Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

In stede van die liefde
In stede van die liefde
In stede van die liefde
Ebook755 pages11 hours

In stede van die liefde

Rating: 3.5 out of 5 stars

3.5/5

()

Read preview

About this ebook

Dié roman is ’n wydlopende werk wat hom veral in Seepunt, Stellenbosch en Matjiesfontein afspeel. Maar die kring word wyer getrek om onder meer verskeie Europese lande en Zimbabwe in te sluit.

Seepunt en Stellenbosch is die ruimtes waarin veral een van die hoofkarakters, Christian, beweeg. Hy is ’n internet-kunshandelaar van beroep, maar hy soek iets méér in die lewe; deel van sy bestaan word geheim gehou van sy gesin… soos byvoorbeeld sy kokaïne-verslawing, en sy woonstel in een van Seepunt se meer obskure buurte. Sedert verskeie hartomleidings, en ook nadat hy deur Kaapse bendelede geteiken is, het sy lewe toenemend gekompliseerd – én interessant – begin raak. Ewe enigmaties is sy vrou, Christine, wie se vreemde verlede voortdurend op haar hede bly inspeel.

En op Matjiesfontein is daar ’n amper magiese wedvlugduif-kultuur, wat soos ’n goue draad deur daardie sameleweling loop. Eksentrieke maar uiters geloofwaardige karakters kom hier aan die bod. Daar is bv. die geheimsinnige hotelbestuurder, selfopgeleide hipnotis, wat verskillende personas bevolk: hy is Arendjan, Raspoetin, Rudyard Kipling. Al die hoede pas. En Miss Edelweiss, musiekonderwyseres wat die vlaktes met haar metaalverklikker bewandel. En Johnny, die deurwag met die immer-wit handskoene, wie se hande vir niks verkeerd staan nie.

Op vernuftige wyse word die twee verhaallyne met mekaar versoen, onder meer deur die bruin meisie Saartjie... sy wat eendag ’n viool optel en asof besiel daarop begin speel. Daar en dan word sy herdoop tot “Snaartjie”, en haar lewe word onlosmaaklik verstrengel met die ander Matjiesfonteiners s’n. Wanneer sy ontvoer word – of het sy weggeloop? – begin ’n intrige ontvou wat al drie ruimtes in die storie op vernuftige wyse oormekaar laat skuif.

Van Heerden se roman is ’n absolute kragtoer, en beloof om ’n baie wye leesgehoor te trek.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateDec 30, 2013
ISBN9780624068723
In stede van die liefde
Author

Etienne van Heerden

Etienne van Heerden is in 1954 in Johannesburg gebore. Hy ontvang die Eugène Marais-prys vir sy kortverhaalbundel My Kubaan. In 1986 verskyn Toorberg, wat wyd bekroon word. Hy is ook bekend vir romans soos Die swye van Mario Salviati (2000), 30 nagte in Amsterdam (2008) en Klimtol (2013). Hy is professor in o. m. kreatiewe skryfwerk aan die UK.

Read more from Etienne Van Heerden

Related to In stede van die liefde

Related ebooks

Related articles

Reviews for In stede van die liefde

Rating: 3.6666667 out of 5 stars
3.5/5

6 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    In stede van die liefde - Etienne van Heerden

    In stede

    van die liefde

    Etienne van Heerden

    Tafelberg

    Vir Kaia

    I am not I: thou art not he or she: they are not they.

    – Evelyn Waugh

    Proloog

    Dis haar nessie van bene.

    Die ruim pelvisbene wat soos die ore van ’n bakoorjakkals die snoet van die stuitjie omraam. Die bekken vorm ’n bak; ’n skulp. In die rondings van die heupe kan jy nog die gulheid van ’n vrou gewaar.

    En dan, karig, in die skottel van die beenholte, die hopie krummelbeentjies van die ongebore fetus.

    Fyn soos die beenskelet van ’n duif wat jy dood en windverweer aantref.

    1

    Die rotmotor

    Steil en voggelade stoot die aandwind oor Johannesburg Internasionaal. Die vliegtuig sidder met die opstyg.

    Die vaart druk Christian teen sy sitplek terug. Hy trek die rek om sy poniestert los en skud sy bruin hare uit. Oorkant hom sit die waardin vasgegespe. Haar kop swaai lui heen en weer teen die rug­leuning terwyl die wind die vliegtuig wieg. Haar oë is stip teen die ruim se dak. Sy is gewoond daaraan om die sakemanne wat op ’n Vrydagaand op pad Kaapstad toe is, se oë te ontwyk.

    Christian is versot op die opstyg. Melankolie oorweldig hom wanneer hy mensgemaakte metaal voel beur teen die natuur. Dit vertroos hom: die dood as vaste punt.

    Om hom sit sommige passasiers met geslote oë, oënskynlik ontspanne. Maar klein plooitjies om die ooghoeke verraai afwagting en ingehoue asem. Enkeles sit in die straal van hul sitplekliggie geanker met die aandkoerant voor hulle oop, hul oë stip op een berig.

    Christian kyk by die venster uit. Die lughawe val onder die vliegtuig weg. Daar onder kantel die onafgehandelde verbouings wat skynbaar altyd halfklaar bly. Blinknuwe instaplokale neffens gelapte aanloopbane. Klein geboutjies wat hurk naas die groot gebaar van ’n internasionale lughawe wat skynbaar inderhaas vir Afrika se Renaissance ingerig word. Om ’n nuwe brandweerwa drom ’n troppie verweerde, vaalrooi voertuie asof hulle wag dat die fier sirene ’n stormloop moet lei.

    Soos al die verweerde draers in hierdie vlugklas, word die vliegtuig slegs vir binnelandse vlugte gebruik. Die Ribbok kreun deur ’n dwarswind, wip deur ’n trog. Reën druis teen die bakwerk. Om Christian word die verouderde tegnologie ’n besprekingspunt. Koe­rante word uitgeskud en oopgemaak. Die oë is afwagtend op die waardin: wanneer sal sy die trollie begin deurstoot?

    Die stad verdwyn nou onder mis en reën. Christian sug en kyk na sy naels. Van die middaguur af bol cumulus oor die stad. Die vog het laatmiddag, net voordat hy lughawe toe vertrek het, in ’n stortbui uitgesak wat die strate skoongewas gelaat het. Die remligte van plate motors by verkeersligte het in die glinsterlagie op die teer weerkaats.

    Die paaie was nes Christian daarvan gehou het. Verraderlik glad weens olie wat in die droë weeksdae uit Johannesburg se swak versorgde voertuie drup. Uit die enjinblokke van minibusse, gesteelde motors met omgeboude enjins en getinte vensters, die sukkelende vragmotors wat, om kapers te ontmoedig, sonder logo en aandui­ding van inhoud deur die verkeer beweeg.

    Kwaito het by die deure van minibusse uitgedawer. Die ­taxijoggies wat die skuifdeure oophou, het fluitend en jillend na voetgan­gers wat moontlik wou saamry, geroep. Die bussies vleg roekeloos deur die verkeer, bedag daarop om soveel moontlik ritte in te palm voordat die spitsuur taan en oorvloei in die nag.

    By robotte staan smouse met goedkoop Taiwannese klerehangers, sambokke uit rubber gesny, gieters en tuingereedskap, en sonskerms vir motors. Daar is ook mans wat vir kwaadgeld op die kruisings luier, vonkprop verskuil in die vuis. Net ’n aks van ’n handbeweging en ’n motorruit verbrokkel in kristalle, het Christian gelees. ’n Aktetas of handsak word gegryp, voete klapper deur die verkeer, weg. Daar is ook werkloses, wat skynbaar van tyd en rigting vergeet het, en teen hierdie uur nog wag op ’n laaste opdrag.

    Wanneer die Ribbok weer bokspring, hou Christian en die waardin se oë mekaar ’n oomblik lank vas in satiriese uitdaging. ’n Vrou vir risiko’s, dink Christian, en vee sy hand tydsaam deur sy hare. Vir avonture in die blink klubs van Soweto en Athlone. ’n Mooi Zoeloe­meisie wat sekerlik haar gedagtes koester oor die sakemanne wat Vrydagaande haar oog probeer vang op die aandvlug Kaap toe.

    Hy draai sy kop na die donker ruit. Strome mis, weet hy, tap nou teen die vliegtuig se bakwerk af. Die loods en sy medevlieënier sit sienderoë blind voor die glasruite, dun teen die oopte. Christian skud The Star oop. Sy linkerduim se venusbult is nog sonder gevoel. Die chirurg het gesê dat dit nog ’n aantal maande so sal wees. Maar by tye, sag soos die horinkies van ’n skoenlapper, fladder gevoel weer in Christian se dooie streke. In die linkerduim, die linkervoorarm, die regterkuit en sy borsplaat, waar hy deesdae weer die spuitwater uit ’n stortkop kan verduur ná ’n halwe jaar se gril.

    Dan bars die Ribbok bo die wolkbank uit. Die sterre, digby, is skerp. Weswaarts gloei die horison soos ’n perlemoenskulp. Die waardin se gespe klik los, gevolg deur ’n reeks verligte klikke.

    Mettertyd kom die vertroude gerinkel van die dranktrollie in die paadjie af. Sy ruik na handeroom en ’n effe goedkoop parfuum wanneer sy oor Christian leun.

    Spawater, bestel hy. Hy snuif en vryf oor sy neus. En ’n whisky. On the rocks.

    Terwyl die ruim gevul word met die gesellige geklets van passasiers wat by die toilette toustaan, dink hy terug aan die weke kort ná die operasie. Wippend, pynlik maar geesdriftig, op die gesins-kamersofa voor sy klankstelsel met Dolby digital surround sound en supercool subwoofer power – soos klein Siebert graag aan sy maters verklaar – wat bulder sodat die huis se mure skud en die hond na sy mandjie vlug.

    Dit was in ’n buierige, melankoliese kitaarsolo van Bruce Springsteen waarin hy homself herken het. By die gedagte aan blou jeans en gevaarlike vroue. Aan die oopskeur van nagstrate. Aan idees en nuwe projekte wat soos aanloopbane voor ’n Boeing se neus strek en wink.

    Springsteen dryf dit soos ’n loeiende sirene teen opgedamde middagverkeer in. Soos ’n vliegtuig, beurend teen tam, pakkende vog.

    Teen die aandwind in, dink Christian. Dis ek. Ek met die ritsslui­ters wat my kuitspier binne hou, my voorarm toerits. Met die vertikale snit oor my bors, hier waar my skild behoort te wees, waar ek my skouers moet oopgooi na die wêreld.

    *

    Suisend verskiet die Ribbok deur die hemelruim. Die turbulensie bo Johannesburg is vergete. Hulle gly oor die stil gelaat van Afrika.

    Deesdae is Christian se hart ’n benoude konyn, gehurk in sy bors.

    In sy drome kort ná die hartomleidings was dit erger. Die hart was ’n snoet, aan die kop van ’n vark wat snorkend agter hom aandraf.

    En toe hy sy arms na Christine lig in ’n gebaar van versoening, om aan haar te sê dat hy haar liefhet, het sy hande in twee swerms vlieë ontplof, draaiend om die stomp, leë polse.

    Die loods kondig aan dat passasiers wat teen ruite sit, kan afkyk om daar onder in die donker Karoo die ligspatsel van Matjiesfontein en die befaamde Lord Milner Hotel te sien. Ons is byna daar, sê hy gesellig en om Christian bestel sommige passasiers nog ’n laaste drankie. Hy leun teen die venster. Die koel glas teen sy gesig is ’n vertroosting. Weliswaar daar onder ’n vegie lig, ’n paar helderder ligte: Matjiesfontein. Sou iemand daar onder opkyk na die vliegtuig, wonder Christian, en my dalk sien afkyk? Hy onthou die geur van die ou hotel tydens die koffie drink en koek eet toe hy, Christine en Siebert die dag daar aangedoen het; die dag toe Siebert sy viool daar laat agterbly het. Dit was die laaste stop voor Stellenbosch en die nuwe lewe; die lewe wat hy nou lei.

    En Christine se lewe, gebuk daar oor die geraamte in Groenpunt.

    Hy veeg oor sy gesig wanneer hy die vliegtuig subtiel voel daal, en onthou hoedat hy ná sy operasie vir die eerste keer weer in die see geswem het. In die wilde, wit sjampanje van Wildernis se branders het hy ingesteier, nog duiselig van narkose en lomp van seer. Gehap soos ’n Labrador na die bruisende skuim.

    Dis Edvard Munch se Die skreeu wat by Christian spook wanneer hulle insak by Kaapstad Internasionaal. Hande wat vroetel aan bloederigheid en saag aan been. Oplig en uittel uit die diep dam van die bors.

    Hy is die naamlose figuur op ’n hangbrug tussen sy blaaie. ’n Gil dawer binne die wande van sy toraks.

    Op die web het Christian gelees dat jy onder narkose tóg die trauma van ’n operasie registreer. Jou brein volg die hap van skêre en die wegbuig van been, die ryg van naalde. Selfs die gesprekke van diegene wat aan jou werk, ontgaan jou nie. Jy gaar dit op in ’n geheue wat jy nie weet jy besit nie.

    Maar met sy tred, wanneer hy afstap onder die buik van die Ribbok uit, is niks verkeerd nie. Dis atleetbene wat Christian dra, gevorm deur atletiek op skool en universiteit. Hy’t ’n mooi rug en netjiese skouers, en hy gooi sy geil hare met ’n swaai van die kop die wind in.

    Hy lig sy hand na die speelse bruin oë van die grondwaardin en dink: sy weet nie dis ’n leë hand nie, ’n hand aan ’n arm waaruit die arterie verwyder is en die pols gesteel is; ’n hand aan ’n lyf met ritssluiters wat gloei in water.

    Hy knipoog vir haar en sy knik. Sy ken hom al. Hy’t altyd iets te sê wanneer hy op ’n Vrydagaand hier te midde van die ander saai sakemanne arriveer. ’n Weggooi-opmerking oor die mooi Kaap, of ’n stelling oor die weer. Hy’s die atletiese sakeman met die effense magie, die hare soms los en uitgekam en ander kere in ’n poniestert. Soms dra hy selfs ná sononder donkerbril, en hy’t altyd dieselfde skootrekenaartas oor sy skouer.

    Hy stryk vinnig by die aankomsaal in. Die eerste asemteue van die vogtige Kaapse somerslug het die geur van ’n vrou se oksel op ’n warm somersaand.

    Hy voel die oë van ’n paar vroue op hom rus wanneer hy uitstap sonder dat hy hoef te wag vir bagasie. Hy vleg deur die mense wat op hul tone agter die versperrings op passasiers wag.

    Hy reis lig, want hy hou alles wat hy benodig in twee wonings aan: die huis op Stellenbosch, die woonstel in Sandton.

    Wanneer Christine ’n hemp sien waarvan sy dink Christian sal hou, koop sy twee.

    Hy huur die nuwe luikrug-BMW by Avis se toonbank. Met die sleutels in die hand vleg hy vinnig deur die mense. Hy dink aan die vorentoe beur en die effe na links oorhel van die vierhonderdmeter; die verrassing van pyn en inspanning wanneer jy die agterste lengte inkap. Terug by jeugmiddae op Coetzenburg se tartanbaan, daardie bene wat alles uithaal oor ure en dae en weke heen, en die persoonlikheid wat oor die jare heen gevorm word.

    Vir Christian was herstel ’n wedren. Maar daar is geen pawiljoene meer nie, en Christine is nie meer ’n opgeskote skoolmeisie wat met rooi wange kyk hoe hy stomend die laaste honderd meter inkantel nie.

    Hy’s nou in ’n dimensie waarvan die ander sakemanne wat die gehuurde motors om hom beman, nie weet nie.

    Hy plaas sy rekenaar in die bagasiebak van die hardegat BMW’tjie. Beter so, want ’n ligte, geoefende kappie teen die ruit terwyl jy by ’n robot luier en jy verloor maande se werk en ’n hele infrastruktuur.

    Die karretjie is wakker en Christian draai die ruite toe wanneer hy die Avis-area verlaat. Hy skakel in op Kfm: ’n kitaarsolo van Carlos Santana. Die N2 is nie te besig nie. Hy swaai by die snelweg in en skiet weg, met sy kopligte op volsterkte. Bedag op voetgangers wat uit die plakkersbuurte oornael of soms ’n verdwaalde bees of perd wat oor die teer dwaal, gee hy vet.

    Wanneer hy bestuur, sak hy weg in wat hy sy dinktyd noem. Sy gedagtes swenk nou na Siebert. Siebert is veertien, en op sy harde­gatste. Wanneer Christian deesdae aan hom dink, gebeur ’n ontstel­lende ding: die frase jou klein fokker duik in sy gedagtes op. Dis ’n ongemaklike verskyning, hierdie frase wat so uit die dieptes opduik: die kind as baba, as klein tjokkertjie, die seuntjie wat oulik die driewieletjie trap, die onbeholpe puber. En nou die vrywillige banneling in die kamer op die tweede verdieping, onder die nok van die huis, verlore iewers op die web. Onbereikbaar, nors.

    Wanneer Siebert wel sy kamer verlaat, verkry hy ’n prostese, ’n ekstra ledemaat: ’n rollerboard waarmee hy snags laat, wanneer die hele buurt slaap, sy spring- en draaitoertjies eindeloos oefen in die straat voor die huis. Christian hou hom soms dop vanaf die donker slaapkamer se balkon, daardie pofbroekfiguur wat komieklik spring en val, om net weer hardnekkig op te staan, keer op keer.

    Te veel soos ek, dink Christian dan, met die slapende Christine agter hom, die aandwind wat die gordyne saggies laat bol en die dou wat die grond- en plantgeure uit die Stellenbosse riviergrond laat opwasem.

    Klop-klop, karplaks!

    In die BMW skud Christian sy kop en gun homself een van sy mees bevredigende fantasieë. Hy dink aan sy kliënte. Hulle sit nou, op hierdie oomblik, in internetkafees met ’n papierbeker koffie in die een hand en die ander hand ongeduldig op ’n muis. Hulle sit laataand nog in staatsdienskantore voor die verligte glasskerm, besig om geluidloos, verslaaf, te sweef. Of hulle sit naas goudvissies en dawerende TV’s in gesinskamers. Hulle dwarrel soos stofdeeltjies wanneer ’n sonstraal ’n skemer kamer binneval. Hulle swerf nadenkend; naamloos en nêrens.

    Sy gedagtes vloei oor in wat môreoggend op Stellenbosch wag. Hy ruik reeds die koffie wat Christine bring. Sy’t Diana Krall baie saggies aan die draal deur die huis met een van haar fyn, ironiese nommers. Die balkondeure is oop en die groen kroon van die eikeboom is stralend en geurryk. Eekhorings wip knikstert tussen die takke. Hulle val met dik, wollerige sterte deur die lower.

    Maar by Wildernis se wit branders is Christian op hande en knieë in die vlakwater. Brekende borreltjies dryf op die plaat water wat stadig terugtrek en aan sy hande en bene suig. As ’n stroom hom nou moes beetkry, sou hy nie kon uitstap nie. Wandelaars op die groot, oop strand kyk verras na die groot man wat soos ’n kleuter in die vlakwater rondkruip.

    Hy ruk uit sy gedagtes toe hy links moet draai na Stellenbosch. Hy kan die landerye om hom voel oopmaak. Hy’t die ruit nou afgedraai en die wind stoot in sy gesig. Regs van hom lê wingerde in donker voë en links, verder weg en agter Port Jacksons, plakkerskampe en die treinhuisies van Delft, klim die ligplate van Loevenstein en Welgemoed teen die Tygerberg uit. Hy is bewus, na agter, van die wit skuim by Macassar, Valsbaai met Hangklip wat sy voet in die onrustige nagwater neersit, en duskant die Strand en Somerset-Wes die donker figuur van Helderberg, skaars sigbaar teen die sterre.

    Hy ruik Kaapse fynbos, en in die gleuf wat deurtrek na die Valsbaaise kus dryf die soutgeur van laaggety, die oopgetrekte rotse by Gordonsbaai. Sy gemoed lig, hy verlang na Christine en Siebert, en daar voor strek Stellenbosch se ligte al teen die hang van die berg uit. ’n Berg wat hy as skoolseun uitgehardloop het, vry en rats soos ’n ribbok.

    *

    Die motor wat van voor af aankom, ry sonder kopligte. Christian, wat die soutgeur van Valsbaai diep in sy sinusholtes intrek en gemaklik agter die BMW’tjie se stuurwiel sit, flikker sy ligte vir die donker voertuig wat van Stellenbosch se kant aankom.

    Ergerlikheid stoot in sy bors op. Deesdae kom die kwaad vinniger. Dis ’n goeie teken, sê die kardioloog. Iedere mens gaar sy kwaad in ’n spesifieke orgaan op: die lewer, die dikderm, die maag. Die gif van opgekroptheid, wat die gekose orgaan aftakel. In Christian se geval was dit in die varksnoet, daardie orgaan waaraan hy deesdae probeer dink asof aan ’n appel: mooi volrond, rooiwang, ryp.

    Met ’n geur van nuwe lewe.

    Hy moet, anders kan hy nie aangaan nie.

    En dis skielik daar: die humeur. In vergaderings, op die oop pad, voor die rekenaar; tuis by Christine en die kleineman. Mense is versigtiger vir hom deesdae, merk hy op. Die gemoedelike Christian wat klein stekies kon wegveeg met ’n verwaande argeloosheid, wat met ’n wuif van die hand kon sê: Let it ride – hy is nie meer nie. Meer gestroop nou. Die stophorlosie skielik ’n ander, groter tyd aan die meet.

    Fokkers, sis hy toe die motor soos ’n rot in ’n donker tonnel op hom afkom. Hy flikker weer sy ligte – effe te nadruklik, sou hy agterna toegee – en druk die toeter. Dan doof hy sy kopligte in ’n heerlike oomblik waarin tyd stilstaan en die twee motors oor die donker pad na mekaar aanskiet. Wanneer hoendervleis oor sy arms uitslaan, ruk hy hom reg, en gooi die BMW se ligte op volsterkte.

    Ek sal julle smelt, bliksems, prewel Christian, en in sy agterkop: SA skolekampioen oor die vierhonderd meter. Weliswaar in dae lank vergete, maar darem. In warm somersmiddae voor vol pawiljoene met roomysetende meisies (Christine was een van hulle; pienk tong om die ronde roomys).

    Dit was die dae voor Christian Angola toe is as kanonvoer teen Fidel Castro se Kubane, ingestoot in die treurige Afrika-Viëtnam van PW Botha en Ronald Reagan se CIA, Augustino Neto en die skaakspelers van Moskou.

    Dis toe, dink Christian dikwels, dat my are begin toegaan het. Daardie vetterige weermagbredies in varkpanne; die propaganda; die luissuig aan die ondermaag van die bees, ’n Apartheidsrepubliek in Afrika.

    Toe die motor by hom verbysjor, sien hy dat dit een van daardie Cape Flats specials is. ’n Ou model, uit die jare tagtig, versier met goedkoop, swierige wieldoppe. Die bakwerk is vol skrape en duike en agter die getinte donkerblou vensters is die insittendes onsigbaar.

    Agterna sou hy onseker wees: ’n Toyota? ’n Datsun dalk? Selfs ’n ou Sierra?

    Hy haal nou diep asem en probeer die spanning uit sy bors wegdink. Met sy wil dreineer hy die bloeddruk uit die dam tussen sy ribbes. Diep in en stadig uit; ruit effe oopdraai. Hierdie naweek moet hy meer uitvind oor die jogaklasse wat naweke op Coetzenburg aangebied word. Christine moet ook gaan, alhoewel hy die idee van ’n kruisbeensittery op ’n besige Saterdagoggend tog effe gek vind. Maar hulle moet iets . . .

    Sonder dat hy dit bewustelik registreer (sou hy agterna sê) merk hy in die truspieël hoedat die Toyota (of Datsun? Of Sierra?) se remligte soos twee uitroeptekens blits. Die rotmotor draai om. ’n Jaglig op die buffer boor deur die wingerd en die heuwels en vir ’n oomblik blerts dit wit op ’n ry werkershuisies.

    Dan sit hulle agter hom: twee kopligte, dof en leweloos, en dan die een borende soeklig. Skeeloog, nader aan die regter- as die linkerkoplig. ’n Besliste aandrang op die stil pad met geen teken van ander voertuie nie. ’n Straal op hóm gerig.

    Hy’s verras deur die spoed waarmee die borende straal naderkom. Deesdae, het hy in die Cape Argus gelees, is die nanagsport van die Kaapse Vlakte informele motorwedrenne op die stil hoof- en deurpaaie. Ou motors, wat van buite soos skedonke lyk, se binnegoed word gedokter en reggeruk totdat hulle die vermoëns van ’n renmotor het, en snags kyk selfs die verkeerspolisie anderpad wanneer die jaagduiwels hul kampioene kies en verby slapende woonbuurte blits.

    Het hy in so ’n resiesbaan beland?

    Die motor sit nou teen sy agterbuffer. Die lig boor in Christian se truspieël en gooi ’n spatsel oor sy gesig. Hy gee vet, druk die BMW’tjie tot die uiterste, maar die rotkar bly op sy hakke. Ineens, geoefend, swenk die motor in die baan vir aankomende verkeer in, en kom sit rats langs Christian. Christian voel paniek in sy bors hamer.

    Die motor trek effe voor die BMW, maar swaai nie voor Christian in soos ’n verbysteker sou nie. Hy bly voortjaag in die verkeerde baan. Op die agterruit, in letterwerk wat sierlik en uitdagend is: Don’t fuck with me.

    Dan trek dit weer langs Christian in sodat die motors neffens mekaar ry. Die getinte ruit draai af en die jongman wat in die passasiersitplek sit, dra ’n donkerbril en ’n rooi bandana om die voorkop. Hy’t ’n moulose frokkie aan en die boarm met die draak op agterpote wat oor die ronding van die deltoïde getatoeëer is, is maer en gespierd.

    Die rewolwer verskyn skielik: swart; lig wat daarop blink. Die BMW se voorruit spat uiteen en vlokke glas bars teen Christian se gesig en vloei verby sy keel. Kristalglas waaier rooiblink in die remligte. Dis asof hy deur ’n swerm bye gery het.

    Hy spuug die stuk glas wat tussen sy lippe beland het weg en proe bloed. Iets anders skop by Christian in. Sy reserwe, noem hy dit. ’n Gevoel van beslistheid. Van daardie eerste vierhonderddraai. Van die atletiek van sy heupe; die pomp van arms; die ken wat die wind klief. Hy was al hier. In die oop deur van ’n Puma-helikopter wat skuinsweg laag oor bosse vlieg, die loods wat skeef en gewond oor die kontroles hang; hy, Christian, in die oop deur met koeëlgate in die bakwerk om hom en die smaak van bloed op sy lippe. Eers agterna, ná ’n plofferige landing in stof en krakende masjinerie, het hy uitgevind dat die bloed nie syne was nie, maar dié van medesoldate; bloed en limf tydens die vlug uit hul liggame losgeskiet en in wind opgekarring teen sy gesig aan.

    ’n Flits: in die direksiekamer; daardie een groot vernedering die dag: die ander, hul skouers gebuig om hul borse te beskerm, hul sagte binnedele. Die skinderbekke en minderes; die gangpolitici; die koffiekan-amptenary. Knoeiend, tropdiere. Hulle wat nie sonder ander kan nie, vir wie die lewe ’n spanspel is.

    Hy’t hulle aangevat: wenlint toe; oop baan voor; hy hoor nie die asems weerskante nie. Daar’s net een asem: syne.

    Hy was al hier; in ’n operasiesaal onder ligte; iewers diep weg maar tog bewus; pratend met homself: Kom, kom, kom; jy kan, nog eenmaal beur; jy’t krag, jy’t krag. Hande tel jou hart uit; maar jy’t krag. Daar’s ’n sug in jou buik, die sug van oorgawe; maar iets anders klop weerbarstig in jou. Iets durender, sterker as bloed: jy, jou ek.

    Christian! roep hy met die tweede skoot, wat met ’n plofgeluid die agterste passasiersruit laat uiteenspat. Christian!

    *

    Hy is nou effe voor. Hulle jaag oor die donker stuk pad. Die skedonk skuif agter hom in, en by tye vat-vat sy voorbuffer aan die BMW. As een fout gemaak word, sal die twee motors bollemakiesie. Christian se lyf verwag reeds die stamp en die verlies van beheer, die stil halfsekond van vryvlug, dan die verskriklike slag en die knars van glas en yster en die kishou met stof wat dwarrel, grond wat skeur en lywe wat knak en breek en oopbars.

    Maar opeens verloor die rotmotor belangstelling. Die jagstraal wat borend op Christian was, doof uit. Die jagwoede is uitgespeel. Hoeveel opgekropte woede en frustrasie, opgebou oor generasies heen, sit nie in so ’n lig nie, sou Christian later aan Christine sê. En toe skielik die einde van die spel. Dalk was die jongman met die rooi bandana se aandagspan te kort vir ’n uitgesponne jag. Of dalk was die prooi nie meer interessant genoeg nie.

    Die BMW breek vry en die donker motor, ligte nou weer uitgedoof, word klein in die truspieël.

    Iets loop oor Christian se wange – trane! – en sy hande op die stuurwiel, veral die een waaruit die chirurge die pols gesteel het, voel lig en bewerig, asof hulle nie daar is nie. Stukkies glas wat nog in die vensterrame vassit, bibber in die wind. Hy trek sy oë op skrefies teen die wind en die huil en jaag blindelings voort.

    Daar is byna geen ander motors op die pad nie. Polisie toe gaan? wonder hy toe hy met die Adam Tas-brug Stellenbosch binnekom. Maar wat sal dit tog help? Hy was al ’n keer tevore, met ’n inbraak, in daardie aanklagkantoor met die verveelde beamptes wat ook geen behoorlike aandagspan had nie. Die prosedure van meer as ’n uur om ’n eenvoudige vorm in te vul. Die onderlinge wete dat niks gedoen sal word nie; die onafwendbaarheid van die kriminele oormag.

    Nee, eerder huis toe, na Christine. Terwyl hy opsetlik stadig deur die dorp ry sodat hy bedaard kan tuiskom, ontvang sy sy selfoon-oproep met skrik.

    Sy wag in die oprit. Haar hand is teen haar gesig toe sy die BMW sien. Christian klim uit en glasbrokke reën van hom af, val op die plavei. Sy wil hom omhels, maar haar hande gly oor glaskristalle. Sy kom versigtig teen hom staan, en huil. Hy ruik die dampgeur van ontsteltenis wat uit haar hare stoom. Hulle staan in die kopligte. Die enjin sis. Daar was skynbaar ’n derde skoot, wat hy nie gehoor het nie. Dit het die verkoeler deurboor en water ontsnap borrelend.

    Christian voel iets agter sy borsbeen fladder. Dis nie Christine se hart nie. Dis binne hom, agter die ritssluiter. Dis ook nie sy hart nie. Dis iets anders wat daar vasgekeer sit; wat moet uit.

    Iets met vlerke.

    2

    Die wees viool

    Sy luister nie na patroondoppies of boeliebiefblikkies nie, sê die mense. Nee, wanneer Miss Edelweiss soggens haar metaalverklikker vat en die vlakte bokant die Lord Milner begin veeg, al hoër op, dan sê die mense van Matjiesfontein: Sy hoor weer stemme vandag.

    En as sy later net ’n wit spikkeltjie voëlmis in die vou van die kloof is: Blou was daardie oë vanmôre toe sy na die duiwe opkyk. Die wind waai weer skoon dwarsdeur haar kyk.

    Tussen die veëry deur rus sy en hou die duifswerms dop wat bokant Matjiesfontein sirkel. Dan haal sy haar wit helm af, en die oorfone, sit die rugsak waarin sy haar vondse bêre langs haar neer, en kyk uit oor die landskap. Hier onder haar sak die rantjies weg in die laagte met sy groen varsveld. Hier loop net wild, geen skape nie. En daar sit die klos bome en die wit mure van die Lord Milner Hotel. Dit lyk soos ’n afgekalkte kasteel. Bo-op, triomfantlik, wapper vlae wat lankal nie meer deel van die land se simboliek is nie: die vlae van die Britse Ryk, van die ou Suid-Afrika, en van die Suid-Afrikaanse spoorweë.

    En as ’n bygedagte, die vlag van die nuwe republiek.

    Wanneer Suid-Afrika teen Wallis rugby speel, klim die Walliese leeu met sy kloupote teen die vlagpaal uit, en wanneer Rovos Rail, die luukse trein na die Victoriaval in Zimbabwe, verbykom, word die treinmaatskappy se vlag gehys. Met die jaarlikse Suiderkruisderby word die vlag van Lewis Stores, hoofborg, piepend tot bo gekatrol deur Freddie Portier, entertainment manager en deurwag. Met vanuit sy ruim buik die magiese woorde: Showtime!

    Voor die hotel loop die treinspoor, en weerskant, weg van Matjiesfontein, verskiet dit. Agter die hotel lê Miss Edelweiss se geliefkoosde tuin. Eers die Baviaansrivier se klipdrif met sy spookbloekoms, en dan die Karootuin met sy palms, sy garingbome en turksvy, vygies en riet. En die botstil gelaat van die dam waar paddas loerend hang.

    ’n Dam wat haar altyd laat dink aan haar ma se gesig op haar sterfbed, jare gelede.

    Wanneer sy so in die klowe sit, met die paar yster- en koperdinge­tjies wat sy deur die loop van die oggend opgegrawe het, is dit stil in haar. Sy kyk hoe die lewe daar onder aangaan. Karre haas op die hoofpad verby. Veral die groot sleeplorries met die perde vooraan wat soos sprinkaankoppe lyk, maak ’n groot gedreun wat in die kom bly galm lank nadat hulle verby is. Soms kom ’n donkiekar met karretjiesmense – die sigeuners van die Groot Karoo – stadig van noord of suid aan. Geduldig, al sukkelend op die gruisrand van die teerpad, vat dit ’n goeie twee uur om buite sig te verdwyn na waar dit ook al op pad is. ’n Trein kom stadig in, en op die stuk grondveld digby die perron skop kinders ’n bal rond. Dan sê sy aan haarself: Hildegard, jy moet ophou met hierdie ding. Hoeveel jare al doen jy dit nie?

    Aan die begin was dit ’n gedoente. Toe sy die eerste keer met die verklikker hier aangekom het. Dis ’n plek dié met ’n agterdogtige oog op nuwe dinge. Daar gaan die Duitse vroutjie die veld in, daardie eerste dag; die mense sal dit nooit vergeet nie. Sy parkeer die Morrissie eers daar onder die peperbome by die Marie Rawdon-museum, sit ’n helm op haar kop wat uit die Boereoorlog kom en ’n Tommie-offisier s’n was (een van daardie krieketspelers wat die distrik aan die brand gekolf het), en loop met die snaakse ding wat soos ’n stofsuier lyk die veld in. Op en af.

    Die kinders het eers gedink sy maak sprinkane dood, want dit was die jaar toe die swerms ’n morg wyd van De Doorns se kant opgetrek het, met elke sprinkaan wat iedere uur sy liggaamsgewig vreet. Daar was miljoene insekte in een so ’n swerm. Dit was die jaar toe die lug verdonker het soos Moses se plaag uitgesak het. Groot repe veld is skoongevreet. Die vleie het gelyk asof brandpaaie oopgebrand is. Asof iemand ’n vuurvreter van ’n mower of dorsmasjien deur die riet gestuur het. Alle raad is probeer, beamptes het kom spuit en veldbrande is wind-af gejaag die swerms in, maar die vreetgoed het oor die vlamme gekom.

    Miss Edelweiss het aan die oorlog moes dink; die vlae bomwerpers met hul donker pense oor Dresden; die Messerschmitts oor Sylt, op pad Engelse kanaal toe. Die lug was dik en stink met gebraaide sprinkaan. Hulle’t bly kom, bly kom. Later is gesê die sprinkane het die gordyne van die vensters afgevreet, en die hotel se lakens van sy beddens; die hoenders se vere van hul lywe. Dit was die jaar toe die mense van die Karoo gesien het hoe lyk groot honger. Dit was ’n straf. Ook ’n waarskuwing oor hebsug. Kaalgat het die Sutterlandse pastoor wat gawes uit die kollektebord in sy eie sak gesteek het, gestaan toe hy een oggend op sy fiets deur ’n swerm oorval is en elke draad klere van sy lyf afgevreet is. Bakhand oor sy skraal piele­tjie moes hy langs die pad geleentheid bedel terug huis toe. God slaap nie.

    Hou julle se monde toe, hulle eet jul siele uit jul lywe uit, het daardie pastoor wat Sondae Bybel onder die vlerk met sy dikwielfiets hier op Matjiesfontein aangekom het, gewaarsku. Die mense het doeke oor hul monde geknoop. Selfs in die hotel se eetkamer het die kelnerinne opgedis met wit vatlappe oor hul gesigte. Dit help vir die skinder, het Miss Edelweiss nog op haar eentjie gedink. Matjiesfontein was nog nooit so stil as in daardie jaar toe iedereen sy siel wou behou nie. Dank vader; ’n paar weke se genadige aflaat aan die geklets en agter-die-hand gefluister en weet-jy-wat? Daardie Karoo­siek, die praatlus, wat sy eie swerm maak en skaduwee gooi oor die vlaktes.

    Toe sy daardie eerste dag daar verskyn met die snaakse ding in die hand, het mense gemeen sy probeer ook maar help. Die boere was desperaat. Die kinders wou nie uit die huise nie, want die lug was vaal van die woerende insekte. Stories het geloop van ’n skaapwagter wat Ceres se kant toe oorval is deur ’n honger swerm. Sy klere, eers, en toe sy vleis. Van sy beendere afgevreet. Toe die mense hom kom kry, was sy geraamte wit en droog. ’n Trein het teen ’n opgedamde wal sprinkane vasgeloop en kon nie hot of haar nie. Die passasiers moes vensters toemaak en benoud wag dat die sprinkaanbeamptes met hul mosterdgeel Land Rovers en spuitkanne kom om hulle te verlos. Teen daardie tyd was die lokomotief verstik aan die sprinkane. Sy oond vol braaivleis en sy ketel al koud.

    Dis in daardie dae dat die vroutjie die vlakte instap met haar snaakse instrument: ’n Duitse nuwigheid, dalk. Hoeka is die Duitsers so lief vir skroefietjies en ystertjies en metertjies en allerhande maakgoed.

    Dit was eers toe sy die aand rooigebrand terugkom met ’n sak vol blikkietjies en patroondoppies en gemorsies en klingelingdingetjies – so is geskinder – dat die mense begin besef het: Miss Edelweiss soek.

    Maar wat soek jy, het die mense gevra, as jy optel-optel loop soos ’n Boesman-ouma wat veldkossies grou en hier en daar pluk en skoffel en buk en por? Wat soek jy tog as jy saans huis toe gaan met net ’n meelsak vol skroot en blikkiesgoed en afvalyster en roesgoed? Jy soek mos nie daardie goed nie? Jy tel hulle maar op om jouself te flous. Nee, jou soektog is nie na aardse oorblyfsels nie; dis na die reste van die gemoed.

    Só som die Matjiesfonteiners Miss Edelweiss op, en laat haar be­gaan.

    Sy’s nie die eerste een wat hier kom luister wat die verlede aan haar te verklik het nie.

    *

    En toe Snaartjie die dag verdwyn, is Miss Edelweiss die ene na wie die eerste hardloper gestuur word. ’n Kind met ’n skuimmondbood­skap en blink traanspore oor die wange: Miss Edelweiss, die West Africans het Snaartjie Windvogel afgeskep.

    Glo in een van daardie groot trokke waarmee die blinkswart mense uit die noorde hier verbykom. Die trok is gelaai met seile wat dikpens gepak is met houtbeeldjies van olifante, van sitbankies met gevlegte riempies, met gekerfde nagmerriefigure wat galop uit die soort drome wat ook snags hier op Matjiesfontein loop. Dis kurio’s, en die mense uit die noorde is smouse wat op die Groentemarkplein in Kaapstad, op Die Braak by Stellenbosch en op die Dinsdagmark in Seepunt hul tentstalletjies oprig, hul grondseile sprei en hul rye en rye galopdiere en skreeuape en stilskrikbokke en ou, antieke mas­kers en skepgoed uitstal. Van lande met snaakse name: Benin en Sene­gal, Zimbabwe en Zaïre.

    Daardie trokke kom weekliks hier verby, want die toeriste wat die Kaap besoek, het ’n dors na Afrika. Te bang om ver noord te gaan, koop hulle onder die wakende oog van stadskonstabels by toerismemarkte op die verste suidpunt.

    Die hardlopertjie staan voor Miss Edelweiss, wat haar oorfone afhaal en haar klikker afsit.

    Wat sê jy, Tattie?

    Die gediertelorrie het Snaartjie afgeskep . . .

    Miss Edelweiss drafstap die kloof af tot waar die kar geparkeer staan, boender die seuntjie en die verklikker in haar Morris en swaai die tjorretjie om. Sy ken die Matjiesfonteiners. Om en om sal hulle eers draai om die gebeurtenis en dit uitpluis en ’n skinderdraai gooi en dinge van gister en eergister bysleep en met een oog op ’n Bybel­versie en ’n ander op die tokkelos, die daggazol en die Voorsienigheid die probleem begin bekruip asof hulle hoop dit sal opspring en weghardloop.

    Maar ware probleme, weet sy, maak eerder van jou die prooi in die jaglig se straal. Daar bly jy skrikoog sit, botstil voor die skiet­lamp, en jy wag vir die skoot om te klap.

    Jy’s lam.

    En hierdie probleem lyk vir haar na so ene.

    Een wat die tyd gaan laat stol; een waarom die stories gaan bly draai en draai, net omdat dit ’n stilte en verskrikking van sy eie het.

    Kom ons ry, my seuntjie.

    Knorrend in sy eie stof wat hom by die driffies van agter inhaal en oor hom uitsif, hop die Morrissie terug Lord Milner toe. By die Engelse soldate se kampplek verby, waar die geroeste boeliebiefblikkies se deksels nog ’n honderd jaar ná die oorlog gesaai lê, verby die verknotte ou peperboom waar Olive Schreiner glo uit eie beweging haar hand aan Cecil John Rhodes gebied het en agterna, nadat hy haar aanbod van die hand gewys het, smoorkwaad teen sy Empiredrome gedraai het, daar waar die swart kat nou skuilhou. Oor die spoor en tot by die hotel. Wip-wip, met Tattie wat snuiwend langs haar sit.

    Daar staan hulle al. Voor die hotel. Beduie, soos sy verwag het, na links, na regs, na mekaar, na ver, na naby, na noord, na suid; na gister en sy gisters voor hom, na môre ook, en oormôre. Na hul eie voorspellings en vrese staan hulle en vinger wys, die Karoomense. Na mekaar wys hulle, maar nooit na hulself nie. Só ken sy hulle.

    Die gediertelorrie het Snaartjie opgeraap, haar viool daarmee saam, o roep Sy naam . . .

    Die Wederdopertaal ontgaan Miss Edelweiss nie. Soos die opwinding na die Suiderkruisderby opbou, kom die kerktaal ook by. Dis elke jaar se ding. God het ’n wil van sy eie, waarsku die pastoor Sondae, en duiwedobbel is ’n gekansvattery met wind en weer. God en die wedvlugduif sit nie op dieselfde nok nie.

    Eers stop sy uit die cubbyhole van die Morrissie ’n pepermentjie in Tattie se nat hand en troos: Ons kry die kind terug, moenie kommer nie, en sy staan voor die mense.

    Daar is Freddie Portier, entertainment manager. In sy wit handskoene, met sy pluiskeil en sy houding wat die maniertjies van ’n koloniale onderoffisier, ’n butler en ’n lekeprediker kombineer; Freddie wie se lyf saans in die bad blou raak, soos hy self graag vertel, want sy oupa was wit en van Skotse bloubloed, ’n offisier van die seinregiment wat daar gekamp het waar die roesblikkies vandag nog lê.

    Freddie gee nou hoog op: Hoe weet ons daai trok swaai nie af van die N1, uit Montagu se kant toe nie? Ons moet Touwsrivier se konstabels laat weet; hulle moet die smokkelaars voorkeer voor hulle daar by die squatter shacks op De Doorns aankom; netnou verdwyn die kind tussen al daai blikplate en vure. En wie sê hulle’s nie klaar op pad Cereskaroo toe nie?

    Daar hoor sy al: die smokkelaars. Daar gaan ons, dink Miss Edelweiss.

    En wie sê hulle is smokkelaars? Sy staan in die kringetjie wat verontwaardig daar drom en stoom. Sy ruik hotelpolitoer en seep, pyptabak en stof.

    Hulle’t die kind bedwelm met chloroform!

    Die viool is saamgeraap!

    Wie’t dit gesien?

    Hulle’t ’n doek oor haar oë gespan en sy’s tussen die diere agterin ingegooi. Jirre!

    Hulle gaan die viool saam met maskers op die mark smous!

    So gaan die stemme op. Met die noem van die viool wil hulle haar natuurlik betrek by hul ontsteltenis.

    Wie’t wat gesien? vra Miss Edelweiss vir die kelnerinne in hul gestyfde uniforms en hul fraai kappies en hul dun koperhande. Hier is te veel skrik, sien sy. Hier is nie rede nie.

    Wat het regtig gebeur?

    Maar voor die huise daar op die kale vlakte, op die hotelstoepe, voor die poskantoortjie en daar op die stasieperron, loop die stories al. Sak die verhaal neer. Vreet die gerug oor die verdwyning van Snaartjie, die vioolkind, sy eie brandpad oop. Kry die storie mondjies.

    En al maak jy watter vuur daarteen, die swerm sal hoër uitwolk, styg soos ’n tyding en oor die vlamme kom, en jou lakens van jou bed en jou gordyne voor jou vensters skoonvreet.

    Jy sal kaal staan teen die wind.

    Miss Edelweiss se blou oë staan wyd soos sy dit insien, oombliklik.

    Ek, dink sy – en dis soos ’n voorbode – ek is die een wat ­kaalgevreet gaan word, nes daardie Sutterlandse pastoor op sy fiets.

    En sy onthou die dag toe die viool opgedaag het.

    *

    Die viool het skaam gelyk daar waar dit op die plaveisel voor die hotel bly lê het nadat die motor met die man en vrou en seun vort is.

    Die wees viool, sou Matjiesfontein se mense later sê, toe die hele treurige besigheid agter die rug was en mense met die insig van tyd kon terugkyk en vasstel: Ja, dis waar dit begin het, daardie dag van die verlore viool, bloots agtergelaat daar op die grond.

    Met sy strykstok daarnaas het die viool op ’n gevaarlike plek gelê. Motors wat warm gery oor die paaie van die Groot Karoo aangekom het, het daar kom stilhou. Die karre kom ingewaai van die langpad en ken hul eie spoed nie. Stadsmense, sonder sinnigheid. So waarsku die Matjiesfonteiners altyd hul kinders, wat graag op die oop parkeerplek voor die hotel speel en voorruite vir ’n fooitjie skoonvee. Hulle is opgehits, daardie karre. Suf gereis. Warm lug deins bo die enjinkappe. Die wiele druis oor die gruisklippertjies.

    Jy moet eenkant staan en respekte hê vir ’n wye wêreld aan die twee punte – weerskante – van die langpad, van die N1 Kaapstad en Johannesburg toe.

    Jy moet jou engtes ken. So praat die Matjiesfonteiners in helder oomblikke oor hulself, oor die inkommers, die karre, en oor die afstande wat alom wyk.

    Met die inry kyk die reisigers na die ry skakelhuisies en verwonder hulle aan die broekieskant van Tweedside Lodge. Hulle sien die peperbome, die gemesselde watervoor, die koffiehuis. Daar is, opvallend, die Laird’s Arms-kroeg en die ou poskantoor met sy heining van kartelyster. Die ou ligpaal uit Londen ingevoer. En snags, in die donker, die vlerkgeklap van verdwaalde posduiwe wat oor die afstande van vlaktes en jare aankom en in die donkerte ’n nok vir die voet probeer vind.

    Want Matjiesfontein staan in die nêrens van jare. Dinge kom hiernatoe aan, en dinge gaan hiervandaan weg. Die treinspoor verskiet noord en suid, grondpaadjies waaier kronkelend na leegtes en bulte, of verskiet beslis, geteer en blinkgery, na noord en suid.

    Wat bly, is die duifswerms wat bokant die dorpie se dakke in die oop lug uitwaaier en altyd weer terugkom, asof so ’n swerm ’n vlieër is met ’n draad vasgeanker aan die grond.

    Ook die tyd kom en gaan, draai en keer terug, en later is jy nie meer seker wat verby is, wat nog aan die gang is of wat voorlê nie. Dis hoekom die mense agterna so gestry het oor wat presies wanneer met Snaartjie gebeur het.

    En of dit wél gebeur het.

    Die aangesig van die Lord Milner Hotel verras inkommers. Met sy wapperende vlae en sy gesig in die wind, is die hotel iets ­tussen ’n kasteel en ’n Victoriaanse fort. Regs, met die inkom, lê die stasiemuseum met sy opgestopte poppe in swierige hoepelrokke en onderbaadjies, ou telegraafmasjiene en koperklokke, en dan is daar die treinspoor wat na weerskante in die vertes van die halfwoestyn verloop.

    Vir baie besoekers lyk dit na ’n rolprentstel – iets wat Amerika­ners hier langs die N1 Noord kom opstel het en agterna, as die storie vertel is, weer sal aftakel.

    ’n Inkomende motor sou die viool dus maklik kon miskyk en mens sou jou die melodieuse sug van snare en hout kon voorstel wanneer warm rubber daarmee klaarspeel. Maar gelukkig sien ’n gas vanaf die balkon op die eerste verdieping die viool lê. Hy beduie na die deurwag, Freddie Portier, wat by die hotelingang staan maar weens ’n hekpilaar wat sy uitsig versper, die viool en strykstok nie sien nie.

    Met sy wit handskoene – die vlekkelose handskoene, soos hy self graag sê – stap hy verby die ingangspilare, tree oor die bruggie by die messelvoor, en buk oor die viool en strykstok.

    Hy huiwer, laag gebuig. Want hoe raak mens so ’n instrument aan? Neem jy hom by die nek, of by die lyf? Hoe vermy jy skade aan die snare?

    Uiteindelik raap die wit handskoene die viool aan kop en lyf op, en ook die strykstok, vinnig agterna. Bietjies stof kom aan die handskoene af, maar Freddie herinner homself aan die drie skoon pare wat vir die wis en die onwis by ontvangs vir hom gebêre word.

    Hy bring die viool en strykstok na binne, en sy voete dawer oor die ingangsportaal se houtvloere. Hy gaan kloek by die ontvangs­toonbank oor die glimbruin instrument, en ’n paar gaste, Miss Paai die ontvangsklerk, twee kelners en ’n skoonmaker sluit by hom aan. Hulle bekyk die ding van alle kante. Freddie Portier bring dit na sy neus en ruik aan die hout. Sy asem laat ’n vogstreep wasem oor die viool se blad.

    Dit was dus die begin, sou later gesê word: ’n gewone dag by ’n weliswaar merkwaardige hotel in die eenselwigheid van die Groot Karoo, vierhonderd tree van die snelweg geleë, teen ’n drif met klipbanke en reuse bloekombome; ’n hotel met ’n verlede van oorlog en vrede, van kamers vol liefde en twis; van duiwe wat kom en gaan, van treine wat nooit lank by die perron kom aanlê nie en die inwo­ners altyd herinner aan die lewe se nuk om altyd maar voort te gaan, elders.

    ’n Hotel waaroor duiwe vlieg en, veel hoër, vliegtuie met mense aan boord, na noord en na suid; onophoudelik, met ’n ritme wat hier onbekend is. Want Matjiesfontein het sy eie ritmes; die tydsaam­hede van die Groot Karoo wat op ’n ánder horlosie loop.

    Die viool herinner aan die Lord Milner se oudste meubels. Nie iets waaraan jy sommer vat nie. Die bruin ouhout is goed opgepas, sonder ’n skrapie. Die snare, styfgespan, glinster. ’n Reuk van kougom en sonbrandolie omgeef dit, en ding mee met die geur van houtolie.

    Geeneen van die mense in die voorportaal het al aan ’n viool ge­raak nie. Hulle maan mekaar om versigtig te wees. Moenie te rof aan die snare pluk nie; oppas dat jou armband nie die hout krap nie; hou so, versigtig nou; voel hoe lig . . .

    Freddie Portier, wat agterna sou aanvoer dat hy die man is wat die viool gered het, waag dit om met die strykstok ’n haal oor die snare te gee.

    Showtime!

    Almal deins terug toe die huilgeluid vals deur die groot voorportaal galm.

    *

    Die motor wat die viool vergeet het, het uit die noorde gekom. Noord is op Matjiesfontein ’n spesifieke begrip: die reisigers wat van daardie kant inkom, is effe anders as die Kapenaars wat opreis uit die suide. Daar is iets saakliks, hards aan die Gautengers. Hulle skuil agter donkerbrille. Hulle besluit vinnig; soms te vinnig vir die kelners. Ongeduld en geringskatting. Geld en goeie fooitjies. Noord is waarna almal Saterdaemiddae staan en kyk as die Laingsburg- of Drie Sustersderby die duiwe eers in klein stippeltjies in die verskiet laat verskyn, en dan met son wat op vlerke blits hulle flapperend ingedawer laat kom tot binne-in die hok, hul kraalogies stip en opgehits en verskrik oor die groot inspanning en die leë winde en stil vlaktes.

    Noord: Johannesburg, Egoli; die langpad: Afrika.

    Die Mercedes het met ’n vaart van die N1 afgeswaai. Hulle’t skyn­baar nie die padteken verwag wat na die hotel beduie nie. Dis reisi­gers wat skynbaar vreemd is aan die geweste, of die afdraai ’n iets later verwag het. Gou rem getrap en rakelings ingeswaai.

    Sjooshhh . . . sis die kinders wat in die veldjie tussen die Lord Milner se agtertuin en die snelweg gespeel en die groot kar sien in­kom het. Ryk mense.

    Die passasiers was ’n egpaar met ’n opgeskote seun en ’n hondjie wat aan ’n leiriem beur. Met die uitklim het die hondjie water afgeslaan teen die lamppaal digby die hotelingang, en Freddie het met sy een handskoen onrustig oor die ander gevryf. Hy was reg om te keer as die hondjie se rug begin buig vir ernstiger sake.

    Die inkommers het vir koffie en koek kom stilhou. Hulle tuimel sweterig uit die kar, word agterna vertel, en die seun druk sy wysvinger vieserig in die fonteinwater by die voordeur. Die ma waarsku hom dat voëls in die fontein mis. Sy is lank; ’n lat van ’n vrou. Die hondjie sukkel om te besluit tussen vriend of vyand: hy grom na die kelners en swaai dan weer sy stert vriendelik. Die kelners koggel hom met vingerklappe wanneer die vrou wegkyk; hy lek fonteinwater op met ’n uitasem tong.

    Die man – hy dra ’n poniestert – bekyk sy motor se wiele, laat sy oë gly oor die drie ander voertuie wat voor die hotel geparkeer staan, lyk tevrede, en staan hand in die sy en verken die hotel se vooraansig. Met sy wysvinger veeg hy oor ’n pilaar wat effe verbrokkel, en sy hand registreer liggies die roes op die voorhek.

    Hulle gaan die voorportaal binne, en lig hul koppe na die groot Victoriaanse skilderye teen die mure; die seun kyk teen die houttrap op. Hulle staan in die voorportaal rond op die wyse waarop toeriste soms besluiteloos en ingedagte op hul eie as draai. Hulle loer by die eetsaal met sy kaggel in; die man toets die toestand van die hout­vloere met ’n effense versit van sy gewig.

    Hulle het nog geen oogkontak met een van die kelners of die bejaarde vrou, Miss Paai, wat by ontvangs sit, gemaak nie. Toe hulle uitstap koffiehuis toe, druk die man Freddie ’n fooitjie in die hand, sonder om na hom te kyk.

    Later sou Freddie sê: Bloedgeld. Daardie noot het gebrand deur my handskoen.

    Sommige mense meen die reisigers het eers poskaarte by die ge­skenkwinkel gaan koop, maar ander stem nie saam nie. By die koffie­huis onthou die kelnerinne die besoek goed: die inkommers het twee koffies, ’n Coke, ’n dik sny sjokoladekoek en ’n warm stuk appeltert met volroom-roomys bestel, asook twee skons met room en appelkooskonfyt.

    Op bevel van die tam ma het die seun met die hondjie gaan ronddraf op The Mews, die stuk grasperk agter die koffiewinkel se patio, daar waar die mossies in die bome wip en waar kwikstertjies onder die tafels knikkend sit en wag op krummels.

    Toe die koffie en eetgoed by hul tafel kom, moet die ma die seun vies uit die droë rivierbedding gaan roep waar hy op die klipplate onder die massiewe bloekoms speel. Sy raas oor die hondjie wat nie aan sy leiriem vas is nie, oor slange en verdwaal, en mense wat jy nie ken nie, en oor ooreenkomste wat voor die vertrek uit Johannesburg gesmee is en nou nie nagekom word nie.

    Die kelners merk op hoedat die opgeskote seun – skaars tiener; hy met die Harry Potter-bril en bleek wange, wat later aangemerk sou word as die waarskynlike eienaar van die wees viool – stilletjies stukke sjokoladekoek van sy bord afsmokkel na die hondjie onder die tafel. Die ma trap die hondjie se leiriem met haar voet vas, maar hy kry goed geëet en lek ten slotte die hand wat die seun onder die tafeldoek tot by sy gesig bring.

    Die man, wat sy donkerbril nooit verwyder het nie – selfs nie in die skemerte van die outydse koffiehuis met sy kraakvloere en hoë plafon nie – betaal kontant en laat die hoogste fooi agter wat in daardie maand by die koffiewinkel ontvang is.

    Hy gee dit sonder vrygewigheid, sou die mense later onthou; as ’n soort bestraffing. Hoekom die kelners dit so aanvoel, is selfs vir hulle onduidelik, maar rondom die politiek van fooitjies spook daar baie gewaarwordinge by Matjiesfontein se mense. Hierdie fooitjie het, nes die noot op Freddie se wit handskoen, warm op die tafel bly lê.

    Met die hondjie wat ’n laaste grom en stertswaai na die kelners gee, is hulle daar weg.

    Hulle staan in die straat voor die koffiehuis en kyk oor die veld uit. Die seun met die bril volg die duifswerm wat laag oor die wer­kershuise uitwaaier, dan in ’n hegte bondel byna een lyf word; hy kyk hoe dit die lug inboog en ontplooi soos ’n hand wat oopgaan en dan in alle rigtings verskiet, net om weer daar doer, in ’n draai van die wind, saam te snoer tot een vinnige skaduwee. Sy bolyf beweeg liggies saam met die wieg en sweef van die swerm: hy’s die een wat musiek maak, is almal agterna eens. Hy kon die ritme in die swerm sien.

    Dis ’n gesukkel om in die kar terug te kom. Die seun wurm homself in tussen strandballe en pantoffels en tennisrakette en klere. Die ma het nou ook weer haar donkerbril op. Kort-kort snuit sy haar neus in ’n snesie. Dis die stof van die plek, het sy glo teenoor haar man in die koffiehuis gesê – so sou een van die kelners later onthou. Sy’t ’n pilletjie saam met haar koffie gesluk.

    Met ’n gedruis van wiele en te veel vaart vir dié stil plek gly hulle verby die skakelhuise en is hulle om die draai, die son wat op die Mercedes se ruite flits, en op met die entjie pad grootpad toe. Links en regs gekyk by die N1, afgedraai, vort, Kaap toe: ’n gesin met va­kansie.

    Of dalk was hulle op trek.

    *

    Die viool en strykstok – so word agterna uitgepluis – moes uit die kar geval het terwyl die familie ná die etery in die koffiehuis weer in hul motor geklim het. Sommige mense skinder dat die seun die viool aspris langs die kar neergesit het kort voordat sy pa met ’n vaart vertrek het; almal op Matjiesfontein weet tog hoe stug die plaasseuns na Miss Edelweiss gaan vir vioolles. Wou die klein Harry Potter, met die vooruitsig van oefen op vakansie, dalk van sy viool ontslae raak? Dit net suutjies daar neergesit?

    Maar iedereen onthou die gesin se gesukkel om weg te kom. Die kind en die hondjie moes hulle inwurm tussen al die goed in, en oral het kussings en boeke en draagbare CD-spelers uitgepeul – ’n winkel op wiele, het een

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1