Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3
Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3
Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3
Ebook270 pages3 hours

Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die derde omnibus in Louise Prinsloo se gewilde spookstories in die Gedaantes en Geraamtes-reeks. Die titels in hierdie omnibus is: Spookhuis by die see, Skimme van gister en Duiwel-in-die-bos – lg. ’n splinternuwe verhaal wat nog nie voorheen verskyn het nie. Die teks van die eerste twee stories is ten volle hersien en lesers behoort van nuuts af aan die drie vriende, Wikus, Karel en Giepie se lekker grillerige spookavonture te geniet
LanguageAfrikaans
Release dateAug 28, 2012
ISBN9780798157834
Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3

Related to Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3

Related ebooks

Related articles

Reviews for Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3 - Louise Prinsloo

    Titel.jpgHeading-Image.jpg

    SPOOKHUIS BY DIE SEE

    1

    Wikus Jordaan lê op sy bed en lees Die geheimsinnige graf wat ouma Griesel vir hom by ’n boekverkoping gekry het. Wagter, sy groot herdershond, lê op ’n matjie voor sy bed en wag dat hulle moet gaan stap. Kort-kort lig hy sy kop, sug swaar, laat sak weer sy kop op sy pote en wag.

    Hoe verder Wikus lees, hoe meer word hy by die storie ingetrek. Nie lank nie, of hy is Jerry, die baasspeurder, wat al hoe dieper onder die hoë sipresbome grawe op soek na ’n liggaam. Net toe hy ’n eienaardige klopgeluid en mompelende stemme onder die grond hoor, raak iets aan sy voet en hy voel ’n hand op sy kop.

    Los! gil Wikus en spring verskrik op. Hy sug verlig toe hy Karel en Giepie langs sy bed sien staan. O, dis julle . . . Jis, ouens, julle sal dat ek my vrek skrik. Ek dog dis . . .

    Lekker bang, nè! lag Karel en slaan Wikus teen die arm.

    Giepie klap die boek toe en plof op die bed neer. Jy kan later jou plek soek, sê hy en blaas ’n reuseborrel, werk die stuk kougom terug met sy tong en kou verder.

    Hoor gou hier! Giepie rammel alles in een asem af: Oom Hans het ons vir die Paasnaweek Mosselbaai toe genooi. Hy verjaar Saterdag en al my neefs en niggies gaan daar wees. Hy’t gesê julle twee kan saamkom. Ons ry Donderdag ná skool. Kom jy?

    Wagter, aangevuur deur die seuns se opgewondenheid, spring stertswaaiend en blaffend van die vloer af op en dink dis tyd om te gaan stap.

    Wikus trek sy gesig op ’n plooi. Hy sal eerder wil uitvind wie in die geheimsinnige graf lê as om Mosselbaai toe te gaan.

    Dis baie kort kennisgewing, sê hy ná ’n rukkie. Vandag is Dinsdag . . . Wanneer het jy gesê ry julle?

    Donderdag. Oormôre. Karel sê hy gaan saam. Ons sal jou halfdrie kom oplaai. Reg so?

    Ek weet darem nie, Wikus probeer aan ’n verskoning dink. Dis net . . .

    Ek weet presies wat jy wil doen, sê Giepie toe hy sien hoe Wikus mik om die boek op te tel. Jy wil dié storie klaar lees, maar ek het nie ’n saak daarmee nie. Ons twee, en hy slaan sy arm om Karel se nek, gaan Donderdagmiddag Mosselbaai toe.

    Komaan, man, sê Karel. Dis langnaweek. Dit gaan lekker wees.

    Wikus lig ’n wenkbrou. Lekkerder as ’n grillerige spookboek?

    Baie lekkerder! antwoord Karel. Jy sal sien.

    Ingedagte vryf Wikus oor sy ken. Is daar genoeg slaapplek? Jy sê al jou neefs en niggies gaan daar wees.

    Giepie vererg hom sommer. Dink jy ek sal julle saamnooi as daar nie plek is nie? Los jou simpel verskonings. Die meisies slaap in die TV-kamer, die seuns in tente – en as daar steeds te min plek is, slaap ons in die houthuis.

    Vergeet dit! roep Wikus verontwaardig uit. Ek slaap g’n tussen grassnyers en sae en tuingereedskap nie!

    Wie’t van ’n tuinhut gepraat? wil Giepie omgekrap weet. Hy sug toe hy sien hoe Wikus hom fronsend aankyk.

    Laat ek voor begin. My oom het ’n konstruksiemaatskappy. Die houthuis staan op ’n stuk grond waar nuwe ontwikkelings kom en daarom gaan dit volgende week gesloop word. Oom Hans het gesê ons kan daar slaap as ons wil.

    En weet jy wat, ou Wikus . . . Karel knipoog vir Giepie. Dis nie sommer net ’n houthuis nie. Hy rek sy oë terwyl hy elke woord beklemtoon. Dis ’n spóók-houthuis.

    Giepie kyk geskok na Karel, maar voor hy iets kan sê, kry hy ’n skop op die skeen. Hy sluk hard en gluur Karel onderlangs aan.

    Wikus gaap Giepie oopmond aan. Hoekom het jy dit nie gesê nie?

    Wel . . . ek . . . ek het gedink . . . stamel Giepie en krap sy kop.

    Los jou gedinkery en vertel hoekom die houthuis spook.

    Giepie haal sy skouers op. Hy lyk moedeloos. Weet nie.

    Die huis spook omdat hy spook, antwoord Karel en klink soos iemand wat weet waarvan hy praat. Veral dié tyd van die jaar.

    Die geheimsinnige graf is skielik nie meer vir Wikus belangrik nie. Hy kan later uitvind wie onder die grond geklop en gemompel het. Dalk kry hy in elk geval die naweek kans om die boek klaar te lees. Hy kan dit mos saamvat.

    Top! roep Wikus opgewonde uit. Ek kom saam – boots and all!

    Karel glimlag triomfantelik vir Giepie.

    Wikus frons. Maar Giepie, sê hy afgemete, ek verstaan nie lekker nie. Jy wat so bang is vir spoke; hoekom sien jy nou skielik kans om in ’n spookhuis te slaap?

    Eh . . . eh . . . uhmmm, begin Giepie en trap ongemaklik rond. Hy gluur na Karel wat maak asof botter nie in sy mond kan smelt nie. Dis eintlik . . . uhmm . . . Ek wil nie saam met die kleintjies in dieselfde tent slaap nie. En buitendien, as jy saamgaan, hoef ek mos nie te worry nie.

    Giepie maak keel skoon. Maar dis . . . uhmm . . . eintlik ’n anderse soort spookhuis. Partykeer spook dit daar en ander kere nie.

    Ja, beaam Karel, wat Giepie se storie duidelik geniet. Niemand weet regtig wat daar aangaan nie.

    Wikus is nou so nuuskierig hy kan iets oorkom. Daar’s natuurlik min sulke spookhuise, sê hy en lek oor sy lippe. Hy maak sy oë toe en dink aan sy navorsingswerk oor afgestorwe geeste. Dit kan óf ’n poltergees wees wat niemand by die houthuis toelaat nie, óf dit kan ’n baie ongelukkige dwaalgees wees . . .

    Giepie hou sy kop laag en fluister. Moet net nie dat oom Hans of tannie Letsie agterkom jy weet die houthuis spook nie.

    Wikus kyk sy vriend agterdogtig aan. Hoekom nie? Almal op Mosselbaai weet seker van die spookhuis, nes ons van die spook in die Kasteel en in Tuynhuis weet. Of van Brakfontein se spook met die rooiwarm handdruk en . . .

    Jy kan nie Mosselbaai se spookhuis met ander vergelyk nie, knip Karel hom kort. Daai spookhuis is iets heeltemal anders.

    Giepie knik sy kop op en af soos hy elke woord beaam wat Karel sê.

    Wikus gaan staan voor sy boekrak. As ek wil uitvind waarom die houthuis op Mosselbaai spook, sê hy toe hy ’n donkerblou boek met ’n spookagtige kerkgebou en kerkhof op die voorblad uit die rak haal, "dan is Ghosts and how to see them deur Peter Underwood net die ding om saam te vat."

    Hy maak die boek oop en vertel entoesiasties verder. Peter Underwood is die lewenslange president en hoofnavorser van Brittanje se Spookklub. Hy reël lesings en spooktoere op al die hoofspookroetes. Kyk, hier’s ’n foto van die Biskasteel in Cornwell waar daar ’n meulenaar ronddwaal . . . en hier is die Glamiskasteel in Skotland waar twaalf geeste gereeld gesien én gehoor word.

    Giepie sug en rol sy oë hemelwaarts.

    Is dit nie dieselfde kasteel waar die Springbokke eenkeer was nie? vra Karel en tuur aandagtig na die foto. Ek het ’n artikel in ’n tydskrif daaroor gelees en daar was ’n foto van waar hulle voor die kasteel staan.

    Dis moontlik, antwoord Wikus. Heelwat Suid-Afrikaners was al op Peter Underwood se spooktoere. Hy maak die boek toe en kry ’n veraf uitdrukking in sy oë. Ek sal darem graag eendag Suid-Afrika se voorste spookkenner wil wees. Dan sal ek spooktoere reël soos wat daar in Kimberley en omgewing is.

    Ja, sê Giepie, dan sal ek kan spog ons twee was saam op skool.

    Karel maak asof hy ’n omroeper is en praat met ’n diep stem. Ons skakel nou oor na Miskruierfontein waar Wikus Jordaan, president van die Suid-Afrikaanse Spookvereniging, ’n unieke spook ontdek het . . .

    Spot maar, lag Wikus. Eendag gaan julle nog bly wees julle ken my.

    Giepie raak skielik haastig. Ons moet waai, sê hy en mik deur se kant toe. Ons het net kom hoor of jy wil saamgaan. En Karel moet nog batterye vir sy kamera gaan koop.

    Wikus draai na Giepie. Dankie dat jy my saamgenooi het. Ek sal my ma vra om vir ons padkos te maak, as dit reg is met hulle.

    Oukei. Giepie beduie vir Karel om te loop. Hy is duidelik senuweeagtig. Toe-toe, ons het nog baie om te doen.

    Wikus haal Wagter se leiband agter sy kamerdeur af en knip dit aan sy halsband vas. Kom, ou Waggies!

    Die groot hond waai sy stert en blaf opgewonde om sy baas se bene terwyl hy oopbek kyk hoe Wikus ’n bal van die rak afhaal. Hy trippel saam met die drie vriende by die kamer uit.

    Ma! skree Wikus in die gang af. Ek en Wagter gaan parkie toe.

    Baai, Tannie! roep Karel en Giepie by die agterdeur.

    Giepie klim op sy fiets. Onthou jou swemgoed! skree hy vir Wikus toe hy by die tuinhekkie uitry.

    Sien jou môre! roep Karel en jaag dan saam met Giepie straataf. Sover as wat hy ry, lag hy kliphard. Ons het Wikus darem lekker met ’n slap riem gevang! ’n Spookhuis by die see – en hy sluk dit!

    Wagter beur met soveel krag vorentoe dat dit eerder lyk of hy Wikus vir ’n stappie neem. Uitasem kom hulle by die parkie aan waar Wikus die leiband losmaak en die bal ver oor die grasperk gooi.

    Maar vanmiddag is Wikus se gedagtes nie by die balspeletjie nie. Hy dink net aan die geheimsinnige houthuis op Mosselbaai. Hoekom spook dit daar? En hoekom wil die mense nie daaroor praat nie?

    Daardie aand kan Wikus nie aan die slaap raak nie. Sy gedagtes dwing kort-kort na die eienaardige spookhuis op Mosselbaai. Hy het eenkeer in ’n Britse tydskrif, The unexplained, wat hy by prof. Pieta geleen het, van ’n soortgelyke spookhuis gelees. Volgens die artikel kon niemand vasstel wat aanleiding tot die raaiselagtige gebeurtenisse in die huis gegee het nie.

    Miskien, besluit hy, val Mosselbaai se spookhuis in dieselfde kategorie.

    Toe hy uiteindelik aan die slaap raak, droom hy die een nare droom na die ander. Eers jaag ’n afkopspook hom. Dan gryp ’n wit gedaante hom om sy nek en sleep hom by ’n bouvallige houthuis in . . .

    Nee! gil hy toe ’n wollerige spook op hom spring. Hy voel sy warm, stink asem in sy nek en klap wild na die groot bek wat hygend om sy gesig snuif. Af! Loop!

    Wikus . . . Is jy orraait? Sy ma pluk die deur oop en sien hoe Wagter haar seun met sy lang rooi tong deur die gesig lek. O . . . dis die hond, sê sy verlig. Jy’t so te kere gegaan, ek dog hier’s ’n inbreker in die huis.

    Sy kyk op haar horlosie. Jy beter gou maak, anders is jy laat vir skool.

    Toe Wikus later deur die skoolhek ry, staan Giepie en Karel reeds vir hom en wag.

    Waar bly jy so lank? wil Karel ongeduldig weet. Ons wag en wag en al wat kom is jy.

    Jy’t seker eers jou boek klaar gelees, grynslag Giepie.

    Nee, hyg Wikus toe hy sy fiets aanstoot fietsloods toe en dit vasketting. Ek het verslaap. Ek het laas nag die een nagmerrie op die ander gehad. Hy sien hoe Giepie en Karel vir mekaar kyk. Wat’s dit? Gaan ons nie meer Mosselbaai toe nie?

    Nee . . . uhmmm, begin Giepie en knak sy kneukels soos hy altyd maak wanneer hy in een of ander verleentheid is. Ek het . . . ook . . . gedroom . . . voeg hy vinnig by.

    Dan lui die klok hard en skril.

    2

    Wikus! bulder Yster, hulle natuurwetenskap-onderwyser, Donderdagoggend. Hoeveel keer moet ek nog vir jou vra wat is die verskil tussen diffundeer en diffusie?

    Dis . . . uhmmm . . . wanneer . . . uhmmm . . . Hy leun oor na Giepie. Wat’s die antwoord?

    Giepie fluister agter sy hand en Wikus sê: Diffundeer is . . . soos twee . . . gasse wat versprei en . . . uhmm . . . gelyktydig vermeng. En . . . en . . . diffusie is . . . uhmm . . . diffusie is wanneer twee stowwe gelyktydig vermeng – soos melk en koffie. Hy stamp aan Giepie. Dankie, fluister hy. Ek skuld jou.

    In die Afrikaanse klas kyk hy kort-kort op sy horlosie. Hoekom gaan die tyd so stadig verby?

    Wikus, vra juffrou Klein toe sy langs hom staan, weet jy al waaroor jy gaan skryf?

    Wikus staar haar fronsend aan.

    Die opstel wat julle volgende week moet inhandig. As jy geluister het, sou jy geweet het.

    O . . . dit! Wikus glimlag soos ’n oorwinnaar. Dis presies waaraan ek gedink het! Ek het klaar ’n onderwerp, Juffrou; ek sukkel nog net met die inleiding en die slot.

    Juffrou Klein kyk die blondekopseun geamuseerd aan. Ek sal in spanning wag, antwoord sy en gaan voort met die les.

    Elke periode daarna voel vir Wikus langer en verveliger as die vorige een. Selfs pouse voel hopeloos te lank en uitgerek. Toe die klok uiteindelik lui, storm hy met sy skooltas by die klaskamer uit, nael fietsloods toe, spring op sy fiets en jaag biblioteek toe.

    Ná ’n ruk stap hy met ’n arm vol boeke en ’n paar fotostate van inligting wat hy van die Internet afgetrek het by die biblioteek uit. Hy sit alles in ’n groot lapsak wat hy oor sy skouer gooi, dan klim hy op sy fiets en ry haastig huis toe.

    As jy soveel tyd aan jou skoolwerk bestee as aan spookstories, raas sy ma toe hy by die kombuis inkom waar sy besig is om hulle padkos gaar te maak, sal jy die onderskeidings inryg.

    Ek wás besig met skoolwerk, antwoord Wikus terwyl hy die lapsak oor die stoelleuning hang. Ons moet ná die langnaweek ’n opstel inhandig en ek gaan oor ’n raaiselagtige spookhuis skryf.

    Sy ma glimlag net en skud haar kop: Jy en jou spoke . . .

    Wikus loer na die inkopiesakke wat op die kombuisvloer staan. Jis! Ma het omtrent goed gekoop! Hy snuif in die lug. Die geur van gebraaide hoender vul die hele kombuis. Dankie vir al die moeite, Ma. Ek waardeer dit. Ons sal sowaar nie honger ly nie!

    Nie sommer nie! lag sy ma en gee hom ’n drukkie. Dan kyk sy haar enigste seun besorg aan. Wees asseblief versigtig en moenie dat jou verbeelding weer op loop gaan nie. Dit is gevaarlik om rond te krap in goed en op plekke wat jy nie ken nie.

    Wikus soen sy ma op haar wang. Toemaar, Ma. Moenie worry nie. Ek sal versigtig wees.

    Sy pa kom by die kombuis in. Mmm . . . dit ruik lekker. Hy slaan sy arms om Wikus. Ek hoop jy geniet die naweek, ou seun. Moet asseblief net nie weer ’n spook om elke hoek en draai wil sien nie.

    Hoekom maak julle altyd of dit net my verbeelding is? Daar ís iets soos spoke.

    Sy pa knik sy kop en sit ’n ernstige gesig op. Ja . . . só sê jy altyd.

    3

    Wikus! roep sy ma toe ’n donkerrooi 4x4 later voor die huis stilhou. Die Viljoens is hier!

    Wikus gryp sy tas, gooi sy lapsak met sy spookboeke oor sy skouer en knyp sy slaapsak onder sy arm vas. Hy stap met haastige treë voordeur toe. Sy ma het die koelsak met padkos reeds reggesit, en staan en gesels met Giepie se ouers.

    Ons sal so teen Sondagnamiddag se kant terug wees. Jy hoef jou oor niks te bekommer nie, sê Giepie se pa en sy ma beaam dit met ’n kopknik.

    Wikus soen sy ma vinnig. Baai, Ma. Sê groete vir almal . . . Hei, ouens! Hy wink Karel en Giepie nader. Kom help my dra.

    Wagter warrel opgewonde om die seuns se bene, asof hy verwag om saam te gaan. Wikus vryf sy kop en sê: Ons gaan nie lank weg wees nie, my honne. Jy moet bly om die huis op te pas.

    Giepie en Karel help om Wikus se bagasie in te laai. Hulle gee ook vir oulaas vir Wagter ’n vryf oor sy kop en klim in.

    Baai, Tannie! roep die twee seuns, en Giepie se pa druk die toeter soos hulle wegry.

    Wikus se ma glimlag en waai. Geniet die naweek! roep sy en stap met die tuinpaadjie op huis toe.

    Giepie se pa stuur die 4x4 na die N2 en skakel die radio aan. Vrolike musiek vul die motor. Die pad is besig; motors, vragmotors, woonwaens en motorfietse suis verby.

    Wikus maak die koelsak oop en almal smul lustig aan die padkos.

    Jis, sê Karel en suig aan ’n hoenderboudjie, dit was nou lekker. Hy gooi die beentjie in die plastieksakkie, en vee sy hande en mond aan ’n papiersevet af voor hy sy kamera uithaal. Ek soek eerste prys met ’n seer hart.

    Wat is die tema? wil Giepie se ma belangstellend weet toe sy sien hoe Karel die lamppale wat verbyflits afneem.

    Iets buitengewoons, Tannie, antwoord Karel met die kamera styf teen sy gesig, met ’n gepaste byskrif.

    En wat kan jy dié keer wen?

    Karel sit sy kamera neer, maak die fototydskrif oop en wys vir Giepie se ma ’n kleurfoto van ’n nuwe model kamera. Dit is die eerste prys.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1