Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Vier begrafnisse en 'n troue
Vier begrafnisse en 'n troue
Vier begrafnisse en 'n troue
Ebook425 pages9 hours

Vier begrafnisse en 'n troue

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dulcie-Anne Douglas is ’n miljoenêr – op skrif. Twee jaar gelede toe haar man oorlede is in ’n treinongeluk, het sy in ’n japtrap vir haar en die kinders ’n smart huis in die woonbuurt van Roxy gekoop. Weg van Gumaville se arm bure en vuil brakke. Maar Gumaville se inwoners wil háár eenvoudig nie los nie. ‘n Tong-in-die-kies roman deur die skrywer van KROES en DIE VAL VAN DIE DICE. Stamatélos skeer die gek met wit, met bruin, met swart. ’n Eg satiriese roman wat ’n mens uit jou maag laat skater, grinnik en kop skud oor die aardigheid van  menseverhoudings in ons geliefde land.
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateSep 1, 2011
ISBN9780795703393
Vier begrafnisse en 'n troue

Read more from Pat Stamatelos

Related to Vier begrafnisse en 'n troue

Related ebooks

Related articles

Reviews for Vier begrafnisse en 'n troue

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatelos

    Hoofstuk 1

    1

    Dulcie-Anne Douglas stamp effens aan haar dogter. Sy lig haar wenkbroue en rol haar oë in die rigting van die kisdraers. Voetjie vir voetjie loop hulle die paadjie van die lykswa na die graf. Aan die voorpunt van die swart geklede groepie loop haar swaer, Sparky. Stewig en sterk gebou, eggenoot van die oorlede Hanna.

    Langs Sparky, aan die ander kant van die kis, loop Hanna se broer Dudley Brown. Vergeleke met Hanna se doodsgewig weeg Dudley ’n skamele tagtig. Sy swart pak en das lyk nuut. Vir Dulcie is die enigste spikkeltjie op die man met die mooi maniere, smaakvolle kleredrag en kiertsregop houding die welige bos hare wat oor sy gestyfde hempskraag hang.

    Dudley lyk op ’n druppel soos Peter Sellers met ’n pruik en ’n snor. Vandat Dulcie hom ken, het hy die lang hare. Sy oorlede vrou Hilda was mal daaroor, maar Dulcie deel nie dié entoesiasme nie.

    Enver-Lewis, die gekiste Hanna se enigste seun en enigste kind, loop agter sy pa. Agter hom loop Dulcie se seun, Ashwin: donkergrys hemp, swart broek en sonder baadjie, met sy oorlede pa se swart das aan. Ashwin se gestalte spreek van die ure wat hy in die gym deurbring. Op sy ma se onkoste.

    Die ander twee draers is familievriende. Die een met krulhare wat ’n stralekrans om sy kop vorm, die ander met reguit hare oor ’n plooierige voorkop. Simon-en-Garfunkel-dubbelgangers, glimlag Dulcie.

    Die meeste mense hou ’n sambreel oor die kop teen die stuifreën, die draers inkluis. My eerste nat begrafnis, dink Dulcie ’n bietjie geamuseerd.

    Kyk hoe sweet hulle onder Hanna – begin sy, maar word onderbreek deur Cheryl se Máá! en ’n stampie in die ribbes. Cheryl se knipperende oë kyk afwaarts, maar haar ma weet sy loer.

    Dulcie sluk haar woorde toe sy sien hoe Cheryl met ’n sakdoek oor haar oë vee. Haar blik flits van die draers na die grond voor haar. Dan na haar dogter se voete, en haar oë rek van verbasing.

    Het jy nie swart skoene gehad om aan te trek nie? vra sy geskok.

    Máá . . . Sjuut, dis ’n begrafnis.

    Rooi skoene is nie begráfnisskoene nie, fluister Dulcie, ’n byt in haar stem.

    Sy self is paslik geklee in ’n swart romp (gister gekoop) en ’n wit bloes (twee dae tevore gekoop). Sy het twee jaar gelede dieselfde swart skoene na haar man, Bennie, se begrafnis gedra.

    Met ’n stadige beweging laat Dulcie die swart mantilla van haar kop afgly tot op haar skouers. Sy probeer dit ongesiens in haar handsak druk, vroetel ’n oomblik onder in die sak rond.

    Máá . . .

    Dulcie maak ’n klikgeluid met haar tong. Maar in plaas van ’n pepermentjie gryp haar vingers ’n koevert vas. Op pad na die begrafnis het hulle gou by die poskantoor aangegaan. Sy het nie ’n posstuk verwag nie, maar Ashwin het teruggekom met ’n brief van die plaaslike hospitaal.

    Ná Bennie se ongeluk het hy tien dae lank in dié hospitaal gelê. Hy het gesterf sonder om sy bewussyn te herwin.

    Maak dit oop, het sy gesê toe Ashwin haar die brief wys.

    Dis van die hospitaal.

    Ja, toe, wat wil hulle hê? het sy ongeduldig gevra toe sy in die hoofpad inswaai.

    Ma, daai trok gaan ons –

    Ag, bly tog stil, Cheryl, ek weet wat ek doen.

    Dis die rekening vir Pa se tyd in die hospitaal.

    Nou wat wil hulle van mý hê? Die Railways het mos nalatigheid erken en onderneem om die mediese onkoste te betaal. Hoeveel skuld . . . Dulcie se stem het weggeraak soos sy konsentreer om ’n bakkie verby te steek.

    Ons gaan sterf nog voor ons by die begrafnis –

    Cheryl, assebliéf!

    Bennie het sy lewe lank vir die Railways gewerk. Eers as ’n shunter, toe ’n kondukteur op die treine, en later inspekteur van een of ander aard.

    Twee jaar gelede het hy sy vrou die oggend koebaai gesoen en afgesit werk toe. Twee uur later het die stasiemeester en ’n polisieman op haar drumpel gestaan. Ek is jammer, mevrou, ons bring slegte nuus . . .

    In love stories lees jy van mense wie se lewe uitmekaarval weens die dood van ’n geliefde. Dit was vir haar altyd te dik vir ’n daalder. Sy het die twee mans voor haar aangestaar, te oorbluf om te praat. En skielik het sy geweet: háár lewe is op die punt om uitmekaar te val.

    Bennie het al met die kant van die perron langs geloop toe dit meteens onder hom padgee. Hy het afgeval en sy kop oopgekloof teen ’n ysterspoor. Die stasiemeester het met hom hospitaal toe gejaag.

    Ná sy begrafnis het Dulcie ’n prokureur gaan sien. Alle bewyse van nalatigheid asook die mediese rekeninge is aan die hof voorgelê. Hulle skuldeisers het ingestem om te wag vir die uitspraak.

    Die einde van die saak was dat die Railways ingestem het om al Bennie se mediese onkostes te betaal, sowel as sy begrafniskoste. Dit het ’n hele jaar gevat voor alles afgehandel was, en amper net so lank voordat enige geld aan haar oorbetaal is.

    Met haar vergoedingspakket van drie miljoen het die kinders haar aangemoedig om die huis in Gumaville te verkoop. Nie dat sy enige aansporing nodig gehad het nie. Gumaville se modderstrate vol gate en dongas, die gebrek aan munisipale dienste, die verhongerde kinders, weggooidiere en leë winkelrakke was maklik om agter te laat.

    Sy was gretig om weg te kom van enige tasbare herinneringe aan Bennie en Gumaville, en het die huis dadelik verkoop, al was dit vir ’n appel en ’n ei. Haar visier gerig op die high society-voorstad genaamd Roxy.

    Met die drie miljoen in haar bankrekening, plus die paar duisend vir die verkoop van haar huis, het sy begin geld uitgee. Om die waarheid te sê, sy het dit álles uitgegee, besef sy benoud terwyl sy versnel om ’n trok verby te steek.

    Die Roxy-huis se prys was oorspronklik drie miljoen, wat die verkoper later afgebring het na ’n skamele twee punt twee. Die eiendomsagent verantwoordelik vir dié bevredigende transaksie was ’n mooie man genaamd Rocky van der Merwe. Groot, vlesig, blou oë, blonde hare en onweerstaanbaar. Wel, amper.

    Die nuwe meubels en gordyne het so te sê saam met die binnehuisversierder aangekom. Dié om haar voor te sê waar die meubels moet kom, hoe die gordyne moet hang en hoe om dit af te show. Oorspronklike etswerke, Persiese matte en Oosterse kussings (haar keuse), skilderye en houtwerk (Cheryl se keuse), groot keramiekvase en ’n stel AMC-potte (Ashwin se keuse) het die prentjie afgerond. Wel, amper.

    Die binnehuisversierder het art deco-spieëls in die slaapkamers voorgestel, toe ’n duur lappie hier en ’n kosbare matjie daar, tot by die klein Merc – vir haar. Cheryl was uit haar vel oor haar splinternuwe Uno.

    Ashwin was heel tevrede met sy Volksie. Al wat hy nog wou hê, was ’n hoëtroustel, ’n jaar se Sports Illustrated en ’n prent van James Dean (lewensgroot) wat langs sy sportmotor poseer. Nie sleg vir ’n twee-en-twintigjarige nie. Sy self het ’n uitrusting of twee gekoop, vir die skyn van ryk wees.

    Met haar onderdak, meubilering, klerekas en kinders wat versorg was, was sy oortuig dat hulle (eintlik sy, want die kinders sal binne ’n jaar onafhanklik wees) gerieflik op haar Railway-pensioen sou kon leef. Selfs met die hoë huisbelasting wat sy moet betaal. Alles is immers kontant betaal, en sy het hoegenaamd géén skuld nie. Met die uitsondering van haar tweeweeklikse manikuur en pedikuur beskou sy haarself as baie spaarsaam.

    Cheryl het nadergeskuif van die agtersitplek, haar kop tussen dié van haar ma en broer.

    Hóéveel? vra Dulcie, haar blik op die pad.

    Met ’n bangheid in haar hart dink sy aan die hospitaalrekeninge wat sy van tyd tot tyd in die onderste laai druk. Twee maande gelede het sy eenvoudig alles na die Railways se mediese fonds gestuur.

    Ma het tien dae om te betaal, anders gaan hulle Ma dagvaar, sê Ashwin.

    In hemelsnaam! Vir wát word ek gedagvaar?

    Ma! Die verkeerslig gaan rooi!

    Vir R270 000 vir die . . .

    Ashwin maak nie sy sin klaar nie. Dulcie trap rem by die rooi lig dat haar passasiers opnuut hulle ontbyt moet sluk.

    Máá! skree Cheryl.

    Die son brand neer op Hanna se begrafnisstoet. Die reëntjie is verby en die sambrele toegevou en aan arms gehaak. Soos dit ’n dame betaam, druk Dulcie liggies met haar sakdoek om haar nek. Haar hare is styf gedraai en bo-op haar kop gestapel.

    Sy loer na Cheryl, wat amper teenaan haar staan. Sien vir die eerste keer dat hulle ewe lank is, met omtrent dieselfde bou. Breë skouers, seningrig, maar tog vroulik gebou.

    Dulcie sug innerlik. As haar dogter net geweet het wat om vir watter geleentheid aan te trek. Rooi skoene by ’n begrafnis, kan jy nou meer!

    Cheryl se bos pikswart, blink krulle wip om haar kop. Dik en glansend is ’n mooi beskrywing van haar hare. Maar sy moes dit liewers vasgemaak het, want dis heluit warm. En dis immers ’n begrafnis.

    Vir enige jong mens is twintig ’n gevaarlike ouderdom, en Cheryl is geen uitsondering nie. Op die oomblik spring sy oor kruispaaie, ignoreer die lewe se stopstrate en gly langs deurpaaie af. Haar enigste bekommernis: om in die salon mevrou Poggenpoel soos ’n koninklike te laat lyk met haar R100-kapsel.

    Met die geboorte van sy kinders het Bennie vir elkeen ’n polis uitgeneem. Met dié geld het Cheryl by die kollege ingeskryf vir haarkappery en Ashwin vir meganiese ingenieurswese. Hulle is albei in hul finale jaar, besig met hulle prakties terwyl hulle peanuts verdien. Albei liplekkend vir die groot geld wat voorlê.

    Dulcie glimlag wrang. Arme skatjies, wat weet hulle?

    Sy verkyk haar aan ’n maer figuurtjie op die grens van die groepie begrafnisgangers. Aangetrek in ’n nousluitende swart romp by ’n roomkleurige T-hempie en oor haar bors die nommer 28 in klein swart blommetjies. Haar bragrootte? wonder Dulcie.

    Sy sien Ashwin loer in die meisiekind se rigting. Twiggy gee hom ’n vlietende glimlag terwyl sy soos ’n skoolmeisie aan haar oorgroot sak vasklou. Dulcie eien haar skielik: Lucretia Jordan, vier-en-twintig jaar oud, ma van ’n sewejarige dogtertjie, werk in ’n lykshuis.

    Lucretia se lang, Wella-straightened hare van vroeër is nou gesny en gejel en staan soos verbrande grasstoppels op ’n molshopie. Die graatlyfie balanseer prekêr op veelkleurige tien duim hoë stiletto’s. Rooi plastiekoorbelle swaai aan klein oorlelletjies; die gesig is onnatuurlik bleek.

    Gumaville op sy beste, dink Dulcie. Weet Ashwin nie van beter nie?

    Lucretia se ma en oorlede Hanna was kennisse, maar waar en hoe op aarde hulle ontmoet het, weet nugter alleen. Dulcie soek na die ma se gesig, maar sy is nêrens te sien nie. Miskien het Twiggy nie soseer gekom om eer aan die dooie te betoon as om die lewendes te bekyk nie.

    Dis nou Ashwin met die lomerige fluweelbruin oë, die diep en dromerige jong man. Sy kakebeen is amper vierkantig, met ’n breë, vrygewige glimlag wat jou knieë lam maak. Dulcie het so gehoop en gebid dat hy alle verbintenisse met Gumaville sal afskud, en is geskok en teleurgesteld om uit te vind hy het nie.

    Sy skud haar kop effens, staar ver voor haar uit. Oor granietklippe, verlepte blomme in droë canned fruit-bottels, verwoeste struike, yslike eikebome en ’n draadheining wat plek-plek platlê. Sy weet vir die oningeligtes lyk sy moontlik soos een wat treur, maar al lyk haar oë miskien hartseer en haar aangesig bedroef, is sy dit allesbehalwe.

    Haar gedagtes is ver weg, verder selfs as dié van die gomsnuiwende piekaniens wat met hulle leë melkbottels teen die draad leun. Op pad huis toe moet sy vinnig by Checkers aangaan vir ’n paar bottels melk en ’n kilo margarien.

    Sy kyk terug na die piekaniens. Sien weer Gumaville se beentjies op stronke, gate vir oë, langs ’n hond met draad om sy nek aan ’n paal vasgemaak. Die een so brandmaer en brandsiek soos die ander.

    Haar blik skuif terug na die roubeklaers. Sy beskou haarself as ’n praktiese mens. Terwyl die een kant van haar brein haar inkopielys uitwerk, tel die ander kant die aantal mense om die kis. Oor minder as veertig minute moet sy die treurendes kos en tee gee.

    Dit het gistermiddag en gisteraand dol gegaan met al die gekook en gebak. Gelukkig het Violet, haar beste vriendin, ’n handjie kom bysit. Dulcie draai haar kop, vang Violet se oog en hulle knipoog vir mekaar.

    Violet is ’n steunpilaar in tye van nood, soos dit ’n goeie vriendin betaam. Vir die laaste tien jaar al is Violet Adams ’n bekende gesig op TV. Haar kookprogram is legendaries. Vyf jaar gelede het haar eerste kookboek verskyn, getiteld Die blou voorskoot, na die blou voorskoot wat sy op elke show dra. Drie jaar later was daar nog ’n kookboek en nog ’n kontrak.

    Of jy nou wil weet van cocktail parties, corporate catering, groente-entrees of net spyskaartbeplanning, Violet Adams is die een om te vra. Die welgesteldes en invloedrykes kan nie genoeg van haar heerlike disse kry nie. She is set up for life.

    Violet se enigste swak punt is dat sy ’n swaar hand het met bestanddele. Die woord oortollig bestaan nie in haar woordeskat nie. En dit beteken dat Dulcie suiker ook moet gaan koop.

    Dalk kan sy sommer ’n speelding vir Hanna se kleinseuns ook koop. Die twee kriewelende engeltjies staan langs hulle ma, Rose. Die een is vyf jaar oud en die ander ses. Drie jaar gelede se herinneringe aan ouma Hanna sekerlik al vergete.

    Dulcie se blik flits weer oor die mense. Sewentien in totaal.

    Hanna behoort genoeg koppies en kleinbordjies te hê, het Sparky droefgeestig gesê toe sy hom vra na die gebruiklike tee en koek ná die begrafnis. Ek is nie seker of sy genoeg stoele het nie, haar meubels is al ’n bietjie oud, weet jy. Ons hét gepraat van nuwes koop, maar nou ja . . .

    Dulcie het net gesug by die aanhoor van dié roerende relaas. Ou Hanna het altyd gepraat van mý huis, mý tafel, mý tuin, mý alles. Asof Sparky niks meer as ’n loseerder was nie. Toe het Dulcie maar die begrafnisete na haar huis verskuif, waar daar genoeg van als is.

    Sy sien Ashwin staar na haar, asof hy haar gedagtes probeer lees. Sy tuit haar lippe en knipoog vir hom. Hy kyk vinnig weg en sy glimlag tevrede. Die pastoor gee haar ’n kwaai kyk en sy laat haastig haar kop sak, snik kamma in haar tissue.

    Cheryl vryf haar arm. Toemaar, toemaar, sê sy vertroostend.

    Sonder om haar kop te lig, loer Dulcie in die rigting van Rose, die Omo-wit Amerikaanse roos, Hanna se skoondogter. Dulcie kyk haar vir die tweede keer deur. Rose lyk soos ’n verveelde en verwilderde skoonheidskoningin met baie bates maar sonder kroontjie. Maar watter bates!

    Haar 38D cup staan stokstyf tussen ken en naeltjie, die buitelyne van haar eina-broekie duidelik sigbaar deur die stywe satynrok, asof iemand so pas ’n emmer water oor haar uitgekeer het. Haar lang blonde hare soos ’n golf wat oor haar skouers stort, haar lyfie klein genoeg om deur ’n naald se oog te gaan. Dulcie se keel trek toe net om na die vrou te kýk. Sy kan haar voorstel hoe Enver moet vóél met die aanraking van dié stukkie vlees.

    Dit herinner haar aan die stapels gesnyde ham en bief, hoender en varkvleis wat stoei vir ’n plekkie in haar yskas. Dan nog frikkadelle, vleispasteie en chilli-lewertjies vir die maaltyd van vet spyse, en bloedrooi cocktail-tamaties en groen komkommertjies vir kleur.

    As haar swaer sy sin gekry het, het die vetgemaakte kalf ’n vermaerde bees geword. Sparky het blikkies bully beef van sy huis af gebring, dit amper seremonieel op die kombuiskas gesit.

    Hanna sou graag . . . dit vir jou wou gee . . . het hy stotterend gesê, sy stem vol emosie, soos een wat ’n geliefde troeteldier afstaan.

    Dit het Dulcie laat voel asof sy die enigste een op die begrafnis gaan wees, of ten minste die enigste een wat die bully beef gaan eet. Sy was op die punt om hom met haar tong te looi toe sy haar bedink. Die man is jare lank gekondisioneer om soos ’n vrek te leef.

    Sparky . . . het sy begin beswaar maak, mens bedien nie bully beef by ’n begrafnis nie!

    Hy het haar verward aangestaar, soos ’n Israeliet wie se brandoffer verwerp is.

    Wat het hy verwag moet sy sê? Sê vir Hanna ek sê dankie?

    Ek weet ’n begrafnis is ’n duur affêre met blomme en . . . Sy kon nie aan een verdere ding dink wat hom geld uit die sak gaan jaag nie. Hanna het tog ’n begrafnispolis gehad wat alles dek.

    Ek bedoel . . . as ek twee dosyn mense moet voed, sal ek moet kos koop, ’n soetigheid bak en tee maak. Dís wat duur is. Maar as jy my ’n paar honderd gee, sal ek seker maak dat die roubeklaers –

     ’n Paar hónderd? Sparky se gesig was meteens bloedloos.

    Is dit te veel om aan Hanna te spandeer? Dink jy sy sou dit nie goedgekeur het nie? Of wil jy onthou word as die geliefde man wat bully beef-toebroodjies by sy vrou se begrafnis bedien het?

    Dulcie het geweet haar stem is vlymskerp, maar dit het nie saak gemaak nie. Sy vra darem nie vir ’n geslagte bees nie, net genoeg vis en brode om die menigte te voer. Dis tyd dat Sparky aan die idee gewoond raak dat Hanna nie meer daar is om die broek of beursie te dra nie. Onmiddellik.

    Sparky het ’n uur later teruggekom met geld in die hand, nadat hy die blikkies bief in sy kombuiskas gaan terugsit het. Nou ja, het Dulcie gedink, ’n skuldige gewete doen wonders vir ’n man.

    Nou staan sy en kyk na die blink van die sweet op die draers se hande wat aan die blink handvatsels vashou met die blink plastiekpapawers bo-op die kis.

    Sy gril behoorlik.

    Sy sal Sparky onder hande moet neem. Hy verdien om ’n beter perspektief op die lewe te kry, een wat blikkieskos en plastiekblomme uitsluit. Sy wonder of hy ooit die kloutjie by die oor kan bring tussen papawers en die dood. Sou hy al In Flanders Fields gelees het?

    Die liewe Sparky, hy laat haar so baie aan Bennie dink dit maak eintlik seer. Op die punt van die kis waar Hanna se kop rus, sien sy ’n bossie wit orgideë lê. Dis saamgebind met ’n smal, kleurvolle lint. Sy is verlig. Sparky is die familie se orgideeman, en dit sou vreemd gewees het as daar nie ’n orgidee in sig was nie.

    Die kis word netjies op die dwarsbande neergelê en Dulcie hou asem op. Die draers is duidelik verlig om van hulle swaar las ontslae te wees en Dulcie haal weer asem.

    Sy sien Violet se skouers sak ook ’n aks of twee, en hulle glimlag met mekaar. Violet is seker net so verlig soos sy dat niks geskeur of geskuif het onder Hanna se logge lyf van tweehonderd kilo’s nie. Dié stukkie skindernuus, oor Hanna se gewig, het sy uit die perd se bek gehoor. Wel, amper. Sy het dit van Sparky gehoor.

    Die dokter sê tweehonderd kilo’s is ’n bietjie swaar vir Hanna om te dra. Sies tog, sy moet probeer om ’n bietjie te verloor.

    ’n Bietjie wát? het Dulcie gewonder. Volgens haar het ou Hanna haarself lankal verloor. Haar common sense, haar humor, haar maniere, haar varkies.

    Dulcie onthou nog goed toe Bennie haar die eerste keer aan Hanna voorgestel het. Sy was jonk en gretig om ’n goeie indruk te maak, maar ten spyte van haar goeie bedoelings het Hanna suur en onbeskof gebly.

    Sparky wou hê sy vrou moes hulle beste koppies uithaal vir die gaste. Dit was immers Dulcie se eerste besoek aan hulle huis.

    Die koppies is vir spesiale gaste, het Hanna kortaf gesê, haar gesig geslote.

    Toemaar, dis reg so, het sy, Dulcie, nederig saamgestem.

    Maar, Hanna, my skat . . . wou Sparky nog keer.

    Ag, gee ons sommer plastic cups! het Bennie gelag.

    Later het Hanna fout gevind met Dulcie se klere, haar hare, haar gebak, haar kinders.

    Tog het Hanna ’n warm, deernisvolle sy gehad waarvan jy flitse gesien het in die teenwoordigheid van haar kleinseuns, of haar skoondogter, Rose. Vernáámlik in Rose se teenwoordigheid, Enver se wit trofee. Teen die einde was Hanna aan haar huis vasgekluister, bejammerenswaardig, en nie meer in staat om ver te loop nie.

    As sy net ’n bietjie gewig kan verloor, sal sy nie so gou moeg word nie. Boonop het sy nog suikersiekte ook, het Sparky aanhou kerm.

    Dulcie voel jammer vir haar swaer. Altyd gewonder wat van hom sou word as Hanna die dag op haar perdjie klim en nooit weer terugkom nie. Arme Sparky, sug sy hard.

    Ma?

    Los dit, skud sy kop.

    Dulcie sien hoe Cheryl ’n oomblik kiertsregop staan en haar ma aanstaar. Toe, asof sy onthou sy is by ’n begrafnis, haar skouers weer pap laat hang, ken op bors en oë eerbiedig afgeslaan. Sy gee Cheryl se arm ’n vinnige drukkie.

    Op vier-en-sestig het Hanna se hart een kilogram spasie gehad, met ’n inhoud van twee kilogram suiwer vet. Ironies genoeg was dit nie haar vetsug wat haar dood veroorsaak het nie, maar haar gulsigheid. Hanna het die eetbare torings wat sy gehap het ’n little snack genoem.

    ’n Piesang-en-maalvleis-toebroodjie, komkommers en heel cocktail-uie op roosterbrood, sjokoladejogurt gemeng met perskes, Simba-skyfies en kaas op mieliebrood . . . Die lys is eindeloos.

    Dit het op ’n sonnige Sondag ’n week gelede gebeur. Sparky was besig in sy kweekhuis om na sy geliefde orgideë om te sien toe iets – volgens hom – hom dwing om die huis in te gaan. Hy het die deur oopgestoot en Hanna op die vloer aangetref.

    Toe het hy – volgens hom – die ambulans, die dokter en die hospitaal geskakel, in daardie volgorde. Ná hy hartmassering gedoen en geen reaksie gekry het nie, het hy – volgens hom – mond-tot-mond-asemhaling gedoen.

    Verdere besonderhede is vaag en – volgens Dulcie – ’n bietjie verdag. Ongelukkig was Sparky se pogings puur verniet. Sy geliefde Hanna was so dood soos ’n mossie.

    Met die vertel van die storie gaan Sparky graag oor tot aksie om te illustreer hoe hy gesukkel het om Hanna se lewe te red. Met ’n gekap op sy bors en swaar asemhaling sou hy betraand die drama op die kombuisvloer vir die soveelste keer vertel.

    Al wou Sparky almal oortuig dat Hanna aan ’n hartaanval dood is, weet Dulcie die doodsertifikaat sê versmoring. Met dié dat Sparky te aangedaan was om van nut te wees met enige reëlings, het hy Dulcie gevra om die doodsertifikaat by die dokter te gaan haal.

    Toe Dulcie die dokter vra wat tot Hanna se versmoring gelei het, was die antwoord ’n kaas-en-biltong-toebroodjie. Sy het die doodsertifikaat vir Sparky gegee, maar besluit om stil te bly oor die versmoring. Die lewe het haar geleer dis soms beter om te swyg soos die graf. Sparky weet wat die dokter geskryf het, en as sy interpretasie hartaanval is, is dit sy keuse.

    Toe sy stilletjies vir die kinders vertel hoe Hanna dood is, was Ashwin se reaksie: Ag, shame, Ma, arme antie Hanna, what a way to go.

    Inderdaad.

    Maar mens moet seker in gedagte hou dat Hanna asmaties was en jare lank kortisoon gebruik het. Dit was seker deels verantwoordelik vir haar opgeblase voorkoms. En gedurende een van haar min besoeke aan Hanna se huis (Hanna was nie gasvry nie) het Dulcie ’n botteltjie antidepressante in die badkamer gesien.

    Violet, wat van dié dinge weet, het haar verseker daar was min keuse tussen die kortisoon en die antidepressante – dit was óf die een óf die ander, maar vet sou Hanna bly. Sy het duidelik probleme van ’n ander aard gehad, en dalk nog slegte gene ook.

    Druppels sweet loop teen die draers se gesigte af toe hulle terugstaan en tussen die roubeklaers indruk. Net Sparky bly staan, sy oë vasgenael op die kis by sy voete, die pastoor aan die ander kant amper versteek agter Sparky se breedte.

    Die fyn sproei wat die vorige nag al begin val het, was ’n welkome teenvoeter vir die hitte, maar nou waai ’n geniepsige windjie die wolke weg. Die laatoggendson blaker neer op die groepie, wat meesal in swart aangetrek is.

    Dulcie glimlag innerlik toe sy sien hoe Cheryl die begrafnispamflet verwoed voor haar gesig en nek waai. Ander trap-trap die nat grond asof dit die kole in hulle skoene gaan uitskud.

    Pastoor Stoffel maak keel skoon soos een wat aandag soek. Uit die hoek van haar oog sien Dulcie hoe hy vir Rose bekyk, van kop tot tone. Dít behoort hom op te wen, dink sy.

    Hy maak sy Bybel oop. In Job hoofstuk 1, vers 21 lees ons . . . begin hy met ’n bewerige stem.

    Dulcie sug. Dié keer ’n bietjie te hard, want Cheryl gee haar ’n kyk. Sjuut, sê haar oë.

    Langdradige kerkmense maak Dulcie bang. Die moontlikheid bestaan dat hoe langer hulle praat, hoe meer sin gaan hulle maak. Dulcie se houding was nog altyd vat my geld en los my uit as sy haar R5 in die kollektebordjie laat val.

    Die truuk is om die muntstuk geluidloos te laat val sodat ander dink jou bydrae is ’n noot. Om oogkontak te behou en mooi te glimlag met die persoon wat die bordjie aanbied, is noodsaaklik. Jy wil nie hê hy moet jou hand dophou nie.

    Cheryl het nog baie om te leer.

    Dulcie kyk onderlangs na Sparky. Normaalweg is sy klere grys en oninteressant, outyds, en die patroon lankal oor die vervaldatum. Maar hy lyk baie netjies in sy swart pak, swart hemp en swart dotjiesdas. Sy spierwit hare is stomp gesny en staan pennetjieregop. Dalk ’n bietjie Mafia-agtig, maar nietemin swierig.

    Sy verkyk haar aan sy grootte, die breë skouers effens geboë. Op vier-en-vyftig is Sparky tien jaar jonger as die vrou in die kis en net twee jaar ouer as Dulcie. Al lyk dit of sy spierwit hare hom in Hanna se ouderdomsgroep wil plaas, het hy ’n jong gesig en groot, kinderlike oë die kleur van kaneel.

    Aangesien Sparky se ma verlief was op Kirk Douglas, wat die hoofrol in Spartacus gespeel het, is Sparky summier na hom vernoem. Nog voor sy geboorte was sy naam reeds ’n uitgemaakte saak, op ’n stukkie papier geskryf en in die onderste laai gebêre.

    Spartacus Kirk Douglas.

    Met die geboorte van haar tweede seun het Skoonma se heldeverering verskuif van Spartacus na Ben-Hur. Dus was Dulcie se man se naam nie minder merkwaardig nie.

    Benhur Charlton Douglas.

    Gedurende hulle eerste skooljaar het Spartacus Sparky geword en Benhur Bennie. En was Skoonma se grand idee om uitheemse name vir haar seuns te gee daarmee heen.

    Hulle pa was ’n maer, tingerige mannetjie, maar met ’n ego die grootte van sy skoondogter Hanna. Hy het eers in ’n poskantoor gewerk. Later het hy onderwys gaan gee, maar sy drome oor vernaamheid het saam met hom gesterwe. Het hy bly lewe, sou hy die volgende dag as viseprinsipaal by die plaaslike skool begin werk het.

    Dulcie voel hoe ’n giggel soos ’n borrel in haar keel opstoot en geluidloos op haar lippe ontplof. Sy maak haastig keel skoon voor Cheryl weer kan Máá!

    Sparky se seun Enver-Lewis kyk strak voor hom uit. Ná sy troue met die Amerikaanse Rose het die land van the free and the brave ook Enver se permanente tuiste geword. Enver en gesin se vliegtuig het twee dae gelede op OR Tambo geland. By die lughawe het Sparky en sy kleinseuns mekaar aangestaar soos vreemdelinge.

    Sê hallo vir Granddad, het Enver sy seuns geesdriftig aangemoedig.

    Die seuns en die ou man het mekaar aangekyk en uitgekyk. Toe wys die oudste een na Sparky se knieë.

    Kyk sy snaakse knieë! het die rammetjie-uitnek uitgeroep.

    Kyk sy snaakse knieë! het die ander een agterna geskree.

    Almal het na Sparky se snaakse knieë gekyk. Selfs Sparky het na sy knieë gekyk. Twee vreemd gevormde bene wat in teenoorgestelde rigtings bak staan onder die soom van sy kortbroek. Om die kniekoppe ’n maalstroom van oumensplooie.

    Ná ’n paar oomblikke van eerbiedige stilte in erkenning van Sparky se snaakse knieë het oupa en kleinseuns hand geskud, hulle hallo’s gemompel en toe stilswygend mekaar vermy. Die een het beledig gevoel, die ander twee opruiend gelukkig.

    Hanna se broer, Dudley, draai om en kyk Dulcie vir ’n oomblik vas in die gesig. Waaroor gaan dít? wonder sy. Dudley is die teenoorgestelde van sy suster. Lank en maer, beleef, ’n stadige manier van doen, en maklik om mee oor die weg te kom. En hare wat gesny moet word.

    Dudley se vrou is drie jaar gelede dood, en hy het onlangs besluit om vroeë aftrede te neem. Gedurende dié tyd het sy enigste kind, ’n dogter, besluit om na Skotland te emigreer. Sy het eenvoudig haar praktyk as sielkundige in Sandton verkoop en is vort.

    Hoekom juis Skotland? wou Dulcie weet.

    Hulle het sielkundiges nodig, het Dudley gesê.

    Dis hoe Dudley is. ’n Droë sin

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1