Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Voetstoots: 'n episode
Voetstoots: 'n episode
Voetstoots: 'n episode
Ebook495 pages7 hours

Voetstoots: 'n episode

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

’n Aangrypende roman oor die lotgevalle van die gewone mens in ’n samelewing waar geweld net onder die oppervlakte lê. Die vreemdeling August vestig hom op ’n klein Weskusdorp om sy redigeringswerk aan ’n pasontdekte dagboek van die 18de eeuse ontdekkingsreisiger Robert Jacob Gordon af te rond. Dis wanneer polisievrou Tessa hom vra om haar seuntjie Otto ’n aand lank op te pas terwyl sy die dood van ’n naamlose persoon by die motorhawe ondersoek, dat August homself onverwags bevind op die drumpel van ’n vertroostende verhouding. Die liefde wat tussen August en Tessa, twee radikaal verskillende mense, ontstaan, word egter bedreig deur die terugkeer van Tessa se man, Andries, van wie sy besig is om te skei. Sy onvoorspelbaarheid en kil woede hou gevaar in, en die roman stuur af op die ontstellende moontlikheid van geweld. Soos in John Miles se vorige roman, Die Buiteveld, word die kompleksiteit van ’n mens se verlede deurgetrek na die sosio-politieke situasie van die dag met verwysings na die skuld oor die koloniale verlede en veral oor apartheid. “Die verlede is ’n denkbeeld waarvan jy nie kan loskom nie,” besef August. “’n Deurpriemende analise van die plattelandse Afrikaner en sy oorgawe aan ’n toestand van onsekerheid. ... En ’n skitterende “slice of life”, sê een van die keurders.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 28, 2011
ISBN9780798153584
Voetstoots: 'n episode
Author

John Miles

John Miles word beskou as een van die grootste skrywers in Afrikaans. Hy was o.m. ’n stigterslid van die onafhanklike uitgewery Taurus. Hy is veral bekend vir sy bekroonde roman Kroniek uit die doofpot. Sy mees onlangse romans sluit in Die buiteveld, Voetstoots en Op 'n dag, 'n hond. Miles woon op ’n plaas buitekant Nieuwoudtville in die Noord-Kaap.

Read more from John Miles

Related to Voetstoots

Related ebooks

Related articles

Reviews for Voetstoots

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Voetstoots - John Miles

    John Miles

    Voetstoots

    ’n episode

    Kersnaweek

    1

    Met die opswaai van haar arms stamp sy die dunpoottafeltjie langs die bed onderstebo. ’n Waterglas breek.

    —Die Bybel! roep sy uit. Haar stem is hees, oë verwilderd.

    Met sy een voet op die vloer buk hy af om die boek op te tel.

    —Dis oop op Genesis, sê hy voordat sy been swik en hy hom op sy ander knie stut.

    Sy lig effens en gryp dit uit sy hand. Haar borste swenk nee-nee, gaan staan op ja.

    Die lyf se hitte. Die soet reuk van die kamer. Voorafgegaan deur dae van verraderlike hunkering na ’n ewigheid. En ’n oop venster waardeur die salige oordaad na buite vloei.

    Sy skuif die boek ’n armlengte opsy. Waar dit veilig is.

    Dat hy haar teen die bed kan terugdruk en sy haar lendene soos water om hom vou, haar borste stewig en apart. ’n Vasmeerplek.

    Hierdie episode kon só begin het. Maar dit sou vooruitloop beteken, ’n onbeteuelde gulsigheid. Veel eerder kan ’n insident van ’n dag tevore as vertrekpunt gereken word.

    Die verhaal speel grotendeels af op ’n dorp. ’n Dorp in die Noordweste van die land, aan die Weskus. Sommige sal die insidente as alledaags beskou, hopelik met aarseling, want vir diegene wat alles van naby meemaak, word dit eerder die grootste ingryping in hulle lewe.

    ’n Alledaagse weergawe dalk, maar nie tipies nie, omdat die verteller geen boorling is nie.

    Wees voorbereid op ’n verhaal uit ’n toevallige bestaan, ’n onderbreking, terwyl die meesternarratief van die land elders uitgepluis word.

    Gewillig?

    Draai dan noord, sluit die ore, trek jou rekenaar-aangetaste oë op skrefies sodat jy nie vandag se dorp in fokus het nie, maar sien hoe die omgewing in breë trekke lyk.

    Voor jou ’n harde veld, halfwoestyn en dor.

    Maar let op, dis veel meer as klip en sand. Hiér is heuweltjieveld, dáár duineveld en dwergbossieveld. Verderaan kwartsvygieveld en boweal blomveld.

    En onder die voet: doleriet, skalie, sandsteen.

    Ver regs van jou kom die son op oor die noordelike uitloper van die Kaapse Plooiingsberg, ’n lang reeks met verstrooide klowe steeds ryk aan stiltes wat diepte verleen aan eensaamheid en, hopelik, verskansing teen geweld. Renosterveld, en hoër op ’n strook fynbos.

    Aan die kant van die see, links onsigbaar, skaars vyftig kilometer ver, sak die son gereeld laag teen ’n rooi potloodstreep, effe skerper as die kleur van die sand.

    Dis wanneer jy omdraai om suid te kyk, dat jou oë hulle verbasing nie kan hou nie. Die dorp sien jy glad nie raak nie, want jou blik skiet omhoog na waar die sandsteenkranse van ’n berg die blou lug uitdaag. ’n Bestaan waar die mens oorbodig lyk.

    Vóór jou het duisende pare oë reeds eerbiedig opgekyk, nomade en ander tydelikes, na die alleenloperberg wat die vlakte aggressief binnedring met die onverbiddelike afsydigheid van ’n heerser, lilliputters aan die voet; god en mens.

    Afbeeldings hiervan word male sonder tal ingeperk tot toeristefoto’s, die silhoeët dien soms gedweë as logo.

    Die agttiende-eeuse weetgierige Robert Jacob Gordon se ekwipasie het hier tot stilstand gekom, hy’t sy perd afgesaal, waens laat uitspan, en sy tekenaar in die naam van die VOC, sy werkgewer, opdrag gegee om ’n weergawe te maak. In dieselfde jaar buig Paterson sy knie op die einste plek, brak water ten spyt, en sorg vir nog ’n pragtekening.

    Toe was daar geen dorp nie, net voetspore deur ongerepte bossieveld, immerwisselend, waardeur jy steeds kan stap – en maklik mislei word om te dink jy dwaal waar geen mens nog voor jou was nie – oor hierdie geduldige aarde, boetie van Suid-Amerika (ene kleigrond, het tuinier Paterson destyds gekla) mits jy bereid is om die spoed en verveling van die hoofpad af te skud.

    Kyk hoe vol en oeroud is die aarde.

    Bekyk die oorlewing.

    In hierdie geweste vertak die roete van vandag se reisiger uit die suide: Daar moet gekies word tussen verder noordwaarts, na die Grootrivier, of oosnoordoos om die hart van die binneland te bereik. Vandag se geteerde hoofpad vurk dan ook by die twee motorhawens op die rand van die dorp: Lê jou bestemming in Springbok se rigting, dalk Namibië, dan ry jy reguit verder met die breë pad tussen die baie arm buurt en die minder behoeftige huisies regs. Word daar koers gekies na plekke soos Bloemfontein en Johannesburg, moet daar al met die (geteerde) hoofstraat deur die kern van die dorp gery word.

    ’n Maklike keuse, jy weet immers waarheen jy op pad is en groot borde waarsku jou lank voordat die dorp se woelige hoek by die motorhawens bereik word.

    Langnaweke en skoolvakansies sorg vir swaar verkeer. Die besighede doen goeie sake. Die hoofstraat bars uit sy nate, dié keer nie met volgelaaide dubbeldekker-skaaplorries op pad na die slagpale van die stad in die suide nie. Dis busse, taxi’s met sleepwaentjies, viertrekvoertuie met opslaantente op die dak, dubbelkajuite en bakkies, soveel vreemde motors.

    In die jaar van ons verhaal het Kersfees op ’n Maandag geval, wat gesorg het vir ’n buitengewoon lang langnaweek. Busdienste moes sorg vir ekstra karweiers, daar was meer en voller taxi’s met seisoenwerkers wat huis toe kom, familie wat opgesoek word. Dorpenaars wat vroeër uit die stadsgejaagdheid na ’n rustiger lewe uitgewyk het, is tot laat in die nag herinner aan ’n terugpraat uit hulle verlede, een se nagmerrie, die ander se heimwee.

    Daardie Vrydagmiddag aan die begin van Kersnaweek het die verkeer begin toeneem. Die groot geteerde parkeerterrein by die een motorhawe wat ook as bushalte dien, het nie meer soos ’n leë rooibosteebaan van die buurdorp gelyk nie, dit het krioel soos passasiers uitstap vir verversings, toilette opsoek of bloot vir die strek van bene en die eenkantrook van ’n sigaretjie.

    Diegene wat moet oorstap vir ’n ander bestemming kry instruksies om eenkant te wag vir ’n bus op die alternatiewe roete.

    Inwoners van buurdorpe waar die busse nie stilhou nie is ook hier om passasiers af te haal. ’n Gegroet met glimlagte en trane, kompleet soos vroeër toe kampeerders vir die naweek op die nagmaalterrein van die dorpskerk uitgespan het.

    ’n Voor-die-wind-begin vir ’n vakansie met die weer wat pragtig saamspeel.

    Nee, tog nie. Iets is anders, ook anders as met die blomseisoen in die lente, wanneer toeriste met kenmerkende tydsaamheid deur die dorp beweeg en, soos dit opregte nuuskieriges betaam, oral uitvra en verneem na waar die skouspelagtigste blomtonele te vinde is. Vanaand val ’n onrustigheid op. ’n Gejaagdheid om die een of ander bestemming te bereik.

    Jy sien dit weer en weer in die oë.

    Deur die nag sal dit voortduur. ’n Gewoel, feitlik ononderbroke, steeds meer bakkies en trokke met seile waaronder mense uitpeul sodra daar vir brandstof, kafee en toilet stilgehou word. Geld is nie ’n kwessie nie, selfs die armstes se beursies is ’n raps dikker as normaalweg.

    Teen nege-uur plak ’n skraal meisie in die vlootbou uniform van die busdiens ’n kennisgewing teen die bord langs die kafeedeur: Daar is verdere vertragings en roostertye kan nie nagekom word nie, veral passasiers wat laat bespreek het, sal veel later hulle opwagting maak, die maatskappy vra om verskoning.

    Verbeeldingryke lesers kan maklik die toneel verder inklee. Daar sal onvermydelik benoude voertuigbestuurders wees met enjinprobleme, ’n pap wiel, ook aangeklamdes, die uitroepe van pompjoggies, die sensualiteit van menselywe by toonbank en yskas van die garagekafees. En die onophoudelike gedruis van water in toilette.

    Halfelf wys ’n opgewonde pompjoggie na waar bedags die horisonlyn ten noorde van die dorp lê, maklik vyf kilometer ver: flitsende blou ligte van polisievoertuie.

    Iemand sê, ek wou sê ek hoor sirenes.

    Mense drom om die meisie met die vlootblou uniform saam. Sy klap haar selfoon oop, skud die hare van haar oor weg, maar sê sy kry geen antwoord nie.

    Bekommerde gesigte. Tot ’n motor raserig stilhou met die nuus dat die ongevalle klein is, ’n bakkie se wiel het gebars, maar die bus kon betyds uitswaai.

    Wanneer ’n dubbeldekkerbus met sleepwa oomblikke later by die pompe intrek, word hande geklap.

    2

    ’n Passasier op een van die Southcape-busse kom op die vreemdeling af waar hy gebukkend bo-oor die heel laaste wasbak in die manstoilet inmekaar gesak het. Beskonke, te vroeg begin suip, moet nou sy nadors les, dag hy. En hy loop verby na die ry urinale, dink liewer aan die vrou met die twee jong kinders wat hy op die bus ontmoet het.

    ’n Streep mans kom binne. —Dat die donder hom nie skaam nie, sê die oudste een, skop ’n leë koeldrankblikkie uit sy pad voordat hy by ’n toilethokkie ingaan en dadelik weer uitkom om die volgende een uit te toets. —Dan wil die verdomde deure nie sluit nie. Pieter, roep hy na ’n jonger kêrel, wag jy daar en kyk dat niemand inkom nie.

    Die buspassasier wat later ’n verklaring sou aflê, het toe hy van die urinaal na die ry wasbakke (met spieëls) teen die oorkantste muur omdraai, gereken dis merkwaardig hoe die inkapabele vent met soveel mening en met één hand kon klou om sy liggaam orent te hou. —Kop teen die muur onder die spieël, ander hand wat ’n oor toehou. Hy’t gestaan, geleun ja, hom op die wasbak gestut. By die wasbakke, ja. Nee, nie in ’n toilethokkie nie. Ek het nie iets verder opgelet nie. Klere? Vuil, ja. Verwaarloos, sonder twyfel ’n hawelose.

    ’n Seun wat sy hande was, kyk bekommerd op na sy pa. —Pa, is die oom dan nie dood nie?

    Die mans staan in ’n halfsirkel nader. —Wonder hoe lank lê hy al hier? Kyk hoe vieslik lyk die plek.

    —Ons staan nog so en wonder (dieselfde getuienis), toe moes ek haastig padgee, want die vent se knieë knak en hy sak inmekaar en val dat die kop op die teëlvloer klap.

    In die kafee roep een van die assistente by die kasregisters na Alwyn, die eienaar, wat in sy kantoorhokkie telefonies by sy buurman pleit om hom vroegoggend uit te help met die afhaal van vars voorraad by die groothandelverspreider in die buurdorp.

    Uitdrukkingloos luister hy na die storie van die waskamers se dooie man, dit ook nog! Eers wil hy verduidelik dat die versorging van die toilette die verantwoordelikheid van die garagebestuur is, nie syne nie, maar bedink homself. Wat sal dit help, hy knik sy kop, vra niks uit nie, want hy weet dis die alewig lastige Flippie, hoeveel keer het hulle al die pompjoggies opdrag gegee om niksnutte soos daardie Flippie die waskamers te belet? En hy smyt sy voorradeboek neer dat dit oor die tafel skuif en afval.

    Buite roep hy na ’n pompjoggie, maar vergeet heeltemal van die boemelaar in die toilet toe hy van ’n nuwe krisis hoor. Dis Martha, staatmaker en hoofvrou oor die pompjoggies, wat met ’n blonde meisietjie aan die hand naderkom.

    —Sy moet hier afklim, Meneer, maar haar mense het nie opgedaag nie.

    Die kind kyk nie na hom nie, haar blik is na die niet, in haar vry hand hou sy ’n pienk handsakkie styf vas, dalk met haar mense se name daarin?

    —Nee, Meneer, antwoord Martha.

    Alwyn streel oor die kind se kop, hy skat haar op vyf jaar, hoe kan hulle sulke jong kinders toelaat om alleen te reis?

    ’n Bus vertrek sissend van die brandstofpompe op sy volgende skof. —Waar is die juffrou in die blou uniform? Kry haar, dat sy werk maak hiervan!

    Maar ineens is die meisie met die vlootblou uniform nêrens te vinde nie, dalk self na die toilet. Wanneer die kind se gesig begin vertrek, sak Alwyn langs haar op sy hurke.

    —Toe maar, ons gaan jou mense kry, jy sal sien. Wat is jou naam?

    Renate, blyk dit tussen die snikke deur, maar met haar ontsteltenis wat by die sekonde toeneem, is dit nie raadsaam om verder uit te vra nie.

    Op die parkeerterrein weergalm ’n toeter lank, té lank.

    Kind aan die hand soek hy in die kafee ’n lekkerny uit as troos en afleiding. Die Bar-One’s is ook op, merk hy, hopelik uitverkoop, hulle besteel my nog rot en kaal. Hy gee die kind twee pakkies Sour Electroshocks, ’n groene en ’n pienke, dis gewild, kinders hou daarvan.

    Dis ’n verligte Alwyn wat die meisie van die busdiens in die kafeedeur sien waai. Sy neem die kind by hom oor.

    Terug in sy kantoortjie draai hy die volume op die CD-speler met kafeemusiek sagter en sluk twee hoofpynpille droog af voordat hy na die nagkiosk oorstap.

    Normaalweg word die kafee saans om nege gesluit en naweke om elfuur. Daarna kan klante in die kiosk langsaan wegneemkos koop, hamburgers en roosterkoek met ’n keuse van twee koeldranksoorte en koffie en tee. Laasgenoemde nie aan te beveel nie, besef Alwyn alte goed, maar mense moet besef dis buite normale ure.

    Dis waar Martha hom opspoor.

    —Meneer, hulle sê daar’t ’n man in die toilet geval en hy’s dood.

    Dan’s dit ’n saak vir die polisie. Sou dit wragtig Flippie wees wat nie die nuwe jaar kon haal nie? Eers gaan kyk voordat hy die polisie laat weet, wonder wie’s dáár aan diens?

    Byna oorweldig deur die bedompigheid van die waskamer torring hy eers aan die ry venstertjies bokant die urinale, maar kry net een behoorlik oop. Hieraan sal iets gedoen moet word.

    En iemand het wragtig sy valhelm soos ’n tweede gapende beker in ’n urinaal laat lê, darem droog van binne! Ergerlik tel Alwyn dit aan die leergespe op en gooi dit in die hoek. Hy skrik wanneer die kopstuk eers ’n hop gee voordat dit teen die muur gaan lê en wieg.

    Toe hy na die man op die vloer kyk, is hy teleurgesteld om te sien dis nie Flippie nie, maar ’n ander sukkelaar. Ken hom van geen Adam nie, sy makkers het seker besluit om sonder hom verder te ry, meer vir hulle om te drink. Of glad nie agtergekom hy’s weg nie.

    Fok, maar is die plek nie in ’n gemors nie! Dit val hom op hoe ’n man die handdroër teen die muur by die uitgang ’n klap gee, en met ’n snork uitloop terwyl hy sy hande droogskud.

    Alwyn gee dit self ’n stewige oorveeg voordat hy uitgaan.

    Hy roep na Martha om dadelik vir Visagie, die garage-eienaar, te laat kom, dié sit natuurlik heerlik by die huis en televisie kyk – en dink, met ’n sug: As ek sy vrou gehad het, was ek nou self by die huis.

    Dan klap hy sy selfoon oop en skakel die polisie, wonder steeds hoe dit vanaand by die owerhede gaan, veral toe ’n boodskapmasjien hom versoek om ’n selnommer te skakel.

    Onderwyl hy wag, bekyk hy die verslonste man ’n tweede keer: blas vel, alles dui op verwaarlosing, die linkerarm, by die elmboog gebuig, langs die kant van sy kop asof hy vir laas ’n heildronk wou instel. Nog nooit gesien nie, kan ’n Griek wees, definitief nie van ons mense nie. Hy het skoon uit sy sandale geval, gelukkig nie in die middel van die vloer nie, maar byna ewe erg: reg in die pad van twee toiletgeriewe in die hoek.

    Dan kom Emily se stem oor die foon, sy’s al een by die stasie, almal is uitgeroep, daar’s groot moeilikheid by die kliniek, die probleem is sy het geen vervoer nie, kan hy nie maar die dronk man uitsleep nie?

    —Moenie later sê ek het julle nie dadelik laat weet nie. Ek ken die vent nie, hoe sê hulle: ’n boemelaar op deurtog? Hy’s dood. Hy kan nie daar lê nie en ek mag hom nie uitsleep nie, netnou is ek in die moeilikheid. Is Calvin nie daar nie?

    Alles reg, nee, sy sal vir inspekteur Tessa bel, sy is op standby, sy het ’n kar. Ja, sy sal ook die stasiekommissaris laat weet om ’n vangwa te stuur sodra hy by die kliniek kan wegkom.

    Kan dit erger?

    Alwyn skop die boemelaar se sandale uit die pad, probeer van die halfnat stringe toiletpapier wat mense gebruik het om hulle hande mee af te droog met sy voet in die rigting van die muur vee, gee uiteindelik op. Iemand het ’n bal laat val, ’n halfgeëte pakkie lekkers, plastiekwaterpistool … dis verbysterend hoe gou ’n plek oppak, waar is die personeel wat vir skoonmaak moet sorg? Visagie, jy sal jou hand hierop moet hou, môre, oormôre verloor ons die kontrak as halte vir die busmaatskappy.

    Eensklaps is die waskamer leeg en haastig gryp hy die dooie man aan sy voete en sleep hom tot teenaan die muur onder die wasbakke in. Die pad na al die toilette is minstens nou oop, al kan net twee van die wasbakke met gemak gebruik word. Dat dit op so ’n besige aand moet gebeur. Hy druk met sy voet teen die dooie in ’n poging om hom dieper onder die wasbakke in te kry, maar hy is reeds teen die muur. Vanaand word ons beproef deur buitengewone omstandighede.

    Hy soek die afsondering van sy kantoortjie op. Staar na die aanspeldbord, sit sonder om iets anders te doen.

    Dis sy seun, weet hy, wat hom al jare lank grys hare gee. Koenas, sy spraaksame seun wat in die middel van vanjaar sy studie opgeskop het om sak en pak huis toe te kom.

    Twee jaar se geld gemors. En moenie vra wat voorlê nie.

    Is daar rumoerigheid in die kafee, harde stemme?

    So sit hy. Tot ’n vreemdeling sy deur ooppluk, Duitse toeris, kom hy agter, wat hom vra hoekom hy nie werk maak van die lyk in die toilet nie, hoe kan dit sommer oop en bloot rondlê, hy’s maar twee dae in die land en hier sien hy hoe erg dit is.

    Alwyn druk by die man verby, met moeite, dit lyk of die kêrel hom te lyf wil gaan.

    Hulle storm by die kafee uit, waar ander hulle aan die klein skermutseling vergaap. Alwyn gooi sy hande in die lug, wat staan hom te doen? Hoe kan hy die waskamer sluit? Dis ondenkbaar, waarheen moet die mans gaan, die parkeerterrein gebruik? Of almal aansê om die geriewe vir die vroue te gebruik? Dink net aan die klagtes wat dít tot gevolg sal hê.

    Die protesteerder word weggetrek na ’n hoog opgestapelde viertrekbussie, maar nie sonder ’n onafgebroke geskel nie.

    Die Duitsers vertrek en die aand voel ineens koel en vars. En, dank die vader, dit lyk ook rustiger by die brandstofpompe. Nou maar wag en sien hoe lank dit die polisie vat om te kom, ek sal nie heelnag vir hulle wag nie, ná die volgende bus sluit ek die kafee, die kiosk se voorraad behoort ons deur te sien.

    In die kafee gaan dit ook stiller, die musiek gedemp. Die personeel lyk afgerem, dit was ’n lang skof. Die enigste wat vrolik skerts, is die twee in vars gestrykte uniforms wat die nag in die kiosk aan diens is.

    Alwyn voel of die dag op hom ingevou het. Liewer uitgaan, Martha vra wat geword het van die vrou wat die waskamer moet skoonhou, sy sal dringend moet kyk hoe dit in die vrouetoilette lyk.

    Hy loop hom vas teen Tak Wessels.

    Vanaand kry hy gaste op twee busse, vertel Tak en Alwyn knik geïrriteerd: Het Tak vergeet hy praat met sy eie swaer, hoe sal hy nie weet van sy agterveldse skoonfamilie wat kom kuier nie?

    —Alwyn, is dit nie pragtig om ons dorp só te sien nie, dat die dooie plek so kan opvlam?

    Alwyn beaam, ongekend, ja, die naweek het skaars begin of hy moet sy voorraad aanvul, maar dit put jou uit, dit vat behoorlik aan ’n man.

    Tak se plaas is nie ver uit die dorp nie, kwalik tien kilometer na die ooste, hy is ’n skaapboer. Dis te sê wanneer hy nie in die dorp boer nie, voeg die dorpenaars telkemale by.

    —Jy weet seker van die dronk ou wat in jou toilet uitgepass het?

    Alwyn antwoord nie. Hy sien hoe ’n volgelaaide taxi tussen die rye brandstofpompe intrek en ’n spul mans by die deur uitpeul. Swaaiend met sy arm roep hy na die pompjoggies: —Frans! Klaas!

    As ’n mens die dooie drommel net in een van die toilethokkies kan insleep, hom by die knieë vou en die deur toemaak. Hoekom het hy nie lankal daaraan gedink nie?

    Die drie van hulle sleep die boemelaar tot binne-in die middelste toilethokkie, die een met die afgebreekte skarnier. Hulle is meer in mekaar se pad en Alwyn reageer geïrriteerd toe hy Klaas se snork van verontwaardiging hoor. Vererg vra hy: —Vir wat is jy onwillig? Dink jy dis vir mý lekker om ’n dooie bliksem rond te sleep?

    Klaas antwoord nie, wys net na die gebruikte kondoom wat in die hoek agter die lyk se kop lê.

    —Fok, man, doen iets! Gooi dit in die spoelbak!

    Maar Klaas is lankal op pad na die deur, gevolg deur Frans.

    Vir jou sal ek kry, wag maar, dink Alwyn. Hy trap en strek bo-oor die boemelaar, kry dit nie heeltemal reg nie, verloor sy balans, slaag darem daarin om hom half staande op die dooie, wat steeds meegee, teen die muur te stut en met die langste vingers denkbaar die vieslike voorwerp in die spoelbak te gooi.

    Dis te walglik vir woorde, hy pluk en rem aan die deur, kry dit nie naastenby toe nie, merk dan vir die eerste keer die spul mans op wat hom met verbasing gadeslaan. —Nee, kêrels, ons help net, ons probeer hom uit die pad kry. Ja, ja, die polisie kom.

    Een man sê: —Pas op, jy moet lig loop vir Aids!

    Te walglik vir woorde! Hy vlug struikelend na buite, byna vas teen Emily en Tessa, die twee polisievroue, die een in uniform, die ander in siviele drag.

    Toe Alwyn lank na twaalf eindelik tuiskom, kry hy sy vrou slapend voor die televisieskerm.

    Hy skink vir hom die een stywe dop na die ander, maar voel hy kry nie genoeg om sy vrag stres te verlig nie.

    Sy vrou word wakker, strek haar arms lank uit, gaap en kla oor ’n stywe nek, sy’t te lank skeef gelê.

    —Gerda, onthou jy daardie simpel sandale wat jy laas Kersfees vir my present gegee het? Hy sink neer in een van die diep insakstoele.

    —Hene, Alwyn, is dit nou die tyd om weer daarmee te begin?

    Sy’s ’n skraal vroutjie met ’n sagte stem.

    —Nee, ek begin niks, ek wil jou net vertel van die dronk boemelaar wat ons vanaand in die toilette uit mense se pad moes sleep. Hy wou seker water drink, maar tjop toe net daar af. Morsdood!

    Alwyn sluk stadig aan ’n lang teug, wonder skielik wat van die dogtertjie geword het.

    Renate, het sy gesê is haar naam.

    Sê nou sy het heeltemal op die verkeerde plek afgeklim?

    —Ja?

    —Nou, daai boemelaar het net sulke sandale aangehad, regte poeftersandale.

    3

    Wanneer haar selfoon pas na elfuur lui en sy leerlingkonstabel Emily se stem hoor, is Tessa se eerste reaksie een van verbasing. Maak die groentjie nie ’n fout nie? Sy wil vra of die kaptein hiervan weet, maar bedink haarself. Sy sal haar kant bring, dis hoe sy geleer is, dis hoe dit moet wees.

    Dis net dat sy dit nie verwag nie, hier teen die einde van haar tyd in die polisie, haar laaste week. En Calvin, die takbevelvoerder, het juis vanoggend gesê sy hoef nie meer bedags aan te meld vir skofte nie. Wat sy natuurlik nooit sal doen nie. Dinsdag is haar laaste werkdag voor die paar dae se toegestane verlof. En tot Dinsdag sal sy op haar pos wees.

    Die polisiestasie doem voor haar op met die allenige en onseker Emily iewers in die nuwe helder verligte gebou, die aanhoudingselle agter.

    Waar sou die ander wees? Goed, twee is steeds op siekteverlof, tot almal se irritasie. Maar waar is al die ander, gaan dit so erg? Weer wil sy vra, maar doen dit nie. Emily is immers ’n leerlingkonstabel en tog so senuweeagtig.

    Die kind!

    Wat moet sy met hom maak wanneer sy uitgaan? Die slapende Otto alleen laat? Sy’t dit nog nooit gedoen nie, om hom heeltemal alleen te los. Verskriklik vir ’n kind om in die nag totaal alleen wakker te word. Weet sy dit nie! Al sou hy môre verstaan, besef hy moet sy kant bring, nog net een week vasbyt. Pure dobbelspel was dit om te meen sy sal nie uitgeroep word nie.

    —Watter garage? Dood, sê jy?

    Tessa praat met haar saaklike polisiestem. Sy ken haar werk. Sy was altyd trots op haar werk. En dis hoe die meeste inwoners haar ken, ’n steunpilaar vir die dorp.

    En baie sal klaarstaan om by te voeg: ’n aanvallige vrou.

    Maar nie iemand om mee te sukkel nie, nee.

    Het sy dan nie vroeër vanjaar haar man, die bedonderde Andries, finaal onder sy gat geskop nie? En dit wil gedoen wees.

    Dis maklik om jou in te dink hoe sy haar steil swart hare verby haar oor vee en kind en goed met saamgeperste lippe in die kar laai, háár kar wat reeds van voor hulle troue ’n stuk of elf jaar gelede dateer. En hoe Andries, ewe hardgebak (en moeilik daarby!) hulle huis in die mark sit en ’n verplasing aanvra en wragtig kry ook. Net om ’n week later na die Skerpioene oor te stap. Hulle sê Lambertsbaai is nou sy staanplek. Visstropers en dwelmsmouse. Sal hom soos ’n handskoen pas.

    En op ons dorp sit die polisie nou sonder hulle bekwaamste senior inspekteur, was die oordeel van Tak Wessels.

    Tog so jammer, sê Calvin gister vir haar, dat die ding tussen haar en Andries nie wou uitwerk nie. Wou haar natuurlik toets, almal weet die verhouding was ’n kruitvat. Dit was ondraaglik daardie laaste paar weke by die werk toe hulle pligshalwe skouer aan skouer moes staan.

    —Hou jou reg, ek is nou daar. En sy gee Emily ’n rits opdragte. Dis dalk moord, die plek moet afgesper word.

    Die kind. Vas aan die slaap op sy bed teen die muur, sy nuwe boek binne bereik.

    Hoe kortsigtig van haar om te aanvaar daar sal nie op haar nommer gedruk word vir bystand nie, al het die plaaslike tak onlangs vyf permanente lede bygekry.

    Almal weet Otto is ’n hand vol. Hy verstaan ook net wat hy wil. Goddank vir skool wat in die nuwe jaar voorlê.

    Vanoggend het sy vir Fytjie gevra of hy nie onder haar oog in die biblioteek se leeskamer kan sit nie terwyl sy wat Tessa is, haar oggendskof doen. Normaalweg woon hy Vivvie se kleuterskool by, maar dié is vir die feesgety gesluit en Vivvie self vir ’n paar dae na haar suster. Met sy beste maats ook almal weg vir die vakansie het sy gedink sy sou dit maar van dag tot dag hanteer.

    Sy kon tog nie haar broer-hulle vra om na hom te kyk nie. Sy het juis verlede maand ’n paar dae by hulle in die Paarl deurgebring om al haar verskuldigde verlof op te gebruik, en sy vermoed die hele gesin het uit pure dankbaarheid die hande saamgeslaan toe hulle vort is.

    Die ander opsie is haar ma op Springbok. Dat Otto vir ’n week by sy ouma bly. Totdat sy klaar is met die trekkery na die buurdorp en ’n nuwe tuiste ingerig het, dis te sê as sy ’n geskikte huis kry, sy is steeds op soek. As die een plek nie te groot is nie, is die ander onaanvaarbaar. Sy moet die kind se behoeftes ook in ag neem.

    Dit beteken dat sy onmiddellik ná haar volgende oggendskof Springbok toe moet ry. Vroegaand is sy weer terug, niemand sal eens daarvan weet nie. Sou daar ’n krisis kom en sy word gesoek, wat uiters onwaarskynlik is, dan moet sy staatmaak op die ingewing van die oomblik. Buitendien weet sy hoe om Calvin te hanteer. Solank jy hom heeltyd verseker hy’s baas van die plaas.

    Sy trek ’n skoon bloese aan, borsel haar hare, maar sorg dat sy nie oogkontak maak met haar beeld in die spieël nie. Laat die mense dink wat hulle wil. Laat haar gesig dit verkondig. Oor enkele dae skud sy sewentien jaar se polisiestof van haar voete, waarvan veertien jaar in hierdie dorp.

    Gebukkend oor Otto op die ander enkelbed, trek sy haar skoene aan. Hy’t gelukkig nie wakker geword nie. Moet sy met haar Springbokplan voortgaan? Ja, dis al uitweg. Net tot die vakansiedae verby is. Volgende jaar sal dit anders wees. Wanneer hy eers skoolgaan. En sy met haar nuwe loopbaan begin het.

    In die lig wat van die badkamer inskyn, is die kind die toonbeeld van weerloosheid, tog jammer dat dit haar selde opval. Dikwels wonder sy: Waar kom hierdie kind vandaan? Die kind los jou net nooit met sy vrae nie; dis ’n nooit aflatende uitdaging. Jy kan maar sê van die moment dat hy kon praat – en dit was vroeg, wat, skaars tien maande was hy toe hy lostrek. Selfs Vivvie het op ’n keer gesê iets is nie reg nie, die kind is skoon alle stadiums van kindwees tegelyk.

    Kry hy dit van sy pa? Andries se mense is nou eenmaal wild – intelligent sekerlik, maar hard in woord en daad, hulle skroom nie om aggressief te wees nie. Sy sal weet!

    Boonop het Otto onlangs begin lees. Tot Vivvie se ontsteltenis, sy wou hom terughou, sy glo vas ’n kind moenie lees voordat hy op skool kom nie – eers behoorlik leer speel, daarna spel. Eers moet die grondslag vir gesonde sosiale kohesie gelê word, dat hy reg kan sosialiseer, is wat sy sê.

    Hulle vermoed oom Tjaart sit agter die lesery, die oudskoolhoof wat onlangs op die dorp kom aftree het. Toe het die Lego-koors darem bedaar, sy kon nie voorbly met al die stelle en projekte nie. Vivvie het vir haar skool ook boustelle aangekoop, ál die kinders het aangesteek. Vivvie het selfs ’n speelkamer in haar huis vir Otto ingerig, sy het tog nie plek nie.

    Maar nou word daar gelees, hy verslind alles voor die voet. Eers was dit sy ou prenteboeke wat hy bladsy vir bladsy deurgewerk het. Dan moet sy dit ontgeld as sy, hoe onskuldig ook al, vroeër gedeeltes oorgeslaan of verdraai het.

    Jy moet so op jou hoede bly, hy luister na alles. Soms maak die kind haar bang. Vivvie het besluit dis ’n deurmekaar stadium wat ongelukkig bietjie lank duur. Sy wil nie nog ’n kind hê nie, sy voel soos ’n ma van vyf. Vyf wat jou aandag vra vir allerlei vreemde dinge, hoe hou mens kop? Nou’s dit die ouderdom van klippe, pas daarna dinosourusse, spuitvliegtuie, Griekse en Indiese gode, geitjies en vygies en wat nie alles nie, tot jou kop draai. Dit alles kan nog gaan, maar wat maak jy met al die vrae oor menslike gedrag?

    Handsak oor die skouer tel sy haar kind op, ook nie meer die klein lyfie nie, sy soen hom tussen sy hare, liggaam van haar eie weefsel, sy’t hom lief, jouself kan jy tog nie haat nie. Goddank, hy het geen slaapprobleme nie, daar is hy soos ander kinders. Vandag was weer, soos alle dae vir ’n gesonde, energieke kind, lank en vol.

    Sy struikel effe oor die drumpel. Sê nou hy’s die normale een? Ja, sý’s die een wat sukkel met stres en ná vanmiddag weet sy dat die komende tye oorgenoeg vertwyfeling inhou. Dis dinge hierdie waarvan net sy weet.

    ’n Lewe saam met Andries wil sy nooit weer hê nie. Dis verby, uit en gedaan. Wat haar vanmiddag ontstel het, was die opmerkings van Louise, die vriendin wat haar oor Tessa en die kind ontferm het en die klein woonstel op die punt van die erf vir hulle aangebied het. Dit pla Tessa nie dat die slaapkamer aan die klein kant is nie, dit is wonderlik privaat op die agterste hoek van die erf, weg van die groot Victoriaanse amperse herehuis wat deur haar vriendin en haar man as ’n gastehuis bedryf word. In die winter is dit nogal kil en erg klam, dit was nie verniet vroeër bediendekamers nie. Kyk hoe beknop is die wasgeriewe. En jy moet jou draai ken tussen die enkelbedjies en tafeltjie (in die pad van die ingeboude klerekas se deur). Die ruimte in die voorkamertjie is ewe gebrekkig met rusbank, eettafel met twee stoele, yskassie, piepklein opwasbakkie en werkblad met elektriese ketel en klein gasstofie.

    Die hele huishouding is met ’n enkele oogopslag daar. Die benoudste van alles is die badkamer met sy lae plafon.

    Ná die gesprek met Louise is sy ontsteld na haar kamer.

    Otto het haar oor die grasperk sien aankom, gevra hoe laat dit is, want om vyf gaan hy gereeld na die huis vir sy gunstelingtelevisieprogram. Hoflik vra hy Gerrit of Louise of hy mag kyk, soos sy ma dit by hom ingeprent het.

    Voorbeeldig wanneer dit hom pas. Maar meer as hoflikheid is nodig om met mense oor die weg te kom. Was hy maar stout soos ander kinders, hy’s onmoontlik. Net wanneer jy dit die minste verwag. Nou die dag skimp Louise sy moet haar storie ken om haar gaste van Otto weg te hou uit vrees vir die een of ander onverwagte opmerking.

    —Ma, kan ons vanmiddag die berg uitklim?

    Sy kon nie haar irritasie wys nie, dis nie die kind se skuld nie en dis onregverdig jeens almal, niemand anders is te blameer dat sy in hierdie ellendige situasie vasgeval het nie. As hy haar net hierdie een middag met rus wou laat.

    Hy het sy vraag herhaal, die keer met sy rug na haar terwyl hy na Losberg opkyk.

    Tessa wou nie soontoe kyk nie, nie vandag nie – alles, ook die berg, voel vandag soos ’n bedreiging. Buitendien vind sy dit te oordonderend, te … manlik. Dís hoe sy dit in haar dagboek moet neerskryf, miskien is dit die rede hoekom sy uitstel om haar belofte aan Otto na te kom. Hulle stap tog gereeld buite in die veld op een van die plase en sy geniet dit altyd saam met hom.

    —Miskien net na Kersfees, Otto. Ma kan enige oomblik uitgeroep word, het sy gesê.

    —Hoekom doen Pa

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1