Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Goue gerf: Verhaal 2 in omnibus 2
Goue gerf: Verhaal 2 in omnibus 2
Goue gerf: Verhaal 2 in omnibus 2
Ebook322 pages5 hours

Goue gerf: Verhaal 2 in omnibus 2

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In Die goue gerf bepaal die pragtige Elizabeth Bornman haar by haar mediese studies. Sy moes as kind met die vernedering saamleef dat sy ’n aangenome en dus heel moontlik ’n buitegtelike kind is en nou het sy haar voorgeneem om na haarself om te sien. Die man wat haar verower sal iemand moet wees na wie sy werklik kan opsien. Ryk Malan vind Elizabeth onweerstaanbaar, maar hoe moet ’n warmbloedige man met so ’n ysprinses maak? Wanneer Elizabeth na haar werklike ouers begin soek raak sy met die Hugo’s bevriend, min wetend waar sy uiteindelik haar antwoorde gaan vind.
LanguageAfrikaans
Release dateNov 10, 2012
ISBN9780798157698
Goue gerf: Verhaal 2 in omnibus 2
Author

Tryna du Toit

Een van die bekendste name in Afrikaanse liefdesverhale. Groen koring is Tryna du Toit se bekendste verhaal en is verfilm as Debbie. Die film is in Maart 2007 weer op kykNet uitgesaai. Jamie Uys was die vervaardiger en Elmo de Witt was verantwoordelik vir die regie. Tryna is in Oktober 2005 oorlede op die ouderdom van 95 jaar.

Read more from Tryna Du Toit

Related to Goue gerf

Related ebooks

Related articles

Reviews for Goue gerf

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Goue gerf - Tryna du Toit

    cover.jpg

    Goue gerf

    Tryna du Toit

    HUMAN & ROUSSEAU

    Die Goue Gerf

    DIE GOUE GERF

    Hoofstuk 1

    Dames en here, dis al vir vandag. Goeiemiddag.

    Professor George Marais, professor in chirurgie, sluit die hele saal met sy groet in en stap dan haastig uit. Met sy regop, forse gestalte, ruie wit hare en deurdringende blou oë is hy ’n imponerende en dikwels vreesinboesemende figuur. Hy is ’n briljante chirurg wat die agting en bewondering afdwing van alle studente wat bevoorreg is om sy lesings by te woon of toe te kyk wanneer hy ’n delikate en ingewikkelde operasie uitvoer.

    In groepies verlaat die studente die lesingsaal. Dit is Vrydagmiddag, die laaste lesing is verby, en daar is die heerlike vooruitsig van die naweek wat voorlê. In ’n lang streep stap hulle die breë hospitaalgang af, ’n interessante en opvallende groepie in hulle wit jasse. Party gesels nog oor die lesing, ander bespreek druk hulle planne vir die naweek.

    ’n Hospitaalkruier, oud en effens geboë, trek sy trollie ’n bietjie opsy sodat die studente kan verbykom.

    Hallo, Isak, groet die jong mense in die verbygaan en hy groet vriendelik terug terwyl hy hulle met ’n glimlaggie betrag. Dis al baie jare dat hy hulle sien kom en gaan, jong mediese studente in die fleur van hulle lewens, besiel met hoë ideale en ambisies vir die toekoms, die dokters en professors van môre.

    Feitlik aan die end van die streep stap Ryk Muller, half ingedagte, nog vol van die lesing wat so pas verby is. Hy is lank en skralerig gebou met mooi breë skouers. Sy gesig is sterk maar sensitief en hy het lewendige groenbruin oë en kort, donker hare.

    Twee jong verpleegsters kom haastig die gang af. Ryk kyk op en hy glimlag toe hy die rooikop herken.

    Haai, Winnie! Waarheen so haastig?

    Die meisie se glimlag is warm. Ons gaan tennis speel. Het jy nie lus om saam te kom speel nie?

    Jammer, maar ek gaan ’n bietjie huis toe die naweek.

    Gelukkige, bevoorregte mense wat elke naweek huis toe kan gaan sonder om eens een keer te dink aan die arme ouens wat hulle afsloof in diens van die mensdom.

    Haar opgewekte glimlag weerspreek haar woorde en Ryk glimlag ook. Pas op dat jy jou nie doodwerk nie.

    Ek sal! Tot siens, Rykie! Geniet die naweek.

    Ryk stap glimlaggend weg terwyl die twee verpleegsters hom nog ’n oomblik agterna kyk.

    Ryk Muller, ’n vyfdejaar, sê Winnie aan haar maat, ’n betreklike nuweling by die hospitaal. ’n Oulike ou. Was verlede jaar kaptein van Tuks se eerste rugbyspan. Hy speel heelagter. Maar ek hoor hy speel nie weer vanjaar nie.

    Waarom nie?

    Weet nie. Hy het verlede jaar sy skouer seergemaak, maar hy het daarna weer gespeel. Miskien is hy te besig; die vyfdejaars werk hard. Sy kyk die donkerkop met ’n glimlaggie agterna en herhaal: ’n Oulike ou en ’n doring op die rugbyveld. Nie ’n bang haar op sy kop nie, behalwe wanneer dit by vroumense kom. Vir hulle is ou Rykie glo maar versigtig.

    Net voor Ryk stap een van die meisiestudente, ’n blonde meisie, Elizabeth Bornman. Selfs die los wit jas kan nie die slanke lyne van haar mooi jong liggaam verberg nie. Haar hare is ’n diep, suiwer goud, haar oë ’n helder, treffende blou en haar mooi vel is goud getint deur die son. Haar houding is grasieus, maar die uitdrukking op haar gesig is effens hard en die mooi blou oë is koel, dikwels spottend.

    Ryk versnel sy pas en val langs Elizabeth in. Sy kyk op en daar is ’n glinstering in haar oë.

    Haai, Rykie, sê sy spottend.

    Ryk grinnik. Dan het sy gehoor! Hy kan hom so vervies as die meisiekinders hom Rykie noem, en Elizabeth Bornman weet dit baie goed.

    Interessante lesing, merk hy op.

    Puik, antwoord sy bondig.

    In stilte stap hulle saam na hulle motors, wat so ’n entjie van die hoofgebou af geparkeer is. Daar is ’n fronsie op Elizabeth se gesig en Ryk wonder waaraan sy dink.

    Ek begin Maandag met kraamwerk, sê hy. ’n Hele drie weke voordat julle my weer sien.

    Die blou oë glimlag. Sal ons dit oorleef?

    Ek dink so. Bêre vir my jou notas, sal jy?

    Graag, aangesien jy dieselfde vir my gedoen het.

    Ryk kyk af na die meisie wat langs hom stap. Hy is bewus van haar skoonheid, maar ook van haar stille afgetrokkenheid. Hy en Elizabeth Bornman loop die laaste drie en ’n half jaar saam klas en hulle het al dikwels saam gaan dans en gaan fliek of spesiale lesings bygewoon. Tog bly die meisiekind vir hom ’n raaisel en ken hy haar nie veel beter as aan die begin nie.

    Wil jy nie vanaand saam met my gaan fliek nie? vra hy skielik. Jy weet self hoe dit gaan; daar sal die volgende paar weke nie veel kans vir rondloop wees nie.

    Gaan jy nie die naweek huis toe nie?

    Ek kan môre gaan. Of selfs vanaand ná die fliek. Johannesburg is nie so baie ver nie.

    Sy skud haar kop. Jammer, ek het reeds ’n afspraak.

    Sy klink nie baie jammer nie, dink hy. Oswald Pienaar?

    Maak dit saak wie dit is? vra sy liefies.

    Nee. Natuurlik nie, antwoord hy koel, vies vir homself omdat hy gevra het.

    Sy glimlag effens. Gaan jy nie môreaand na Julian se verlowingspartytjie toe nie?

    Nee. Ek gaan liewer huis toe. Gaan jy?

    Nee. Sy aarsel ’n oomblik. Ek gaan ook die naweek huis toe. My pa is in die hospitaal; hy het onlangs ’n hartaanval gehad.

    Ryk kyk vinnig af na haar. Dis die eerste keer dat sy uit haar eie van haar huis of familie melding maak. Haar gesig is stil en geslote en verraai nie haar gedagtes nie.

    Ek is jammer om dit te hoor, sê hy simpatiek. Jou huis is êrens in die Noord-Transvaal, nie waar nie?

    Oudendal.

    Hoe gaan jy? Met die Fiat?

    Sy knik.

    Alleen?

    Dis nie ver nie. Bietjie meer as ’n honderd myl.

    Dink jy die Fiat sal dit maak?

    Ek dink so! Sy klink geamuseerd en hy kyk effens onseker na haar.

    Dan sê hy bruusk: Dis nie nodig dat ek die naweek huis toe gaan nie. As jy wil, sal ek jou graag na jou pa toe neem.

    Sy kyk verras op na hom, ’n oomblik van stryk gebring deur die onverwagte aanbod. Dan skud sy haar kop. Nee dankie, Ryk. Ek . . . ek verkies om alleen te gaan.

    Hy dring nie verder aan nie. Hy stap saam met haar tot by haar motor, ’n klein swart Fiat van onsekere jare, en maak die deur vir haar oop. Sy klim in en kyk op na hom. Weer glimlag die blou oë.

    Geniet die naweek. En sterkte vir die kraam. Ek hoop jy kry ’n halfdosyn tweelinge.

    Dankie, ek waardeer jou goeie wense, antwoord hy onverstoord. Veilig ry.

    Dankie, Rykie! Ek sal. Auf wiedersehen.

    Ryk glimlag effens, maar daar is ’n frons tussen sy donker wenkbroue toe hy na sy eie motor toe stap. Moedswillige, onbegryplike vroumens! Hy het hom al meermale voorgeneem om haar te ignoreer, maar Elizabeth Bornman is nie iemand wat mens maklik kan ignoreer nie. Sy is ’n briljante student en daarby is sy een van die mooiste meisies wat hy ken. Maar ’n man soek tevergeefs na vroulike sagtheid en warmte by haar. Sy is so hard en blink soos ’n diamant en net so koud. Sy spot met alles en almal en dit traak haar blykbaar nie wat ander van haar dink nie. Hy is bewus van al hierdie dinge en tog geniet hy dit om saam met haar uit te gaan en voel hy sterk aangetrokke tot haar. Hy sou graag saam met haar huis toe wou gegaan het, graag kennis wou gemaak het met die pa en ma van so ’n besonderse dogter. Teen die agtergrond van haar eie huis en familie sou hy dalk ook ’n beter begrip kon kry van haar komplekse, prikkelende persoonlikheid. Maar sy het hom baie goed laat verstaan dat sy nie sy geselskap wil hê of sy dienste nodig het nie.

    Elizabeth ry by die hospitaalhek uit. Terwyl sy by die verkeerslig wag, dink sy aan Ryk Muller en hulle gesprek. Sy sou graag vanaand saam met hom wou uitgegaan het, veral omdat hy die volgende drie weke vas sal wees, maar Oswald Pienaar het reeds gereël dat ’n paar van hulle vanaand gaan eet en dans en sy kan hom nie goedsmoeds so op die tippie in die steek laat nie. Ryk moet ook leer dat hy ’n meisie betyds moet vra as hy wil hê sy moet saam met hom uitgaan, veral op ’n naweeksaand. Sy aanbod om saam met haar Oudendal toe te ry het haar verras, maar daar is nie sprake daarvan nie.

    Die verkeerslig verander en vinnig skiet die Fiat vorentoe.

    Elizabeth loseer so ’n entjie uit die middestad. Die gehalte van die kos en bediening is maar bra middelmatig, maar die plek is skoon en netjies en sy het ’n ruim noordekamer. Daarby is die losieshuis taamlik naby aan die hospitaal geleë en pas dit haar sak. En, belangrikste van alles, sy is haar eie baas. Die eerste paar jaar was sy verplig om in die meisieskoshuis te bly omdat haar voog daarop aangedring het, maar gelukkig het die koshuisreëls nie voorsiening gemaak vir senior mediese studente nie en aan die einde van haar derde jaar kon sy die koshuislewe met al sy beperkings en sy gebrek aan vryheid en privaatheid, waarteen haar selfstandige gees so dikwels in opstand gekom het, met verligting vaarwel roep. Ná soveel jare in koshuise – sy was nege jaar oud toe sy vir die eerste keer dorpskoshuis toe gegaan het – was dit vir haar of sy ’n nuwe wêreld betree het.

    Sy en ’n vriendin het eintlik beplan om saam ’n woonstel te huur, maar haar voog wou nie sy toestemming daarvoor gee nie. Sy was pas twintig jaar oud en hy het voorgestel dat sy by ’n gesin inwoon – hy het toevallig geweet van mense wat bereid is om haar as loseerder te neem – maar daarteen het sy hand en tand geveg. Sy het mooigepraat en hom daarop gewys dat sy dikwels by die hospitaal diens moet doen en dat haar ongereelde ure net ongerief vir die huismense sou veroorsaak. Op die ou end het hulle met verblyf in die losieshuis tot ’n vergelyk gekom. Die uitstekende resultate wat sy nog altyd in haar kursus behaal het, het seker gehelp om hom te oorreed.

    Verlede September het sy een-en-twintig jaar oud geword en kon sy die ideaal om haar eie woonstel te hê uiteindelik verwesenlik, maar toe was daar weer ander dinge. Die Fiat wat sy aan die begin van die jaar gekoop het, het ’n groot gat in haar bankrekening gemaak en haar ander uitgawes was hoër as wat sy bereken het. Sy het besef dat sy baie mooi te werk sou moet gaan om met haar geld uit te kom tot aan die einde van haar kursus. Haar vriendin het intussen ook ander planne gemaak en die weelde van ’n eie woonstel kon sy net nie bekostig nie. Daarvoor sal sy nog ’n rukkie langer moet wag.

    Toe sy by die losieshuis kom, stap sy eers briewerak toe, maar daar is geen pos vir haar nie. Sy het aan haar pa geskryf dat sy van plan is om die naweek te kom en sy het verwag om van hulle te hoor. Hulle dink seker nie dis nodig om te skryf nie, aangesien sy tog self kom. Briewe is in elk geval maar ’n seldsame gebeurtenis in haar lewe en met ’n filosofiese skouerophaling skud sy die ligte gevoel van teleurstelling van haar af. Daar is twee lekker vet briewe vir Ethel Fourie, ’n jong onderwyseres met wie sy taamlik goed bevriend geraak het, en ’n oomblik staar sy met ’n vreemde gevoel van jaloesie en verlange na Ethel se briewe. Dan draai sy om en stap vinnig weg. Sy sal dadelik gaan bad, besluit sy. Oor ’n rukkie begin die loseerders van hulle werk in die stad af terugkeer en begin die groot stormloop na die badkamers. Nou sal daar nog volop warm water wees.

    Sy is net terug in haar kamer ná ’n lekker warm bad toe daar aan haar deur geklop word. Dis Ethel Fourie wat om die deur loer.

    ’n Telegram vir jou, Elizabeth. Nou net gekom.

    ’n Telegram! Elizabeth voel hoe haar hart ruk. Het haar pa weer ’n hartaanval gehad? Dié keer miskien noodlottig? Met ’n gesmoorde dankie neem sy die telegram by Ethel, wat haar besorg aankyk. Sy sien hoe bleek Elizabeth skielik geword het.

    Ek hoop nie dis slegte nuus nie.

    Haastig skeur Elizabeth die oranje koevert oop en angstig lees sy die paar woorde. Dan sug sy verlig.

    Dis net ’n boodskap van my stiefma om te sê dat my pa terug is op die plaas en dat hulle my die naweek verwag.

    Ek is bly, sê Ethel. Ek was bang jou pa is dalk sieker. Nou ja, ek sien jou weer. Ek wil gou gaan bad.

    Glimlaggend gaan sy by die kamer uit. In haar hand hou sy haar twee briewe, nog onoopgemaak.

    Elizabeth gaan sit op die bed en betrag weer die telegram. Sy het groot geskrik. As haar pa nou moet sterf voordat sy ’n geleentheid kry om met hom te gesels en iets meer oor die verlede uit te vind sal dit ’n bitter slag vir haar wees. Hy is die enigste een wat haar kan help, wat haar miskien ’n leidraad kan gee om haar in haar soektog te help. Hy kan nie, hy mag nie nou sterf nie.

    Sonder veel geesdrif begin Elizabeth ’n rukkie later aantrek. Gedurende die week werk sy hard, maar naweke ontspan sy graag indien haar werk dit toelaat, en sy het vroeër nogal uitgesien na vanaand. Oswald Pienaar is ’n sjarmante en amusante jong man, ’n bekende en gewilde persoonlikheid in sport- en sosiale kringe in die stad. Hy is ’n sesdejaar-mediese student, maar weens sy baie bedrywighede het dit hom tot dusver drie jaar langer as gewoonlik geneem om klaar te maak. Hy is die enigste seun van welgestelde ouers, ’n kranige rugbyspeler en die universiteit se gholfkampioen. Sy duur, vinnige sportmotor is goed bekend by sowel die hospitaal as die universiteit en hy is die held van menige jong verpleegster en student. Hy was verloof en het reeds op trou gestaan toe die verlowing twee jaar gelede skielik beëindig is. Daar was allerhande gerugte en skinderpraatjies oor ’n jong verpleegster wat selfmoord probeer pleeg het, maar sy weet nie hoeveel waarheid in die verhaal steek nie. Die verpleegster het in elk geval van die toneel verdwyn en niemand het weer iets van haar gehoor nie. Sedertdien het Oswald ’n hele paar meisies uitgeneem, maar hy was blykbaar versigtig om nie weer in ’n ernstige verhouding betrokke te raak nie. Van die begin van die jaar af het hy skielik in Elizabeth begin belang stel en hulle het die afgelope tyd taamlik dikwels saam uitgegaan. Oswald is ’n lekker metgesel wat die kuns verstaan om ’n meisie mooi en belangrik te laat voel, en Elizabeth is ’n bietjie gevlei deur sy belangstelling. Maar vanaand is sy vreemd genoeg nie in die bui vir Oswald Pienaar nie.

    Is dit die gedagte aan die telegram en die naweek wat voorlê wat haar so asosiaal laat voel? wonder sy. Of is dit die herinnering aan Ryk se uitnodiging wat haar geesdrif vir die aand so ’n bietjie bederf het?

    Dit was vriendelik van Ryk om aan te bied om môre saam met haar Oudendal toe te gaan, dink sy, en heimlik is sy spyt dat sy nie die aanbod kon aanvaar nie. Dis ’n lang, vervelige pad en goeie geselskap sou gehelp het om dit korter te maak. Maar dis natuurlik buite die kwessie en buitendien het Ryk reeds gereël om die naweek huis toe te gaan.

    Watter soort familie en huis het Ryk? wonder sy. Sy weet sy pa is in die redaksie van ’n aandkoerant en sy ma ’n bekende skryfster van kinderverhale. Ryk is die jongste van drie kinders. Sy broer is in Amerika, waar hy verder studeer, en sy suster is getroud en woon in Johannesburg. Ryk is twee, drie jaar ouer as Elizabeth. Hy het eers sy B.Sc.-graad voltooi voordat hy met die mediese kursus begin het. Van haar tweede jaar af loop hulle saam klas en deur die jare het sy hom leer ken as ’n interessante jong man en ’n skrander, hardwerkende student. Hulle is goeie vriende en gaan dikwels saam uit, maar dit is al. Ryk het groot planne vir die toekoms en daardie planne sluit nie ’n vrou in nie, altans nie vir ’n hele paar jaar nie. Dit pas haar goed. Ook sy stel hart en siel in haar werk belang en sy is nie van plan om haar toekomsplanne te verongeluk ter wille van ’n illusie wat so dikwels vir die vrou net teleurstelling bring nie. ’n Hele klomp van hulle klasmaats is reeds getroud, ’n paar van hulle het al gesinne, maar sulke kortsigtigheid lok by haar net ongeduld en minagting uit. Hoe kan ’n man sy ambisies en ideale verwesenlik, iets in die wêreld bereik, as hy homself met ’n vrou en kinders opsaal voordat hy behoorlik op sy eie voete staan?

    Sy haal ’n blou rok uit die kas en trek dit aan. Dis ’n ou rok, maar die snit is uitstekend en die kleur staan haar goed. Sy het klere nodig, maar dit sal so ’n rukkie moet wag. Sy moet nog twee duur handboeke koop, die Fiat moet nuwe bande kry en die tandarts moet betaal word. Aan die begin van haar kursus het sy gedink sy sal ruimskoots uitkom met haar trustgeld en selfs nog iets oorhou om ’n paar instrumente mee te koop as sy die dag klaar is, maar die lewenskoste het so kwaai gestyg en daar is so dikwels onvoorsiene uitgawes dat sy versigtig te werk sal moet gaan om uit te kom.

    Krities beskou sy haarself in die spieël, dan knik sy tevrede. Selfs ’n kenner soos Oswald Pienaar sal geen fout met haar kan vind nie.

    Hulle het afgespreek dat Oswald haar seweuur kom haal, maar dit is byna halfagt voordat Elizabeth sy ligte klop aan die deur hoor. Hy het vir haar ’n skouerruiker van rose en angeliere en ’n doos sjokolade gebring.

    ’n Soenoffer? vra sy koel toe sy dit by hom neem.

    Oswald Pienaar glimlag. Hy is sterk gebou met blonde hare en ’n ligte vel, en in sy wit aandbaadjie lyk hy besonder aantreklik.

    Jammer ek is laat, maar daar was ’n rugbyvergadering wat ek moes bywoon. Ek hoop nie jy was onrustig nie.

    Onrustig? Waarom sou ek onrustig wees?

    Ek kon in ’n paal vasgery het, om maar een voorbeeld te noem, en bewusteloos op straat gelê het.

    Dan sou dit jou verdiende loon gewees het. Jy het al genoeg waarskuwings gehad om stadiger te ry.

    Ongevoelige vroumens! Ek begin regtig glo jou hart is van klip.

    Onmoontlik. Verkalking van die are is ’n onbekende verskynsel op my leeftyd.

    Hy lag. Jy is heeltemal te slim. En baie, baie mooi vanaand. Maar dit weet jy natuurlik.

    Natuurlik!

    Op die divan lê haar wit stola, aandsakkie en ’n blou serpie wat met blinkertjies versier is. Sy tel dit op en draai na hom. Ek is reg.

    Buite op die sypaadjie wag Oswald se roomwit sportmotor. ’n Klein bende bewonderende seuntjies staan rondom dit geskaar.

    Hoe vinnig kan hy ry, Oom? vra ’n sproetgesiggie van vyf, ses jaar gretig.

    Wat kos hy, Oom? wil ’n ander een, ’n bietjie meer vrypostig as sy maatjies, weet.

    Oswald is gewoond aan die belangstelling en bewondering wat sy mooi motor oral uitlok en beantwoord die vrae gemaklik terwyl hy vir Elizabeth die deur oopmaak. Sy bind die serpie om haar hare en hy klim langs haar in. Sy geniet dit om saam met Oswald te ry. Hy ry vinnig, maar is nie ’n roekelose bestuurder nie. Buitendien is hy al soveel kere beboet en gewaarsku omdat hy te vinnig ry in die stad dat hy verplig is om die snelheidsbeperkings in ’n mate te gehoorsaam.

    By die restaurant wag die ander reeds vir hulle: Poena van Schalkwyk, Tukkies se uithalervleuel, ’n lenige rooikop, en sy meisie, Denise, en Gys le Roux, ’n lektor in Dierkunde aan die universiteit en sy vrou, Thea. Die Le Rouxs en Ryk is goed bevriend en Elizabeth is effens verbaas om hulle vanaand hier te sien. Albei die mans het aandbaadjies aan en die twee vrouens lyk mooi in hulle helderkleurige aandrokke.

    Oswald maak verskoning omdat hulle laat is en bestel sjampanje. Dit blyk nou dat dit sy verjaardag is en almal wens hom geluk. Hy eis van Elizabeth ook ’n soentjie, wat sy ongestoord gee.

    Die kelner neem hulle bestelling en terwyl hulle vir die voorgereg wag, gesels en skerts hulle opgewek. Denise en Thea rook albei en Elizabeth neem ook ’n sigaret. Hulle is ’n opvallende groepie, jonk, modern en gesofistikeerd, en Elizabeth is bewus van die belangstelling wat hulle uitlok.

    Die aand verloop gesellig. Die sjampanje help om sake verder op te vrolik en Oswald is op sy beste, vol kwinkslae. Ná ’n heerlike ete is hulle na ’n buiteklub, waar hulle tot lank ná middernag dans. Elizabeth is lief vir dans en Oswald is ’n uitstekende danser. Terwyl sy dans, is dit of al haar bekommernisse van haar af wegval en sy vergeet van alles behalwe die opwindende ritme van die musiek. Op die dansvloer is Oswald ’n ideale maat.

    Moet ons nie nou huis toe gaan nie? vra sy uiteindelik, gedagtig aan die rugbywedstryd wat hy en Poena die volgende dag moet speel.

    Waarom?

    Wat van môre?

    Wat daarvan?

    Sy skud haar kop. Om vanaand tot watter tyd te kuier en môre goed rugby te speel . . . daarvoor het ’n man jeug en ’n konstitusie van yster nodig.

    Vanaand tel nie, dis my verjaardag.

    Jou verjaardag is lankal verby, spot sy.

    Oswald Pienaar kyk af na die meisie in sy arms. Daar is ’n glimlaggie om haar mond en sy lyk nog net so mooi soos aan die begin van die aand.

    Kom jy môremiddag kyk hoe ek speel?

    Sy skud haar kop. Môremiddag is ek baie ver weg. Ek gaan die naweek ’n bietjie huis toe.

    Waar is jou huis?

    Oudendal.

    Ek onthou nou. Jou pa boer, nie waar nie? Mielies of grondboontjies, of so iets. Wag tot Sondag, dan ry ek saam met jou. Met die Alfa kan ons voor brekfis al daar wees.

    Sy glimlag effens. Nee, dankie. Ek moet môre gaan. Ek wil al weer Sondagoggend terugkom.

    Hulle bly tot die laaste dans. Oswald stel voor dat hulle êrens spek en eiers gaan eet, maar Elizabeth weier.

    Genoeg is genoeg. Jy en Poena moet môre die universiteit se naam hoog hou en ek het ’n lang ent pad om te ry. Ons eet ’n ander dag spek en eiers.

    Dis my verjaardag, sê hy verwytend, maar sy glimlag geamuseerd.

    Dit was ’n heerlike aand, Oswald, maar nou wil ek huis toe gaan. Asseblief.

    Die asseblief is ’n bevel en nie ’n versoek nie, en effens nukkerig gee Oswald toe. Hy weet al uit ervaring dit sal nie help om teë te praat nie. Daar is tye dat hy hom diep vererg vir die meisiekind se hovaardigheid, en tog kan hy nie van haar af wegbly nie. Hy is nie gewoond dat meisies so koel en afsydig teenoor hom is nie, maar hy het baie gou besef dat Elizabeth Bornman anders is as al die ander meisies met wie hy tot dusver te doen gehad het. ’n Man moet volgens haar reëls speel, het hy uitgevind, of sy speel glad nie saam nie. Maar dit is nogal ’n interessante ervaring en hy is bereid om sy tyd af te wag.

    Wat is dit in Elizabeth wat hom altyd na haar toe laat terugkom? wonder hy nou. Is dit haar skoonheid, die pragtige koringgeel hare, die besonderse blou oë en sagte, goudgebrande vel, die grasie van haar slanke figuur? Of is dit haar trotse onafhanklikheid van gees, die gevoel dat sy buite sy bereik is, wat hom telkemale weer terugbring na haar toe ten spyte van die koel ongeërgdheid waarmee hy so dikwels ontvang word?

    In die maanlig ry hulle huis toe. Stil sit sy langs hom. Die blinkertjies op haar serpie glinster soos diamante en haar profiel is suiwer en mooi in die sagte lig van die maan. Elizabeth het die aand geniet, maar haar gedagtes is nie nou by die jong man wat langs haar sit nie. Sy wonder wat die dag van môre alles sal oplewer. Sal sy kry wat sy soek of sal sy net teleurgesteld en meer verbitterd as ooit vantevore terugkeer na die stad, wat die afgelope jare haar enigste tuiste en haar toevlug geword het?

    Oswald sit sy hand oor albei hare, wat in haar skoot

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1