Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Anton Rupert: 'n lewensverhaal
Anton Rupert: 'n lewensverhaal
Anton Rupert: 'n lewensverhaal
Ebook1,082 pages14 hours

Anton Rupert: 'n lewensverhaal

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die merkwaardige lewensverhaal van die Suid-Afrikaanse magnaat en weldoener dr. Anton Rupert word hier volledig en sonder doekies omdraai vertel.

Dit is die verhaal van 'n seun uit die Karoo wat in die Depressie grootgeword het. Hy het nie soos Harry Oppenheimer, 'n ander Suid-Afrikaanse miljoenêr, ryk geërf of sy miljoene uit mynbou gemaak nie. Sy Rembrandt Groep was vervaardigers wat wêreldbekend geword het met handelsmerke soos Cartier, Dunhill, Rothmans en Montblanc. Binne dekades is 'n familiedinastie opgebou wat die Ruperts, naas die Oppenheimers, die rykste familie in Afrika gemaak het.

Maar Rupert was gedryf deur veel meer as die vergaar van rykdom. Lewenslank het hy geglo in deelgenootskap en saambestaan en dit uitgeleef; gevolglik het hy telkens met die politieke leiers van die dag gebots. Hy het ook die kunste, kultuur- en natuurbewaring bevorder en het begin met oorgrensparke, 'n internasionale vernuwing wat nuus gemaak het.

'n Besielende boek wat put uit omvangryke navorsing en vele gesprekke met Rupert, sy familie en mense wêreldwyd wat hom geken het.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 22, 2013
ISBN9780624063834
Anton Rupert: 'n lewensverhaal
Author

Ebbe Dommisse

Ebbe Dommisse is op 14 Julie 1940 op Riversdal gebore. Hy behaal 'n BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch en ook 'n MA-graad in joernalistiek aan die Columbia Universiteit in New York. Hy begin in 1961 sy loopbaan as joernalis by Die Burger, waar hy in 1990 redakteur word tot met sy aftrede in 2000. Ebbe is die medeskrywer (met Alf Ries) van topverkopers Broedertwis (1982) en Leierstryd (1990) - en ook hierdie boek met Willie Esterhuyse, Anton Rupert - 'n lewensverhaal.

Read more from Ebbe Dommisse

Related to Anton Rupert

Related ebooks

Related articles

Reviews for Anton Rupert

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Anton Rupert - Ebbe Dommisse

    Anton Rupert

    ’n Lewensverhaal

    Ebbe Dommisse

    met die samewerking van

    Willie Esterhuyse

    TAFELBERG

    Voorwoord

    Hierdie biografie is die eerste boek wat ’n volledige oorsig van dr. Anton Rupert se hele loopbaan, van kindsbeen af, probeer gee. Hoewel daar voorheen boeke oor fasette van sy lewe en lewensbeskouing was, onder meer gebundelde toesprake en lesings, was hy lank onwillig dat ’n biografie geskryf moet word. Totdat Hannes van Zyl, destyds hoof van Tafelberg Uitgewers, wat lankal in sy lewensverhaal belang gestel het, met die eeuwisseling weer die idee genoem het. Dr. en mev. Huberte Rupert het toe daartoe ingestem.

    Kort ná my aftrede in 2001 het die uitgewer my genader om die skryfwerk te onderneem, ’n opdrag wat tegelyk uitdagend en veeleisend was, maar deurentyd fassinerend. Anton Rupert is ondanks sy openbare profiel ’n uiters private mens, maar met wye belangstellingsvelde, terwyl sy verhaal ook deel uitmaak van die opkoms van die Afrikaner in die ekonomie.

    Prof. Willie Esterhuyse van die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool, wat vroeër ’n kort bundel oor Rupert as pleitbesorger vir hoop geskryf het, is gevra om saam te werk en het met die navorsing en kritiese beskouings gehelp. Saam is besluit dat dit beter sal wees dat net een skrywer die finale skryfwerk be­hartig.

    Navorsing en boekstaaf het bykans vier jaar geduur en ’n groot verskeidenheid van mense en bronne, hier te lande sowel as in die buiteland, is geraadpleeg.

    Hoewel lede van die Rupert-familie samewerking met die skryf van die manu­skrip verleen het, was dit hul wens sowel as die skrywers s’n dat die boek nie ’n goedgekeurde biografie moet wees nie. In die geval van ’n biografie kan so ’n be­nadering soms geloofwaardigheids- en ander probleme oplewer, en vir ’n bio­graaf is dit sekerlik wenslik om ’n sekere afstand van die onderwerp te probeer handhaaf. Asook, vir sover na volstrekte objektiwiteit gestreef kan word, om ’n perspektief te probeer gee wat die toets van die tyd sal kan deurstaan.

    In enkele gevalle waar besonderhede in vertroue meegedeel is, is die ver­trou­likheid gerespekteer.

    ’n Opregte woord van dank gaan aan almal wat met die navorsing behulpsaam was, in die besonder lede van die Rupert-familie sowel as hul groot aantal vriende, kennisse en kollegas wie se hulp onontbeerlik was. Van uitgewerskant is deuren­tyd waardevolle bystand ontvang. Ewe onderskragend was Willie Esterhuyse en sy eggenote, Annemarie, nie net vanweë sy gewaardeerde bydrae nie, maar ook om hul insig en ondersteuning. Drie gerespekteerde keurders wat die manu­-

    skrip gelees het, naamlik P.A. Joubert, Koos Human en Danie van Niekerk, het advies en wenke gelewer wat hoog op prys gestel word.

    Laastens ’n besondere dankwoord aan my vrou, Daléne, vir haar liefde, geduld en toenemende begrip dat aftrede nie niksdoen of tuinwerk beteken nie.

    Ebbe Dommisse

    Kaapstad 2005

    Die tweede uitgawe van hierdie biografie verskyn nadat die eerste uitgawe vier herdrukke beleef het. In die tweede uitgawe is gebeure bygewerk tot en ná dr. Rupert se dood op 18 Januarie 2006, drie maande nadat sy vrou, Huberte, gesterf het.

    Ebbe Dommisse

    Kaapstad 2008

    DEEL I

    KEERPUNT

    Hoofstuk 1

    Gesplete atome en parke vir vrede

    Anton Rupert het net een keer in sy loopbaan willens en wetens ’n hele dag van sy kantoor weggebly.

    Dit was toe hy van die eerste oorlogstydse kernontploffing gehoor het: die oggend toe die nuus Suid-Afrika bereik dat ’n atoombom op 6 Augustus 1945 verblindend bo Hirosjima gebars en die Japanse hawestad verwoes het. Die kort voorspel tot Japan se oorgawe en die beëindiging van die Tweede Wêreld­oorlog het begin.

    Die kernverskrikking, ’n regstreekse gevolg van die splyting van die atoom waar­deur die mens die vermoë ontwikkel het om homself uit te wis, het die gang van die geskiedenis onherroeplik verander. En dit het die lewensuitkyk van Anton Rupert onherroeplik verander.

    Die jong Afrikanernyweraar, opgelei in die natuurwetenskappe en bestem om sy land se innoverendste entrepreneur en die hoof van een van Afrika se twee rykste families te word, het onmiddellik aangevoel dat een van die bepalendste oom­blikke in die geskiedenis aangebreek het; een van daardie seldsame gebeur­te­nisse wat voortaan as ’n keerpunt in die menslike bestaan aangeteken sou staan.

    Hy was toe nog in Johannesburg, ’n onervare jong ondernemer met ’n fabriek wat pyptabak verwerk en in die knellende oorlogstoestande gesukkel het om kop bo water te hou. Toe hy die oggend verneem dat ’n atoombom Hirosjima verpletter het, bel hy sy kantoor om te sê dat hy die hele dag glad nie beskikbaar sal wees nie. Hy bly tuis om die vernietigende mag van die kernbom te oordink: Ek het besef dat die mensdom soos skerpioene in ’n bottel geword het, met die mag om mekaar volkome te vernietig.¹

    Iets soortgelyks gebeur met die Amerikaner Robert Lewis, medevlieënier van die Enola Gay, die B-29-bomwerper van die Amerikaanse lugmag waaruit die eerste atoombom in ’n oorlogsituasie op Hirosjima afgegooi is. Kyk daar! Kyk daar! Kyk daar! roep hy uit terwyl hy na die reusagtige sampioenvormige wolk oor die getroffe hawestad terugkyk. Toe skryf hy in sy joernaal: My God, wat het ons gedoen?

    Daardie dag sterf 100 000 van die 245 000 inwoners van Hirosjima, platgevee deur die geweld van kernkrag, en nog 100 000 agterna. Drie dae daarna verpletter die tweede en laaste atoombom die skilderagtige hawestad Nagasaki, en nog 80 000 mense kom om.²

    Die verwoestende kernbomme lui die slotepisode van Japan se deelname aan die oorlog in. Vyf dae daarna erken keiser Hirohito dat Japan vir die eerste keer in sy geskiedenis verslaan is. Hy het die oervrees vir Armageddon, die einde van die wêreld, uitgespreek. Die beelde van algehele vernietiging deur die twee atoom­bomme, Little Boy en Fat Boy, het nie net Japan se moed gebreek nie, maar die ganse mensdom geruk.

    Anton Rupert, met sy kennis van chemie, waarvoor hy ’n meestersgraad verwerf het, begryp dat iets ontsettends gebeur het. By sy huis in Aucklandpark, Jo­hannesburg, waarvandaan hy ’n paar maande later na Stellenbosch sou vertrek om ’n sakeryk op te bou wat uiteindelik dwarsoor die aardbol sou strek, sit hy en peins oor die implikasies van die atoomera.

    Hy beskou die militêre gebruik van die kernbom as waarskynlik die belang­rikste gebeurtenis wat hy in sy lewe sou beleef. Sy slotsom is dat daar voortaan nie meer groot oorloë sou wees nie, weens die gevaar van wedersydse vernie­ti­ging. Die noodwendige konsekwensie is dat daar voortdurend kleiner oorloë sou uitbreek, wat die moontlikheid inhou dat hy in sy leeftyd nooit weer standhou­dende vrede sou beleef nie.

    Sedert die ontsluiting van die krag van die atoom – sedert Hirosjima – het alles verander, behalwe ons manier van denke. In hierdie atoomera is geen land meer so afgeleë dat dit ’n skuilplek geword het nie. Die Bybelse ‘Ek is my broeder se hoeder’ het ’n koue werklikheid geword; depressies is nou wêreldwyd; welsyn ook. In hierdie eeu waarin minstens twee volke oor genoeg bomme beskik om alles uit te wis, leef ons soos skerpioene in ’n bottel – en hy wat alles wil behou, sal alles verloor.³

    Voortaan, so tref die besef hom, sou slegs medebestaan die mensdom kon red. Mense sal eenvoudig móét leer saamleef.

    Medebestaan, ’n oortuiging wat reeds in sy studentedae embrionies by hom begin posvat het, word hierna die kernbegrip wat Rupert die res van sy lewe sou aanvuur; ’n visie wat hy met oortuiging verkondig. ’n Blywende herinnering daar­aan staan in sy kantoor: die beeldhouer Rodin se bekende Die Katedraal, ’n brons­beeld van twee regterhande wat hy in die jare sestig aangekoop het. Dit is vir hom ’n beeld van medebestaan tussen mens en mens, die fondament waarop hy in die sakewêreld die filosofie van deelgenootskap ontwikkel het. Met deelgenootskap, ofte wel vennootskappe wat van land tot land aangegaan is, bou hy ’n uitgestrekte internasionale sakeketting op lank voordat globalisering ’n modewoord geword het.

    Gepaard met sy siening van deelgenootskap gaan maatskaplike verantwoorde­likheid, wat hy as een van die drie groot verpligtinge van ’n suksesvolle sakeonderneming beskou. Dit geld vir medebestaan tussen mens en mens, maar daarbenewens medebestaan tussen mens en natuur, die filosofie waarmee hy uit­ein­delik as bewaringsbewuste weldoener die konsep van vredesparke, ofte wel oor­grensparke, dwarsoor internasionale grense voer. Vredesparke – met as wenslike voorvereiste vrede tussen volke en nasies, sodat bedreigde spesies veilig sou kan voortbestaan ondanks ’n menslike bevolkingsontploffing wat die biologiese kring­loop bedreig – word ’n dwingende visie wat Rupert tot in sy tagtigerjare dag-in en dag-uit na sy hoofkantoor terugbring.

    In Millenniapark op Stellenbosch beywer hy hom met die energie van ’n veel jonger man vir die ontwikkeling van transnasionale wild- en natuurparke wat multilaterale samewerking tussen regerings van verskillende lande verg.

    Vredesparke is miskien die verbeeldingrykste projek wat die weldoener Rupert aanpak in ’n lang sakeloopbaan wat hy aan vele fronte ten bate van die gemeenskap aangewend het.

    Die Ruperts verskyn op die saketydskrif Forbes se lys van die wêreld se 500 rykste mense, die miljardêrs met geskatte bates van meer as 1 000 miljoen Ameri­kaanse dollar. Naas die Ruperts lys Forbes net een ander familie uit Afrika: die Oppenheimers, erfgename van die Suid-Afrikaanse mynmagnaat sir Ernest Op­penheimer en sy seun Harry.

    Die vernaamste verskil tussen dié twee Suid-Afrikaanse families, wat albei enorm tot die ontwikkeling van hul land sowel as gemeenskapsorg bygedra het, is dat Rupert met feitlik niks begin het om ’n internasionale sakeryk op te bou en ook nie op die basis van sy land se oorvloedige mineralerykdom staatgemaak het nie. In die media loop sy reputasie van die Koning van Luukse tot die Geheime Bemarkingsreus, die Skaam Koning van Snob-rokers en die Ware Heer van die Sakewêreld.

    Die chemiestudent wat met ’n eie belegging van net £10 ’n internasionale maat­skappyegroep begin het wat hom ’n wêreldbekende entrepreneur sou maak, word verbind met van die bekendste internasionale handelsmerke, die fondament waarop sy sakeryk gebou is. Van Cartier, die koning van juweliers en die juwelier van konings, tot die luukse goedere van Alfred Dunhill; van Mont Blanc se stylvolle vulpenne tot die oudste Switserse horlosiemakers val onder Riche­mont, die internasionale arm van die Rupert-sambreel. Dit is voorafgegaan deur die wêreldwye vestiging van ’n ketting van tabakbelange onder die vleuels van Rem­brandt en Rothmans sowel as die produksie van die bekendste Suid-Afrikaanse wyne en spiritualieë.

    Daarby ontwikkel Anton Rupert in sy loopbaan tot ’n man vir alle seisoene, met aktiewe belangstellings buite die sakelewe: bewaarder van sy land se histo­riese erfenis, beskermheer van die kunste; rigtingwyser op politieke mynvelde; weldoener wat ander help om hulleself te help . . .

    Tog, ondanks die mediablootstelling wat met sy openbare optredes gepaard­gaan, bly hy ’n intens private persoon; iemand wat nie geredelik media-onderhoude toestaan nie en wie se private lewe soos sommige van sy groot saketran­saksies dikwels in geheimsinnigheid gehul is.

    Rupert se rustelose gees en sy alsydigheid is bewonderend opgesom deur die digter Dirk Opperman, wat hierdie Prins van die Handel beskryf as iemand wat die handel, wetenskap en kuns kon versoen.

    Uit sy veelsydigheid spruit ook sy belangstelling in die natuur en dierelewe, die grondslag waarop die idee van vredesparke ontwikkel.

    Die Vredesparkstigting, met Rupert as die eerste voorsitter, het as emeritusbeskermheer oudpres. Nelson Mandela, ’n ikoon van die twintigste eeu, wat graag na Rupert as sy ouer broer verwys.

    Agt staatshoofde van lande in Suider-Afrika is erebeskermhere van die stigting, wat oorgrensparke stig en ontwikkel. Rupert beskou dit as ’n katalisator, ’n begrip wat hy met sy agtergrond as skeikundige telkemale in sy lang loopbaan gebruik – ’n stof wat sonder om self ’n verandering te ondergaan ’n verandering in ’n ander stof bevorder.

    Die Vredesparkstigting se fondse, hoofsaaklik verkry van private individue en instansies en groot multinasionale maatskappye, word aangewend om die trans­nasionale bewaringsgebiede uit te bou, maar ook om mense in die toerisme- en dienstebedryf sowel as veldwagters op te lei.

    Vir ’n wêreld met krimpende hulpbronne kan Afrika met sy wye, steeds onbe­woonde ruimtes ’n laaste toevlugsoord vir ’n onvervangbare dierelewe en onge­repte natuurskoon wees. Dit is waarom Rupert die idee van vredesparke begin koppel het met nasionale parke.

    Boonop kan wild- en natuurbewaring as die basis dien om baie Afrikalande se armoede en werkloosheid teen te werk. Want daarmee hang saam die wêreld se grootste bedryf, toerisme, wat op die konflikgeteisterde kontinent nog ligjare ver van sy groot potensiaal ontgin is.

    Hy kon dit beleef dat ses vredesparke regstreeks met sy vaderland verbind word slegs enkele jare nadat die projek beslag gekry het. Die Afrikasafari as ’n gesogte toeristebestemming word reeds aanmerklik uitgebrei met hierdie sestal transnasionale parke en bewaringsgebiede wat by Suid-Afrika aansluit en waaroor oor­eenkomste met die onderskeie regerings onderteken is.

    Saam met twee ander vredesparke in Suider-Afrika sal die agttal, met hul ryk­dom van wild en natuurlewe, sowat 60 miljoen hektaar beslaan. Daarby is ’n ver­dere veertien oorgrens-bewaringsgebiede in Suider-Afrika geïdentifiseer om oor die volgende dekade ontwikkel te word. Die 22 vredesparke sal meer as 100 mil­joen hektaar dek, so groot soos Frankryk, Duitsland en Spanje tesame.

    Die idee van vredesparke groei steeds, met belangstelling van elders in die wêreld, soos die gedemilitariseerde gebied tussen die Koreas, die bergpark Mont Blanc, Suid-Amerika en elders.

    Verreweg die omvangrykste van die projekte waarby Suid-Afrika regstreeks betrokke is, is Groter Limpopo, die wildpark wat die grootste diereryk ter wêreld kan word. Die wêreldbekende Krugerwildtuin sal aansluiting vind by drie na­sio­nale parke in Mosambiek en met die Gonarezhou- nasionale park in Zim­babwe. Die beoogde vredespark, vier keer so groot as die reeds aansienlike Kruger­wild­tuin, sal ’n versameling van Afrika se diere, voëls, visse, plante en bome huisves wat ongeëwenaar in die wêreld sal wees. Met hierdie transnasionale park, wat oor die grense van drie lande strek, word beoog dat dit aanvanklik 35 000 km² sal beslaan wat uiteindelik tot 100 000 km² kan aangroei – groter as Portugal, Hon­garye of Oostenryk.

    Grootwild is reeds uit die Krugerwildtuin na die Mosambiekse terrein oorgeplaas. Uiteindelik gaan onder meer duisend olifante na die Mosambiekse kant ge­bring word; dus na ’n gebied waar wilde diere tydens Mosambiek se burger­oor­log meedoënloos uitgeroei is, maar ook die land waaruit die eerste olifante vir die latere Krugerwildtuin dekades tevore geskenk is.

    Die verskuiwing van die eerste trop olifante uit die Krugerwildtuin vind plaas op 4 Oktober 2001, op Rupert se 85ste verjaardag. Die eerste oorplasing van groot­wild na die beoogde vredespark is vir hom ’n verjaardaggeskenk sonder weerga: die verwesenliking van ’n tien jaar lange droom.

    Steeds aan Rupert se sy by hierdie groot eksperiment in die Laeveld is sy egge­note, Huberte. Die sterk en aantreklike vrou is reg deur sy loopbaan, van hul stu­dentedae af, sy steunpilaar en klankbord, die lewensmaat met wie hy ’n week te­vore op 27 September 2001 hul diamantbruilof, die sestigste herdenking van hul huwelik in 1941, gevier het.

    Rupert sê meermale die idee is sterker as die mens. Sy oortuiging dat niks so onstuitbaar is soos ’n idee waarvoor die tyd aangebreek het nie, is vroeër ook waargeneem deur die ekonoom John Maynard Keynes: The ideas of economists and political philosophers, both when they are right and when they are wrong, are more powerful than is commonly understood. Indeed, the world is ruled by little else. I am sure that the power of vested interests is vastly exaggerated compared to the gradual encroachment of ideas.

    Vir Anton Rupert val dit in sy tagtigerjare te beurt dat die idee van vredes­parke al hoe wyer posvat – ’n idee wat vir hom, die sakeleier wat deur ’n internasionale handelsmerkdeskundige as die orakel van handelsmerke beskou word, miskien sy grootste en blywendste handelsmerk kon word. Niks sou hom groter bevrediging gee nie as dat so ’n begeesterde, hoopgewende idee internasionaal uitbrei vanuit Suid-Afrika, sy vaderland; die tuiste waarheen hy pal teruggekeer het nadat hy feitlik die hele wêreld deurkruis het.

    Hy put inspirasie uit die denke van Albert Schweitzer oor eerbied vir die lewe. Die Duitse dokter-filosoof en filantroop, wenner van die Nobelprys vir Vrede in 1952, het sy lewe aan die genesing van Afrikane in sy hospitaal in Lambarene in Gaboen gewy. Hy het etiek beskou as niks anders nie as eerbied vir die lewe. Eer­bied vir die lewe gun aan my my fundamentele beginsel van moraliteit, te wete dat die goeie bestaan uit die handhawing, bystand en bevordering van die lewe, en dat om die lewe te vernietig, te skaad of te belemmer, boos is, het Schweitzer verklaar.

    Eerbied vir die lewe word ook weerspieël in ’n aangrypende bronsbeeld in die ingangsportaal van Rupert se kantoorgebou op Stellenbosch. Daar stap besoekers verby die Duitse kunstenares Käthe Kollwitz se Mutter mit Zwillingen, die uitbeel­ding van ’n moeder wat haar tweeling in haar arms koester.

    Op ’n verdieping daarbo in ’n kleinerige kantoor, naas ’n ontvanglokaal waar­oor Rodin se Katedraal waak, het Rupert ná sy aftrede sy dagtaak voortgesit.

    In sy tagtigerjare loop die eens energieke donkerkop-entrepreneur geboë weens ruggraatverkromming. Hy begin in later jare moeilik lees. Alle korrespondensie en leeswerk moet met behulp van ’n videoskerm op sy lessenaar vergroot word. Sy oogprobleem is dalk die gevolg van ’n sonsverduistering sestig jaar tevore, toe hy en sy jongste broer, Koos Rupert, wat soortgelyke oogprobleme het, in Oktober 1940 op Graaff-Reinet na die algehele sonsverduistering gekyk het deur film wat waarskynlik nie genoeg beskerming vir hul oë gebied het nie. Tipies van Rupert wend hy sy swakker sig as ’n bate aan – soos hy meermale in sy loopbaan ’n nadeel in ’n voordeel probeer omskep het. Omdat hy minder kon lees, bied dit aan hom die kans om meer te dink.

    Die merkwaardige lewensverhaal van hierdie entrepreneur-weldoener, ’n sake­leier wat as een van Afrika se legendes beskou word, oorspan teen die eeuwisse­ling byna ’n kwart van die moderne Suid-Afrika se geskiedenis. Dit begin byna nege dekades tevore met sy geboorte tydens die Eerste Wêreldoorlog in sy ge­lief­de Karoo, waar die Rupert-familie deel van die land en die land deel van hulle geword het.

    DEEL II

    VORMING

    Hoofstuk 2

    Oos-Kaapse wortels

    Die eerste Rupert het in 1857 in Suid-Afrika aangekom. Dié Suid-Afrikaanse stamvader, Rupert se oupagrootjie, was Johann Peter Ruppert (die van is destyds met twee p’s gespel; die een p het met­tertyd in Suid-Afrika deur gebruik verdwyn).

    Johann Peter was van Duitse herkoms. Hy het uit Pruise gekom, volgens die fa­milieherinneringe vanaf Gräfrath by Solingen. Op sy doodsertifikaat in die Argief in Kaapstad is aangeteken dat hy verder suid in Trier, die oudste stad in Duits­land, gebore is. Hy was dus een van die aansienlike aantal Duitse stamvaders van die Afri­kaners – volgens Heese in Die herkoms van die Afrikaners 1657-1867 was 33,7% van die Afrikaners van daardie tydperk van Duitse herkoms, die naasgrootste groep teenoor die Nederlandse aandeel van 34,8%.

    Die stamvader van die Ruperts kom in diens van die Britse regering na Suid-Afrika, omdat hy hom ná die uitbreek van die uitgerekte Krimoorlog (1854-’56) aan­gesluit het by die Britse leër, wat soldate op die Europese vasteland gewerf het. Die oorlog eindig voordat die German Legion, die Britse leëreenheid waarin hy ge­dien het, na die Swartsee gestuur is.

    Die Duitse soldate vir die oorlogspoging kry toe die keuse om as vrywilligers na die Kaapse oosgrens te gaan. Die Britse regering, swaar getref deur die koste van die Oos-Kaapse grensoorloë, was begerig om militêre pensioentrekkers aan die grens op kleinhoewes te vestig sodat hulle geredelik vir militêre pligte op­ge­roep kon word.

    Voor sy koms was Johann Peter Ruppert by Colchester, noordoos van Londen, ge­stasioneer as lid van die German Legion, onder bevel van die flambojante ge­neraal-majoor baron Richard von Stutterheim. Die jong krygsmanne wat vir emi­gra­sie na Brits-Kaffraria gewerf is, is aangemoedig om voor hul vertrek te trou weens die tekort aan vroue in die Kaap.

    Ruppert tree op 19 Oktober 1856 op agttienjarige leeftyd in die huwelik met ’n Engelse meisie van Colchester, Emma Susanna Grandfield-Crosby, ’n jaar jonger as hy.

    Teen daardie tyd was die destydse Kaapkolonie aan die seeweg na die Ooste so voorspoedig soos nog nooit tevore nie. Die wol- en wynhandel floreer, en die ower­heid kon met grootse openbare projekte begin. Geskoolde arbeid was egter skaars, sodat immigrasie aangemoedig moes word.

    Daar was twee oorsake van die arbeidstekort.

    Die een was die pokke-epidemie van 1857, wat die lewens van baie vakmanne en werkers geëis het. Die ander was die Xhosas se nasionale selfmoord van 1857, die gevolg van gesigte wat die profetes Nonqwase sou gesien het.¹

    Altesame 2 362 offisiere en manskappe van die German Legion, vergesel van net 361 vroue en 195 kinders, is teen 1858 gevestig in die gebied wat in daardie tyd drasties ontvolk is, die latere Ciskei. Nog 2 700 Duitse burgerlike setlaars, vriende of familie van die militêre setlaars sluit hulle daarna by die groep aan.

    Johann Peter Ruppert (manskap no. 1678, in die derde kompanie van die tweede regiment van die German Legion) het per skip in Oos-Londen geland. Volgens oor­lewering was hy musikaal aangelê en het hy die viool in die militêre orkes gespeel.

    Hy word aanvanklik gestasioneer op Berlin, een van die Oos-Kaapse dorpe wat soos Hamburg, Stutterheim, Braunschweig en Frankfort, ’n Duitse naam gekry het. Grond is daar aan hom toegeken.

    Die poging met die Duitse setlaars in die bufferstrook verloop egter nie soos die Britse owerheid beoog het nie. Die grensprobleme het afgeneem, en met die uitbreek van die Indiese muitery kort daarna vertrek meer as duisend lede van die German Legion vrywillig na Indië. Net 386 keer terug. Weinig van die Duitse set­laars kon ook suksesvol boer, want hul kleinhoewes was te klein, net 5 acre, en meesal ongeskik vir landbou. Teen 1861 word die German Legion ontbind.

    Ruppert en sommige ander setlaars verhuis gevolglik na Graaff-Reinet, waar die Ruperts ’n blywende invloed sou hê. Ook dáár was ontvolking weens die Groot Trek. Nogtans was Graaff-Reinet teen die middel van die negentiende eeu een van die grootste dorpe in Kaapland, en ook een met ’n besonder kleurryke ge­skiedenis.

    Die dorp, gestig in 1786 as die vierde distrik in die land en dus geregtig op ’n drosdy ofte wel ’n setel van plaaslike bestuur, is uit die oostelike gedeeltes van die distrikte Swellendam en Stellenbosch saamgestel. Dit is genoem na goew. Cor­nelis Jacob van de Graaf en sy vrou, Cornelia Reynet, en het gestrek van die Gam­toos in die weste tot die Groot-Visrivier in die ooste, en van die Indiese Oseaan tot ’n paar kilometer van die Garieprivier, dus van die Xhosas in die ooste tot die Griekwas en San in die noorde. Met die stigting is die distrik deur 600 boeregesinne bewoon.²

    Graaff-Reinet raak populêr bekend as die eerste Boererepubliek weens die op­stand van Graaff-Reinetters wat in 1795 die gesag van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie verwerp. Die opstand is gelei deur Adriaan van Jaarsveld, wat reeds voor die proklamering van die distrik as militêre kommandant aangestel is.

    Twee Oos-Kaaplanders wat landwye bekendheid verwerf het, Andries Stocken­ström (1792-1864) en ds. Andrew Murray (1794-1866), is daarna as die ware stig­ters van die dorp beskou.

    ’n Indrukwekkende kerkgebou en pastorie (later Reinethuis) is opgerig en die eerbiedwaardige ds. Murray het moderator van die sinode van die NG Kerk ge­word. Naas hom was lede van die Londense Sendinggenootskap op Graaff-Reinet aktief, onder wie dr. John Philip en dr. J.T. van der Kemp, stigter van die sending­stasie Bethelsdorp.

    Landdros (later luitenant-goewerneur) Stockenström stel die stelsel van plaas­like bestuur in, lê die dorp in strate en erwe uit en laat watervore aanlê. Hy was slegs 23 toe hy in 1815 as landdros aangestel is, en hy verwerf roem as een van die mees invloedryke en versiende Oos-Kaaplandse leiers. Sy siening van mede­bestaan in die onstuimige grensgebied sowel as die twee beginsels vir die lewe – waarheid en geregtigheid – wat hy aanhang en teenoor onder andere die Britse sendelinge voorstaan, stem grootliks ooreen met die filosofie waarmee Anton Rupert ’n eeu later uit Graaff-Reinet kom.

    Vroeë reisigers in die binneland gee vleiende beskrywings van Graaff-Reinet as die Juweel van die Karoo, die dorp met ’n groot aantal indrukwekkende geboue wat in die hoefyster-kromming van die Sondagrivier geleë is. Heelparty is in die Kaaps-Hollandse boustyl, daar is Georgiaanse dubbelverdiepinghuise en wonings met Victoriaanse broekieskant asook platdak-Karoohuise. In die twin­tigste eeu word Graaff-Reinet die dorp met die meeste historiese gedenk­waar­dig­hede in die land – 220.

    Die afstammelinge van die rebelle van 1795 ontwikkel algaande al hoe meer griewe teen die Britse koloniale owerheid, en teen 1838 is die Groot Trek in volle gang. Verskeie voorste Trekkerleiers het noue bande met Graaff-Reinet gehad. Gerrit Maritz was ’n welgestelde wamaker op die dorp (sy plaas Welgevonden buite die dorp is ’n eeu en ’n half daarna deur Anton Rupert se seun Anthonij aan­gekoop). Die latere Voortrekkerkommandant Andries Pretorius van Bloedrivier­faam het in die distrik geboer. Die huwelike van die Trekkerleiers Piet Retief en Louis Trichardt is in die plaaslike kerk voltrek. Sarel Cilliers is op die nabygeleë Nieu-Bethesda gebore, en ’n ander Trekkerleier, Andries Hendrik Potgieter, is op Graaff-Reinet gedoop.

    Twee Republikeinse presidente, Jacobus Nicolaas Boshof van die Oranje-Vrystaat en Thomas Francois Burgers van Transvaal, het uit Graaff-Reinet gekom.

    Later het ’n toekomstige eerste minister van Suid-Afrika, dr. D.F. Malan, as pre­dikant die kansel van die NG kerk op Graaff-Reinet verlaat om in 1915 die eerste redakteur van Die Burger, die oudste Afrikaanse dagblad, te word.

    Nog ’n bekende wat op Graaff-Reinet skoolgegaan het en daar begrawe is, was die Pan-Africanist Congress se stigter-leier, Robert Mangaliso Sobukwe, wat deur ’n latere premier, John Vorster, as ’n man met ’n magnetiese persoonlikheid be­skryf is.

    Vele ander kultuurleiers, sakelui, opvoedkundiges, medici en landbouers het hul stempel op Graaff-Reinet afgedruk. Die dorp was behoorlik kosmopolities, met naas die sterk Afrikaanse teenwoordigheid Engelssprekendes soos die Murrays en Haywards, Jode soos die Mosenthals en Herbsteins, aanvanklik ’n kleiner groep swart en heelwat meer bruin mense.

    In die stadium dat die eerste Rupert hier arriveer, heers daar ’n wêreldwye de­pressie ná afloop van die Krimoorlog en die Amerikaanse Burgeroorlog. Die vraag na wol neem af en witroes tref die florerende wingerdbedryf van Graaff-Reinet. Die siekte word in 1868 deur die toediening van swael in bedwang gebring, en die dorp verwerf ’n reputasie as bron van brandewyn en veral Withond, witblits wat op groot skaal gestook is.

    Voorspoed begin terugkeer ná die ontdekking van diamante in 1867 by Kim­berley, en ’n paar jaar daarna die ontdekking van goud in 1874 by Pelgrimsrus. Fortuinsoekers stroom via Port Elizabeth en die strategies geleë Graaff-Reinet na Kimberley. In een stadium is daar meer as sestig uitspanplekke op die dorp, wat die Poort na die Noorde geword het. ’n Verdere bloeitydperk volg toe die spoor­lyn van Port Elizabeth in 1879 met swierige feestelikheid voltooi is met Graaff-Reinet as eindpunt, waarvandaan met ossewaens verder na die ontlui­kende binneland gereis kon word. Die firma Cleghorn & Harris open byvoorbeeld sy eerste tak in Suid-Afrika op die dorp. Die dorp kon ’n ruk lank met vier koe­rante spog.

    Die pionier Johann Peter Ruppert, in een stadium voorman op die plaas Bloem­hof, werk op Graaff-Reinet as ’n wamaker voordat hy in 1882 oorlede is, volgens familie-oorlewering in ’n skietongeluk op ’n jagtog. Dit is nie onwaarskynlik nie, want wild was volop op die Karoovlaktes, waar die grootste wildsboktroppe in menseheugenis waargeneem is.³

    Die pionier-egpaar Ruppert behoort tot die Anglikaanse gemeente St. James op die dorp. Enkele jare ná hul aankoms op Graaff-Reinet besluit die koloniale re­gering in 1865 dat onderrig in alle staatskole in die Kaapkolonie in Engels moet geskied. Engelse koerante aan die Kaap, oortuig dat die Engelse die dominante ras is, verkondig ’n militante vorm van kulturele imperialisme, en die Cape Argus maak Afrikaans af as ’n bastard jargon, onwaardig om hoegenaamd ’n taal ge­noem te word. Desondanks verafrikaans die Ruperts (soos talle ander immigrantgesinne) geleidelik. Ná die huwelik van die pionieregpaar se oorlewende seun met ’n Afrikaanse meisie word die familie mettertyd lidmate van die NG Kerk.

    Drie kinders uit die stamvader se huwelik met Emma Susanna, wat tot 1919 sou bly leef, is vroeg oorlede, twee tien dae ná mekaar in 1869 in die witseerkeel-epidemie. Die oudste seun, Anthony Edward Rupert, die oupa van Anton Rupert, is soos s´y vader op 44-jarige ouderdom oorlede. Reeds hieruit kan afgelei word dat die Ruperts nie ’n baie groot familie in Suid-Afrika is nie.

    Oupa Anthony Edward Rupert verwerf as ’n bouer bekendheid in die omge­wing. In ’n geskrif in die familie se besit wat hy voor sy dood in 1906 op sy siek­bed in Afrikaans geskryf het, vertel hy hoe hy behoeftig op die dorpie Peters­burg begin en van plaas tot plaas vir boere gewerk het daar ek in die bouwmeesters­lyn geleerd was. Hy ry soms te perd, maar andere malen werd ek verbannen ‘voet te slaan’ om leven te behouden.

    Voor sy troue huur hy ’n huis teen £2 per jaar van die gekleurde gemeente van die Londense Sending. Hy moes ’n wabokseil oor die strooidak span om het koude en regen uit te sluiten.

    Hy is in 1885 met Maria Elizabeth Dippenaar getroud, en agt kinders is uit hul huwelik gebore. Daarna bou hy ’n skoolgebou op Graaff-Reinet en nog een op Letskraal buite die dorp, die plaas waar Andries Pretorius voor die Groot Trek geboer het. Op die nabygeleë Petersburg, wat op die ossewaroete na Kimberley gelê het, bou hy ’n kerk waar sy naam op die hoeksteen staan. Sy reputasie groei, ook namate hy op Graaff-Reinet, waar hy en sy gesin hulle in 1899 kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog vestig, huise restoureer en verbeter. Hoewel hy alle boumateriaal met ossewaens moes vervoer, kon hy die bouwerk van ’n huis op ’n plaaswerf in ses weke voltooi – ’n prestasie wat aansienlike organi­sa­sievermoë geverg het.

    By geleentheid toe Anton Rupert die vooraanstaande Afrikaanse sakeman dr. C.R. Louw by Dennegeur, sy huis op Somerset-Wes, besoek, sê dié se broer ds. Rooi Abraham Louw, wat die bouer Rupert op Graaff-Reinet geken het, aan sy kleinseun Anton: Jou oupa was die hardwerkendste man wat ek ooit ontmoet het.

    Die oudste van hierdie vaardige bouer se agt kinders, John Peter Rupert, ge­bore in 1888, was jare lank prokureur op Graaff-Reinet, waar die familie bykans ’n eeu sou woon. Op hierdie dorp met sy veelbewoë verlede is s´y seun Anton 28 jaar later gebore.

    Hoofstuk 3

    Op skool in die Karoo

    Anton Rupert is die oudste van drie seuns. Hy heet na sy oupa aan vaders­kant, Anthony Edward, maar is op universiteit tot Anton vernoem nadat hy in sy jeugjare Boetie genoem is. Hy is op 4 Oktober 1916 gebore en sy twee broers is heelwat jonger as hy. Jan (gedoop John Peter) en Koos (gedoop Jacobus Albertus) is in onderskeidelik 1922 en 1929 gebore. Albei sou hom mettertyd na die Rembrandt Groep volg; albei op 24-jarige leeftyd. Die drie broers in die tabakhandel word vergelyk met die drie broers Reemtsma in Duitsland en die drie broers Reynolds in Amerika, wat in daardie lande onderskeidelik die grootste sigaretfabrieke opgebou het. Die broers Rupert het nog iets gemeen: Hulle het aanvanklik in hul vader se voet­spore gevolg deur almal in die regte te studeer, maar nie in die praktyk ge­tree nie.

    Hul vader, alombekend as Oom John, was ’n gesiene gemeenskapsleier op Graaff-Reinet. Hy moes in die moeilike jare tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), toe krygswet in die Kaapkolonie gegeld het en baie Afrikaners, hoewel Britse onderdane, so erg soos hul noordelike taalgenote en bloedverwante in die republieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat verarm is, uitspring en gaan werk. Hy is daarna terug skool toe en het in 1909 aan die Graaff-Reinet Kollege klaar­gemaak.

    Nadat hy op dié dorp sy ingeskrewe klerkskap by C.H. Maasdorp voltooi het, gaan hy aanvanklik elders werk, onder meer op Kimberley, Mosselbaai en Prins Albert, waar in die bloeitydperk van die volstruisveerbedryf altesame sewentien prokureurs was. Die firma Theunissen & Louw op Prins Albert bied hom ’n vennootskap aan, maar hy kry snuf in die neus dat alles nie pluis is nie en wys die aanbod van die hand. ’n Hofsaak daarna teen twee vennote bewys hom reg. Hy bly daarna altyd wantrouig oor ’n vennootskap – in teenstelling met sy suksesvolle seun se vertroue in en welslae met die filosofie van deelgenootskap – en begin sy eie prokureurspraktyk op Graaff-Reinet.

    John Rupert stel aktief belang in die onderwys van die jeug en kinderwelsyn. In sy tyd as voorsitter van die Kinderwelsynvereniging is die sekretaresse die dorp se maatskaplike werker, Tini Malan, wat met John Vorster getrou het voordat hy in die oorlogsjare geïnterneer is en in 1966 eerste minister van Suid-Afrika geword het.

    ’n Ander latere eerste minister met wie John Rupert vroeg te doen kry, is J.G. (Hans) Strijdom, wat op die nabygeleë Willowmore grootgeword het. Strijdom se oom het hom nadat hy sy regstudie op Stellenbosch voltooi het, na Graaff-Reinet gebring om die moontlikheid van ’n klerkskap in Rupert se praktyk te bespreek. Rupert meen egter dat Graaff-Reinet se moontlikhede te beperk is en raai hom aan om sy geluk in Transvaal te beproef. Strijdom aanvaar klaarblyklik die raad en vertrek na Pretoria, van waar hy na Nylstroom verhuis en bekend word as die Leeu van die Noorde.

    Jare daarna, voordat Strijdom die premierskap oorgeneem het, besoek hy Anton Rupert op Stellenbosch. Strijdom, in die jare vyftig Transvaalse leier van die Na­sionale Party, wou van dr. D.F. Malan, toe aan die hoof van die regering, wegbreek omdat hy oor die koms van ’n republiek met hom verskil het. Rupert stap twee keer saam met die vurige Strijdom om sy huis en oortuig hom dat hy ge­duldig moet wees; sy kans as leier sal kom. Strijdom neem daarna wel oor by Malan, maar word siek en sterf in die tuig.

    John Rupert is ook die sekretaris en sy vrou ’n bestuurslid van die Hollandse Letterkundige en Toneel Vereniging op Graaff-Reinet, waarvan die ondervoorsitter dr. B.B. Keet is – die teoloog Bennie Keet wat aan die Stellenbosse Kweek­skool bekendheid met sy afwysing van apartheid verwerf. Hierdie drietal se name word vermeld in ’n brosjure oor ’n tentoonstelling van oud- en aardighede wat op 31 Augustus 1918 op die dorp gehou is. Verskeie inwoners het vir die tentoonstel­ling bydraes van antieke meubels en gebruiksware en ander besittings gelewer. Anton se latere belangstelling in oudhede is waarskynlik vroeg reeds geprikkel.

    John Rupert raak ook in die politiek bedrywig as sekretaris van die eerste tak van die Nasionale Party wat ná genl. J.B.M. Hertzog se opsienbarende De Wildt-toespraak van 7 Desember 1912 op die dorp gestig is. Hertzog het algaande al hoe sterker met genls. Louis Botha en Jan Smuts se konsiliasiepolitiek en hul sie­nings van die taalkwessie verskil. Wanneer imperialisme in botsing met die be­lange van Suid-Afrika kom, is hy ’n besliste teenstander daarvan en stel hy Suid-Afrika eerste, verklaar hy. As gevolg van sy onwrikbare standpunt laat Botha hom uit die eerste Uniekabinet weg en stig Hertzog, die Vrystaatse regter en oorlogsheld, ’n nuwe party, die Nasionale Party. In 1913 veroorsaak Hertzog, wat Suid-Afrika se langs dienende eerste minister sou word, op ’n Stellenbosse taal­fees ’n opskudding toe hy ’n telegram van oudpres. M.T. Steyn, ’n reusefiguur in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, voorlees waarin aangehaal word: Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde is die taal van slawe.

    Die NP groei tot die sterkste party op Graaff-Reinet namate ondersteuners van Botha en Smuts se Suid-Afrikaanse Party na die nuwe party oorloop. John Rupert se vrou, Hester, word die voorsitter van die vrouetak van die party, wat in 1924 die bewind sou oorneem.

    John Rupert se stokperdjies is die digkuns en bestudering van tale; hy kon nege tale lees. Hy begin op 70-jarige leeftyd Frans studeer en kon spoedig klassieke werke daarin lees. Hy het egter nooit in die buiteland gereis nie, en kon in sy stu­diejare ook nie ’n studiebeurs na Nederland benut nie.

    Hy tree op in verskeie druk bespreekte hofsake, waarvan sommige uit die Re­bellie van 1914 tydens die Eerste Wêreldoorlog gespruit het.

    So verskyn hy vir twee koerantredakteurs, onderskeidelik van sy tuisdorp se Onze Courant en Aberdeen se Nuwe Tijd, toe hulle aangekla word van sedisie weens berigte oor genl. Manie Maritz, wat met sy troepe na die Duitsers oorge­loop het. Die klagtes van sedisie, strafbaar met die dood, is teruggetrek. Hy ver­de­dig nog ’n keer Onze Courant se redakteur, J.A. (Sambok) Smith, later ’n leiersfiguur in die Ossewa-Brandwag, toe ’n saak teen die koerant aanhangig gemaak word weens ’n berig dat die Britse lugmag bomme op stede van ’n neutrale land gegooi het. Die berig blyk waar te wees en ook hierdie aanklag word teruggetrek.

    Rupert tree ook meermale op vir gekleurdes van die omgewing in hofsake, by geleentheid pro bono – in ’n tyd toe so iets in konserwatiewe wit gemeenskappe soos dié op Graaff-Reinet skepties bejeën is. Bruin mense van die dorp het graag na hom as die Groot Seur verwys; later het sy seun Anton die Klein Seur geheet.

    Onder sy goeie vriende en kliënte tel ook die NG pastoriepaar, ds. Jozua Francois Naudé, medestigter van die Afri­kaner-Broederbond (AB), die geheime organisasie wat as teenvoeter vir die Vry­messelaars en Sons of England gestig is om Afrikanerbelange te bevorder, en mev. Ada Naudé. Die egpaar was die ouers van die latere anti-apartheidstryder dr. C.F.B. (Beyers) Naudé en dogters genaamd Ligstraal, Hymne en Vryheidster. Beyers Naudé is genoem na kmdt. genl. Christiaan Frederick Beyers, die Boeregeneraal onder wie sy vader in die Anglo-Boereoorlog geveg het en wat in die Rebellie van 1914 in die Vaal­rivier verdrink het.

    Ds. Naudé, eerste president van die AB, was ook die voorsitter van die beheer­raad van die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet, die eerste Afrikaansmedium-hoër­skool in Kaapland. John Rupert was medestigter en 21 jaar lank eresekretaris van die beheerraad van die skool, waar Anton sou matrikuleer. Hy verset hom in een stadium manalleen, en suksesvol, daarteen dat Latyn, wat hy as ’n noodsaaklike fondament vir taalonderrig beskou, aan die skool afgeskaf word.

    Reeds in 1922, ’n jaar voordat Boetie Rupert begin skoolgaan, betrek die Hoër Volkskool – met as leuse Ons Sal Handhaaf – die statige gebou van die Mid­lands Seminary. Die hoof, dr. G. von W. Eybers, wat sy doktorsgraad in Londen verwerf het, voel sterk oor moedertaalonderrig. Hy begin al in 1919 in Afrikaans pleks van Nederlands klas gee. Dit ontketen ’n opvoedkundige taalstryd op die dorp wat lei tot die stigting van die Union High School, ’n Engelsmedium-kosskool wat die Springbokvleuel Chum Ochse onder sy oudleerlinge tel.¹

    Kerklike verdeeldheid ontstaan ook oor die taalkwessie nadat ds. Naudé, een van die ses Bittereinders wat aan die einde van die Anglo-Boereoorlog by die Vrede van Vereeniging geweier het om die akte van oorgawe te onderteken, as nuwe NG leraar sy intreepreek in 1921 in Afrikaans lewer. Beswaardes, onder wie heelparty wat Nederlands as die geskikte taal vir die kerkdiens beskou, pro­testeer heftig teen die gebruik van Kitchen Dutch in die Groot Kerk van die Murrays. Een Sondag speel die orreliste, Amy Asher (gebore Murray), selfs ná die erediens God save the king op die orrel van die indrukwekkende Gotiese kerkgebou. Die NG gemeente skeur oplaas en die Nuwe Kerk word afgestig.

    Anton Rupert se eggenote, Huberte, vertel in ’n onderhoud dat haar skoonvader tydens ’n aanrandingsaak waarin hy vir die eggenote van ’n vriend op­ge-­tree het, kliënte verloor het, want mense het hom kwalik geneem dat hy haar verdediging help behartig het – ’n voor­teken van die lojaliteitsbeginsel wat in die latere sakeman se loopbaan so swaar sou weeg.

    Toe Anton se pa in 1961 sterf, het Anton gedink hy gaan vir Beyers Naudé vra om sy pa te begrawe, sê Huberte. Dr. Naudé het ingewillig en die be­graf­nis­diens van die 73-jarige John Peter Rupert in die Groot Kerk op Graaff-Reinet gelei. Dr. Naudé, toe leraar van die NG gemeente Aasvoëlkop in Johannesburg, het van die kansel vertel dat hy as kind dikwels boodskappe van sy vader se pas­torie na die oorledene moes neem en dat hy deur sy opregte beskeidenheid, ware volksliefde, ruimheid van visie en sin vir regverdigheid getref is.

    John Rupert ontmoet sy eggenote, Hester Adriana van Eeden, van wie hy ’n broer geken het, op die trein van Port Elizabeth na Klipplaat, ’n spoorweghalte naby haar vader se plaas in die distrik Jansenville. Hulle trou in Desember 1915, en ’n jaar later word Anton in hul kliphuis in Cradockstraat 110 op Graaff-Reinet gebore. Die oorspronklike geboortehuis bestaan nie meer nie; die tennisbane van die Laer Volkskool is daar gebou. Die gesin verhuis mettertyd na Cradockstraat 84, waar hulle regoor dr. Karl Bremer, later minister van gesondheid in die Malanregering, woon.

    Anton Rupert se geboorte val midde-in die Eerste Wêreldoorlog, wat op 4 Au­­gustus 1914 uitgebreek het. Teen daardie tyd was die groter eensgesindheid in Suid-Afrika ná Uniewording in 1910 ook verby, en die land weer eens verdeeld oor Botha en Smuts se besluit om Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) binne te val en dus aan die kant van die gehate Britse empire te veg.

    ’n Rebellie breek uit nadat genl. Manie Maritz hom by die Duitse magte aan­gesluit het. Hoewel die Rebellie van 1914 gestuit word, neem verset teen Botha en

    Smuts se konsiliasiepolitiek toe, veral nadat Hertzog met sy toespraak op De Wildt die meesleurende beleid Suid-Afrika Eerste verkondig het. Op die koop toe haal Smuts se teregstelling van die rebelleleier Jopie Fourie hom bittere verwyte op die hals wat hom sy lewe lank sou agtervolg.

    ’n Vername gevolg van die Rebellie is die stigting van die Helpme­kaar­ver­­eni­ging om rebelle uit geldelike moeilikheid te help weens boetes wat aan hulle op­gelê en skadevergoeding wat van hulle geëis is, juis terwyl die arm­blanke­pro­bleem ná die Anglo-Boereoorlog steeds vererger het. Voortspruitend uit die Helpmekaar se eerste insamelingsveldtog, wat spoedig ’n kwartmiljoen pond op­gelewer het, is op 22 November 1916 op Cradock, buurdorp van Graaff-Reinet, ’n volkskongres oor armoede belê – dus in die jaar dat Anton gebore is. Dit blyk dat daar 105 518 hulpbehoewendes is, van wie 39 021 dood armen en dat van die land se 280 000 kinders ’n kwart, 72 000, nie op skool is nie.

    Hoewel die kongres weinig vermag het om die verarming te stuit, word die Help­mekaarbeweging een van die heel belangrikste lanseerplatforms om Afri­kaners se ekonomiese selfstandigwording aan te vuur. Uit die monstering van Afrikanerkapitaal tydens die Eerste Wêreldoorlog spruit ook die stigting van som­mige groot Afrikanerondernemings wat suksesverhale geword het, by uitstek die mediamaatskappy Nasionale Pers (later Naspers) in 1915 en die versekerings­reuse Sanlam en Santam daarna in die loop van 1918, ook die stigtingsjaar van die Koöperatiewe Wijnbouwersvereniging van Zuid-Afrika Beperkt (die KWV). Van hierdie ondernemings sou in Anton Rupert se lewe ’n rol speel, terwyl hy ook later by die Helpmekaar Studiefonds betrek is.

    Een van die groot dryfkragte agter die Helpmekaarvereniging was ds. J.D. Kestell, wat ook mettertyd ’n deurslaggewende invloed in die jong Rupert se lewe sou uitoefen. Kestell het die begrafnisdiens gelei van oudpres. Steyn, wat aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe is nadat hy in sy laaste toespraak op sy sterfdag op 28 November 1916 in die Gedenksaal van Bloemfontein gesê het: Die Helpmekaar is uit God gebore.

    In Anton Rupert se jeugjare op Graaff-Reinet woon verskeie bruin mense, des­tyds stemgeregtig, op die taamlik kosmopolitiese dorp; in Cradockstraat was daar 25 huise van gekleurdes. Die verwydering van gekleurdes uit middedorpe van plekke soos Graaff-Reinet en Stellenbosch ingevolge die Groepsgebiedewet sou vir hom een van die groot dwaashede van die NP bly.

    Sy moeder, mev. Hester Rupert, een van tien kinders, was ’n sorgsame, lieftallige vrou wat die familie bymekaargehou en ’n groot invloed op Anton gehad het. Hy het meermale lewensriglyne aangehaal wat hy van haar ontvang het, soos: Wat help dit om die wêreld te oorwin en jou siel te verloor? En: Werp jou brood op die water, en na vele dae sal dit na jou terugkeer.

    Sy moeder het volgens alle verslae baie vir haar medemens omgegee, en op haar begrafnis in 1944 kom ’n bruin vrou na haar skoondogter Huberte Rupert en sê dat sy baie vir ons mense gegee het.

    Ná dr. D.F. Malan se vertrek uit Graaff-Reinet word mev. Hester Rupert in 1915 die sekretaresse van die vereniging Jong Zuid-Afrika. Die vereniging, aanvanklik genoem Zonen van Zuid-Afrika omdat dit as teenvoeter vir die Sons of England ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse patriotisme wou bevorder, het sy naam in 1912 verander toe vroue ook toegelaat is. Die doelstellings is tweërlei: eerstens die aankweking en versterking van ’n nasionale gees en ’n liefde vir die vaderland en die geskiedenis, en tweedens die handhawing en ondersteuning van die Hollandse taal en die bevordering van die stoflike en geestelike belange van die volk. Jong Zuid-Afrika se bestuur het mettertyd kant gekies teen die des­tydse premier, Louis Botha, en almal het ondersteuners van Hertzog en die NP geword.

    Mev. Rupert se vader, mnr. Jacobus Albertus (Oom Kootjie) van Eeden, ’n Kaapse patriot en ’n medestigter van die Afrikanerbond van J.H. (Onze Jan) Hof­meyr, die eerste politieke party in die land, het eweneens ’n groot invloed op sy kleinseun Anton uitgeoefen. Tot sy dood op 84-jarige leeftyd het hierdie oupa aan moederskant, ’n suksesvolle boer wat op sy plaas, Gannavlakte, 500 morge land­bougrond onder besproeiing gehad het, dikwels met sy kleinseun landsake be­spreek.

    Oom Kootjie, wat soos sy dogter Hester ook in 1944 oorlede is, is ’n afstammeling van een van die oudste Nederlandse families in Suid-Afrika. Die stamvader van die Van Eedens, Jan Janse van Eeden (Jan van Oldenburg), het in 1662 in Suid-Afrika aangeland en mettertyd op die plaas Kromme Rivier (waarvan die latere Bergzicht ’n deel was) by Stellenbosch geboer. Van moederskant is Anton Rupert ’n Suid-Afrikaner uit die negende geslag.

    Oom Kootjie het ’n veelbewoë geskiedenis gehad. Hy beskryf dit in ’n geskrif wat hy nagelaat het, en wat hy afsluit: Wat ’n lewe van moeite, sorg en kommer – dit is maar als ’n droom.

    Sy vader is op Somerset-Oos oorlede toe hy nege jaar oud was, en hy en sy sus­ter was vaderloos. Hy word toe, soos hy dit in die geskrif stel, as wild en on­tembaar van natuur aan ’n ryk boer, ene C. Buys, as ingeboekte gegee. Hy moet daar met drie ander seuns hout kap om stene vir ’n waterleivoor te brand. Waar­lyk dit alles laat ’n mens dink aan die Israeliete by Farao in Egipte, merk hy op.

    Hy moet ook ’n plaasskool bywoon voordat hy ná vyf jaar teruggaan na sy moeder, wat intussen met ’n gegoede boer van Jansenville, C.J. Grobler, getroud is. Op die plaas word hy ingespan as bokwagter, maar hy loop weg om in die grensoorlog te gaan veg. Nadat hy gewond is, word hy transportryer totdat hy in die huwelik tree met Anna Gertruida Lötter, ook ’n weeskind. Hulle koop vee met spaargeld wat hy verdien het, en hy gaan ’n paar gewaagde spekulasies met grond aan wat hom ’n groot stoot gegee het.

    Ná 14 jaar koop hy Gannavlakte, ’n plaas aan die Sondagsrivier in die distrik Jansenville, vir £3 250 aan. In teenstelling met die latere waternood in die dorre Karoo kon destyds volop water vir besproeiing uit die rivier gepomp word. Dit stel hom in staat om ’n groot boerdery te behartig. Op die plaas was daar volgens sy oudste kleinseun, dr. O.R. (Boy) van Eeden, destydse hoof van Geo­lo­giese Op­names in Pretoria en ’n neef van Anton, ’n vrugteboord en wingerde, ’n smids­winkel, ’n brandewynstokery, ’n koringmeul, skaaptroppe en volstruise, waarvan die vere in die begin van die twintigste eeu hemelhoë pryse opgelewer het.

    Sedert 1884 neem Oom Kootjie aktief aan die politiek deel, onder meer 22 jaar as voorsitter van die distriksbestuur van die Afrikanerbond, en hy is ook assistentveldkornet, voorsitter van die skoolkomitee, ouderling in die kerkraad en lid van die runderpes- en die brandsiektekomitee.

    Hy word in die Anglo-Boereoorlog, waarin sy simpatie sterk aan Boerekant lê, ’n ruk op Port Alfred geïnterneer. Dit gebeur terwyl die oorlog teen die Brits-im­pe­riale oormag teen die einde in groot mate in Kaapland woed as gevolg van invalle uit die Boererepublieke Transvaal en die Vrystaat.

    Sy twee oudste seuns, Frederick (Frik) en Francois (Soois) – ouer broers van mev. Hester Rupert – het hulle op 7 Maart 1901 as jong seuns by die verby­trek­kende Boerekommando van kmdt. Willem Fouché aangesluit. Ná ontberings op kommando het hulle hulle aan die Engelse kolonne oorgegee. As Kaapse rebel is die 17-jarige Soois op Graaff-Reinet deur ’n krygshof skuldig bevind aan hoog­verraad, strafbaar met die dood, maar hy is deur lord Kitchener begenadig en tot ’n jaar tronkstraf gevonnis. Die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 bevoor­deel hom, want ná net ses maande in die tronk op Grahamstad word ’n vry spoor­wegpas op 26 September 1902 aan hom uitgereik en kon hy huis toe gaan.

    Die jongste seun van die Van Eedens, hul vierde seun, is op 27 Maart 1901 ge­bore. In die naweë van die oorlog wat uiteindelik as die begin van die einde van Britse imperialisme beskou sou word, word hy met die enkele naam Smartryk gedoop. Sy naam verwoord die emosies van duisende Afrikaners, ook in die Kaap­kolonie, wat gely en in armlastigheid verval het as gevolg van die konflik. Vir sulke Afrikaners, ook in Oos-Kaapland, was die oorlog ’n ramp. Honderde het op die rand van hongersnood gestaan. Boonop het die Britse regering se ka­rige aanbod van £3 miljoen skadevergoeding aan die einde van die oorlog ver­dere bitterheid veroorsaak. Louis Botha, die eerste premier ná Uniewording in 1910, wat ’n aanbod van £900 vergoeding vir £20 000 se oorlogskade ontvang het, het die tjek teruggestuur.

    Oom Kootjie, hoewel sonder veel boekgeleerdheid, is as ’n leier en raadgewer in die gemeenskap aanvaar. Hy en die predikant van Jansenville het meermale die sportbyeenkomste toegespreek wat ná Uniewording in 1910 jaarliks op Unie­dag, 31 Mei, op die plaas De Toekomst van ’n welgestelde boer, mnr. P. Weyer, gehou is. Wyse woorde van Oom Kootjie, aanduidend van die kaliber van ’n oupa wat Anton Rupert in sy vormingsjare leer respekteer het, word soos volg in ’n koerantberig aangehaal: . . . the common fault on the sportsground, as well as in life, is to look at the man who is behind you. If we could keep the man in view who is ahead of us and make it our object to catch up with him the number of poor people would certainly decrease.²

    Nog ’n groot invloed op die jeugdige Boetie Rupert is uitgeoefen deur die verhaal van die Boereheld Gideon Scheepers, wat in die Anglo-Boereoorlog op 23-jarige leeftyd op Graaff-Reinet deur die Britse magte gefusilleer is.

    Kmdt. Scheepers, van wie ’n standbeeld en ’n gedenksteen op die dorp staan, was ’n baasverkenner wat ’n skouspelagtig suksesvolle guerrilla-inval in die Kaap­kolonie gelei het voordat hy gevang is – volgens sommige hardnekkige bewe­rings nadat ’n verraaier hom as die Boere se befaamde Scarlet Pimpernel ver­gif­tig het, volgens ander rapporte nadat hy blindedermontsteking opgedoen het.

    Anton Rupert oordeel self dat die verhaal van Scheepers soos sy vader dit aan hom vertel het, sy hele lewe verander het. Sy vader was as 13-jarige seun teenwoordig by die uitspraak van die Britse krygshof op Kerkplein op Graaff-Reinet.

    Die vervolging van Scheepers was ’n skouverhoor wat Kaapse republikeinsgesindes ’n les moes leer – juis terwyl die oorlog Brittanje in Rudyard Kipling se frase no end of a lesson geleer het. Die Britse offisiere het Scheepers, wat heelparty Kaapse rebelle oorreed het om hulle by die Boeremagte aan te sluit en self getuig het dat hy sowat 1 300 Britte krygsgevange geneem het, ná aggressiewe vervolging aan dertig beweerde oorlogsmisdade skuldig bevind en ter dood ver­oordeel. Die vonnisse en teregstellings moes op bevel van genl.maj. John French in die openbaar plaasvind. Geblinddoek en sittende op ’n stoel is Scheepers die volgende dag, 17 Januarie 1902, op sy moeder se verjaardag, deur ’n vuurpeloton van die Coldstream Guards tereggestel. Ongebluste kalk is oor sy lyk in die graf by die toneel gegooi, maar sy oorskot is vermoedelik dieselfde nag verwyder om herbegrawe te word en het spoorloos verdwyn.

    Hy was een van agt mense wat op Graaff-Reinet tereggestel is terwyl die meeste dorpe in oorlogstyd in die Kaapkolonie onder die fel omstrede krygswet en mili­têre sensuur was. Soos die konsentrasiekampe, wat die lewens van 28 000 vroue en kinders geëis het, en die Britse opperbevelhebber, lord Kitchener, se beleid van verskroeide aarde, waardeur honderde plaashuise afgebrand en veetroppe ver­nietig is, het die teregstellings van Kaapse rebelle en Boerekrygers bittere verset uitgelok. Sowat veertig rebelle het in die Kaapkolonie so hul lewe verloor, skrei­ende teregstellings wat die inspirasie vir die digter-dokter Louis Leipoldt se pro­tesgedig Oom Gert vertel was. Soos elders het die teregstellings die gevoelens van republikeinsgesindes op die verdeelde dorp erg laat verhard.

    Op die nabygeleë Oudtshoorn het die onregverdige skynverhore van krygsgevangenes die skrywer C.J. Langenhoven, aanvanklik ’n anglofiel wat destyds as regsgeleerde die sake van Kaapse rebelle behartig het, so gekrenk dat hy hom aan die militêre howe onttrek het. Hy het ook as aanvanklike voorstander van Engels as amptelike taal omgeswaai tot een van die vernaamste Afrikaanse taal­stryders en skrywer van die volkslied Die stem van Suid-Afrika.

    Die martelaarsgeskiedenis van Scheepers, geen Kaapse rebel nie maar ’n Oos-Transvaler wat ’n bevelvoerder van die Vrystaatse Staatsartillerie was, word een van die treurigstes uit ’n oorlog wat ’n blywende letsel op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelaat het. Sy graf is nooit gevind nie.

    Sy moeder se jare lange soektog na sy stoflike oorskot is nooit beloon nie, en op haar honderdste verjaardag in 1956 sê sy dat sy nie vergeet nie, maar ver­gewe: Laat ons eerder in liefde en vrede lewe as een onverdeelde volk.³

    Scheepers het ’n legende in Suid-Afrika geword; onder meer is drie gedigte oor hom geskryf. In sy aangrypende Gebed om die gebeente weerspieël Dirk Op­per­man die aanroeping van die treurende moeder van Scheepers, ’n kranige heliografis:

    Seën, Here, al die bleek gebeente van die stryd (. . .)

    (. . .) dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas

    met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,

    en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas

    ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.

    Digterlik het Opperman, ’n goeie vriend van die Ruperts, hier ook die idee van saambestaan vasgevang, wat as ’n leitmotiv deur die hele loopbaan van Anton Rupert sou strek nadat hy op vroeë leeftyd reeds begeester is deur die legende van Scheepers – hy wat, in Opperman se woorde, leef in hierdie land nou ewig en altyd!

    As jong seun maak Boetie Rupert ook kennis met ander Boerehelde. Een van hulle is kaptein Henri Slegtkamp, wat saam met die Skot Jack Hindon lid van Danie Theron se Verkennerskorps was. Op besoek aan Graaff-Reinet boei Slegt­kamp, ’n uitmuntende raconteur, die jong Rupert met sy verhale van die Boere­oorlog. Hy het as jong Nederlander na Suid-Afrika gekom om avontuur te soek; hy het in Transvaal geveg teen die Jameson-inval van 1895-’96, wat deur die geskiedskrywer C.W. de Kiewiet as die mees berugte insident in die ge­skie­denis van die Britse empire bestempel is; en hy het dadelik op kommando ge­gaan toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek. Die skrywer Dirk Mostert het uit Slegtkamp se oorlogsdagboek die werk Slegtkamp van Spioenkop: Oorlogsherinneringe van kapt. Slegtkamp saamgestel, waarin hy Slegtkamp en Hindon so tipeer: Hulle (het) mekaar gebalanseer asof hulle weerskante van ’n weegskaal gehang het. Wat Hin­don uitgedink het, het Slegtkamp uitgevoer. Hindon was die dinamiet van die Verkenners, Slegtkamp die ontploffing.

    Met die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog in 1999 het Ru­pert die legger oor Scheepers wat vroeër in die besit van die Britse intelligensie­departement was, van ’n boekhandelaar in Kaapstad aangekoop. Daarin verskyn Scheepers se laaste briewe (aan sy moeder, aan pres. M.T. Steyn en aan genl. Chris­tiaan de Wet) en sy dagboekaantekeninge, soos vertaal deur John Gregorowski, wat in die Krygswetkantoor op Graaff-Reinet gewerk het. Daar is ook unieke foto’s van Scheepers en ander Boerekrygsgevangenes wat deur die Graaff-Reinetse fotograaf Ivie H. Allan in die gevangenis op die dorp geneem is. Die boekhande­laar beskou die Gregorowski-legger as die belangrikste versameling van Scheepers-memorabilia wat ooit gevind sou word.

    Die monument van Scheepers en die ander tereggesteldes van Graaff-Reinet het ’n ander nadraai gehad, een wat op die toekomstige nyweraar Rupert ’n blywende indruk gemaak het. Die stadsraad wou ná die oorlog nie geld beskikbaar stel nie vir die monument, wat ’n sterwende Scheepers toon wat deur genl. De Wet gekoester word. Dit is toe in 1908 onthul op grond wat deur Jurie Laubscher, eienaar van die poppefabriek van Graaff-Reinet, geskenk is. Hy het meer as se­wentig werkers in diens gehad wat die welbekende Graaff-Reinet Pop gemaak het, waarvan daar etlike voorbeelde in die Reinethuis op Graaff-Reinet is.

    Toe die Paktregering van Nasionaliste en Arbeiders in 1924 ná die opstand van die mynwerkers in Johannesburg aan die bewind gekom het, het hulle die eerste superverligte arbeidswette gemaak, onthou Rupert. Jy moes soveel lig en soveel spasie toelaat, en meer as drie is ’n fabriek. Oom Jurie Losper, soos hy in die wandel genoem is, kon nie aan daardie vereistes voldoen nie – en toe is Graaff-Reinet se grootste fabriek daarmee heen. Dit het hy my nog self vertel.

    In sy kinderdae was Graaff-Reinet ’n tipiese plattelandse dorp: geen elektri­si­teit, geen lopende water en geen teerstrate nie. Drinkwater het uit ’n tenk ge­kom wat reënwater van die huis se dak opgevang het. Leiwater het gekom van Maggie se Put, ’n standhoudende fontein wat twee miljoen gelling suiwer vars water per dag gelewer het op die plek waar die dorpsdam vandag is. Die water is gekook vir badwater. Die dorp met sy stofstrate het eers laat in die jare twintig lopende kraanwater gekry.

    Studietyd saans was aanvanklik by kerslig of ’n paraffienlamp. Elektrisiteit is met verloop van tyd verskaf, met gloeilampe wat in die middel van die vertrek aan ’n draad gehang het. ’n Elektriese eenheid het toe ’n sjieling gekos, dus was krag duur.

    Ek kom van een van ons oudste Karoodorpe waar ek in my jeug geen binnens­huise waterleiding, geen afloopbad, geen elektriese lig geken het nie, vertel Rupert in sy bundel Wie in wondere glo om te illustreer hoe vinnig moderne ont­wikkeling geskied; hoe produkte vandag vervaardig word wat 25 jaar tevore on­bekend was. Daar was geen radio, geen gehoortoestelle, geen radar, geen spuit­vliegtuie, geen diesel, geen bolpuntpen, geen selfopwenhorlosie, geen flitskamera, geen bandmasjien, ja, selfs geen papiersakdoeke nie.

    John Rupert het nog vroeg in die jare twintig vir ’n hofsaak in Kaapstad met sy Model T Ford op die grondpad na Beaufort-Wes gery en daarvandaan die trein gehaal. In die middel van die dekade het hy ’n Chevrolet aangeskaf wat naderhand in die Vervoermuseum, die gerestoureerde stasiegebou op Heidelberg in Gauteng, ’n laaste staanplek gekry het.

    Een van Boetie Rupert se vroegste herinneringe is dat hy sy oumagrootjie Emma Susanna – die klein ou vroutjie – in ’n ouetehuis in Kaapweg, Port Elizabeth, gesien het voordat sy in 1919 oorlede is nadat haar man, die eerste Rupert in Suid-Afrika, haar reeds in 1882 ontval het. Sy moeder het ook ’n brief aan hom getoon wat oumagrootjie Emma, ’n Britse boorling, aan haar geskryf het, een wat sy met ’n boodskap met vyf kruisies afgesluit het: And remember to give my love to Anthony.

    Hy groei op in tye toe die belangrikste mense op menige Suid-Afrikaanse dorp die predikant, die skoolhoof en die landdros was; gesagsfigure wat ’n stempel gelaat het op geslagte Afrikaners wat op die platteland grootgeword het.

    Sondae op die dorp, sterk onder die invloed van die Murrays wat soos ander gestrenge Skotse kerkvaders leraars van die NG Kerk geword het, was streng Calvinisties. Kinders moes kerk en Sondagskool toe gaan, en sport op Sondae is as sondig beskou. Selfs naaldwerk was verbode, omdat die naald in God se oog sou steek.

    Sy broer Koos beaam die streng Calvinistiese kultuur waarin hulle grootgeword het. "Ons pa was baie jare bevriend met die skoolhoof en die predikant. Maar my pa het nooit kerk toe gegaan nie; hy het gaan bergklim. Hy het ’n ge­dig oor die Verlate Vallei geskryf: ‘Dis die plek waar ek wil sit,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1