Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Daan Dreyer se blou geranium
Daan Dreyer se blou geranium
Daan Dreyer se blou geranium
Ebook234 pages5 hours

Daan Dreyer se blou geranium

Rating: 4.5 out of 5 stars

4.5/5

()

Read preview

About this ebook

Daan Dreyer voel soos ’n has-been. Sy vrou het hom gelos (“Ek het jou ontgroei, Daan”) en sy twee kinders rol hul oë vir sy musieksmaak en gee eenwoord-antwoorde op al sy vrae. By die werk gaan dit ook maar droewig – hy is ná alles ’n wit man van amper vyftig. Sy beste pel, Neels, se vrou gee vir hom ’n blou geranium, om sy donker woonstelletjie mee op te kikker. Maar wat Daan betref, gaan dit veel meer as ’n malvaplant vat om weer vrolikheid en vreugde in sy ou lewetjie te saai. ’n Fantastiese roman oor ’n man op die rand van ’n nuwe lewe. Verfrissend eerlik en baie, baie snaaks.
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateApr 16, 2012
ISBN9780795704178
Daan Dreyer se blou geranium

Related to Daan Dreyer se blou geranium

Related ebooks

Related articles

Reviews for Daan Dreyer se blou geranium

Rating: 4.5 out of 5 stars
4.5/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Daan Dreyer se blou geranium - Derick B van der Walt

    cover.jpg

    Titelblad

    DERICK B VAN DER WALT

    Daan Dreyer

    se blou

    geranium

    KWELA BOEKE

    Opdrag

    Vir Eddie, Sunél en Johann sr

    Vooraf

    Vooraf

    Jy’s mos die man wat die ou van Numsa verdedig, sê die meisie met die toutjieshare en die reuse-borste. Sy pluk ’n notaboek uit die sak oor haar skouer en hou ’n pen gereed.

    ’n Mannetjie met rasta-hare begin van Daan foto’s neem. Daan kry warm. Hy voel benoud. Hy wikkel sy das los. Die sweet slaan op sy voorkop uit.

    Hy skud sy kop. Nie eintlik nie, kry hy dit uit.

    Maar – sê die meisie.

    There he is! roep die mannetjie met die rasta-hare en hardloop na die hof se hoofingang. Hy gaan staan in die portaal en begin vir die vale foto’s neem. ’n Horde persfotograwe swerm nader. Die meisie met die deinende borste hardloop agter hulle aan.

    Sorry, foutjie! skree sy oor haar skouer vir Daan. Maar jy lyk nogal na hom!

    Ek is maar net hier . . . roep Daan agter haar aan, maar sy hoor hom nie.

    Hy haal sy das af. Hy sien die Numsa-man staan, omraam deur die hof se voordeur. Daan herken hom van al die mediablootstelling wat die man die laaste twee weke gekry het. Hy lyk korter as op televisie, en moeg. Die mense bondel om hom. Die kameras flits.

    Ek’s eintlik maar net hier om te kyk hoe lyk die skeihof, sê Daan vir die man wat die sypaadjie voor die hof vee.

    Die skoonmaker kyk nie na hom nie.

    Hoofstuk 1

    Hoofstuk 1

    Dis ironies, sê Neels terwyl hy ’n groot hap van sy toebroodjie vat. Hulle dink ons is net goed daarvoor om die boekrakke regop te hou, maar as daar ’n spanbouding gedoen moet word, onthou hulle ou Neels Nolte is nog hier.

    Daan luister nie eintlik nie. Hy verkyk hom aan Neels se toebroodjie. Waar hulle op die stoep voor die kafeteria sit, kan hulle die beweging binne die vertrek dophou. Mense sit in groepies by tafels of staan met oorvol skinkborde voor die kasregister tou.

    Daar is nie net ham óf tamatie óf kaas op Neels se toebroodjie nie, dink Daan. Dis ham, kaas én tamatie, en nog ’n klomp ander goed ook. Duidelik ’n toebroodjie wat ’n vrou gemaak het. Hy kyk na die repies blaarslaai in Neels se toebroodjiebak, die peer, die stukkie kaas, die stuk droëwors.

    Hy sit sy halfgeëte sooibrand-special vies op die tafel neer. Vir wat koop hy elke keer een van die aaklige pasteie? Eintlik verpes hy die goed, maar as hy hom weer kom kry . . .

    Pappie-ee . . . fluister Neels. Hy hou op kou en staar deur die venster na die besige kafeteria, toebroodjie in die lug, halfpad na sy mond.

    Vanessa, weet Daan. Of Nessa vir haar handlangers. Hulle nuwe baas met die lang bene en al die ander goed wat saak maak op die regte plekke. Jonk, blond en selfvertroue is haar tweede naam. Sy laat al die mans kwyl, nie net vir Neels nie.

    Hoehiee . . . fluister Neels weer terwyl hy ’n hap van sy droëwors vat.

    Jy’s te oud. Jy kolf ook nie in haar liga nie. Én jy het ’n vrou én ’n paar kinders én twee honde, sê Daan.

    Neels lag en maak sy kosblik toe. Hy stof die krummeltjies van sy hemp af en staan op. In die verbygaan vryf hy oor Daan se kop. Raak by die dag minder.

    Los my hare en speak for yourself! Daan stamp sy stoel onnodig hard onder die tafel in.

    O ja, skree Neels agter hom aan, Amanda sê jy moet Saterdag kom rugby kyk. Ons gooi sommer agterna ’n vleisie op die kole.

    Sal sien, brom Daan van sy kantoordeur af. Hy is nie regtig lus vir die Noltes nie, maar hy weet Saterdagaande is die ergste. Hy wil mal word in die klein woonstelletjie.

    Hy hervat sy werk aan die deurmekaar begroting van die Bennett-projek. Die syfers wil nie klop nie. Iewers is iets nie reg nie, maar hy kan nie agterkom wat nie.

    Die jongetjies. Wil net met drankies op onthale rondstaan en hulle gate uit geniet. Hulle wil nie veel van die detail van hulle projekte weet nie, beslis nie hoe die somme werk nie. Maar hy wat Daan is, móét weet. Hy moet pa staan vir elke sent in hierdie blerrie plek.

    Hy sal vir Vanessa moet gaan sien oor die Bennett-spul. Hy verpes dit om na haar kantoor te gaan. Sy is nou al twee maande hulle nuwe baas. Geheadhunt, loop die stories.

    Hy kan sien ’n paar van die ouens proes onderlangs toe hy aan haar kantoordeur klop. Ag nee sies, Daan, sê die gesigte. Sy is darem kroonwild vir jou.

    Maar hy moet haar in die saak ken as hy ’n begroting afkeur of aanpas. En hy kan baie min besluite neem sonder haar toestemming. Sy kon sy dogter gewees het.

    Die vrou is mooi, maar sy intimideer hom heeltemal. Die onverskrokkenheid en die op-koers-wees, reguit na bo. Heel-heel bo, dis ononderhandelbaar.

    Hy klop huiwerig. Sy sit in haar rooi ontwerpersnommertjie met haar blonde hare in ’n stemmige poniestert gekam. Sy konsentreer op die dokument voor haar. Haar lang bene is netjies onder die lessenaar gekruis.

    Sy kyk gesteurd op en loer vir hom oor haar Prada-brilletjie.

    Ek’s nogal erg besig, Daan, sê sy geïrriteerd.

    Dis die Bennett-begroting. Die boeke klop nie.

    Kan dit nie wag tot Maandag nie?

    Wel, dit kan seker. Maar ek kan nie geld vir die projek goedkeur as die papierwerk só lyk nie . . .

    Sy haal haar bril af en kou aan een van die ore terwyl sy hom ’n rukkie bekyk.

    Jy weet, Daan, partymaal dink ek julle . . . hoe sal ek sê . . .

    Sê maar has-beens, jy noem ons mos só agter ons rug.

    Ek dink jy is soms ’n bietjie moedswillig. Dis vir jou lekker om die rompslomp en die papierwerk so ingewikkeld moontlik te maak. Ons nuwe generasie dink anders . . . ehm . . . buite die boksie.

    Sy kruis haar bene na die ander kant. En dis Vrydag. Ek gaan weg vir die naweek, so dit sal net moet wag tot Maandag.

    Sy sit agteroor in haar stoel en sê vriendeliker: Kom nou, Daan. Jy was nog altyd ’n spanspeler. Jy weet jou kundigheid word hier hoog geag, maar gaan dink ’n bietjie die naweek. Is al hierdie vreeslike stelsels en sisteme en kontroles regtig nodig? Dit dryf almal teen die mure uit. Een van die dae begin die nuwe hoofbestuurder, en ek wil trots wees op my spannetjie. Wys wat julle kan doen, wys dat ons ons reputasie as voor-in-die-koor verdien. Dat ons vernuwend dink, ook as dit by papierwerk kom.

    Sy sit weer haar bril op. Doen iets aan al dié goed en jy gaan nog eendag met ’n goue horlosie hier wegstap wat jy vir jou kleinkinders kan wys.

    Sy skuif die dokument voor haar in sy rigting. "Die advertensie vir Finansies & Tegniek. Gooi sommer jou oog daaroor terwyl jy nou hier is."

    Ek dink steeds dis te veel geld vir ’n advertensie in ’n tydskrif. Ons kon die geld –

    Ag, Daan, ons is mos al hierdeur. Dis wat advertensies kos en dis waar ons gesien wil wees.

    Hy lees die advertensie, wat veronderstel is om vir hulle nuwe besigheid in te bring.

    Gevestigde firma in Pretoria, spesialiseer in alle aspekte van korporatiewe kommunikasie. Produseer ’n verskeidenheid publikasies soos interne en eksterne tydskrifte en nuusbriewe, jaarverslae, elektroniese publikasies, ontwerp en instandhouding van webwerwe. Mediaskakeling, reël van funksies en nog ’n spul goed.

    Die ontwerpafdeling het uitgehang. Die advertensie lyk modern, maar daar is tog iets konserwatiefs aan die uitleg. Dit sê die firma is aan die voorpunt, maar die voete is stewig op moederaarde. Of so iets.

    Vanessa is seker reg, dink hy. Dis die plek waar hulle gesien wil word.

    By die deur draai hy om en kyk na haar. Maar sy is klaar weer verdiep in haar werk en hy loop uit sonder ’n groet.

    Has-beens, dink hy terwyl hy terugstap kantoor toe. Dit pla hom nie meer nie. Hulle is al gewoond daaraan. Hy en ou Neels en ou Riaan by die publikasie-afdeling en ou Martin by IT en die handjievol ander wat oorgebly het ná die rasionalisasie, die herstrukturering, die regstellende aksie, die pakkette en al die ander sasies en asies wat gesorg het dat Windmill Communication dié kommunikasie-agentskap in Pretoria is wat voorgehou word as ’n voorbeeld vir ander. Kyk, liewe nasie, só word dit gedoen. Só moet ’n moderne Suid-Afrikaanse firma daar uitsien.

    Maar hy weet Windmill het die handjievol has-beens nodig. Dis waarom hulle nog is waar hulle is.

    Hy vou die Bennett-lêer toe en skakel sy rekenaar af. Hy sluit sy kantoordeur en stap hysbak toe.

    Neels staar saam met ’n paar uitdrukkinglose mense na die hysbak se knoppies. Hulle ry in stilte na die grondvloer, kry koers oor die parkeerterrein.

    Sien ons jou môre? vra Neels terwyl hy die blou Audi oopsluit.

    Sal bel, skree Daan oor sy skouer.

    Die woonstel is stil en soos altyd donker. Dis die klein venstertjies. Daan trek die gordyne toe en sit die ligte aan.

    Hy skink vir hom whisky in die kombuis en druk die Woolies-ding in die mikrogolf. Die verpakking gee verskillende aanwysings vir verskillende groottes mikrogolfoonde. Hy weet nie watter grootte dié een is nie. Hy bereken maar ’n gemiddeld.

    Die kos is droog, maar hy is honger. Van die ryk sous waarmee die verpakking spog, het net ’n blerts op die droë stukkie hoender oorgebly, en ’n paar verlepte broccoli-takkies.

    Hy kan die stilte hoor. Daar is darem die hysbak se deure wat kort-kort oop- en toegaan. Voetstappe in die gang. Die verkeer onder in die straat. Hy skakel die televisie aan.

    Die nuus is kwalik nuus. Moord en ellendes en politieke toesprake vol mooi voornemens. Hy kliek lusteloos tussen die kanale rond. Kyk ’n rukkie na ’n fliek waar mense mekaar vermink en liggaamsdele en liters bloed die wêreld vol spat.

    Hy skakel die televisie af en sit ’n CD in die speler op die boekrak. Leonard Cohen. Die selfmoordmusiek dryf hom na nog whisky. Hy soek na die CCR-CD. Kry dit heel onder in die stapeltjie langs die speler.

    I wanna know, have you ever seen the rain?

    Liewer nie.

    Hy oorweeg dit om vir Annerie te bel. Hy kan sê hy het vergeet hoe laat hy haar Sondag moet oplaai. Wat moet sy môre doen wat so ’n issue is? ’n Toets of ’n taak of iets. Hy besef skuldig hy kan nie onthou nie.

    Maar dis al negeuur. Die kind slaap dalk al.

    Hy bel vir Tollie. Die foon lui lank.

    Hallo, Pa.

    Daar is ’n helse lawaai op die agtergrond. Mense lag en gesels en Daan hoor musiek luid blêr.

    Ek wou net –

    Pa, ek kan nie nou praat nie! skree Tollie bo die geraas.

    Waar’s julle?

    Hoor nie?

    Waar kuier julle, Tollie?

    In Hatfield. En ek is lankal nie meer Tollie nie, ek haat dit as Pa my so noem. Noem my Marius.

    Ek wou maar net . . . Wanneer kom jy bietjie kuier?

    Ek kan nie nou praat nie. Bel Pa môre.

    Daan weet Tollie sal nie bel nie. Te bedrywig. Eerstejaar op universiteit. Sy seun het ontdek daar is ’n wye wêreld daar buite, hoewel Daan vermoed Hatfield se kuierplekke is in dié stadium grensverskuiwend genoeg vir Tollie.

    Hy sit ’n rukkie in die leunstoel langs die leeslamp met die selfoon op sy skoot. Hy is lus vir ’n sigaret. Dis Karen se knaende geneul wat hom ses maande gelede laat ophou het. Maar nou, wat is die punt nou eintlik? Gesonde longe maar ’n seer hart.

    Hy stort en klim met die Wilbur Smith wat op sy bedkassie lê in die bed. Voel later lomerig. Hy sit dankbaar die bedliggie af.

    Maar hy weet dit was net ’n vals alarm. Hy sal weer nie kan slaap nie. Hy lê en rondrol.

    Dis nou al drie maande dat hy hier bly. Dis drie maande sedert hy laas . . . Nee, dis langer. Die laaste tyd wat hy nog in die huis was, het hulle tog ook nie aan mekaar gevat nie. Die dinge van die lyf. Dit kon hom nog altyd troos. Maar dis anders as jy die troos by jouself moet soek.

    Hy lê alleen in die donker en luister na die verkeer onder in die straat.

    Daan sit en staar na sy onderbroeke en kouse in die tuimeldroër by die wassery. Sy selfoon lui. Tollie, sien hy verbaas.

    Hi, Pa. What’s up?

    Hallo! Ag, ek wou net weet wat gebeur in jou lewe. Hoe gaan dit met die swottings?

    Oukei, wat. Pa weet mos . . .

    Pa weet glad nie.

    Annerie kom môre na my toe. Ons sal seker middagete iets gaan eet. Jy wil nie dalk saamkom nie? Hoopvol.

    Ons gaan miskien by Japie braai, maar ons sal nog sien. Sal Pa bel. Cheers vir eers.

    Daan sit nog ’n ruk na sy goed in die tuimeldroër en kyk. Die tannie langs hom ruik na knoffel en ou wyn. Dit lyk asof sy dut, toegewikkel in ’n dik jas, al gaap die kraaie.

    Maar dit gaan een van die dae koud word. Hy kyk na die boom in die middel van die parkeerterrein. Die blare begin vergeel.

    Hy wonder wat hy die res van die dag gaan doen. Hy moet ’n paar goed by Woolies gaan koop om te eet. Dalk moet hy tog maar ’n kosmaakkursus volg. Woolies het ook net sóveel goed.

    Maar dis dit vir die dag. Hy het al oorweeg om saam met Martin en Riaan die gholfding te doen, maar hy weet dis nie vir hom nie. Te vervelig.

    Sy selfoon lui. Hy gaan antwoord buite. Amanda.

    Kom jy oor? Ons is bekommerd oor jy so dagin en daguit op jou eie is. Dis nie gesond nie.

    Wat kan ek saambring?

    Nee wat, niks nie. ’n Wyntjie as jy wil.

    Maak so.

    Die tannie in die jas begin liggies snork.

    In sy wildste drome sou hy hom nooit op ’n Saterdagoggend in só ’n plek kon indink nie. Alles het so vinnig gebeur. Maar dit moes seker al lank aangekom het. Hy het dit net nie sién kom nie.

    Ek het jou ontgroei. Hy is nou nog nie seker wat dit beteken nie.

    Eers was daar die meditasieklasse en die joga en toe die skilderklasse en die kralewerk en toe die studie oor kruie en die vreemde blare en takke wat hulle in hulle kos begin kry het. En toe Hendrina. Die terapeut. Hendrina sê só en Hendrina sê sus.

    Daan, Hendrina dink dit werk eintlik só. Hendrina dink dit kan gevaarlik wees. Ek sal dit graag op Hendrina wil bounce. Hendrina sien dinge meer . . . eh . . . driedimensioneel.

    Hendrina was nou orals. As hulle Sondae saam met die kinders braai, tussen die kerslig en die wyn by Romero’s, in die tou waar hulle wag om fliekkaartjies te koop, in die kar Saterdae op pad Pick n Pay toe.

    Net nie tussen hulle in die kooi nie. Of was sy? Hy het dit dalk net nie agtergekom nie.

    Hy pak sy klere in sy sak en stap kar toe.

    Sophie sit op die vuilgoedblik in die kombuis en eet pap en hoenderlewertjies.

    Hoekom sit jy nie op ’n stoel nie? vra Daan.

    Sy ignoreer hom. Vee die pap en sous met haar vingers bymekaar.

    Hy skakel die ketel aan.

    Jou yster werk nie meer reg nie. Jy moet ’n ander een koop.

    Wat’s fout?

    Moenie vir my vra nie. Hy werk net nie meer reg nie. Ek gaan jou klere brand.

    Oukei.

    Hy gooi poeierkoffie in ’n beker, dan kookwater. Sophie staan steunend op en sit haar leë bord in die wasbak.

    Die busgeld is op. Ek moet nou meer kry.

    Hoeveel?

    Twintig rand.

    Dis reg, sê Daan.

    Jy sien, Daan, dis nie dat ek nié van Karen hou nie. Amanda vat ’n sluk van haar wyn en roer

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1