Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Pastoor
Pastoor
Pastoor
Ebook265 pages2 hours

Pastoor

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hy weet wat dit is, hierdie stapel getikte velle papier in ’n laai weggesteek. Hy het ’n bladsy of tien gelees. Hier en daar. Genoeg. Dit is sy vrou se gesprek met die sielkundige, dit weet hy. Party van die goed herken hy. Maar. As hy sy oë toemaak, sien hy die siedende waters van ’n donker rivier. Sy vrou in die onverbiddelike werwelings van ’n duistere geweld. Nou weet hy daardie donkerte het ’n naam. Die naam is Pastoor. Pat Stamatélos vertel op ’n skreiend aangrypende wyse die ware verhaal van ’n vrou wat as jong kind in die hande van ’n pedofiel beland het, ’n vrou wie se siel die onuitwisbare vatmerke dra van ’n kerkleier se jeugberading en pastorale sorg. Pastoor is ’n doodsekure studie van ’n verwonde psige, en ’n onverskrokke oopvlekking van ’n kanker aan die hart van ons samelewing.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateAug 30, 2013
ISBN9780624063278
Pastoor
Author

Pat Stamatélos

Pat Stamatélos is in Goodwood in die Kaap gebore. Ná die dood van haar ma op agtjarige ouderdom gaan woon sy by haar tannies in die Strand. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Hottentots-Holland, en drie jaar later verhuis sy na Johannesburg. Deesdae woon Pat in Randfontein, naby Krugersdorp. Haar debuutroman, Kroes (2005) is uitstekend ontvang. Twee jaar later word Die val van die dice (2007) gepubliseer met Die portier (2009) kort daarna. Sy volg dit op met Vier begrafnisse en ’n troue (2010) en Madeliefies van staal (2012). Kroes is vir die verhoog verwerk en is in 2008 landswyd opgevoer met akteurs Kim Engelbrecht en Nico Panagio in die hoofrolle.

Related to Pastoor

Related ebooks

Related articles

Reviews for Pastoor

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Pastoor - Pat Stamatélos

    PAT STAMATÉLOS

    Pastoor

    TAFELBERG

    Met dank aan prof. Deirdre Kruger en dr. Jörgen Kahler vir hulle kundige advies en hulp.

    die storie is die volle waarheid en die

    stukkende vroue getuig daarvan

    twirl.jpg

    Notas

    F.J. (Fred) Ziman

    Daar is ook ’n ander kant van die storie.

    Toe ek dié klomp papiere sien, het ek dadelik geweet wat dit is, dat Kleintjie probeer om ’n boek te skryf. Sy het nog altyd verlangs van ek gaan my storie skryf gepraat, maar ek het nie veel notisie geneem nie, gedink dis net praatjies. Ek het die eerste hoofstuk of so gelees. Nou reken ek as my ma, ons meisiekinders en vriende die boek eendag gaan lees, wil ek ook kommentaar lewer, ek is mos ook betrokke. Ek wil die kans hê om my kant ook te stel, indien nodig.

    Ek het per ongeluk op die getikte papiere afgekom. So het dit gebeur: Ek het ons studeerkamer binnegeloop en ’n laai oopgetrek op soek na ’n stapler. Ek skryf dit maar alles ter verduideliking. Onder in die laai was ’n blou lêer en ek het dit opgetel om te sien of die stapler onder lê. Op die lêer staan geskrywe Graad Een Punte en in die middel is ’n feetjie geplak. Dit was tipies van Kleintjie. Almal weet sy is feetjie-mal. Feetjies in die tuin, in die huis, op die kar se ruite, op al haar boeke geplak. Ek het die lêer oopgemaak, want dit was dik vir ’n paar punte. Toe kry ek die verrassing. Binne lê ’n pak papiere.

    Die lêer met die getikte bladsye. Op die eerste bladsy staan haar naam, in hoofletters. In die boonste hoekie het sy ’n feetjie geteken en met koki’s ingekleur. Onderaan die bladsy staan die naam van die een of ander uitgewer en ’n adres. Dit is toe dat dit my getref het. Ek het besef dat sy moontlik alles uitblaker. Ek het die risiko besef.

    Daar is dinge wat toe vir my begin sin maak het. Dit is wat haar snags tot wie weet watter tyd in die nag laat sit het. Ek onthou die nagte dat sy te besig was vir haar huismense, te besig om TV saam met ons te kyk en hoe sy vinnig die computer afskakel as ek onverwags die studeerkamer ingekom het. Sy het altyd gesê sy het werk gehad wat sy moes klaarmaak.

    Ek skryf al die goed sodat die leser die volle prentjie kan snap. Maar ek wou ook weet wat in die storie staan. Dit moet ek toegee. Ek het dus die papiere onder my trui ingedruk en saggies daarmee in die gang af geloop. Agter die toe slaapkamerdeur het ek begin lees, som­mer ’n sin hier en ’n woord daar. Ek was op my senuwees dat Kleintjie my met die goed gaan vang en toe het ek seker gemaak en haar met my sel­foon gebel. Sy het gesê sy is op pad huis toe, maar wil net by die apteek aangaan vir pynpille.

    Daar was dus nie tyd vir rustig sit en lees nie. Ek is terug studeerkamer toe en het begin om die bladsye te fotostateer. Dis ’n ou masjien, hy’s stadig, en ek het begin lees soos hy die bladsye uit­spoeg. Daar by die studeerkamer se venster het ek gestaan en lees, daar waar ek die hele oprit, van die hek na die garage toe, kan sien. Ek sou haar sien inkom.

    Ek het net ’n paar bladsye gelees toe gaan die voorhek oop en haar kar kom in. Maar gelukkig het die fotostaatmasjien toe net die laaste paar bladsye gedoen en ek kon dit afskakel. Die hoop fotostate het ek in ’n stuk koerant toegevou en die oorspronklikes in die blou lêer teruggesit, die lêer terug in die laai.

    In daardie stadium was ek reeds ontsteld oor van die goed wat ek gelees het. Ek wil dit weer net baie duidelik maak dat daar Klein­tjie se kant van die storie is, maar ook die sielkundige s’n, en myne.

    1

    twirl.jpg

    Ek skrik toe sy die ding nader aan my mond bring. Hande, borste en hare dwing al my kant toe soos sy vooroor lê, oor die breedte van die lessenaar. Vir die eerste keer kan ek haar van naby waar­neem, haar aandag nie by my nie.

    Sy is mooi gebou; nie plankdun nie, maar met sagte rondings, haar borste ook vol en rond en ’n goeie hand vol as ek daaroor kom­­mentaar moet lewer, en dis die sensuele kepie in daardie einste hand vol wat vlugtig ’n gevoel van onbetaamlikheid by my ontlok.

    Is als reg, mevrou Ziman? Sy klink besorg. Ek meet net die afstand.

    My oë spring terug na haar gesig. Ek knik my ja.

    Baie oplettend van haar, dink ek, om my ongemak so vinnig raak te sien; seker jare se ondervinding van verskrikte mense. Sy maak die mikrofoontjie voor my staan, maar nie té naby nie en skakel dit aan, kyk na my asof vir goedkeuring, haar lyfie nou reg­op tussen stoel en lessenaar.

    My knik voel meganies, en dan kry ek uiteindelik weer my stem: Ja, als reg, sê ek, maar is ’n bandopnemer regtig nodig? Ek pro­beer so rustig en beleefd moontlik klink terwyl my hart in my keel klop. Ek gee ’n klein hoesie.

    Was ek so senuagtig met die eerste besoek?

    Nee. Ek was te depressief om om te gee. Soos ’n bang hond het ek eenvoudig stert tussen die bene op my rug omgerol en my keel uitgehou. Wat het sy van my gedink, so onderdanig?

    En nou ’n bandopnemer. Bid jou aan. Waar is die dae toe terapeute met pen en papier gesit het en jy agterna nog ’n kans gehad het om te sê hy het ’n fout gemaak, dis nie presies wat jy gesê het nie? Of dalk het jou gesigsuitdrukking iets anders laat blyk wat hy moes opgemerk en so genoteer het, wat ook al.

    Rusty shorthand, sê sy met ’n lag in haar stem.

    Dis nou ’n antwoord, dink ek. Is sy nie veronderstel om simpa­tiek te wees nie? Vol deernis, begrip, medelye, barmhartig … nee, wag, ek praat nou uit die Bybel uit. Maar nogtans, ek is nie seker of ek moet lag of huil nie.

    ’n Grapjas vir ’n sielkundige. Maar daar is seker ’n eerste vir alles.

    Nietemin, ek moet erken haar stem is strelend, haar oë sag – so sag dat my verkreukelde persepsies dreig om georden te word en dit vir my voel asof my inhibisies my wil verlaat. Haar mooi koppie laat sy dikwels kantel as sy jou met die ene konsentrasie aan­kyk. Dit het ek al die eerste dag agtergekom.

    My eerste reaksie, nee, instink, toe een van my kollegas by die skool my aanraai om ’n shrink te gaan sien, was: hárdloop, shrinks is vir ongebalanseerde mense, snaakse mense. Vir mal mense, het ek gedink, en ek is nie een van húlle nie, al praat ’n mens nie so van húlle nie. Dit het baie wik en weeg gekos voor ek teësinnig die telefoon kon optel om te bel, my enigste gedagte: soos ’n lam ter slagting.

    Daar was so baie sielkundiges waaruit ek kon kies.

    Ek het eers op die internet gaan kyk, toe die telefoongids deur­geblaai. Die internet was verwarrend, die telefoongids niksseggend, mense ontkennend. Jou dokter mag nie weet nie en jy kan tog nie iemand trompop loop en vra vir ’n verwysing net omdat jy ’n spes­maas het die persoon sien ’n sielkundige nie. Dis soos om ’n vrou te vra om ’n plastiese chirurg aan te beveel. Ekskuus? Waarom vra jy mý?

    My verbeelding het op hol gegaan. In my geestesoog kon ek hulle sien staan soos ertjies in ’n peul, almal eenders. Dieselfde snyers­pakkies, oninteressante wit bloese, eenderse hofskoene, dalk ’n serp of beskeie stringetjie krale, min grimering en soortgelyke sagte haarstyle en met ’n sieklik soet glimlag, pen in die hand. Agterdog op hul gesig.

    Toe kies ek haar: Wanda van Vollenhoven.

    Ek het haar naam gekry van ’n effens geskeurde vuil pamflet wat die wind teen my tuinhekkie aangewaai het. Ek het na die pa­piertjie gegryp toe die wind dit weer ’n keer skep en teen my plak. Ek was half verblind deur stof en my slierte hare, maar die woorde kliniese sielkundige het my oog gevang en ek het die pamflet in my handsak gedruk, later uitgehaal en dit rustig op die toilet ge­sit en lees.

    Wanda van Vollenhoven.

    Haar naam alleen het by my die beeld opgeroep van ’n be­to­we­rende intellektueel en ek het dadelik haar naam en nommer op my selfoon ingetik, die pamflet in die toilet weggespoel. Wie weet, het ek gedink, dalk sou sy die antwoorde op al my lewensvrae hê.

    Wat sal sy oor jou sê, Pastoor? Sál sy ooit by jou uitkom? Is jy die probleem, of is ek die probleem? Sy die sielkundige, die psi­goloog, die sielvrou, die ontleder. In haar spreekkamer is alle pro­bleme oorkomelik. Wees rustig, jou beurt kom nog, dis nou myne.

    Wanda die kliniese sielkundige.

    Agterna het ek haar op die internet gaan soek, maar tevergeefs. Kan ’n mens iemand vertrou wat nie die moed het om haar dienste op die internet te adverteer nie? My toe bygeval die flerries adverteer ook daar.

    Ek het haar kwasi-anonimiteit daaraan toegeskryf dat sy so goed in haar werk en dus so besig is dat sy nie hóéf te adverteer nie. ’n Shrink is ’n shrink, het ek desperaat besluit, ek kon nie langer uit­hou nie, ek het nou hulp nodig, of dan ten minste raad. Soggens kon ek nie opstaan nie en die res van die dag sleep ek myself voort van die een gesiggie na die ander, die een boek na die ander, son­der dat ek die naam onderwyseres werd is.

    Agter my toe slaapkamerdeur (ek moes eers moed bymekaarskraap om vir my man, Fred, te sê) het ek haar nommer geskakel met die hoop om darem oor ’n week, miskien twee op die meeste, ’n uurtjie van haar besige tyd te bekom.

    Sy het die foon self geantwoord en die wind was skoon uit my seile. Die skielike kontak, die aanhoor van die shrink se stem, was meteens oorweldigend. Ek het ’n bietjie gehoes en geproes, gewens daar was eerder die onpersoonlike, amper onbelangstellende stem van ’n ontvangsklerk.

    Ek wil net ’n bietjie gesels, het ek verskonend gesê, seker ek klink soos ’n ellendeling wat mense moet betaal om met haar te praat. Ek ly aan depressie, ek het berading nodig … het ek onseker voortgeploeter, gevoel soos ’n opperste gek, en toe nogal met nadruk bygevoeg: … ek dínk.

    Ons noem dit terapie, nie berading nie, het sy gesê, saaklik maar nie onvriendelik nie. Sal vieruur jou pas?

    Watter dag? het ek verskrik gevra.

    Vandag. Wat is jou naam?

    Vandag? My naam? Die selfoon het in my hand gegly.

    Al naam waaraan ek kon dink, was my van, Ziman. Voornaam en noemnaam vergete. Gelukkig het sy nie gevra nie en ons het mekaar beleefd gegroet, ’n wedersydse totsiens, Mevrou, maar nét toe ek die oproep wou beëindig, roep sy na my: Mevrou Ziman! Glo jy in feetjies?

    In feetjies? Ek was heeltemal oorbluf.

    Ja. Glo jy in feetjies?

    Uhm … nee. Ek was effens onseker, nie geweet of die vraag ’n toets was met die bedoeling om die gewone siel van die awe­regse te onderskei nie. Dis kleingeestig van haar, het ek gereken, selfs onsensitief.

    Daar was ’n stilte tussen ons, ingehoue asems, toe sê sy: Hmm … totsiens, en lui af.

    Ek het werklik ’n lang geskiedenis van slegte keuses, dit strek tot by … ek wil amper sê geboorte, en ek het gewonder of ek die regte persoon gekies het. Maar soos honderd maal tevore het ek nie in staat gevoel om om te draai nie. My keuse vasgeknoop.

    Die eerste dag het sy my op die boonste treetjie ingewag, haar voete omtrent weggesak in die oorvloed van ’n skelpienk-en-pers mat van wol. Haar veelkleurige chiffon-uitrusting het tot op haar tone geswiep. Sy het in ’n ou houtstoel met wieletjies gaan sit by ’n tafel wat as lessenaar gedien het; ek oorkant haar op ’n houtbank. Sonder omhaal het sy my gevra waaroor ek haar kom sien, en ek het sommer prontuit vir haar gesê ek ly aan depressie, nie nodig om te wag dat sy dit vir my moet uitspel nie. Vat my geld en maak ’n einde aan my lyding, het ek gereken.

    Ons lewe in ’n era waar alles kits is en ek wou ook kitsoplossings van haar hê. Agterna, by die huis, het ek eers besef daar is nie iets soos ’n quick fix nie, dat ek sal moet teruggaan vir verdere terapie om die sogenaamde sluimerende depressie onder die knie te probeer kry, in die hoop dat my probleem (probleme?) nie té ingewik­keld is nie. Wat sy my wel gegee het, was die emosionele onder­steuning om daardie dag aan te gaan tot hier waar ek van­dag weer in haar spreekkamer is.

    As ek net presies kan weet wat my probleem is. ’n Mens kan tog nie jou verlede ongedaan maak nie, kan jy? My lewe voel soms soos ’n tapisserie van verkeerde mense, verkeerde besluite, regte vrese. Daar is so baie dinge.

    Luister na die tortelduiwe, Kleintjie, is dit nie pragtig nie? Net so pragtig soos jy, het jy gesê. My pastoor. Verkeerde mens, verkeerde besluit, regte vrees. Maar dis lankal oor en verby. Waarom bly spook dit? Soos ’n stem uit ’n slopemmer.

    Haar kantoor lyk soos ’n toneeltjie uit ’n sprokiesboek en ek pro­­beer my daarop instel dat ek op die mooi om my konsentreer. Soos op die donkerpers viooltjies in helderkleurige kera­miek­potjies en feetjies wat tussen die blare pryk, die een se uitrusting meer uitspattig as die ander een. Links van my is ’n piepklein teekoppie en piering, en ek leun oor om te sien wat in die koppie is, lyk soos teeblare. En in die middel van die teeblare … nog ’n feetjie! Elke feetjie met ’n towerstaf in haar hand.

    Ek dink verlede week het Wanda my net deurgekyk, want van­dag is ek opgegradeer van die ontvangslokaal na wat sy haar sessiekamer noem. Van ’n houtbank na ’n gemakstoel. Maar hierdie sessiekamer is net so boheems en onkonvensioneel soos haar ont­vangs, net so vol feetjies. Nie sprake van kliniese wit nie, of dalk dink ek aan hospitale of psigiatriese inrigtings. Wys jou.

    Ek bekyk die vrou voor my skelmpies. Te oordeel na haar voor­koms kan sy netsowel saam met die feetjies in ’n koppie vol teeblare of ’n blompot vol viooltjies sit. ’n Pixie pleks van ’n sielkundige wat ongestoord en gemaklik weggesink sit in haar yslike stoel van dons en spons, op die gevaar af om heel ingesluk te word. Ek sit ver terug, probeer so ontspanne soos sy lyk, druk my lyf dieper in die milddadige sagtheid van die stoel in.

    Toe sy my vierkant aankyk, merk ek ’n vonkel in haar oog, die pruilmondjie wat skrams in ’n halfmaantjie verander. Wag sy vir my om te praat?

    My moed sak, ek is nie gereed nie.

    Wat is ek vir haar? Gevallestudie nommer … duisend? Die arme vrou, sy het nog nie eens begin nie en ek kry haar reeds jammer.

    Ons het met jou eerste besoek gepraat oor die kwessie van die mikrofoon en jy het toestemming gegee, maar as dit jou enigsins ongemaklik laat voel …

    Nee, dis reg so, jok ek vinnig. Sy moenie dink ek steek iets weg nie. Ek wil ook nie kinderagtig voorkom deur bang te wees vir ’n mikrofoon nie; by die skool leer ’n mens gou genoeg om in die ding te praat. Ontspan, ontspan …

    Dit val my by, sy hét verlede week gepraat van ’n mikrofoon, en ek hét ja gesê, maar ek was toe so swartgallig en só buite weste dat ek nie nou kan onthou presies wie wat gesê het nie. Vandag is Maandag, dit weet ek wel, dis vieruur, haar kantoor is nie groot nie en dis warm binne. ’n Venster is oop, maar daar trek nie ’n luggie nie, selfs die gordyne hang slap. Ek probeer ongesiens die sweet wat op my hande pêrel aan my langbroek afvee.

    Het sy dan nie lugreëling nie?

    Kry haar feetjies koud?

    Kry sy koud? Is dit net ek?

    Haar dekor is alles in skakerings van groen en wit, en ek sit en wonder of dit ’n dieper betekenis het, want sý is ook in groen ge­klee, met groot wit oorbelle. Blinkertjies en valletjies oor die lengte en breedte van haar bloes, soos ’n blommekind van vyftig jaar ge­lede. Al wat kort, is die bandana.

    Dit moes baie moed geverg het om hierheen te kom, sê sy, om met ’n vreemdeling te praat oor die gevoel wat dreig om jou ruimte van veiligheid op sy kop te keer. Amper soos ’n kind se bang gevoel.

    Sy onthou goed. Dit was wat ek laas vir haar gesê het, alhoewel nie heeltemal so beskrywend nie. Sy het ’n maniertjie om aan die punt van haar neus te vat, en ek wonder of daar enige betekenis aan te heg is.

    Soos almal wat aan dié onnoembare, donker siekte ly, voel ek ook soos ’n uitgeworpene, belas met die alewige vraag: Waarom ék? Dalk sal sy vir my iets kan bied, iets soos ’n lewensfilosofie.

    Dis miskien makliker gesê as gedaan, sê sy, maar ek wil hê jy moet probeer ontspan.

    Haar stem ruk my uit my gedagtegang uit en ek sit ’n aks vo­ren­toe, onthou sy het gesê ek moet ontspan, sit weer agtertoe.

    Verbeel jou ek is die goeie feetjie wat bo-op die Kersboom sit. Vertel my van al jou vrese, jou probleme, alles wat jou saans laat wakker lê en ek sal my toorstokkie swaai en alles wat jou pla, sal mettertyd soos mis voor die son verdwyn. Sy swaai haar pen heen en weer terwyl sy praat.

    Het ek reg gehoor?

    Ek is verwerp, mishandel, ly aan depressie, toon selfmoordnei­gings, en dié vrou praat oor ’n goeie feetjie, nogal bo-op ’n Kersboom, haar eie pen niks minder as ’n towerstaf nie.

    Ons staar mekaar aan oor die ontsaglik groot eikehoutblad, wat byna heeltemal bedek is met plantjies, plastiekdiertjies, feetjies, kerse en parafernalia. Daar is ’n waterfles bedek met ’n outydse ge­hekelde doilie met ’n soom van ’n verskeidenheid van geborduur­de feetjies. Oulik as

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1