in aantog, die Beloofde Land voor. Of was die boom van kennis van goed en kwaad ’n bloekom? Geil van die stuifmeel, bewierook met die geur van grond, humus en reukolie, met bye wat in die saadtrosse dreunsing en insekte wat op die grond en teen die boomstamme paar?

    In die bloekombos wat nou by die afdraai na die dorp in die rook dryf, is sy op droë blare en doringpuntige bloekomsaaddoppe neergegooi, vasgepen en gery. In dié blougrys bos is kantbelegsels van haar onderklere afgeskeur en het die silwerkettinkie wat Ma Chris vir haar op haar dertiende verjaardag gegee het, gebreek en vir altyd verlore geraak. Maar tweehonderd, driehonderd meter van waar haar motor nou staan, het sy meer as een keer uit die vuur gerol en opgespring, droë takkies in die hare, wange rooi van skaamte. Dis Oumbecca, het sy geweet. Sy is oral, sy kom op haar strydwa aan, ek hoor haar selfs in die vuur.

    Ja, sy het uit die plantasie gekom, maar nie smetteloos nie, nie vlekkeloos en rein nie. Op veertien kry jy liggaamsvloeistowwe se vlekke nie uit jou klere nie. En hulle reuke bly in jou neus.

    In Oumbecca se eetkamer het die bloekomboomskildery teen die muur hom aan haar opgedring. Die witgevlekte stamme in die skildery was replikas van dié in die plantasie. Ma Chris, beeldskone Ma, was saam met die skilder op skool: Piet Haasbroek van die plaas Greylingsfontein, links van die Bloemfonteinpad. Elke jaar in die skoutyd het Piet aan die teken geraak, elke jaar beter as die vorige jaar, elke jaar meer rooi rosette. Waar hy tyd vir skilder vandaan gekry het, het nugter alleen geweet, want hy het alles gedoen; was hoofseun ook en het redenaarsbekers soos seëls versamel.

    Die bome by Greylingsfontein se hek het ’n naam gekry: Piet se bloekoms.

    Oumbecca het een van Piet se bloekomprente jare later teen iemand se muur in Ons Woning gesien. Sy het die ou dame aan wie dit behoort het met moeite oorreed om dit aan haar te verkoop. Daardie skildery, het Oumbecca gepleit, is geskilder in ’n tyd toe die lewe nog vir Christina gewink het. Nou vra sy vir my of vroeg sterf in die familie loop, of ek vir Margo sal moet grootmaak soos wat my ouma mý moes grootmaak.

    Toe Ma Chris die bloekomskildery ’n jaar of twee later terugbring van die plaas af, was Oumbecca platgeslaan. Sy’t nie meer plek daarvoor aan haar mure nie, het Ma Chris gesê.

    Vat dit vir Ma. Ma hou mos nog al die jare van die vlekke en kleure aan die stamme.

    Maar Christina …

    Ons maak huis skoon, Ma, aanvaar tog rede. En nou moet Ma my verskoon, Boet wag. Hy’s op pad koöperasie toe. Haai, Margo, is die skool dan al uit? Jy moet lekker netbal speel môre. Hoe laat maak julle klaar? O ja, dalk kom Adriaan jou haal. Ons slag, ek dink nie ek sal môre van die plaas af kan wegkom nie. Pas jouself mooi op, my kind.

    Van mooi oppas het graffiti gekom.

    Leon Louw en Eagle Esterhuizen het haar net een keer bloekombos toe gevat en albei net een keer stuurs daar uitgebring. Leon het aanbeweeg met die Koei, die koshuismeisie wat van ’n verbeteringskool in Bloemfontein na die platteland uitgeplaas is.

    Maar Eagle was ’n gemene verloorder. Hy het haar teen die deur van die seunskleedkamer onder die rugbypaviljoen met ’n paar spykerhale gekruisig: koplose nek, sirkels en strepe vir ’n bra, bloomer soos ’n museumkledingstuk. MD is ’n viskoek, was die byskrif.

    Sy was veertien jaar oud, haar laaste jaar in AJC Jooste.

    Hoofstuk 3

    Heidelbergse%20Kategismus.JPG

    Oom Stander het alleen kerk toe gekom. Verdor soos ’n blaar, onversteurbaar en sonder haas het hy Sondag na Sondag die artikels van die Heidelbergse kategismus met die belydenisklas deurgewerk. Hy het na die hiernamaals gehunker en dit in die woorde van Paulus aan die Filippense vir hulle gesê: Ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.

    Hy kon nie heengaan nie, want sy vrou was swart soos haar huiswerker van chroniese nierversaking. Hy moes haar nog eers deursien.

    Jare later, toe Margo ’n boek oor El Greco in die Gericke-biblioteek op Stellenbosch deurblaai, het sy oom Stander daarin aangetref, sy ouderlingsbaadjie verruil vir die geelbruin skouerkleed van Simon Petrus in St. Peter in Penitence, die sleutels van die Koninkryk by hom.

    Wat is ons enigste troos in lewe en in sterwe, belydenisklas? Hoor wat sê die Heidelbergse kategismus: ‘My enigste troos is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.’

    Ek voel geen troos nie, oom Stander.

    Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.

    Vir Ma Chris ook, oom Stander?

    Hy bewaar my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.

    Die verwoesting wat Ma Chris en Lukas Lubbe aangerig het, tot my saligheid? Die verwoesting wat my pa aangerig het, tot ons almal se heil?

    Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

    Ek is dood, oom Stander. En onoortuigbaar. Op sestien het ek oom só sit en kyk, so seker van alles, so ’n deurwinterde, God-deurligte

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1